Читать книгу Wilna Adriaanse-omnibus 2 - Wilna Adriaanse - Страница 14

11

Оглавление

Tot almal se verbasing kuier die bruid en bruidegom totdat die orkes net ná middernag begin oppak. En asof die troue sommer ook ’n afsluiting van die jaar is, kuier die gaste ook met groot oorgawe. Dit is oorwegend ouer mense wat eerste begin groet.

Voordat Karen en Gerrit ry, word die jong meisies eers nader geroep om die bruidsruiker te vang, en Nicolene sug toe Karen haar ook nader roep. Sy voel beslis nie soos een van die laggende jong meisies nie, en het geen begeerte om ’n ruiker te vang nie. Daarom gaan staan sy mompelend agter die groep en kyk nie eers toe Karen die ruiker met ’n boog agtertoe gooi nie. Sy word bewus van ’n plofgeluid voor haar voete en onder groot gelag is sy verplig om te buk en die blomme op te tel.

“So lyk ’n meisie wat bang is om te trou,” kom dit laggend van een van Nicolene se neefs.

Sy gluur hom aan, terwyl sy die blomme soos ’n skild voor haar hou. Toe sy bo-oor die koppe van die mans in Jacques se gesig vaskyk, verwag sy dat hy haar ook sal terg, maar hy staan haar met ’n vreemde uitdrukking in sy oë en aankyk en sy kyk vinnig weg.

Uiteindelik loop die aand ten einde en daar word luidrugtig oor en weer gegroet. Karen en Gerrit word deur ’n paar van die vriende buite by die motor afgesien, waar Gerrit beslis sy kop skud toe daar luidkeels gekla word omdat niemand weet waar hulle gaan oornag nie.

“Hoe lief ons julle ook al het, ons wil julle beslis nie verder vannag sien nie,” maak hy die besware stil, voordat hy die motor aanskakel en hulle onder vele uitroepe vertrek.

Andrew staan langs Mariaan toe Nicolene omdraai en sy kan sien dat hulle met hulle eie praatjies besig is. Jacques is besig om van die ander mense te groet. Toe draai hy ook terug en stap saam met haar na waar die ander twee vir iets lag.

“Jy en Andrew moet een aand kom eet voordat hy teruggaan,” laat hy langs haar hoor voordat hulle by die ander twee aansluit.

Nicolene stap stil voort. Sy weet sy gaan beslis nie die uitnodiging aanneem nie, maar is ook nie lus om dit vir hom te sê nie. Sy wil verkieslik nou net by die huis kom, haar kop onder haar kussing indruk en slaap.

Jacques herhaal egter die uitnodiging toe hulle by die ander twee aansluit en Andrew knik instemmend, waarna hulle afspreek om Maandagaand te gaan eet. Mariaan maak die een of ander opmerking dat sy beslis nie gaan kook nie, maar Nicolene luister nie meer na die gesprek nie.

Wilhelm en Lisa is reeds in die bed toe Nicolene-hulle by die huis kom, maar Andrew is duidelik nog nie vaak nie en nadat hy vir hom ’n whisky ingeskink het, gaan sit hulle op die sonstoep.

“Mariaan is ’n baie gawe meisie … en baie mooi ook. Ek het nog altyd ’n swak plek vir blondines gehad,” laat hy geselserig ná sy eerste sluk hoor.

“Nou hoe de duiwel het jy met my begin uitgaan!” Nicolene se stem klink ergerlik en hy draai sy kop skuins om na haar te kyk.

Hy lag onbevange. “Ken jy die spreekwoord: A change is as good as ’n holiday? Miskien het ek ’n vakansie nodig gehad.”

Nicolene sien sy lippe beweeg en hoor die klanke, en sy wonder waarom is daar nie pyn of skok nie. Sy sit en kyk net na hom en toe sy praat, is haar stem gelykmatig. “Moet dit my laat goed voel?”

Andrew neem nog ’n sluk voordat hy antwoord. “Wat het skielik van jou humorsin geword? Jy is al die hele dag nors en suur.”

“Andrew, ek wil jou iets vra … maar ek wil hê jy moet die waarheid praat,” verander Nicolene skielik die onderwerp en toe hy haar net stil sit en aankyk, gaan sy sag voort: “Is daar weer iets tussen jou en Caroll aan die gang?”

Hy gooi die laaste bietjie vloeistof in sy keel af voordat hy antwoord. “Ek weet nie … Soms dink ek sy is die enigste een wat my verstaan. Ons kom uit dieselfde agtergrond, ons dink dieselfde …”

“Waar pas ons verhouding in die prentjie in?”

