Читать книгу Wilna Adriaanse-omnibus 2 - Wilna Adriaanse - Страница 10
7
ОглавлениеDinsdag en Woensdag sorg Lisa dat niemand in die huis ledig is nie. Sy vind vir elkeen iets om te doen, en verwag dat elkeen kom verslag lewer.
Nicolene moet tot haar verleentheid weer die arme spysenier besoek en seker maak hy weet wat hy doen. Gelukkig het hy ’n goeie humorsin en nadat hy en Nicolene gesellig saam tee gedrink en gesels het, kan sy gaan verslag doen dat alles reg sal wees.
Lisa maak self seker dat die bloemiste nie dalk vergeet het nie en toe sleep sy ’n onwillige Karen stad toe om die laaste keer die trourok te gaan aanpas, en haar eie rok op te laai. Nicolene het gehoop om die uitstappie mis te loop, maar Lisa het haar streng daarop gewys dat sy eintlik hier is om die bruid te ondersteun en nie om dag en nag te kuier nie. Nicolene en Karen het betekenisvol na mekaar gekyk en Nicolene het sugtend agterin die motor geklim.
By die ontwerper bekyk Lisa met ’n kritiese oog die pragtige rok, maar selfs sy kan nie daarmee fout vind nie. Haar eie rok is ’n baie stylvolle skepping van sagte perskekleurige gewaterde sy. En Nicolene wonder vir die soveelste keer die afgelope paar dae hoe haar ma dit regkry om nog so aantreklik te wees. Haar pa sê altyd dis hy wat haar so mooi hou en Nicolene vermoed daar steek baie waarheid in sy woorde. ’n Vrou wat so seker van haar man se liefde is, straal ’n innerlike mooiheid uit wat met die jare net verdiep.
Sy wonder vir ’n oomblik waar sy sal wees wanneer sy haar ma se ouderdom bereik. Sal sy gelukkig getroud wees? Sal sy kinders hê? Waar sal sy woon? En die belangrikste van alles seker: sal sy ’n man hê wat vir haar ook so lief is? Sy is seker Karen sal soos haar ma ouer word, gekoester in Gerrit se liefde.
Nicolene skrik orent toe haar ma se stem deur haar gedagtes dring.
“Waaraan dink jy as jy so ingedagte sit?”
“Ek sit en kyk hoe mooi die liefde julle twee maak, en al is dit vreeslik oudmodies om in romantiese liefde te glo, kan ek nogal ’n paar voordele daarin sien.” Toe sy sien hoe haar ma se blik peinsend oor haar gesig gaan, voeg sy laggend by: “Al is dit dan ook net om mooi oud te word.”
Karen sluit gelukkig op daardie oomblik by hulle aan en Nicolene is dankbaar om onder haar ma se oë uit te kom. Sy kan die vrae daarin sien en sy is nie nou lus vir enige diepsinnige gesprekke nie, veral nie oor die liefde of die huwelik nie.
Nadat Lisa seker gemaak het dat die ontwerper Saterdag betyds met die rok sal opdaag, stel Nicolene voor dat hulle ’n ligte middagete in Frans se restaurant gaan eet. Die ander twee willig gretig in.
’n Kelner beduie hulle na ’n tafel en toe hulle sit, vra Nicolene hom om Frans te roep.
’n Breë glimlag verskyn op sy gesig toe hy uit die kombuis gestap kom en hulle gewaar. “Wat het ek gedoen om hierdie eer te verdien?” grap hy toe hy by hulle tafel tot stilstand kom en buk om die drie vrouens te groet.
“Ons is op soek na versterkings. Om ’n trourok aan te pas, maak ’n mens moeg en dors. En dan is daar sommige van ons wie se senuwees ook nie meer so sterk is nie,” laat Karen sugtend hoor.
Lisa se oë draai bekommerd na haar jongste dogter. “Van wanneer af pla jou senuwees jou?”
“Dis nie my senuwees wat versterkings nodig het nie.” Karen knipoog vir Frans.
“As ek haar gelos het, sou sy seker Saterdag met ’n laken en ’n stinkafrikaner by die kerk opgedaag het en vir die mense wegneem-pizzas gegee het om te eet,” bekla Lisa haar lot teenoor ’n simpatieke Frans.
“Dink net hoeveel geld ons sou gespaar het, én ek lyk nogal mooi in ’n laken.” Karen kyk na Nicolene wat besig is om die wynlys te bestudeer. “Onthou jy die partytjie waar ons almal soos Griekse gode en godinne moes aantrek? Ek het nogal baie komplimente gekry.”
