Читать книгу Wilna Adriaanse-omnibus 2 - Wilna Adriaanse - Страница 5

2

Оглавление

“Wel, wat dink jy?” Karen kyk onseker na Nicolene wat op die stoel sit.

“Ek dink ek gaan huil! Jy lyk pragtig en ek kan nie glo jy is oud genoeg om te trou nie.” Nicolene staan op en stap rondom die jonger meisie wat skielik so vreemd in die pragtige ivoorkleur trourok lyk. “Gerrit gaan sy oë nie van jou kan afhaal nie … Die arme man!”

“Ek is bly jy hou daarvan. Ma sou iets jeugdiger verkies het, maar ek kan myself nou nie juis in valletjies sien nie.”

Nicolene knik stadig. “Ek is bly jy het nie valletjies gekies nie. Die eenvoudige regaf snit pas jou perfek.”

Hulle spandeer nog ’n halfuur om die skoene en ander bykomstighede te bekyk en dan ry hulle al geselsend uit die stad uit. Toe hulle deur die dorp ry, besluit hulle om eers tee te gaan drink.

Nicolene verluister haar aan al die Afrikaans rondom hulle terwyl sy deur die vensters al die bekende landmerke bekyk. ’n Paar bekendes kom die koffiewinkel binne en sy is genoodsaak om te groet en nuus uit te ruil. Almal wil weet of sy nog nie beplan om terug te kom nie, en die tweede vraag op almal se lippe is of sy nie omgee dat Karen voor haar trou nie. Op albei vrae skud sy net laggend haar kop.

Toe hulle uiteindelik in die motor klim, slaak sy ’n sug van verligting. “As ek hier gebly het, was ek seker ook al op pad om te trou.”

Karen draai uit die parkeerplek en toe hulle by ’n rooi verkeerslig stilhou, beduie sy na ’n blonde meisie wat besig is om die straat oor te steek. “Dis nou Mariaan Vermaak – Jacques se nuutste.” Die meisie kyk in hulle rigting en Karen waai vrolik.

“Sjoe!” Nicolene se oë volg die meisie wat voor die motor verbystap. Die geel sonrok is soos ’n kleurpastel tussen die ander voetgangers. “Sy is baie mooi. Ken jy haar goed?”

“Ons gaan soms saam uit … Sy is ook ’n onderwyseres.”

“Maar …?” Nicolene kyk vraend na haar suster, maar Karen skud haar kop.

“Geen maar nie. Sy is gaaf … ’n bietjie besitlik, maar as jy met Jacques Roux deurmekaar is, het jy seker rede om onseker te voel. Daar is altyd ander wat jou graag wil onttroon.”

“Dink jy dis ernstig tussen hulle?”

Die lig slaan oor na groen en Karen trek stadig weg. “Dis moeilik om te sê, maar ek dink nogal so. Ek dink selfs hy raak nou ietwat moeg vir los rondloop. En op dertig is dit seker hoog tyd.”

Nicolene antwoord nie, sy draai net haar kop om nog een laaste keer na die meisie te kyk.

Toe hulle ’n rukkie later voor ’n ou gerestoureerde huis stilhou, kyk Nicolene nuuskierig om haar.

Karen haal ’n sleutel uit haar handsak en maak die motordeur oop. “Kom kyk na ons huis. Dis nog nie heeltemal reg nie, maar ek is nogal opgewonde.”

Karen sluit die voordeur oop en in die ingangsportaal swaai sy haar arm in die rondte. “Welcome to my humble castle!”

Nicolene kyk met verwondering na die glimmende houtvloere en die mooi versierde staalplafonne.

“Dis pragtig! En al die meubels? Het julle dit gekoop?” Sy stap agter Karen die sitkamer binne.

“Sommige is Gerrit s’n, maar ons het ook darem al ’n paar stukke gekoop.”

