Читать книгу Wilna Adriaanse-omnibus 2 - Wilna Adriaanse - Страница 7

4

Оглавление

Sondagoggend breek helder en sonnig aan en Lisa is al vroeg op om al die voorbereidings vir middagete af te rond. Sy het besluit dis ’n goeie geleentheid om ’n paar vriende en familielede oor te nooi. Almal is so besig met die laaste voorbereidings vir Kersfees en vakansie, en op die troue sal daar ook nie juis kuiertyd wees nie.

“Hoeveel mense het Ma genooi?” wil Nicolene van haar pa weet toe sy die soveelste stapel borde buitentoe dra.

Wilhelm du Toit skud sy kop. “Ek het nie ’n idee nie. Soos dit vir my lyk, het sy sommer al die trougaste genooi.” Toe beduie hy na een van die stoele onder die groot sambreel. “Kom sit eers bietjie by my … ek sien jou omtrent nie. Vertel my hoe dit met jou gaan.”

Nicolene gaan sit langs hom en kyk na die die sprankelende blou swembad voor hulle. “Dit gaan baie goed. Ek geniet my werk … ek woon lekker … hoewel ek nie weet hoe ek nou weer sal kan teruggaan nie. ’n Mens vergeet hoe lekker dit hier tussen al die bekendes is – en dan nog al hierdie goue sonskyndae ook.”

“En jou toekomsplanne?” Die donker oë kyk rustig na haar.

“Ek weet nie … Ek het nie ’n kontrak met die restaurant nie, maar ek sal seker nog ’n rukkie daar aanbly … miskien eendag my eie plekkie begin. Ek sal maar sien.”

“Beteken dit jy kom nie terug nie?”

Nicolene antwoord nie dadelik nie. En toe sy antwoord, is haar stem baie sag. “As Pa my ’n maand gelede dieselfde vraag gevra het, het ek sonder twyfel gesê: nee, ek kom nie weer terug nie.”

“En nou … wat het verander?”

Die diep stem spoel oor haar en sy voel hoe ’n band haar keel toetrek. “Ek het nou weer gesien wat ek alles mis … maar nou is dit ook nie meer so maklik om alles net daar te los en terug te kom nie.”

“H’m … dis maar die lewe … ’n Mens moet keuses maak en dan moet jy met jou keuses saamleef.” Hy kyk verby haar, in die rigting van die berge wat vandag bloupers in die helder oggendson staan.

Nicolene antwoord nie. Sy weet nie of daar ’n vermaning in die woorde skuil nie. Hy het hulle van kleins af toegelaat om keuses te maak, maar ook geleer om die verantwoordelikheid van jou besluit self te dra. Miskien wil hy haar net weer daaraan herinner; miskien wil hy maar net hoor of sy enigsins al oor haar toekoms gedink het.

“Nee, maggies julle twee, julle kan nie net hier sit nie!” Lisa kom op die stoep uit en begin tafeldoeke oor die tuintafels gooi.

“Lisa, weet jy dat die troue eers volgende Saterdag is?” laat Wilhelm droog hoor, terwyl hy vir Nicolene knipoog.

“Ek weet … maar die familie kla almal dat hulle nog nie vir Nicci gesien het nie en Karen en Gerrit gaan nie vir Kersfees hier wees nie.”

Lisa se hande werk onverpoos voort en Nicolene staan op om haar te help. Haar ma is gespanne … en sy weet nie waaroor nie. Sy is bekend dat sy in haar lewe al groot partytjies en funksies moeiteloos en foutloos gereël het. Sy wonder meteens waarom Andrew se besoek haar ma gespanne maak. Hulle het hom tog al ontmoet. Sy weet nie of hulle baie dol oor hom is nie, maar hulle het nog nooit regtig kommentaar gelewer nie. Miskien is dit maar net die troue. As die bruid se ma voel sy seker verantwoordelik dat alles glad moet verloop.

Toe die kuiergaste begin arriveer, kan Nicolene en Karen net hulle koppe skud, want dit lyk werklik of haar ma die hele dorp én omstreke genooi het.

Gideon en Christa Roux daag eerste op, saam met hulle dogters en dié se mans. Daar word uitbundig heen en weer gegroet. Die uitgebreide familie van ooms en tannies, niggies en neefs, en later vriende en bure daag in hulle hordes op. Nicolene is besig om Paul en Annemie met hulle twee seuntjies te groet, toe sy Jacques en die blonde meisie op die stoep gewaar, en sy staar onbeskaamd en wonder wat dit met hom en blondines is. Sy kan nie onthou of daar ooit een was wat nié so gelyk het nie. Hulle maak in elk geval ’n mooi prentjie en behoort pragtige kinders te hê.