“Frans, ignoreer asseblief hierdie twee en bring vir ons ’n lekker koue witwyn. Miskien sal dit hulle waansin laat bedaar.” Nicolene maak die wynlys toe en kyk kopskuddend na haar ma en suster.
“Ja, ek het beslis iets nodig om my deur die aand te kry. Kombuisteepartytjies was nog nooit een van my geliefkoosde tydverdrywe nie.” Karen kyk beskuldigend na haar ma.
“Wát het jy verwag moet ek doen? Almal wou weet of ek nie vir jou ’n partytjie gaan gee nie. Hoe sou dit gelyk het as ek nee gesê het?” Lisa se stem styg ergerlik.
“Ma kon gesê het dis die een en twintigste eeu; niémand hou meer kombuistees nie, want dis nie ’n uitgemaakte saak dat ek enigiets in ’n kombuis gaan doen nie. Waarom hou julle nie vir Gerrit ’n kombuispartytjie nie? Hy kan in elk geval baie beter as ek kook.”
“En wie se skuld is dit?”
Voordat Karen haar ma kan antwoord, neem Nicolene albei se hande in hare en laat met ’n sagte stem hoor: “Julle gedra julle nou nes kinders. Hou dadelik op of ek loop en julle sien my eers weer Sondag. Albei van julle is gespanne en nou haal julle dit op mekaar uit.” Sy draai na Karen. “En jy sal niks daarvan oorkom om vanaand saam met die tantes en niggies te kuier nie. Dis een aand in jou lewe.”
Ma en dogter bly albei skuldig stil en toe Nicolene haarself vir ’n oomblik van die tafel verskoon, kyk sy waarskuwend na albei. “Wanneer ek terugkom, wil ek glimlagte en baie liefde sien.”
Frans is besig om die laaste afronding aan ’n gerookte hoenderslaai te doen toe Nicolene in die kombuis kom. “Hulle sal my nog gek maak. My ma dink Karen gee nie om wat gebeur nie, en verstaan nie dat sy eintlik doodbang is nie. Ek dink haar grootste vrees op hierdie stadium is dat Gerrit nie gaan opdaag nie.” Nicolene druk ’n heldergroen slaaiblaar in haar mond en kou ingedagte. “Dít alleen sal maak dat ek nooit trou nie. Ek sien nie kans om met soveel angs my troudag in te wag nie.”
“As dit die regte man is, het jy niks te vrees nie.” Frans kyk nie na haar nie. Sy blik is op die bord voor hom gerig.
“H’m … as jy so sê … Is alles reg vir vanaand?”
Hy knik. “Alles wat ék moes reël. Jacques het gesê hulle sal so teen tienuur hier wees. En ek neem aan teen daardie tyd het julle ook al genoeg kombuisstories uitgeruil om haar ’n leeftyd te hou.”
Nicolene knik. “Ja, ons behoort so teen nege-uur klaar te wees, en as ons nie is nie, sal ek die een of ander verskoning uitdink waarom ons moet gaan.” Sy draai om en stap terug na die tafel waar twee aansienlik vroliker vrouens besig is met hul tweede glasie wyn.
Ná twee bottels wyn en ’n heerlike Mediterreense groenteslaai word Frans hartlik bedank en gegroet.
Toe hulle by die motor kom, bied Nicolene aan om te bestuur. Terwyl hulle terugry, beplan sy aan die verskoning waarmee sy vanaand vir Karen in die stad gaan kry. Gerrit se vriende gaan hom uitneem vir ’n drankie, en teen tienuur is sy veronderstel om vir Karen by Frans se restaurant te besorg, waar haar vriendinne sal wag. Dan gaan hulle die res van die aand almal saam daar kuier. Karen en Gerrit is egter onbewus van die reëlings.
Tot Karen se groot verbasing is haar kombuistee toe nie ’n outydse gedoente waar sy onsinnige rympies moet ontsyfer, terwyl sy die verskil tussen ’n sif en ’n koekspaan moet raai nie. Sy kry pragtige mandjies met kruie vir haar kombuis, ’n mooi houtskinkbord, bakke met heerlike bevrore kosse, en ’n velerlei ander nuttige geskenke. En toe die gaste net ná nege vertrek, sit sy haar arm om haar ma se skouers en laat haar kop vir ’n oomblik teen die ouer vrou se kop rus.