“Toe ek jou ontmoet het, was Caroll in ’n stadium dat sy meer wou hê. ’n Paar vriendinne het getrou, en jy weet hoe vrouens soms kan raak. En jy was mooi en opwindend anders. Dit was presies wat ek nodig gehad het. Geen komplikasies nie.”

“Is dit nog steeds wat jy nodig het?” Nicolene vou haar bene onder haar in en kyk afgetrokke hoe Andrew sy hand deur sy hare trek. Dis ’n teken dat haar vrae hom irriteer.

“Waarom is jy besig om my in kruisverhoor te neem? Het jy skielik ook lus geraak vir trou, of pla dit jou dat Caroll saam gaan ski?” Hy skuif rond op die stoel. “Ek het nie lus om nou my gevoelens te sit en dissekteer nie. Ek wonder nie oor môre nie, ook nie of ons oor tien jaar nog bymekaar gaan wees nie. Ek verkies om elke dag te neem soos dit kom.”

“Sal jy omgee as ek met ander mans uitgaan?” Nicolene se stem is steeds sonder emosie.

“Ek weet nie … miskien … maar ek is baie filosofies oor hierdie dinge. My pa het sy lewe lank verhoudings met ander vrouens gehad, en tog is hy en my ma nog al die jare bymekaar.”

Nicolene sit en kou aan die brokkie inligting. Dis nie die eerste keer dat sy dit hoor nie, maar vanaand het die woorde skielik ’n ander betekenis vir haar gekry. Vantevore het dit oor sy pa gegaan, maar dit gaan nie meer net oor iets wat sy pa doen nie. Dit gaan oor ’n lewensingesteldheid. Oor ’n verskil in lewenswaardes.

“So, dit sal nie vir jou saak maak as ek jou verkul nie?” Sy strek weer haar bene voor haar uit.

“Hemel, Nicolene! Wat wil jy hê moet ek vir jou sê? Dat ek gebroke sal wees, en dadelik die verhouding sal verbreek? Ek is jammer, ek kan nie. Ek dink dis onrealisties om te verwag mense moet jare net aan een mens getrou wees. So iets bestaan net in boeke.”

Nicolene se gedagtes gaan onwillekeurig na Karen en Gerrit en sy wonder wat Gerrit se kommentaar op dieselfde vraag sal wees. Of haar pa se antwoord … Sy kan haar nie indink dat hy soos Andrew sal voel nie. Sy kan dit sien in die manier waarop hy na haar ma kyk, waarop hy ongemerk haar hand neem wanneer hulle twee langs mekaar sit of hoe hy reageer wanneer hulle een van haar jeugliefdes raakloop.

Sy skud ingedagte haar kop heen en weer, meteens seker dat sy hom nie van haar en Jacques gaan vertel nie, want sy besef nou dat dit nie sal saak maak nie. Hy sal nie verstaan waarom sy so ongelukkig daaroor is nie.

Andrew laat meteens sy kop sak en sy lippe vee liggies oor haar skouer. “Ontspan tog nou. Ons het mekaar nog nie eers alleen gesien vandat ek hier is nie.”

Sy hande begin oor haar arms streel en toe soek sy mond hare. Nicolene het moeite om nie haar gesig weg te draai nie. Iets het verander – hy is vir haar vreemd. Dis soos ’n bekende skildery waarvan die agtergrond skielik verander het.

Ná ’n ruk lig hy sy kop. Sy oë trek skrefies in die maanlig. “As dít is wat Suid-Afrika aan jou doen, kan ek verstaan dat jy hier weg is. Die plek doen jou nie goed nie. Ek het jou nog nooit so afsydig gesien nie.”

“Miskien is ek net moeg. Ek het nog nie baie rus gekry vandat ek hier is nie.” Nicolene weet die verskoning klink ongeloofwaardig, maar sy weet nie wat anders om te sê nie, en sy is nie meer lus vir sy hande op haar nie. Voordat hy kan antwoord, staan sy haastig op en soen hom vlugtig op sy mond.

“Ek wil nou gaan slaap. Ons kan môre verder praat.”

“Waarom wil jy skielik oor so baie dinge praat?”

Nicolene besluit om die vraag te ignoreer. Sy moet nou eers ’n nag se slaap inkry en hopelik sal sy môre beter voel. Miskien as sy môreoggend opstaan, sal alles weer normaal voel.

Andrew probeer haar eers keer, maar toe sy daarop aandring om te gaan slaap, laat hy ergerlik hoor dat sy koms hierheen ’n enorme mors van geld was en dat hy jammer is hy vertrek eers Dinsdag. Hoe gouer hy hier wegkom, hoe beter sal dit vir hom wees.

