Читать книгу Wilna Adriaanse-omnibus 1 - Wilna Adriaanse - Страница 8

5

Оглавление

Na ’n warm stort die volgende oggend stap Georgina na die kinders se kamers. Bertie slaap nog en die ander twee sit en kyk televisie. Nie een reageer op haar vriendelike groet nie.

“Is daar iets wat julle vandag wil doen?” Haar stem is rustig. Toe niemand antwoord nie, gaan sy moedig voort: “Dan gee julle seker nie om as ek iets reël nie? Ek is nie lus om elke dag hier te sit en televisie kyk nie. Dis nie aldag dat ek in New York kom nie.”

Die koppe draai net genoeg dat sy die afkeer in hulle oë kan sien, maar sy gaan ongestoord verder. “Ontbyt is gereed, ons wag vir julle in die kombuis.” En met dié woorde draai sy om en stap terug na Bertie se kamer. Hy is net besig om sy blou ogies oop te maak en glimlag lui toe hy haar sien.

“Jy is nog hier!”

“Dit lyk so. Is jy reg vir ’n lekker dag?”

Hy knik dadelik en gooi sy beddegoed af. Nadat sy hom gehelp het om te was en aan te trek, stap hulle saam kombuis toe. Die ander twee maak eers na vyf minute hulle verskyning.

“Kom sit.” Georgina beduie na die stoele rondom die tafel.

“Ek eet nie in die kombuis nie.” Jean se oë flits oor die toneel voor haar.

“Ek dink dis gesellig om hier te eet. Ek kan onthou hoe lekker ons altyd in my ma se kombuis geëet het, so kom sit.”

Die kwaai bruin oë draai na Betsy Connely, maar sy hou haarself voor die stoof besig en uiteindelik sak die ander twee ook langs die tafel neer. Toe almal kos gekry het, hou Georgina haar hande na hulle uit en Bertie neem dadelik die uitgestrekte hand, maar Jean en André bly stom voor hulle uitkyk. Georgina maak haar oë toe en bid ’n kort gebed, waarna Betsy ’n kruis voor haar bors maak en plegtig amen sê.

Die res van die ete verloop in stilte, behalwe vir Bertie wat wil weet wanneer sy pa gaan terugkom. Georgina weet nie en luister verbaas hoe die vrou voor die stoof sê dat hy net na ses by die huis behoort te wees. Om die een of ander rede voel Georgina weer krapperig. Sy moet die kinders oppas, maar sy weet nie wat aangaan nie. Niemand lig haar in nie.

Na ete sorg sy dat almal warm baadjies aantrek en op William se vraag of hy hulle êrens heen kan neem, skud sy net haar kop. “Nee, dankie, ons sal regkom.” En dan voeg sy by: “Ons sal nie vir middagete hier wees nie.”

Leonard waai vrolik toe hulle in die portaal uit die hysbak stap. Op die sypaadjie wil Bertie nuuskierig weet waarheen hulle gaan.

“Ons gaan eers ’n bietjie rondloop en na dinge kyk en dan gaan ons vir Jean ’n rok koop.”

Sy steek haar hand uit en toe die geel huurmotor stop, gee sy vir die bestuurder ’n adres en bondel hulle agterin.

Georgina sal nooit die uitdrukking op die drie gesigte vergeet toe hulle minute later saam met haar die steil trappe na ’n moltreinstasie afklim nie.

“Ons het nog nooit op so ’n trein gery nie!” Bertie staar sprakeloos na die trein wat teen volle vaart op die perron afpyl en voor hulle tot stilstand kom. Hy gaap behoorlik al die mense wat uitklim aan, en gryp dan vreesbevange Georgina se hand toe sy met hulle vorentoe beweeg. Sy hou haar ongeërg, maar haar oë draai soos ’n verkleurmannetjie s’n in die rondte uit vrees dat een van hulle sal agterbly.

Hulle vind ’n leë bank en sy beduie dat hulle moet sit. Bertie gryp na haar arm toe die trein wegtrek en sy oë rek al groter soos wat die gevaarte begin versnel.

André en Jean sit en staar voor hulle uit, maar sy kan tog die nuuskierigheid agter die afgetrokke oë sien. By een van die stasies klim ’n groep dogtertjies, ongeveer Jean se ouderdom, op en neem oorkant haar plaas. Georgina kan net glimlaggend sit en kyk hoe hulle oë belangstellend na André draai en kort-kort guitig giggel. Sy sien ook hoe Jean se oë op die balletskoene rus wat ongeërg oor een van hulle se skouers hang en sy is meteens jammer vir hierdie drie bevoorregte kinders. Hulle het so baie, maar die wêreld gaan by hulle goue koets verby.