In die eetkamer staan ’n mooi, moderne, vierkantige eetkamertafel en Nicolene vee ingedagte met haar hand oor die glimmende houtoppervlak. Toe stap hulle kuier-kuier deur die kombuis, die kleiner gesinskamer en af in die gang.

In die slaapkamer maak hulle hulself op die groot dubbelbed tuis en Nicolene se stem is baie sag toe sy na haar suster draai. “Ek is so bly julle het mekaar gekry … Julle gaan baie gelukkig wees.”

“Geluk is seker maar iets wat altyd relatief tot iets anders is, en ek dink nie geluk is vir almal dieselfde nie, maar ek glo ook nogal ons sal dit kan maak werk. Ek glo mos as ’n mens saam kan lag en ook goeie vriende vir mekaar kan wees, is dit al ’n baie goeie teken.”

Nicolene sak teen die kussings neer en Karen gaan lê langs haar. Albei is vir ’n oomblik in haar eie gedagtes versonke.

“Jy gaan jou eie huis hê … en ’n man … Dis so vreemd …” laat Nicolene ingedagte hoor. “En ek sal nie eers soms by jou kan kom eet nie.”

“Beteken dit jy kom nie weer terug nie?” Net Karen se kop draai.

“Dit hang van so baie dinge af … Op die oomblik het ek ’n goeie werk en ’n verhouding wat die meeste van die tyd nie te ingewikkeld is nie.” Daar sak weer ’n stilte tussen hulle neer.

“Dis net so ellendig moeilik om jou humor vir iemand in ’n vreemde taal te verduidelik … óf om iemand te laat verstaan wie en wat jy is as hy nie eers weet waar jy vandaan kom nie.” Nicolette lê roerloos terwyl sy praat.

“Is dit waarom jy hom genooi het? Wil jy sien of hy jou beter sal verstaan as hy sien waar jy vandaan kom?”

“Miskien … hoewel ek dit nie so beplan nie. Ek het net gedink dis ’n goeie tyd om almal te sien. Dan weet hy ten minste hoe lyk die mense van wie ek praat en as ek sê ek verlang na Elsa se kos of na die plaas, het hy ’n begrip waarvan ek praat.”

“Twee mooi vrouens in my bed! Hoe gelukkig kan ’n man net nie wees nie!”

Nicolene en Karen se koppe lig verskrik. Gerrit stap nader en sak langs Karen op die bed neer. Hy gee haar ’n lang en uitgerekte soen voordat hy sy kop oplig en laggend na Nicolene kyk. “Het sy jou al vertel dat sy nie sonder my kan lewe nie?”

Nicolene knik stemmig. “Dis al waaroor sy praat – en hoe sy nie meer kan wag vir volgende Saterdag nie.”

“Sy kan nie haastiger as ek wees nie. As ek my sin kon kry, sou ons summier môre voor die landdros …”

Karen lig haarself op en swaai haar bene van die bed af. “En wat maak ek met ’n spierwit valletjiesrok … en ’n ma met ’n hartaanval?”

“Dra jy valletjies?” Hulle kan die verbasing in sy stem hoor en albei meisies hou hulle gesigte ernstig.

“Waarom kan ek nie valle dra nie? Dink jy ek is te oud daarvoor, of dink jy ek is nie onskuldig genoeg nie?” Karen se stem klink beskuldigend en die rooiblonde kop begin dadelik skud.

“Nee … dis nie dit nie … ek is seker jy gaan pragtig lyk.” Hy soen haar in die nek en Nicolene onderdruk met moeite ’n glimlag.

Karen kyk op haar horlosie en staan haastig op. “Ons moet gaan. Die koekbakster bring foto’s van troukoeke en ek het belowe ek sal by die huis wees,” sug sy.

“Kies sommer ’n sjokoladekoek en kry klaar,” laat Gerrit ongeduldig hoor en die lag borrel oor die twee meisies se lippe.

“Ek is seker jou aanstaande skoonma sal nie baie in haar skik wees met sommer net ’n sjokoladekoek nie.” Nicolene skud haar kop en toe stap die drie van hulle tot waar die motor voor die huis geparkeer is.

