Читать книгу Wilna Adriaanse-omnibus 2 - Wilna Adriaanse - Страница 12

9

Оглавление

Aandete word op die stoep langs die swembad geëet en die geselskap word deurgaans baie beleef in Engels gevoer. Nicolene is dankbaar Karen en Gerrit, sowel as Paul en Annemie, het kom saam eet. Hoe meer siele, hoe minder hoef sy te praat.

Sy kan sien hoe Karen se blik kort-kort op Andrew rus en sy wonder wat haar suster dink. As Andrew bewus is van die skelm blikke, laat hy egter niks blyk nie. Sy blou oë bly geslote, al glimlag hy soms vir ’n opmerking van een van die ander. Nicolene sien nie kans om te eet nie, maar onder haar ma se wakende oog is sy verplig om iets in te skep. Sy krap egter lusteloos die kos met haar vurk deurmekaar en is dankbaar toe sy vir Karen kan help om die borde kombuis toe te dra.

“Vir ’n Engelsman is hy nogal aantreklik – baie bleek, maar mooi gesig. Heeltemal anders as Jacques.”

Nicolene kyk gesteurd na haar suster. “Wat bedoel jy?”

“Ek het net altyd gedink jy sal ’n man kies wat min of meer soos Jacques lyk. Al jou kêrels was altyd meer aantreklik as mooi; so ’n buitelugtipe mooi, so reg uit ’n Camel-advertensie.”

“Wie het ooit gesê Jacques is my tipe? En verder kan ’n mens se smaak seker verander.” Nicolene skakel met neergeslane oë die ketel aan om koffie te maak.

Toe sy en Karen met die skinkbord en koffie op die stoep uitstap, moet Karen haastig keer dat Nicolene nie die skinkbord laat val nie. In die skadu van een van die pilare sit Jacques met Paul en Annemie se jongste seuntjie op sy skoot, doodluiters besig om met Andrew te gesels. Nicolene voel hoe haar mond droog word en haar hande onwillekeurig aan die bewe gaan, sodat Paul haastig die skinkbord by haar neem. Sy kan haar broer se blik op haar voel, maar sy kyk nie vir hom nie en vind haastig ’n stoel om op neer te sak.

“Nicci, bring vir Jacques ook ’n koppie,” laat haar ma hoor.

Nicolene staan haastig op. Sy sal met plesier die hele aand heen en weer loop, solank sy net nie in daardie geselskap moet gaan sit nie. Wat maak hy hier! Maar toe onthou sy dat sy hom ’n paar dae gelede genooi het om vanaand te kom koffie drink sodat hy vir Andrew kan ontmoet. Min het sy geweet dit sou die één ontmoeting wees wat sy nie sou wou laat plaasvind nie.

Sy draai so lank as moontlik met die koppie en toe sy in die gang uitstap, kom Paul en hulle oudste seuntjie uit die gastebadkamer en hy beduie dat sy voor moet stap.

“Jy is vanaand besonder stil, is alles reg?” praat hy met haar rug.

Nicolene knik en wonder skielik paniekerig of Jacques hom nie vertel het nie. Hulle is sulke groot vriende. En sy voel weer hoe die sweet op haar handpalms uitslaan.

“Andrew lyk na ’n gawe man …” probeer hy weer die geselskap aan die gang sit, maar Nicolene knik nie eers hierdie keer nie.

Sy het al baie beskrywings van Andrew gehoor, maar gaaf is beslis nie een van hulle nie. Suksesvol, hardwerkend, moeilik, koppig, afsydig … Die woorde flits deur haar gedagtes. Dieselfde woorde waarmee sy Jacques sal beskryf, afgesien van sy afsydigheid. Sy wonder of hy weet wat dit beteken. Maar tog onthou sy vele geleenthede waar meisies gekla het oor sy afsydigheid, en sy onthou hoe dankbaar sy was dat sy nie daardie kant van hom geken het nie. Tussen hulle twee was dit altyd anders …

Nicolene skud skielik merkbaar haar kop. Hierdie gedagtes moet end kry; sy is nie ’n kind nie. Maar toe sy die koppie na hom uithou en sy vingerpunte aan hare raak, voel dit weer vir haar of haar vel aan die brand slaan en sy begin weer haastig skottelgoed bymekaar maak.