Sy besef hy kyk vir haar met opgetrekte wenkbroue en sy knip vir hom oog voordat sy omdraai om nog iemand te groet, maar oomblikke later raak iemand aan haar arm.

“Nicci … kan ek jou voorstel? Dis Mariaan Vermaak.” Jacques beduie na die meisie langs hom en Nicolene steek haar hand uit terwyl sy breed glimlag.

“Hallo, ek is bly om jou te ontmoet.”

’n Glimlag kom lê om die rooi mond. “Nou kan ek ook uiteindelik sien hoe die vrou lyk wat veronderstel was om Jacques voor die kansel te kry.” Die fletsblou oë gaan geamuseerd oor Nicolene. “Ek kan nog nie besluit of jy slim of dom was om hom te laat wegkom nie.”

“Miskien moet jy nie so vinnig in die verlede tyd praat nie … ’n mens weet nie wat kan gebeur nie.” Nicolene glimlag grootoog op na Jacques. Sy sien die frons wat tussen sy oë saamtrek en sy is dankbaar toe iemand aan haar arm trek en vra of sy nie weet waar nog koeldrank is nie. Sy maak vriendelik verskoning en stap haastig die huis binne.

Nicolene huiwer in die skemerte van die spens. Sy hou nie van die meisie nie en sy is baie jammer daaroor. Sy het haar voorgeneem sy sal eendag van sy vrou hou … net soos sy graag sal wil hê hy moet van … Andrew hou.

“En wat het daardie opmerking beteken?”

Die stem agter haar laat haar omswaai en toe draai sy weer terug en maak die yskas se deur oop.

“Watter opmerking?” Sy staan met haar rug na hom toe.

“Jy weet goed waarvan ek praat.”

“Nee … ek is jammer, ek weet nie.” Sy hou twee bottels koeldrank na hom uit. “Neem dit asseblief buitentoe.”

“Waarom het jy jou so vir haar opmerking vererg? Dit was bedoel om ’n grap te wees.” Hy bly in die deur staan en keer dat sy verbykom.

“Wat wil jy hê moes ek gesê het?” Sy fladder haar wimpers op na hom toe. “Ja, ek moes eintlik sy bruid gewees het en my hart is gebreek noudat jy hom by my gesteel het.”

Sy plathand brand op haar sitvlak. “Moenie kinderagtig wees nie.”

Nicolene glip onder sy arm deur en laat oor haar skouer hoor: “En hou op om so senuweeagtig oor jou meisie te wees. Sy lyk vir my heeltemal in staat om haar eie gevegte te hanteer.”

Hy haal haar in en sy stem is by haar oor toe hulle op die stoep uitloop. “Wil jy met haar baklei?”

“Net as sy eerste baklei.”

Gelukkig is daar soveel mense dat Nicolene nie nodig het om haar vreeslik oor Jacques of sy meisie te bekommer nie. Sy help later kos aandra en wil net lag toe sy sien hoe haar ma trots vertel dat dit alles resepte is wat Nicolene vir die restaurant ontwikkel het.

Toe almal ná ete lui terugsit, is daar van die jongeres wat in die swembad duik en Nicolene laat haar nie twee maal nooi nie. Die hitte is besig om haar ’n hoofpyn te gee en sy kan voel hoe sy begin ontspan toe die koel water om haar vou. Sy het ’n mooi, kuise tweestuk aan, maar sy kan sien hoe ’n paar van die ouer mense se oë kort-kort na die naeltjieringetjie gaan.

Iemand gaan later ’n bal haal en toe begin ’n rumoerige stryd. Karen en Gerrit is in teenoorgestelde spanne en daar word hartlik heen en weer uitdagings geslinger. Nicolene word in ’n stadium daarvan bewus dat Jacques ook in die water is, maar met ’n vinnige blik na die stoep sien sy dat Mariaan in die koelte met een van haar neefs se meisies sit en gesels. Nicolene neem haar ook nie kwalik nie. Dit moet redelik baie tyd neem om so perfek te grimeer en daardie hare so glansend te kry. En as dit sy was wat hierdie verskriklik mooie man wou verlei het, sou sy seker ook liewer in die koelte gesit het as om met nat hare en ’n skoongewaste gesig soos ’n kind in die swembad te baljaar.

Sy voel hoe ’n hand haar kop onder die water indruk en sy moet spartel om nie ’n mond vol water te sluk nie. Toe sy uiteindelik proesend bo die oppervlak uitkom, lag Jacques vir haar terwyl hy wegswem. Soos toe sy ses jaar oud was, steek sy vir hom tong uit en swem dan na die ander kant toe.

Uiteindelik begin die gaste aanstaltes maak om te vertrek en toe die stilte oor hulle neerdaal, sug Lisa hoorbaar. “Dit was nou ’n lekker dag. Of wat sê julle?”