Gerrit trek Karen nader en toe hy haar soen, kyk Nicolene weg. Sy het skielik ’n vreemde knop in haar keel.

“Gaan jy my nie help om ’n troukoek te kies nie?” verwyt Karen toe Nicolene, geklee in ’n swembroek, uit die kamer gestap kom.

“Asseblief nie! Ek het dringend ’n bietjie sonlig nodig.” Sy knipoog in Lisa se rigting. “Ek is seker Ma sal jou baie goed kan help.”

Nicolene strek haarself op die sonstoel langs die swembad uit en voel hoe ’n tamheid skielik in haar kom lê. Sy het die afgelope twee jaar baie hard gewerk, maar solank sy aan die gang was, het sy nie die moegheid so ervaar nie. Sy maak haar oë toe en voel hoe die son behaaglik op haar wit lyf bak.

“Nogal handig om ’n meisie aan ’n bedstyl vas te bind …”

Die stem dring van baie ver af deur die slaapnewels en dan voel Nicolene hoe iets aan haar maag raak en sy klap onwillekeurig. Haar hand word egter vasgevat en toe sy haar oë moeisaam oopmaak, kyk sy in Jacques se donker oë. Sy sluk die droogheid in haar keel weg en kug terwyl sy regop kom.

“Wat maak jy hier … en waarom laat jy my so skrik?” Haar tong voel swaar.

Hy sak langs haar op die sonstoel neer en speel met die klein goue ringetjie wat deur haar naeltjie steek. “Moes iets vir jou pa kom vra het.”

“Het jy nie meer ’n telefoon nie?”

“My ma-hulle wou jou ook kom groet het.” Sy oë gaan oor die skrapse bikini wat net die nodige bedek. “Miskien moet jy net eers iets aantrek. Jy weet, hulle is darem nie meer jonk nie – my pa se hart kan dalk gaan staan.”

“Wat is verkeerd met my? Dit sal nie die eerste keer wees dat hulle my in ’n swembroek sien nie.” Sy klap weer sy hand weg wat nog steeds met die ringetjie speel.

“Ek weet, maar dis asof jou lyf net nie meer heeltemal dieselfde lyk nie. Daar is skielik rondings en kurwes wat selfs ek nie ken nie.”

Nicolene tel die kortbroek en hempie op wat langs die stoel lê en begin ergerlik aantrek. Die son het haar ’n hoofpyn gegee. “Moet nou nie maak asof jy álles van my weet nie.”

“Ek was al drie jaar oud toe jy gebore is. Ek kan jou dalk ’n paar goed oor jouself vertel wat jy nie geweet het nie, soos byvoorbeeld die kuiltjie net bo jou –”

“Jacques Roux, gaan doen iets met jouself. My kop is seer en ek is nie lus vir jou slimpraatjies nie.” Nicolene tel die handdoek op en begin huis toe stap.

Hy haal haar egter in en sy voel sy arm om haar skouers gaan. “Is dit verlange wat jou so iesegrimmig maak? En dit ná net twee dae!”

“Ek het jou meisie gesien,” ignoreer sy die opmerking.

“Watter een?”

Nicolene gaan staan stil, en kyk hom fronsend aan. “Jy sal nooit verander nie, nè! Ek weet nie waarom die meisies so met hulle laat mors nie. Dit is nie asof jy die laaste man op aarde is nie.”

“Miskien ken hulle kwaliteit …” Hy lag nou openlik in haar gesig af.

Nicolene snork vererg. “Laat ek my sin dan anders stel. Ek het één van jou meisies gesien – die blondine. Of is hulle almal nog steeds blond?”

“Waar?” Sy stem is niksseggend.

“In die dorp. Karen het my gewys.”

“En wat wil jy vir my sê?” Hy gaan staan by die deure wat na die sonstoep oopmaak en draai haar na hom toe.

“Niks … Sy is baie mooi …”

“Maar?” Sy wenkbroue trek omhoog terwyl hy glimlag.

