Читать книгу Wilna Adriaanse-omnibus 1 - Wilna Adriaanse - Страница 9
6
ОглавлениеNa die besige dag is Bertie vroeg vaak, en nadat Georgina hom in die bed gesit en vir die ander twee nag gesê het, is sy dankbaar om ook kamer toe te kan gaan.
In die portaal huiwer sy ’n oomblik. Daar skyn lig uit die studeerkamer. Op haar huiwerige klop, antwoord hy dadelik en sy stap die vertrek binne, net om vas te steek toe sy ’n blondekopman duskant die lessenaar sien sit. Dan draai hy om en sy sien dis Mark Anderson. ’n Wye glimlag breek oor sy gesig en hy staan op. “Georgie, haai, ek het gedink jy slaap al.” Georgina groet verleë. Hy beduie na die stoel langs hom. “Kom sit.”
“Nee dankie.” Sy skud haar kop en dan kyk sy na die man agter die lessenaar. “Bertie slaap en die ander twee is in hulle kamers.” Sy wil eers vra of daar nog iets is wat hy verlang, maar die vraag bly onuitgesproke tussen hulle hang. Sy kan hom wraggies nie so ’n kans gee nie. Netnou sê hy sy moet die vloere was!
Die grys oë huiwer net ’n oomblik op haar gesig, voordat hy knik. “Dankie.”
Georgina kyk na Mark. “Goeienag.”
“Sien jou môre!” Mark gee haar ’n groot glimlag.
“O ja! Juffrou Walters, ek skuld jou blykbaar nog ’n verskoning vir die misverstand met jou aankoms. Ek vergeet nie gewoonlik belangrike reëlings nie.”
Georgina voel hoe haar wange verkleur en sy kyk beskuldigend na Mark wat vinnig wegkyk, maar tog weer opkyk en skelm vir haar oogknip. Sy trek net haar skouers op. Maar by die deur keer die diep stem haar weer.
“Ons vlieg môre vir ’n week Washington toe. Betsy sal jou help inpak. William sal julle nege-uur lughawe toe neem.”
Sy wil eers iets sê, soos dat hy dit vroeër vir haar kon gesê het, maar net die idee aan die uitdrukking in die grys oë maak dat sy net knik en uitstap.
In die kamer pak sy haar klere, stel haar wekkertjie vir sesuur en gaan lê dan op die vloer om haar joga-oefeninge te doen. Miskien laat dit hierdie opgewende knoop in haar binneste skiet gee. Maar selfs die bekende strekke en rekke slaag nie vanaand heeltemal daarin om haar te laat ontspan nie en toe sy in die bed klim, kyk sy op haar horlosie en besluit om vir Etiénne te bel. Sy kan hoor hy is in die een of ander kuierplek toe hy antwoord. “Is jy besig?”
“Nooit te besig vir jou nie. Hoe gaan dit met jou en die tycoon?”
Georgina snork. “Jy bedoel seker typhoon! Dit gaan nie. Ek het myself nog altyd as ’n goeie mensekenner beskou, maar ek is bevrees hy behoort tot ’n ander spesie, want ek verstaan nie sy kop nie.”
“Georgie, ontspan. Julle twee het net ’n verkeerde wegspring gehad. Gee kans, ek is seker dit sal regkom.”
“Hmm, in elk geval, ek bel net om te sê ons word môre Washington toe gesleep vir ’n week. Wat gaan ek daar met die kinders maak? Ek is seker hulle het al die Wit Huis gesien.”
“Ek is seker jy sal aan iets dink.” Sy kan hoor hy glimlag.
“Etiénne, is jy besig om jouself in my nagmerrie te verlustig? Want dit klink vir my jy geniet elke oomblik.”
Hy lag in haar oor. “Dis net ’n heerlike verandering om jou so te sien. Jy weet tog ons het al begin vermoed jy het geen emosie nie, want niks raak jou ooit nie. Altyd in beheer … Dis net interessant om die ander Georgie te sien.”
’n Skewe glimlag trek aan haar mondhoeke. “Die emosie was nog altyd daar, ek vind dit net uitputtend.”
“Georgie, hoeveel jaar is dit nou?” Die lag het uit sy stem gewyk.
“Nie vanaand nie, Etiénne. Ek het my emosie vir die dag opgebruik. Lekker slaap. Praat met jou uit die Capitol.”
In plaas daarvan om voor die lughawe te stop, word hulle by ’n hek ingelaat, en Georgie weet nie waarom sy verbaas is toe hulle ’n paar minute later voor ’n klein privaatstraler stop nie. Die bagasie word deur William en twee ander mans van die motor na die vliegtuig se romp oorgelaai, en dan beduie ’n jong meisie vir hulle om solank aan boord te gaan. Die kinders ken haar blykbaar, want sy groet hulle op die naam en vra hoe dit met hulle gaan. Daar is niemand anders in die vliegtuig nie en Georgina kan op haar tyd rondkyk. Dit lyk soos ’n kombinasie tussen ’n baie mooi studeerkamer en ’n deftige sitkamer. Voor in die vliegtuig is ’n ovaaltafel met ses sitplekke rondom, en sy besef daar word selfs tydens vlugte gewerk. Agtertoe is tien sitplekke, soos in ’n gewone vliegtuig, maar aansienlik ruimer en na mekaar gedraai. Sy sien ’n klein kombuisie net agter die stuurkajuit en aan die agterkant van die vliegtuig die liggies van twee kleedkamers.