Nicolene luister stil. ’n Maand gelede – of selfs ’n week gelede – sou sy waarskynlik haar bes probeer het om hom te paai, maar nou wil sy nie meer nie. Die ergerlike trek om sy mond, die bytende verwyte, alles het skielik hier ’n ander betekenis gekry … en sy wonder waarom het sy dit nog nooit so gesien nie. Dit was tog altyd daar. Die onredelikheid as hy nie sy sin kry nie, soos ’n stout kind.

Maar deur die nag besluit sy tog om te probeer. Dit kan nie net Andrew se skuld wees nie. Sy was beslís nie die afgelope twee dae in ’n goeie bui nie. Miskien moet sy maar saam gaan ski. As hulle eers weer alleen is, weg van haar bekende omgewing, sal dit beter gaan. Maar sy weet ook dat sy nie werklik die moed het om vir haar ouers te sê sy gaan voor Kersfees terug nie. En dan is daar nog ’n knaende stemmetjie agter in haar kop, ’n stemmetjie wat haar wil oortuig dat sy nie nou kan teruggaan nie.

En so ry die gedagtes heen en weer wipplank, totdat sy moedeloos opstaan en ’n slaappil drink. Sy sal môre haar lewe uitsorteer; sy sal antwoorde op al haar vrae kry en versekerings vir al haar onsekerhede.

Die son sit al hoog toe Nicolene die volgende oggend haar oë oopmaak. Sy lê ingedagte na die bekende kamer en kyk. Sy verwonder haar hoe vinnig sy weer tuis in haar ouers se huis geraak het … asof sy nooit werklik weg was nie. Miskien voel almal maar so oor hulle geboorteplek, of die plek waar hulle grootgeword het.

Onwillekeurig dink sy aan Andrew se ongeërgdheid oor die huis wat hy eendag gaan erf. Sy is seker hy sal nooit daar woon nie. Daarvoor geniet hy die lewe in die stad te veel. ’n Naweek op die platteland is genoeg om hom weer ’n week lank te laat kla. Hulle twee verskil eintlik soos dag en nag, en tog was dit ’n opwindende tyd in haar lewe toe sy hom leer ken het.

Sy was nog nie lank in Londen nie, alles was nog nuut en sy was gevlei deur sy aandag. Hy het haar na al die nuutste plekke geneem; sy het interessante mense ontmoet. Haar wêreld het skielik baie groot geword. Hulle het soms vir ’n naweek Frankryk of Italië toe gegaan. Sy het in die Alpe leer ski. En tussenin het sy hard gewerk en baie geleer. Sy het nie baie meer van die lewe gevra nie. Hulle het nie langtermynplanne gemaak nie.

As sy egter aan die afgelope paar maande dink, moet sy erken dat hulle rusies tog meer en intenser geword het. En altyd was dit sy wat moes vrede maak, verskoning vra, al het sy nie gefouteer nie. Sy het begin wens dat hy net een keer saam met haar kan huis toe kom. Net die rustigheid van die plaas kan ervaar, sien waar sy vandaan kom, haar mense ontmoet. Miskien sou hy dan beter verstaan. Maar sy dink nie hy verstaan enigiets beter nie.

Sy dink weer aan die beskrywing wat hy vir Caroll oor die telefoon gegee het: … big, noisy family … Sy wonder meteens of hy ooit weer hierheen sal kom, of selfs Suid-Afrika toe. Hy vind dit beslis te warm. Dieselfde son waarin sy haar op die oomblik verlustig, is vir hom ’n groot bron van ongemak.

Sy skud haar kop. Hierdie gedagtes gaan haar nêrens bring nie. Sy sal die een of ander tyd moet opstaan en iets daadwerkliks probeer doen. Nie dat sy weet wat nie. Haar kop is seer gedink en die sirkels word net al hoe kleiner. En dan is daar die stem op die rand van haar bewussyn. ’n Stem wat sy nie kan stilmaak nie, maar waarna sy nie wil luister nie, want die stem is soos ’n goëlaar besig om beelde op te tower – beelde wat sy seker is slegs hersenskimme kan wees. En in die middel van hierdie goëlbeelde is ’n gesig met donker oë … ’n bekende gesig … ’n bekende lyf.

Nicolene gooi ergerlik die laken van haar af en staan haastig op. Sy sal haarself nog dood dink!

Middagete word in die koelte van die groot eetkamer genuttig. Paul en Annemie is genooi om te kom saam eet en Nicolene sit moedeloos en luister na die sukkelende geselskap. Almal brand om die troue tot in die fynste besonderhede te bespreek, te lag oor sekere van die gaste of sommer net vir mekaar te vertel hoe spesiaal die dag vir elkeen was. Maar om Andrew se onthalwe weerhou hulle hul daarvan. Hy ken nie die mense nie, hy ken nie eers die bruid en die bruidegom nie. Dit was vir hom waarskynlik net nog ’n troue.