Tussen haar heen-en-weer-lopery hoor sy gelukkig net hier en daar ’n paar woorde en sy kan ook nie sê dat sy vreeslik geïnteresseerd is nie. Sy bid net dat die aand so gou moontlik sal eindig.

“Nicci,” ek dink nie almal se koppies is al leeg nie,” laat Paul droog hoor toe Nicolene begin om die koppies op die skinkbord te pak, en sy moet verleë weer die koppies afhaal.

“Kom sit en ontspan. Jy loop nog die hele aand heen en weer. ’n Mens sou sê dis jy wat môre trou,” spot Karen en Nicolene kan voel hoe alle oë vir ’n oomblik na haar draai.

Sonder ’n woord sak sy weer op die stoel neer en wonder ergerlik waarom niemand wil gaan slaap nie. Miskien moet sy maar verskoning maak en kamer toe gaan, maar sy kan kwalik vir Andrew alleen in die geselskap laat. Veral nie met Jacques hier nie – ’n Jacques wat baie tuis lyk en aan die gesprek deelneem asof hy nie ’n kwelling in die wêreld het nie.

Genadiglik staan Andrew ná ’n paar minute op en rek hom lui uit. Hy bedank Lisa vir die lekker ete en maak toe verskoning by die ander gaste.

Nicolene staan haastig op en sonder om iets te sê, loop sy saam met hom die huis binne. In sy kamer maak sy seker dat hy alles het wat hy nodig mag kry, en toe sê sy haastig nag. Hy trek haar egter tot teen hom en toe sy mond oor hare sluit, maak sy werktuiglik haar oë toe.

En skielik is alles vreemd. Sy hande op haar rug, die reuk van sy vel, sy mond … asof sy hom vir die eerste keer soen. Sy is verlig toe hy eindelik sy kop lig en sy agteruit kan tree. Maar voordat sy iets kan sê, begin die selfoon op die bedkassie lui en hy beantwoord dit.

Nicolene staan afgetrokke en kyk hoe die oë wat die hele aand stil was, skielik ophelder en die mooi gesig lewe kry.

“Too hot for my taste,” hoor sy hom sê. Hy lag terwyl hy vir haar kyk. “Like an Italian family … very noisy, lots of people, lots of food …”

En sy besef dat dit waarskynlik presies is hoe hy haar familie ervaar: in oormaat. Ligjare verwyder van die tipe lewe wat hulle in Londen lei.

Toe hoor sy hoe sy stem verander en hy saggies lag vir wat die persoon aan die ander kant sê. Hy skakel die selfoon af en sit dit terug op die kassie.

“Dit was David … Hulle is almal bymekaar en sê groete.”

Nicolene knik. “Met wie het jy laaste gepraat?” Haar stem is niksseggend.

“Caroll. Sy sê ook groete.”

Hy begin sy hemp losknoop en Nicolene kan nie help om te dink dis beslis nie al wat Caroll gesê het nie. Sy behoort seker jaloers te voel, maar dis asof sy nie die energie het vir so ’n emosie nie.

“Ek hoop jy het ’n rustige nag,” is al wat sy antwoord, voordat sy die deur agter haar toetrek.

Sy moet nog die volgende oggend se reëlings met Karen bespreek, maar sy sien nie kans om terug stoep toe te gaan nie, nie terwyl Jacques daar sit nie. Sy sal maar môreoggend vroeg opstaan.

In die kombuis skink sy vir haar ’n groot glas koue water en toe sy omdraai, staan haar pa in die deur, ’n vreemde uitdrukking in sy oë.

“Is alles reg? Jy was vanaand so stil.”

“Ek is seker maar net moeg, maar moenie dat Ma hoor nie. Sy dink in elk geval ek het te veel gekuier.” Nicolene probeer so lig as moontlik antwoord.

“Is Andrew moeg of oorweldig deur al die Suid-Afrikaners?” Wilhelm haal ’n glas uit die kas om vir hom ook water in te skink.

“Seker ’n bietjie van albei. Ek het julle mos al vertel sy familie is nie vreeslik heg nie.”

“Ja, jy het.”

Nicolene weet die drie woorde beteken eintlik veel meer as wat hulle sê, maar sy hoef hom nie uit te vra nie. Sy kan die twyfel in sy oë sien. Sy weet ook hy sal nooit uit sy eie iets sê nie. Hy sê altyd hy vertrou hulle oordeel en dat hy nie meer namens hulle besluite kan neem nie. Vanaand sou sy egter nie omgegee het as hy haar besluite vir haar wou neem nie.