Die kinders soek vir hulle sitplekke uit en Georgina kyk verbaas hoe dieselfde kinders wat gister grootoog op ’n ondergrondse trein geklim het, nie ’n oog knip vir hierdie luukse vervoermiddel nie. Bertie besluit hy wil langs haar sit en Georgie plaas haar skouersak in die oorhoofse bêreruimte. Dan sak sy weg in die sagte leersitplek. As Etiénne haar nou kon sien! Of Leon of Griet!
Sy hoor stemme op die trappies en die volgende oomblik kom Mark Anderson die kajuit binne, belaai met aktetasse. Agter hom volg nog ’n man, Georgina skat hom so vroeg dertig, rooiblonde hare, met fyn sproete oor sy neus en wange, en vriendelike groenbruin oë. Aantreklik, sou sy sê. Die volgende persoon wat verskyn, is ’n baie mooi jong vrou. Blond gestreepte hare met helderblou oë en ’n pragtige lyf. Sy is, soos die mans, formeel geklee. Haar knielengte rompie en snyersbaadjie is duidelik nie van die rak af gekoop nie. By nader beskouing besef Georgie dis dieselfde mense wat die eerste dag saam met Chris Parker uit sy kantoor gekom het en saam in die hysbak gery het.
Al drie van hulle groet die kinders, maar toe Mark ontslae geraak het van die aktetasse, kom hy en die ander man nader en Mark tel vir Bertie op en draai hom uitgelate in die rondte. Hy gee een kyk na Jean in haar nuwe uitrusting en laat haar dan opstaan en in die rondte draai. Albei mans fluit hard en Georgina kan sien hoe die dogtertjie se ogies ophelder.
“Georgie!” Mark sit sy hande op haar skouers en plant ’n soen op haar wang. “Tot my spyt moet ek jou aan hierdie kollega voorstel, maar jy hoef nie van hom te hou nie. Harry Hamilton, en dis Georgina Walters en heeltemal verbode terrein vir jou.” Hy kyk streng na die ander man, wat intussen sy hand uitgesteek het en haar nou belangstellend betrag.
“Ek het al so baie van jou gehoor.”
“Dis onwaarskynlik. Ek is nog skaars vier dae hier.”
“Dit wys jou net hoe baie daar oor jou gepraat is vandat ons jou daardie eerste dag in die hyser gesien het.”
Georgina kan net glimlag vir die gladde praatjies, maar wonder tog in stilte wié die praatwerk doen.
Mark roep na die jong vrou wat besig is om ’n aktetas weg te pak. “Alice Smith, en dis Georgina Walters.” Die blondekop knik, maar niks verder nie.
Die kinders staan op toe hulle pa in die deur verskyn en hy sit sy aktetas neer om hulle te groet. Sy oë rek toe hy Jean sien. “Dís nuut!”
“Hoe lyk ek?” Sy draai voor haar pa in die rondte. “Etiénne het dit uitgesoek.”
“Wie is Etiénne?” Hy trek sy jas uit en skuif die aktetas onder ’n sitplek in.
“Hy is haar vriend.” Jean kan haarself nie so ver kry om Georgina se naam te sê nie. Die grys oë kyk op en net vir ’n oomblik is daar ’n vraag. Dan knik hy net in erkenning en sê vir die kinders om te gaan sit. Die jong meisie, haar naam is blykbaar Jackie, loop deur die kajuit en sien dat almal vasgegordel is. Die ander het ook agter by Georgina en die kinders kom sit, behalwe hulle werkgewer wat skielik voor by ’n deur in verdwyn. Mark sit oorkant die paadjie van Georgina en begin dadelik gesels.
“Waarom was jy weer gisteraand in so ’n bui? Het die baas jou weer kwaad gemaak?” Sy stem is sag, sodat die ander nie kan hoor nie.
“Sal jy my glo as ek jou sê dat ek baie selde in my lewe kwaad word?”
“Nee, want ek het jou feitlik nog net kwaad gesien – moet iets in Manhattan se lug wees. Miskien gaan Washington jou goed doen.”
Georgina skud haar kop. “Ek twyfel of dit die lug is.”
Sy oë begin vonkel. “Moenie dat hy so onder jou vel inklim nie. Dis maar sy manier.”
Georgina kan net in stilte luister en dan draai sy haar kop om te kyk hoe die vliegtuig se skaduwee langs hulle oor die aanloopbaan jaag en uiteindelik sy voorwiele lig, om sekondes later gewigloos tussen hemel en aarde te hang.