“Die meisies kyk vir André,” laat Bertie snipperig hoor en André se wange verkleur dadelik. Die kyk wat hy sy boetie gee, is genoeg om ’n groot man te vermorsel, maar Bertie is kennelik al immuun teen sy broer en suster se kyke.

Georgina sien hoe André blosend by die venster uitkyk en sy knik. “Hulle wens seker hy wil met hulle gesels.”

Al vier knip hulle oë toe hulle uiteindelik weer bogronds kom.

“Waar is ons nou?” Bertie kyk nuuskierig rond.

Georgina beduie met haar arm. “Ons gaan met ’n boot ry. Was julle al op ’n boot?”

“Watse boot?”

Sy kan sien hoe die blou ogies begin blink.

“Die een wat tot by daardie groot standbeeld vaar.”

“Ons het al met die helikopter daar verby gevlieg, maar juffrou wou nooit daarheen gaan nie. Sy hou nie van die see nie en my pa is te besig.”

Die lug is ysig koud, maar al drie klim die trap op en gaan staan voor teen die reling. Die twee oudstes praat nie, maar Georgina kan tog ’n verandering op hulle gesigte sien.

En so saam met die ander toeriste raak die twee oudstes se gesigte mettertyd minder strak en sorg Bertie dat daar nooit stilte is nie. Hy kwetter onverpoos en beduie kort-kort na iets wat hy sien.

“Ons is nie blind nie, Bertie,” laat Jean in ’n stadium hoor, maar haar stem klink verbasend gemoedelik.

Toe hulle net na eenuur van die boot afklim, en Georgina ’n paar strate verder met hulle by ’n klein eetplek instap, kla niemand nie.

“Die mans by daardie tafel kyk vir jou.” Bertie beduie met sy vinger na ’n tafel regs van hulle waar vier jong mans in netjiese pakke klere sit, duidelik besig om Georgina te bespreek. Sy glimlag en neem sy hand in hare.

“Dit lyk my dis my en André se dag om bekyk te word.”

Toe die vier opstaan en by hulle tafel verbyloop, buk die een effens oor Georgina en laat vriendelik hoor: “Pragtige kinders wat jy het!”

Georgina knik vriendelik en sê dankie en sy sien hoe die drie by die deur hul hande in hulle sakke steek en ’n paar note aan die ander een oorhandig. Sy kan net haar kop laggend skud.

“Waarom het jy nie vir hulle gesê ons is nie jou kinders nie?” Jean se oë flits ontevrede in Georgina se rigting.

“Hulle was sommer met ’n speletjie besig en dis ’n groot kompliment vir my as mense dink ek het sulke mooi kinders.” Georgina voel hoe ’n moegheid weer op haar neersak. Die kind is so ingewikkeld.

“My pa gaan nie met jou trou nie!”

Georgina kyk na die ontevrede gesiggie voor haar. Bruin ogies wat ongelukkig blink en ’n roosknopmondjie wat ontevrede saamgepers is. Haar stem is rustig toe sy antwoord: “Jean, ek wil ook nie met jou pa trou nie, dit belowe ek jou. Jou pa het gevra dat ek net vir die twee maande by julle kom bly, so hoe gouer jy ophou baklei, hoe gouer kan ons lekker kuier.”

Georgina is verbaas dat sy so kalm voel. Gister sou sy waarskynlik ’n paar ander woorde gereed gehad het. Die bruin oë sak eerste en André kyk net vlugtig na sy suster en dan na Georgina. Sy wens sy kan agter die grys skanse sien, maar hy wys geen emosie nie.

Na nog ’n rit op ’n ondergrondse trein stap Georgina met hulle ’n straatblok ver en dan beduie sy na ’n gebou. “ ’n Vriend van my woon hier. Ek wil hom gou gaan groet.”

Sy druk die deurklokkie en ’n stem met ’n vreemde aksent antwoord na ’n oomblik. Die kinders draai verbaas na Georgina toe sy in ’n vreemde taal praat en die volgende oomblik gaan die deur oop en is hulle in ’n portaal waar groot skilderye teen die mure hang en ander op die vloere rondstaan. ’n Lang donkerkopman met ’n besonder sensuele mond en laggende oë kom uit ’n ander vertrek en steek sy arms na Georgina uit. Hy tel haar ’n oomblik van haar voete af op en plant ’n soen op elke wang, die vreugde duidelik op sy gesig.