“Dit was heerlik gesellig. Baie dankie … en ek is jammer ek was vandag so ondankbaar.”
Lisa druk die jong lyf teen haar vas en druk ’n soentjie teen die donker hare.
“Karen, ek het my handsak by Frans vergeet en wil dit gou gaan haal. Kom ry saam met my,” nooi Nicolene toe hulle al die glase en koppies terug kombuis toe gedra het.
Karen huiwer net ’n oomblik voordat sy haar skouersak gaan haal en toe saam met Nicolene in Lisa se motor klim.
Die straat voor die restaurant is propvol motors toe hulle daar aankom, maar daar is gelukkig nog ’n oop parkeerplek en Nicolene parkeer haastig. Toe hulle uitklim, kan hulle die mengelmoes van stemme deur die oop vensters hoor, maar die oomblik toe hulle die deur oopstoot, sak ’n doodse stilte oor die groep neer.
Karen kyk vraend na Nicolene, nie seker waarom die hele restaurant stil word toe hulle instap nie. Toe gewaar sy die bekende rooi kop en sy begin stadig glimlag. Toe hy voor haar tot stilstand kom, sit sy haar arms om sy nek en vir ’n lang oomblik lag hulle in mekaar se oë terwyl daar rondom hulle hande geklap en gefluit word.
Nicolene gewaar vir Jacques waar hy eenkant by ’n groep mans staan en gesels, en sy baan vir haar ’n pad tot langs hom. Die ander aand se onsinnige gedagtes het gelukkig die wyk geneem en sy glimlag onbevange.
Sonder om na haar te kyk, sit hy sy arm om haar skouers en trek haar tot teen hom. Toe stel hy haar aan die groep voor en beduie vir een van die kelners om vir haar ’n glas te bring.
Nicolene bly staan so in die holte van sy arms en kan nie help om te wonder waar Mariaan is nie, maar sy gaan hom ook nie vra nie.
Die res van die aand word daar baie gelag en gesels, en dis nie lank nie of ’n paar van die gaste begin tussen die tafels dans.
Die geskenke by hierdie partytjie verskil heelwat van die vorige een. Daar is gewaagde slaapklere, handleidings vir die getroude paartjie om die huweliksbootjie op koers te hou en nog allerlei prettige pakkies wat onder groot gejuig oopgemaak word.
Tussen die musiek en die stemme deur kan niemand mekaar behoorlik hoor nie en toe Nicolene in ’n stadium ’n paar hande op haar heupe voel, kan sy net saam met die vreemde lyf begin beweeg. Sy ken al Karen en Gerrit se ou vriende, maar daar is ook ’n paar nuwe gesigte en hoewel sy aan almal bekendgestel is, kan sy later nie meer die gesigte en name bymekaar sit nie.
Nicolene weet nie hoe laat dit is toe die meeste mense begin aanstaltes maak om te ry nie. Gerrit bied aan om Karen met Lisa se motor huis toe te neem, en Jacques sê hy sal Nicolene huis toe neem.
Hy draai egter nie by die plaashek in nie en toe Nicolene hom vraend aankyk, laat hy lui hoor: “Ons gaan eers by my koffie drink.”
“Ek wil nie nou koffie drink nie, ek wil gaan slaap.” Nicolene gee ’n lang gaap, maar die motor het reeds voor die ou dubbelverdiepinghuis tot stilstand gekom en toe hy die deur vir haar oopmaak, is sy genoodsaak om uit te klim.
Toe sy hom eindelik oortuig dat sy nie koffie wil drink nie, haal hy twee kelkies uit die kas en in die sitkamer skink hy vir albei likeur. Hy hou die fyn langsteelglasie na haar uit.
“Waarop sal ons drink?”
“Op vriendskap!” Sy skop haar skoene uit en sak op die groot leerrusbank neer. “Die enigste streslose verhouding!”
Jacques lig haar uitgestrekte bene op, sak langs haar op die bank neer en laat haar bene oor sy skoot lê.
“Waar is jou vriendin?” vra sy tog die vraag wat haar die hele aand bygebly het.
“Watter een? Jy weet mos ek het baie …”
“Jou aanstaande vrou. Of het jy van hulle ook baie?”
“Nee, ek het om die waarheid te sê nie een van hulle nie, maar as jy van Mariaan praat, sy is die week na haar ouers toe.”