Die gesprekke wil nie vlot nie en Nicolene voel hoe sy al hoe meer praat en al hoe meer wyn drink. Enigiets om net deur die ete te kom.

Ná ete kondig sy aan dat sy vir Andrew die Kaap gaan wys en sy is seker dat daar op almal se gesigte verligting te sien is.

Andrew is duidelik nie in ’n goeie bui nie, maar Nicolene praat onverpoos voort.

Hulle ry deur die stad, oor Kloofnek, en dis eers toe hulle aan die ander kant afsak en die skitterblou Atlantiese Oseaan onder hulle lê, dat hy effens ontdooi en haar uitvra oor die woonbuurte met die enorme huise wat soos voëltjienessies teen die kranse hang.

Kampsbaai is gesellig besig en hulle drink koeldrank by ’n restaurantjie op die straat. En vir die eerste keer daardie dag sien sy belangstelling in sy oë. En sy weet dit is omdat dit besig en lewendig rondom hulle is. Hy haat verveling. In Londen is hulle altyd aan die gang. Daar is altyd ’n ander plek waarheen hy nog wil gaan. Sy hou hom onderlangs dop vir die eerste tekens van rusteloosheid. En toe hy in sy stoel begin beweeg, glimlag sy by haarself. Sy wonder meteens hoe goed hy háár ken.

“Het jy al ooit ’n sonsondergang oor die see gesien?” Nicolene beduie na die oseaan waar die skerp laatmiddagson soos diamante op die blou water skitter.

“Ek kan nie onthou nie. Dis nie hoog op my prioriteitslys nie.” Hy wys na ’n paar motorbote wat in die baai geanker lê. “Maar ek sal nie omgee om op een van hulle te wees nie. Spoed op water – ek vind dit baie opwindender as om stil te sit en na ’n sonsondergang te kyk.”

Nicolene staan op en nadat hulle betaal het, stap hulle stil langs mekaar na waar die motor geparkeer is.

Sy hou by die winkelsentrum stil waar honderde vakansiegangers ronddwaal en hulle verkyk aan al die winkels.

Andrew koop hier en daar iets om saam te neem, maar Nicolene vra nie vir wie die mooi syserp met dieremotiewe is nie. Sy is doodseker dis nie vir haar nie en sy is redelik seker dis nie vir sy ma of sy suster nie. Miskien moes sy hom lankal hierheen gebring het. Miskien is dit nodig om altyd iemand in ander omstandighede ook te leer ken; die bekende omstandighede kan ’n mens se waarnemingsvermoëns laat afstomp.

Toe die son in die see begin wegsak, sit hulle op Frans se balkon met ’n yskoue bottel Franse sjampanje. Nicolene het hom van die winkelsentrum af gebel en hy het dadelik vir Hendrine laat weet om soontoe te kom.

Nicolene moet glimlag toe Hendrine ná ’n paar minute half uitasem by die voordeur inkom, asof sy bang is sy verpas ’n trein. Hulle het die vorige aand vlugtig by die troue ontmoet, maar sy stel Andrew weer aan Hendrine voor. Toe kan sy gelukkig terugsit en stil die sonsondergang geniet, terwyl Hendrine vir Andrew onder kruisverhoor neem. Tot haar verbasing lyk dit of Hendrine Andrew meer amuseer as irriteer. Miskien is dit haar lewenslus. Hy was nog altyd aangetrokke tot mense met hope energie.

En toe Frans later voorstel dat hulle vir Andrew op ’n toer van die stad se vermaaklikheidsplekke neem, kan Nicolene net knik. Hulle kan net sowel gaan. Hy gaan dit beslis nie maak as hy nog ’n aand op die plaas of saam met die familie moet deurbring nie.

Hoe later dit word, hoe meer ontspanne en geselserig raak Andrew. Frans en Hendrine ken duidelik al die nuutste kuierplekke en oral ontmoet hulle mense wat van oor die wêreld kom. Nicolene kyk later oormekaar, maar Andrew het twee landgenote raakgeloop, en toe hulle ná ’n paar minute uitvind dat hulle gemeenskaplike kennisse het, begin hulle met nog groter oorgawe gesels.

Die plaas is doodstil toe hulle net ná twee by die voordeur instap. Nicolene gee ’n lang gaap, maar Andrew het duidelik ander planne en dis met moeite dat sy hom oortuig om ook bed toe te gaan.

Toe sy uiteindelik op haar bed neerval, sluit sy dadelik haar oë en gee haar aan die slaapnewels oor … voordat die stem agterin haar kop weer hoorbaar kan word.

Wilna Adriaanse-omnibus 2

Подняться наверх