“Wat maak jy hier? Waarom het jy my nie laat weet jy kom nie?” Hy bekyk haar van kop tot tone.

“Ek kom vir twee maande na hierdie kinders kyk en as jy lag, slaan ek jou dood!” Sy antwoord in Frans, maar slaan dadelik na Engels oor en wys na die drie wat stil eenkant staan. “Kom, laat ek jou voorstel. Dis André.”

Etiénne steek sy hand na die seun uit en gee ’n vriendelike glimlag. “Mooi naam – kom uit my land.”

“Hierdie is Bertie,” gaan Georgina voort en Bertie steek by voorbaat sy hand uit.

En dan gaan die donker blik na die jong meisietjie en hy gee ’n sjarmante buiging, neem haar hand, bring dit tot teen sy lippe en kyk haar bewonderend aan. “Enchanté.”

Jean se wange verkleur dieprooi, maar om haar mond huiwer ’n klein glimlaggie.

“En dit is my vriend Etiénne Druléz,” gaan Georgina voort. “Hy het ’n groot kunswinkel …” sy beduie na die skilderye rondom hulle, “en woon net hierbo.”

“Wanneer het jy gekom?” Sy kan die verbasing in sy oë sien.

“Eergister, maar dit voel soos ’n jaar gelede.” Georgina kan sien dat hy brand om haar uit te vra, maar onder die kinders se blikke hou hy homself in.

“Waarheen is julle op pad?”

“Ons gaan vir Jean ’n rok koop.”

Hy kyk na sy horlosie. “Kan ek saamgaan? Ek sal julle al die nuutste winkels wys, en dan kan ons nog gesels ook.”

Georgina knik laggend en hy roep na die meisie in die kantoor. Toe sy om die deur loer, kondig hy aan dat hy uitgaan. Sy gooi egter haar hande in die lug en kla dat hy eers na die rekenaar moet kom kyk – van die inligting het weggeraak.

Sy hande vlieg ook omhoog en hy sug. “Dit help ook nie ek vra jou of jy iets van rekenaars weet nie, want jy was nog altyd hopeloos met sulke dinge.” Sy blik verskuif moedeloos na André wat hom net stil gadeslaan. “Julle jong mense weet mos alles van dié soort goed af – weet jy nie hoe ’n mens ’n ding kan opspoor wat skielik net weggeraak het nie?” Hy wag nie vir ’n antwoord nie, maar draai net om en stap kantoor toe. Tot Georgina se verbasing stap André huiwerig agterna en verdwyn ook om die deur om ’n paar minute later saam met ’n baie opgewonde Etiénne uit te kom.

“Hy is ’n wonderkind! Gee hom vir my!” Hy sit sy arm om die seun se skouers en glimlag van oor tot oor, terwyl André hard probeer om nie ingenome te lyk nie.

Etiénne hou sy woord en neem hulle na ’n ultramoderne winkel waar die nuutste jongmensklere vol vere en fraiings hang. Hy en die seuns maak hulle op stoele voor die aanpashokkies tuis en lewer kommentaar op al die uitrustings wat Georgina en Jean uitsoek. Dis ’n vreemd inskiklike Jean wat uitrusting na uitrusting aanpas. Toe Jean skaam uit die hokkie stap en selfbewus aan die kort rompie trek, raak Etiénne stil en kyk haar aandagtig deur. Hy beduie met sy vinger dat sy moet draai en beskou haar soos ’n wafferse modekenner. Dan knik hy en al wat Georgina moet doen, is om die blinknuwe plastiekkaart vir die winkelassistent te gee. Jean staan trots met haar aankoop en luister na Etiénne se lofredes oor hoe mooi sy met die Indiaanse rompie en veretruitjie gaan lyk. En Georgina kan net haar kop skud. Al wat Jean nodig gehad het, is ’n sjarmante Franse kunshandelaar wat met vrouens kan toor.

“Kom ons gaan drink koffie. Ek is nou dors, en ek het ’n paar vrae wat jy nog nie beantwoord het nie.”

Die kinders verkies om by hulle eie tafeltjie te sit waar hulle die televisie kan sien, en dit gee Etiénne die geleentheid om sy nuuskierigheid te bevredig.

“Wat is dit met jou en die jonge juffrou? Jy is beslis nie haar gunstelingpersoonlikheid nie.”

Georgina kyk na waar die kinders ’n entjie van hulle af sit.

“Sy is doodbang ek verlei haar pa.”

“Is daar so ’n moontlikheid?” Die ekspressiewe mond pruil ontevrede.