“H’m … geen wonder jy het vanaand so geniet nie.” Nicolene skuif dieper teen die rugleuning af terwyl sy klein slukkies van die taai wit vloeistof neem.
“Vir ’n meisie wie se kêrel Vrydag hier arriveer, het jy ook nie juis soos die verlangende grasweduwee gelyk nie.” Hy buk vorentoe en skink hulle kelkies weer vol.
“Jacques … dink jy ons sal nog so kan kuier wanneer ons getroud is?” Haar stem is peinsend terwyl sy nikssiende na die dak staar.
“As ons met mekaar trou, sien ek geen rede waarom ons nie kan saamkuier nie.”
Sy gluur hom aan. “Dink jy daar is plek in ’n huwelik vir so ’n vriendskap, of sal ons ook maar geleidelik van mekaar af wegbeweeg, totdat ons mekaar vriendelik sal groet wanneer ons mekaar elke paar jaar raakloop?”
“Sal jy jou man toelaat om so ’n vriendskap met ’n ander vrou te hê?”
Haar blik rus ’n lang oomblik op sy gesig en toe skud sy stadig haar kop. “Seker nie … maar ek kan nie glo dat ons maar net eendag kennisse sal wees nie.”
“Dan sal ons mekáár seker maar moet vat. Dis al oplossing waaraan ek kan dink.” Hy strek sy bene en sit sy voete op die groot koffietafel.
“Nee dankie, die dag wanneer ek trou, wil ek nie elke dag wonder of ek nog die gunsteling van die dag is nie. Ek soek ewige liefde … as daar so iets is.”
“En jy dink nie ek sal vir een vrou kan lief wees nie?”
Sy skud haar kop stadig heen en weer. “Jy vergeet ek was van die begin af daar – ek weet hoe gou jy vir ’n meisie moeg raak. Ek ken jou, miskien beter as wat jy jouself ken.” Nicolene sit die leë glasie op die koffietafel neer en sak weer op die bank terug. “En ek ken al die slagoffers wat langs die pad gesneuwel het.”
“Het jy nog nooit gewonder waarom ek met soveel meisies uitgegaan het nie?” Sy vingers streel oor haar kaal bene.
“Jy hou van ’n verskeidenheid …”
Hy skud sy kop. “Jy ken my nie so goed as wat jy dink nie.”
“Ek ken jou … baie goed.” Sy sluit haar oë. “Ek weet jy het ’n klein merkie langs jou linkeroog waar ’n tak jou gekrap het. En weet dat jou mondhoeke effens opkrul wanneer jy glimlag. Ek weet jy slaap altyd op jou regtersy …” sy glimlag “… teen jou regterskouer …”
Die woorde stol in haar keel toe hy skielik oorleun en haar soen en dan sag teen haar mond fluister: “Maar het jy geweet dat ek jou nog altyd graag wou soen?”
Sy wil haar kop skud, maar hy soen haar weer en sy voel hoe haar oë onwillekeurig toegaan.
En meteens voel dit vir haar of sy in ’n vreemde huis ingestap het, maar binne is alles bekend. Sy mond is bekend; sy hande is bekend; sy reuk … die hitte van sy vel teen hare … En sy kan voel hoe haar lyf begin ontspan en sy haar aan die bekendheid oorgee. Haar arms vou om sy skouers … haar vingers krul om die hare in sy nek … streel oor sy gesig … Die spiere in sy arms lewe onder haar aanraking en toe hy haar met ’n kreun teen hom vastrek en sy mond oor haar gesig streel, kan sy nie meer dink nie. Tyd en plek vervaag … Hulle soen mekaar met ’n vreemde dringendheid, terwyl hy tussenin onverstaanbare woorde in haar hare fluister … Dis soos ’n veldbrand wat al hoër brand en dreig om hulle albei te verteer. Sy maak nie haar oë oop nie, vasgevang tussen ’n droom en die werklikheid. Sy stem is hees in haar ore, maar die woorde maak nie sin nie … kry nie betekenis in die droomwêreld nie.
Die geluid dring van baie ver af deur na hulle bewussyne en dit duur nog ’n paar sekondes voordat Jacques die gelui van die telefoon herken en effens verdwaas regop kom. Sy stem is hees toe hy antwoord en Nicolene hoor hoe hy kug. Toe sy orent kom, sien sy hoe hy met sy hand oor sy oë vee waar hy in die portaal staan.