Wilhelm en die twee meisies knik gelyktydig, verbaas dat sy ná al die jare nog steeds effe onseker klink.

“Nicci … wat dink jy van Mariaan?” Karen lê uitgestrek op een van die stoele langs die swembad en kyk hoe haar suster weer in die koel water induik en stadig heen en weer swem.

“Dis moeilik om te sê … ek het nie regtig tyd gehad om met haar te gesels nie.”

“Dink jy dis die een wat vir Jacques voor die kansel gaan kry?”

“Kan wees … Wie sal ooit weet? Hy was mos maar altyd ’n dark horse.”

Toe dit skemer word, klim Nicolene uit die koel water en nadat sy haar in ’n groot handdoek toegevou het, gaan lê sy langs Karen op een van die sonstoele. Sy weet nie waarom daar vanaand ’n vae hartseer in haar lê nie. Dis amper asof sy na iets verlang … maar dis nie ’n verlange na iemand nie; sy verlang meer na ’n gevoel. Miskien is dit maar net die gewone Sondagaand-melancholie wat mense dikwels ervaar, troos sy haarself.

“Ek sal dit mis om soggens hier wakker te word,” onderbreek Karen se stem haar gedagtes.

Nicolene draai haar kop. “Jy kan ten minste elke dag kom kuier as jy verlang.” Nicolene se stem raak stil en albei staar na die toppe van die hoë ou akkerbome wat nog die laaste bietjie lig in hulle heldergroen blare opvang.

“En waarom lyk julle twee so morbied?” Jacques het geruisloos langs hulle verskyn en trek nou vir hom ’n stoel nader.

Nicolene lig haar kop verskrik en toe laat sak sy dit weer teen die rugleuning. “Weet jy nie ’n mens bekruip nie ander mense nie! Jy kan goed hoor wat jy nie wil nie.”

“Ja, en so skerp soos jou tong geword het, kan dit pynlik wees.”

“Jacques, wat kom soek jy? Ek is nie lus vir baklei nie.” Nicolene se stem klink ergerlik.

Hy draai na Karen wat hulle geamuseerd sit en bekyk. “Wie het eerste baklei? Hier kom ek, soos dit ’n goeie buurman betaam, dankie sê vir ’n lekker dag, en al wat ek kry, is so ’n suur gesig.” Toe kyk hy weer na Nicolene. “Miskien moet jou kêrel maar vroeër kom. Dit lyk my nie jy kan sonder hom wees nie – dit maak jou uiters beneuk.”

“Ek is nie beneuk nie. Ek het rustig hier gesit voordat jy weer kom moeilikheid soek het.”

Karen staan laggend op en gooi haar handdoek oor haar skouer. “Nou ja, ek kan sien hierdie gaan ’n baie interessante gesprek word, maar ek gaan liewer nou bad.”

By die deur na die sonstoep draai sy egter om. “Jacques … Nicci wil jou graag iets vra.”

En dan klap die deur agter haar en Jacques draai met ’n vraende blik na Nicolene. “Wat wil jy vir my vra?”

“Niks … ek weet nie waarvan sy praat nie.”

“Het jy hulp nodig?” Sy donker oë rus nou vraend in hare.

“Dis niks … ek weet nie waarom Karen so iets gesê het nie.” Die ergerlikheid lê vlak in haar stem.

Hy kyk bekommerd na haar en toe hy praat, is sy stem ernstig. “Wat’s fout? Jy lyk al die hele dag nie vir my gelukkig nie. Verlang jy?”

Nicolene wikkel die groot handdoek stywer om haar lyf voordat sy sag antwoord: “Ek is seker maar net moeg. Ek het so hard gewerk dat ek nie eintlik besef het hoe moeg ek is nie.”

Hy steek sy hand uit en vryf oor haar hare en die gebaar laat Nicolene pynlik sluk aan die knop in haar keel. Sy weet nie wat met haar fout is nie. Miskien moet sy net ’n paar dae voor die troue êrens gaan rus. Almal wil gedurig gesels. Hulle vra vrae en sy het nie die antwoorde nie … en Andrew kom Vrydag … en sy weet skielik nie eers meer hoe sy oor hom voel nie. Dis asof sy hom nie in haar wêreld kan sien nie. Asof sy twee persone is … en hy nie deel van hierdie een se lewe is nie. ’n Skielike rilling laat die hoendervleis in knoppies op haar arms uitslaan en sy staan haastig op.

“Ek gaan gou iets warmer aantrek. Is jy haastig of gaan jy wag?”

Hy staan stadig op en skud sy kop. “Ek dink ek sal ook maar huis toe gaan. Miskien moet jy vanaand vroeg in die bed klim.”

Sy knik ingedagte en dan wonder sy vlietend of die meisie vir hom wag.