Mark kyk na die man langs hom en knik. “Goeie opstyg. Hy raak al beter.”
Toe sy kop terugdraai, sien hy haar vraende blik en hy glimlag. “Chris vlieg self as hy tyd het, maar deesdae het hy omtrent net tyd vir die opstygings en landings.”
Georgina knik. Natuurlik sal hy self vlieg. Wat is daar wat hy nié doen nie?
Die deur na die stuurkajuit gaan oop en die drie rondom haar en die kinders staan op en gaan neem hulle plekke by die tafel in. Aktetasse word oopgeknip, papiere en lêeromslae word uitgehaal en binne ’n paar minute gly die penne oor papier.
Georgina sit onderlangs die groepie en dophou en kan sien dat daar met groot konsentrasie gewerk word. Selfs Mark se gesig is vir die oomblik ernstig. Sy neem ’n tydskrif uit die rakkie langs haar en begin daarin blaai. Jackie het vir die kinders versnaperings gebring en Bertie is lustig besig om te kou.
“Bertie, het julle nie bordspeletjies om te speel nie?”
“Wat is bordspeletjies?” Die bloue oë kyk vraend na haar.
“Daar is ’n verskeidenheid beskikbaar. Speel julle nooit speletjies met mekaar nie?”
“Nee. Wat moet ons met mekaar speel?”
Georgina skud haar kop. “Toe maar, eet jou kos.”
Sy kan aan haar oortromme voel hulle begin daal en in ’n stadium sien sy Chris Parker opstaan en weer in die stuurkajuit verdwyn. Sy hoop van harte hy kan so goed land soos hy kan opstyg. Sy is nie lus vir bokspring oor die aanloopbaan nie. Die ander drie begin al die papiere oppak en kom neem weer hulle sitplekke by haar en die kinders in.
“Wat beplan jy om alles in Washington te doen?” Mark knip die sitplekgordel vas en kyk glimlaggend na haar.
“Ek het nie ’n idee nie.”
“Jy kan altyd een aand saam met my uitgaan. Ek kan jou dalk ’n ding of twee van Washington leer wat jy nie geweet het nie!” Sy oë vonkel ondeund en Georgina skud haar kop.
“My werksure is van so ’n aard dat ek ongelukkig nie van jou aanbod gebruik kan maak nie – op bevel van jou baas!”
“Is hy nie jou baas ook nie?” Sy mond lag nou saam met sy oë.
“Behoede my!”
’n Borrellag ontsnap sy lippe en hy skud sy kop.
Georgina reken haarself nogal ’n deskundige op die gebied van vlieëniers se vernuf, maar hoe sy ook al probeer, sy kan niks fout vind met die landing nie, en sy kan nie help om teleurgesteld te voel nie. Enigiets om hom van sy troon af te kry. Dan skud sy haar kop. Sy is nou besig om kinderagtig te word.
Op die aanloopbaan staan twee lang luukse motors op hulle en wag. Die bagasie word saam met haar en die kinders in een gelaai en nadat Chris Parker sy kinders gegroet het, maak Mark die deur agter haar toe en vertrek sy en die kinders agterin een van die weelderige motors. Met haar laaste blik na die ander groepie sien sy hoe hulle in die ander motor klim.
Die hotel is soos Georgina dit verwag het, miskien net nog deftiger. Die reuse-suite het drie slaapkamers en ’n baie ruim sit-eetvertrek. In al die vertrekke staan bosse blomme en bakke vrugte en sjokolade rond.
Toe almal se klere in die kaste uitgepak is, sê sy hulle aan om warm aan te trek, want sy wil winkels toe gaan. Op Bertie se vraag of sy vir hom ’n speelding gaan koop, skud sy haar kop.
“Nee, ek gaan speletjies koop wat ons vier saam kan speel. As die weer so koud bly, sal ons nie baie kan rondloop nie.”
Terug by die hotel, kan Bertie nie wag om die aankope uit te probeer nie en het Georgina moeite om te keer dat hy al die dose gelyk oopmaak. Sy pak al die speletjies op die mat in die seuns se kamer uit en verduidelik kortliks aan hom hoe elkeen werk, dan laat sy hom besluit watter een hulle eerste sal speel. André het na die ander kamer verdwyn, waar Bertie sê daar ’n rekenaar is. Jean lê op haar bed met die televisie se kontrole in haar hand, besig om van kanaal na kanaal te spring. Op Georgina se vraag of hulle nie wil saamspeel nie, bring Bertie die boodskap dat albei nee sê.
Na twee uur waarin haar ronde rooi skyfie in ’n verskeidenheid slange se mae verdwyn het, net om moeisaam weer teen die leertjie uit te sukkel, roep Georgina halt. Haar lyf is styf en seer en sy strek haarself uit. “Ons kan later weer speel, maar nou is ek dors en soek ek verkieslik vars lug.”