Sy soen hom in die verbygaan op sy wang en sit haar kop vir ’n kort oomblik teen sy skouer. Toe glimlag sy en stap ingedagte kamer toe.

Nicolene maak met moeite haar oë Saterdagoggend oop. Sy het die vorige aand weer een van die slaappille gedrink, en sou verkies het om die hele dag in die genadige droomwêreld te verkeer, maar Lisa het vroeg reeds koffie gestuur en gesê sy moet opstaan.

Ontbyt is in die eetkamer uitgesit en almal moet hulself daar gaan help.

Nicolene skink vir haar net ’n beker koffie, maar Lisa dring daarop aan dat sy ten minste ’n snytjie brood ook eet en Nicolene kan maar net gedweë kyk hoe haar ma, soos jare gelede, vir haar ’n snytjie brood smeer.

Sy kyk verbaas op toe Andrew die eetkamer binnekom. Hy is nie iemand wat graag vroeg opstaan nie, maar blykbaar het hy te warm gekry om vanoggend in die bed te vertoef. Sy het eintlik gehoop hy sal laat slaap, sodat sy al haar strooimeisieverpligtinge kan afhandel, maar nou sal sy hom seker maar moet saamnooi dorp toe. Miskien kan hy gaan rondloop terwyl hulle by die haarkapper is en sy daarna net gou ’n draai by die hotel gaan maak om te sien of alles in orde is.

“Nee, dankie, ek dink ek moet liewer die hele dag in die swembad deurbring. Ek weet nie hoe julle in hierdie temperature kan funksioneer nie,” wys hy die uitnodiging van die hand.

“Ek is seker ek kon my eie hare gewas en drooggemaak het,” sê Nicolene toe sy en Karen in die haarsalon sit.

Karen skud haar kop. “Nie volgens Ma nie, en vandag is haar woord wet. Ek het besluit dis beter om die klein oorloggies te verloor en die grotes te probeer wen.”

Nicolene kyk na haar suster wat vanoggend so kalm lyk. “Is jy opgewonde?”

“Verskriklik! En ek is bly die dag het uiteindelik aangebreek. Ek is seker maar een van daardie mense wat nog graag wil trou – met die rok, blomme, gaste, onthaal … die hele gedoente. Ek weet dit klink naïef, maar dit voel vir my so ’n huwelik het ’n groter kans op sukses. ’n Mens stap hopelik nie so maklik weg van ’n belofte wat jy voor soveel mense gemaak het nie … of wat op so ’n spesiale wyse gemaak is nie.”

Nicolene kan net stil na haar suster luister, en haar weer eens verwonder aan die jong sussie wat met soveel selfvertroue haar lewenspad beplan. En sy kan nie help om in haar hart te hoop dat die drome agter die blink oë nooit verydel sal word nie.

’n Uur later kyk Nicolene sugtend in die spieël. Die vreemde meisie het klaarblyklik glad nie verstaan dat sy nie ’n stywe kapsel wou hê nie, maar daar is nie tyd om te kla nie en sy laat Karen in die sorg van die haarkapster en ry hotel toe.

Voor die lokaal is dit ’n miernes van bedrywighede. Die bloemiste is besig om blomme en staanders af te laai. Binne is ’n leërskare helpers besig om tafels rond te dra, tafel te dek, blomme te rangskik en sommer net heen en weer op mekaar te skreeu.

“Is jy nie dankbaar jy hoef nie vandag in die kombuis te staan nie?” Die jong spysenier loop haar tegemoet, terwyl hy oor sy skouer vir een van die helpers roep om nie die borde te laat val nie.

“Innig dankbaar.” Sy kyk om haar rond. “Dit lyk alreeds baie mooi. Baie dankie.”

“Ek hoop jou ma is ook tevrede.” Sy blik gaan krities oor die bedrywighede rondom hulle.

Nicolene lag gerusstellend. “My ma se blaf is erger as haar byt … en ek belowe jou, die bruid is op so ’n pienk wolk dat sy met alles tevrede sal wees.”

Hulle gesels nog ’n rukkie en toe verskoon Nicolene haarself en ry terug plaas toe. Haar ma sal vir Karen gaan oplaai en huis toe bring. Sy wonder meteens wat Andrew die hele oggend met homself gedoen het. Sy hoop van harte net nie hy en haar pa het heeltyd gesels nie. Sy weet nie of al sy sienings haar pa se goedkeuring sal wegdra nie, en gewoonlik is hy nie skaam om sy mening te lug nie.