“Hallo, Karen. Sy is by my – ons het kom koffie drink,” hoor sy hom sê. En toe hoor sy hoe hy die telefoon op die mikkie terugsit.
Sy is besig om naarstig na haar skouersak te soek toe hy terug in die sitkamer kom. Toe hy sy hand na haar uitsteek, gee sy haastig pad en sonder om na hom te kyk, laat sy oor haar skouer hoor dat sy huis toe moet gaan.
“Nicci …”
Hy staan groot voor haar, en Nicolene voel hoe sy liggies begin bewe, maar sy skud haar kop.
“Ek wil huis toe gaan, Jacques …”
“Later …”
Sy mond is by haar oor en Nicolene gee ’n tree terug.
“Jacques … ek is nie presies seker wat hier gebeur het nie, maar van al die onbesonne dinge wat ons in ons lewe al gedoen het, moet hierdie seker die eerste plek kry … en ons kan net dankbaar wees die telefoon het gelui.”
“Hou op baklei, Nicolene. Jy het geweet dit sal die een of ander tyd gebeur.”
“Ek het nie. Ek het ’n verhouding met iemand … en jy ook! En ek gaan nie verder hieroor praat nie.”
’n Lui glimlag speel om sy mondhoeke en hy vee met sy vinger oor die kontoere van haar lippe. “Waarvoor is jy bang?”
“Ek is nie bang nie, maar hierdie is een pad wat ek nie gaan stap nie … nooit. Ons is vriende en ons het byna vanaand daardie vriendskap vernietig, so, los my dat ek kan huis toe gaan.” Sy lek oor haar droë lippe. “Nagmerries verdwyn gewoonlik wanneer die son opkom.”
Sy lag is hees. “Dit was die lekkerste nagmerrie wat ek nog gehad het.”
Haar oë flits ergerlik op in syne. “Dis nie ’n grap nie.”
“Jy kan nie nou huis toe gaan nie. Ons het nog baie om oor te praat … soos dat jy vir Andrew moet bel en sê hy hoef nie meer te kom nie.”
Nicolene draai terug na hom, terwyl sy frons, asof hy besig is om ’n vreemde taal met haar te praat.
“Ek wil nie vir jou sê jy het te veel gedrink nie, maar daar is beslis érnstig fout met jou.” Sy tel haar skouersak van die vloer af op en vee oor haar hare. Die volgende oomblik sluit sy arms egter om haar lyf en kan sy nie beweeg nie.
“Het jy niks gehoor wat ek vir jou gesê het nie?” Sy stem is ernstig. Die merkie langs sy oog is nou ’n kepie. Die mond wat vroeër so sag was, nou ’n reguit lyn.
“Ek gee nie om wat jy gesê het nie.” Nicolene kyk nie na hom nie.
“Moet ek my woorde herhaal?”
Sy stem is baie stil en ’n rilling gaan onwillekeurig deur haar asof sy meteens koud kry.
“Jacques … asseblief … Dit maak nie saak wat jy gesê het nie. Ek is seker jy het al vantevore dinge in jou lewe gesê wat jy nie noodwendig alles bedoel het nie.”
Sy skrik vir die skielike skor lag by haar oor. “Nie vir jou nie … nooit vir jou nie. En ek gaan nie toelaat dat jy hiervandaan wegstap asof dit ’n toevallige ontmoeting was nie. Ons gaan hieroor praat. As jy nie nou wil praat nie, dan later vandag … maar ons gaan praat.”
Nicolene kan net stil knik. Sy sien nie kans om nou te argumenteer nie – nie terwyl hy so vir haar kyk nie. Nie terwyl haar maagsenuwees in ’n bondel saamgeknoop is nie.
Toe sy sien hy tel die motorsleutels op, skud sy haar kop. “Ek sal stap.”
Hy gooi die sleutels terug op die tafel en stap agter haar aan in die gang af en deur die kombuis. Toe die agterdeur agter hulle toeklap, sien sy dat die lug besig is om rosig oor die berge te verkleur.
“Jy hoef nie saam te stap nie,” sê sy, maar hy bly net ’n halwe tree agter haar en toe sy by die riviertjie oor ’n stomp struikel, vang hy haar aan die arm en trek haar regop.
By die stoepdeure hou hy haar ’n oomblik terug en sy mond rus sag teen haar voorkop. Toe laat hy haar gaan en sy maak met bewerige hande die deur oop, dankbaar dit is nie gesluit nie.