Sy lippe vee lig oor haar voorkop. Toe staan en kyk sy hoe hy verby die swembad stap en tussen die groot bome en struike aan die onderpunt van die tuin verdwyn, en sy sug onwillekeurig.

Wilhelm en Lisa sit in die gesinskamer, elkeen met ’n koppie koffie, en toe hulle haar in die gang gewaar, roep Lisa na Nicolene.

“Waar is Jacques? Wou hy nie iets gedrink het nie?”

Nicolene skud haar kop en maak verskoning om te gaan stort. Maar in haar kamer lê sy eers ’n wyle op haar bed, terwyl sy nikssiende na die dak staar. Sy sal haar moet regruk. Dis Karen se troue en sy wat Nicolene is, het maande na hierdie vakansie uitgesien. Sy kan nie nou toelaat dat allerhande onsinnige emosies haar tyd by die huis bederf nie. Sy het ’n goeie lewe in Engeland. Andrew is daar. Hulle het ook lekker tye saam. Sy druk haar hande oor haar oë. Maar daar is nie hierdie stilte nie. Daar is nie tarentale wat skemeraand al kwetterend opvlieg om die nag in die bome te skuil nie. Daar is nie berge wat saans die laaste lig in hulle pieke vasvang nie. Of soggens goudrooi geboorte gee aan ’n nuwe dag nie. En … haar mense is nie daar nie … familie, vriende … Sy het nie besef hoe sy hulle gemis het nie.

Sy skud haar kop en toe probeer sy haarself troos met die gedagte dat dit maar net ’n oorreaksie is omdat sy lanklaas hier was. Ná ’n maand sal sy weer gereed wees om terug te gaan.

’n Halfuur later staan sy onder die stort en laat die strome koel water oor haar loop. Sy maak haar oë toe en draai haar gesig opwaarts. Miskien spoel die strale al die spinnerakke weg. Sy voel hoe haar lyf begin ontspan en sy rustiger word.

En toe Andrew later die aand bel, voel sy aansienlik beter en kan sy ontspanne gesels. Dis net toe hy haar probeer oortuig om twee dae voor Kersfees saam met hom terug te vlieg vir ’n week se skivakansie in die Alpe, dat sy vir ’n oomblik voel hoe haar keel toetrek.

“Ek kan nie, Andrew, ek weet nie wanneer ek weer tyd gaan kry om te kom kuier nie, en ek sal graag Kersfees saam met my ouers wil wees … aangesien Karen ook nie hierdie jaar hier gaan wees nie.”

“Jy weet ons het die plekke reeds ’n paar maande gelede bespreek en almal het hulle verlof so gereël.”

Die swaar Engelse aksent draal in haar ore.

“Maar ek het van die begin af gesê ek kan nie saamgaan nie.” Wat sy nie byvoeg nie, is dat sy eintlik gehoop het hy sal Kersfees saam met haar by die huis deurbring, maar toe sy dit ’n paar weke gelede vir hom genoem het, kon sy sien dat hy dit nie eers oorweeg nie. Die jaarlikse skivakansie saam met ’n groep vriende is beslis ’n groter aantrekkingskrag.

Miskien kan sy hom ook nie kwalik neem nie. Hy het nie dieselfde verknogtheid aan sy wortels nie. En hy het beslis ook nie begrip daarvoor dat ’n mens na die son kan verlang nie. As ’n mens in die grys Engelse koue grootgeword het, is die son seker nie vir jou baie belangrik nie.

“Het dit al gesneeu?” verander sy die onderwerp en luister dankbaar hoe sy stem die ergste skerpheid verloor toe hy weer praat,

Ná ’n paar minute groet hulle en toe sit sy ingedagte met die klein selfoon in haar hand. Sy wonder waarom hulle meningsverskille altyd ’n bitter smaak in haar mond laat. Miskien is dit omdat hulle nooit behoorlik kan baklei nie. Dis asof daar altyd woorde in haar mond agterbly – woorde wat bitter word.

Haar gesin is almal praters, afgesien van haar pa, maar hy laat hulle toe om te praat. Hy keer nooit hulle woorde nie, net soos Jacques … Sy glimlag toe sy dink aan die gevegte wat hulle twee al in hulle lewe gehad het. Maar hulle albei het altyd geweet dit sal niks aan hulle verhouding doen nie. Daarom is daar so ’n oorweldigende eerlikheid tussen hulle, en daarom het sy altyd sy meisies so jammer gekry. Hulle was so bang hulle verloor hom as hulle van hom verskil. Sy kan egter nie dink dat die mooie Mariaan haar sal laat intimideer nie, maar daar het in die verlede al mooier en gewilder meisies oor Jacques Roux kop verloor.

Nicolene skud haar kop. Sy was nog altyd dankbaar sy is daardie hel gespaar.

Wilna Adriaanse-omnibus 2

Подняться наверх