“Beslis nie. Ek dog jy ken my beter as dit.”

“Wie is die pa?”

“Ek weet nie of jy hom ken nie – Chris Parker. Hy is blykbaar die een of ander internasionale …” Sy bly stil toe sy oë dramaties rek en hy sag deur sy tande begin fluit.

“Kén jy hom?”

Hy skud sy kop, sy oë nog steeds oopgerek. “Ek sal myself nie aanmatig om te sê ek ken hom nie, maar ek was darem al in sy kantoor.”

“Wat het jy dáár gaan maak?”

“Hy het twee skilderye by my gekoop en ek het die voorreg gehad om hulle te gaan hang. Daardie yskoningin van ’n sekretaresse het my laat kom.” Sy stem raak vir ’n oomblik weg terwyl hy sy kop skud. “Hoe op áárde het jy by hom beland? Ek sou dink die man sal net opgeleide mense gebruik om na sy kosbare kinders te kyk.”

“Wat is verkeerd met my? Ek is gekwalifiseerd!”

“Van wanneer af maak ’n meestersgraad in kuns jou bevoeg om na kinders te kyk? En nie wie se kinders nie – Chris Parker s’n! My skat, ek weet nie hoe jy dit gedoen het nie, maar ek is beïndruk!”

“Etiénne, wat weet jy van hom af?” onderbreek Georgina die stortvloed woorde.

Die donker oë trek nadenkend saam. “Net wat die koerante oor hom skryf.”

Georgina speel met haar teelepel. “Wat sê hulle alles?”

“Hmmm, laat ek dink. Ag en dertig jaar oud, dodelik aantreklik, maar dit weet jy seker. Uiters suksesvol – seker ook nie nuus vir jou nie. Blykbaar briljante brein … dis seker waar daardie kind sy kop vandaan kry.” Hy kyk na André voordat hy weer vervat. “Huwelik was blykbaar nie so gelukkig nie … vrou toe dood in motorongeluk. En volgens die skinderblaaie is al wat vrou is natuurlik agter sy bloed aan en is hy ’n uiters gesogte gas by enige sosiale geleentheid … seker omdat hy baie selde iets bywoon. En waar hy wel opdaag, maak die pers seker hulle neem genoeg foto’s van hom en ’n verskeidenheid vrouens sodat die helfte van die land se skoonhede al romanties aan hom verbind is.”

Georgina lyk teleurgesteld. “Is daar niks verder nie – vreemde gedrag, miskien ’n geskiedenis van geestelike versteuring?”

Etiénne kyk haar onbegrypend aan.

“Ek dink nie die man is reg nie. Geen mens lewe so nie. Of moet ek liewer sê, geen normale mens nie.”

“Georgie, die man ís nie ’n normale mens nie. Mense wat in sy liga speel en werk, maak hulle eie reëls.”

Voordat Georgina kan antwoord, lui die telefoon in haar skouersak en sy buk haastig om dit te antwoord.

“Juffrou Walters?”

“Ja, wie praat nou?” Sy verskuif die klein instrument na haar ander oor.

“Dis Chris Parker. Ek het net gewonder of jy nog van plan is om my kinders vanaand huis toe te bring?”

Georgina se wange verkleur ’n dieprooi en haar stem is aansienlik kouer toe sy antwoord. “Ons het net gou iets gedrink en sal binne ’n halfuur by die huis wees … of wil u hulle by die kantoor sien?”

“Nee, dis al oor ses, ek is reeds by die huis soos wat ek gesê het ek sal wees.”

“Ek is jammer.” Sy kyk vinnig op die groot polshorlosie aan haar arm. “Ek het nie besef dis al so laat nie. Ons kom dadelik.” Die woorde is uiters beleefd, maar haar stem kan deur metaal sny, en toe sy die instrument in haar sak teruggooi, kyk sy op in Etiénne se laggende oë.

“Die man maak jou kwaad. Dís ’n eerste! Dis meer as wat enige van ons nog ooit kon regkry. Jy weet wat ons sê van liefde en haat?”

Sy gee hom ’n vernietigende kyk. “Nee, en ek is nie nou lus vir jou wyshede nie.”

Sy staan vererg op en roep na die kinders.

Buite groet Etiénne haar steeds laggend en hy buk weer oor die blosende Jean se hand en nooi die kinders om asseblief gou weer te kom kuier. Toe die huurmotor wegtrek, beduie hy met sy hand teen sy oor dat Georgina hom moet bel.

Wilna Adriaanse-omnibus 1

Подняться наверх