“Wat wil jy hê moet ek sê? Ek ken haar nie eers nie.” Sy steek haar hand uit en maak die deur oop. Haar gesig helder op toe sy die bekende gesigte binne sien sit en sy stap haastig nader om te groet.

Gideon en Christa Roux druk haar vir ’n oomblik vas voordat hulle haar ook van kop tot tone bekyk, en dan laat die ouer vrou met opgetrekte wenkbroue hoor: “Genade, Nicolene, waarom is jy so bleek en maer? Eet jy nie jou eie kos nie?”

“Tannie weet mos hulle sê ’n vrou kan nooit te maer of te ryk wees nie,” laat Nicolene moedswillig hoor en sy kan sien hoe haar ma afkeurend haar kop skud.

“Hoe gaan dit, my kind?” wil Gideon vriendelik weet terwyl hy haar aan die arm neem en langs hom op die rusbank neertrek.

“Baie goed. En hoe gaan dit met julle in die nuwe huis? Nog nie jammer julle het vir Jacques die groot huis gegee nie?”

“Hy sal seker nie meer te lank alleen daar wees nie,” antwoord Christa van die oorkant van die vertrek af.

Nicolene kyk spottend na die man oorkant haar. “Gaan jy loseerders inneem? Gelukkig is daar baie kamers.” Sy rek haar oë en pruil haar mond vir hom toe hy frons.

Gideon draai weer na haar. “En wat van jou? Ek hoor hier kom ’n Engelsman kuier.”

Nicolene knik en dan val Christa weer van die oorkant af in: “Ek kan nie glo dat jy vir die res van jou lewe in so ’n koue, triestige plek wil woon nie! En wat van jou familie? Mis jy hulle nie? Jou kinders gaan nie eers hulle oupa en ouma ken nie … sal dalk seker nie eers Afrikaans kan praat nie.”

“Die wêreld is darem nie meer so groot nie. Deesdae kan ’n mens maklik en gou van een land na ’n ander reis. En dan is daar telefone en rekenaars …”

“En as ’n mens jou nie oor geld hoef te bekommer nie, kan jy net soveel makliker kom kuier ook,” laat Lisa nou van haar ook hoor.

Nicolene staan meteens haastig op en met ’n geforseerde glimlag wil sy weet wat almal sal drink. Jacques volg haar en die oomblik toe hulle alleen in die kombuis kom, bars albei uit van die lag.

“Hulle het nog niks verander nie!” skater Nicolene dit uit.

Jacques skud sy kop. “As hulle nie sulke groot vriendinne was nie, het hulle mekaar beslis die skuld gegee vir ons afvalligheid.” Hy neem op die hoek van die lang kombuistafel plaas en vou sy arms voor hom. “Loseerders. Was dit nou nodig?”

Nicolene hou haar blik op die glase terwyl sy die koue vrugtesap skink. “Wel, volgens jou het jy meer as een meisie, so tot watter gevolgtrekking moes ek nou kom – dat jy ’n harem gaan inneem?”

“Jy hou jou hopeloos te slim. Dit lyk my jou kêrel is nie mans genoeg vir jou nie.”

“Of miskien is ek so mak soos ’n lammetjie by hom …” Sy stap voor hom uit en moet glimlag toe sy die snorkgeluid agter haar hoor.

Vier stemme raak skielik stil toe hulle op die sonstoep uitstap, en Nicolene besef ergerlik dat daar oor haar en Jacques gepraat is. Wanneer gaan hulle eendag aanvaar dat daar nooit iets meer tussen hulle twee sal wees nie? As daar nóú nog nie iets gebeur het nie, is die kanse wraggies skraal dat hulle een oggend sal wakker word en smoorverlief op mekaar sal wees.

Die twee ouer vrouens begin gelukkig oor die troue en die mans oor boerderysake praat, en Nicolene kan terugsit en haar verlustig in die bekendheid van die toneel en die stemme wat sy uit haar vroegste herinneringe kan terugroep.

Die Rouxs was maar altyd daar. Vandat sy haar verstand gekry het, was hulle deel van haar wêreld en was die buurplaas net ’n verlenging van hulle eie grond. Jacques is die oudste van die drie kinders en hy en Paul was van kleins af soos Dawid en Jonatan. Hulle is ewe oud en was onafskeidbaar. Sy is drie jaar ná hulle gebore en vandat sy haar eerste treë kon gee, was dit haar gunstelingtydverdryf om agter die twee ouer seuntjies aan te drentel. Hulle het in elk geval baie interessanter speletjies as meisies gespeel en sy wou so graag net soos hulle wees. Dit het soms tot groot gevegte aanleiding gegee en sy kan onthou hoe Paul dikwels by sy ma gaan kla het oor sy pes van ’n klein sussie wat hulle nooit alleen wou laat nie. Jacques het darem soms vir haar opgekom, maar ook net as sy belowe het om vir hom van haar lekkers te gee.

Twee jaar ná haar het Karen gekom en nog ses maande later is die Rouxs se tweelingdogters, Alta en Helene, gebore. Hulle drie het ook ’n bloedvriendskap gesmee en Nicolene was bly sy het nie nodig gehad om met hulle te speel nie. Daarvoor was die seuns se wêreld nog steeds baie interessanter. En so het die ses kinders langs mekaar grootgeword en hoe ouer hulle geword het, hoe hegter het die vriendskappe geword. En hoe meer het die ouers begin drome droom. Veral die ma’s het troues onder akkerbome gesien – vriendskapsbande wat tot familiebande verstewig sou word.

Maar die weë van die liefde is nie voorspelbaar nie. Paul het vir hom ’n vreemde vrou gevat. Hy het Annemie op universiteit ontmoet toe sy ’n tweedejaar- fisioterapiestudent was. Hulle het mekaar net langer as ’n jaar geken toe hulle verloof geraak het. Daarna is die tweeling redelik kort ná mekaar getroud – Helene met ’n boer in die omgewing en Alta met ’n mediese dokter in die stad. Helene het die vorige jaar ’n babaseuntjie gehad en Alta verwag ook nou haar eersteling.

En nou gaan Karen trou … en dit laat nog net vir haar en Jacques om soveel jare se versugtinge te bewaarheid. En tog lyk dit asof daar ook nooit iets van gaan kom nie. Sy moet by haarself glimlag. Sy self weet nie eers waarom daar nooit iets tussen haar en Jacques ontwikkel het nie. Miskien het hulle mekaar net te goed geken. Miskien was hulle net te goeie vriende, het hulle mekaar deur die jare net met te veel hartsgeheime vertrou. Miskien het sy net té veel meisies sien huil … Wie sal ooit weet?

Nicolene skrik orent toe sy haar naam hoor en kyk vraend om haar rond.

“Ek sê, jy moet een middag of aand kom eet en na ons huis kom kyk,” herhaal Christa haar uitnodiging.

Nicolene knik. “Dankie, ek sal graag. Ek moet nog na Jacques se huis ook gaan kyk. Ek hoor dis enige vrou se droom.” Die spotlaggie lê weer in haar oë toe sy na hom kyk en sy kan die verskuilde waarskuwing agter die donker oë sien.

Nadat hulle die kuiermense by die motor afgesien het, stap Nicolene saam met haar ouers terug huis toe. Nicolene vryf haar arms asof sy koud kry.

Lisa raak aan Nicolene se vel. “Jy moet versigtig wees in die son; jou vel is nie meer aan soveel son gewoond nie.”

“H’m …” is al wat Nicolene sê voordat sy in die gang na haar kamer afdraai. Sy het steeds hoofpyn en sy voel rusteloos. Dis asof sy net té veel ervaar. Asof al haar sintuie gebombardeer word met herinneringe … en gevoelens.

Wilna Adriaanse-omnibus 2

Подняться наверх