Sy vind haar pa egter alleen in die koelte van die sitkamer waar hy rustig sit en koerant lees.

“Dit lyk darem baie rustig. Het Pa nie ’n dogter wat vandag trou nie?”

“Waarom dink jy kruip ek bietjie hier weg? Wanneer die bruid en die bruid se ma terugkom, sal daar nie weer vandag rus vir enige van ons siele op hierdie plaas wees nie.”

Die glimlag lê warm in sy oë en Nicolene moet skielik sluk aan die knop in haar keel. Hulle sê alle dogtertjies wil in ’n stadium met ’n man soos hulle pa trou, en sy dink nie sy het al daardie stadium ontgroei nie. Hy is soos ’n anker wat die hele gesin vashou. Hy het waardes wat onwrikbaar deur die jare gebly het, maar dit is sy waardes – hulle het daarmee grootgeword, maar hy laat hulle toe om hulle eie waardesisteme te ontwikkel.

“Waar is Andrew?” Sy kyk om haar rond asof hy dalk êrens in die skemer vertrek skuil.

“Jacques het hom al vroeg kom haal; gesê hy sal hom bietjie die omgewing wys.”

Nicolene sak op die stoel agter haar neer. Sy is seker sy verstaan haar pa verkeerd.

“Waarom wil Jacques hom die omgewing wys? Moet hy nie vir Gerrit help met iets nie?”

Wilhelm trek sy skouers op en beduie na die tafel in die voorportaal waar ’n reuse-ruiker wit rose staan.

“Jacques het dit vir Karen gebring, en toe het hy vir Andrew gevra of hy nie lus is om saam met hom te gaan ry nie. Ek het gedink dis baie gaaf van Jacques, en Andrew het heel verlig gelyk. Ek dink hy was doodbang hy moet my die hele dag geselskap hou.”

Nicolene kan net stil na haar pa luister, want hy sal haar tog nie glo as sy vir hom sê dat daar niks gaafs aan Jacques se uitnodiging was nie.

Sy staan haastig op en stap kombuis toe. Daar haal sy ’n oop bottel wyn uit die yskas en skink vir haar ’n glas vol. Met die glas in die een hand en haar skouersak oor haar arm, stap sy stadig kamer toe. As sy hierdie dag gaan oorleef, sal dit net genade wees.

Sy stoot haar kamerdeur met haar voet oop en gooi die skouersak op die stoel voor die venster. Dis eers toe sy omdraai en op die bed wil gaan sit, dat sy die blomme op haar kussing gewaar. Drie donkerrooi langsteelrooskoppe, met ’n swart fluweellint vasgebind. Tussen die roosknoppe lê ’n piepklein wit koevertjie en sy maak dit versigtig oop.

Sien jou voor die kansel. Liefde J.

Nicolene gooi die hele glas wyn in haar keel af en val agteroor op die bed. Sy gaan hom vermorsel! Liefde … Hy het in sy lewe nog nooit geweet wat daardie woord beteken nie. Rooi rose met ’n swart fluweellint op haar bed … terwyl haar kêrel in die huis is. Hy moet van sy sinne af wees. Maar ’n meisie se kêrel het hom nog nooit gestuit as hy besluit het dat hy haar beter wil leer ken nie.

Sy moet net die troue agter die rug kry, dan gaan sy Maandagoggend weer die lugdiens skakel. Sy is seker daar sal ’n kansellasie wees. Sy moet hier wegkom. Sy weet nie met watse speletjie hy besig is nie, maar sy gaan beslis nie daaraan deelneem nie. Sy is sewe en twintig jaar oud en sy ken vir Jacques Roux beter as enige ander meisie. Sy kan nie sê sy het nie van beter geweet nie.

Die klop aan die deur laat haar die blomme haastig onder die bed ingooi, en toe sit sy skuldig regop. Andrew loer om die deur en aan die uitdrukking op sy gesig kan sy sien hy het ’n lekker dag agter die rug. Hy is nie iemand wat vreeslik glimlag nie, maar nou kom hy die kamer met ’n wit glimlag binne.

“Jis, maar ons het ’n lekker dag gehad. Jacques het vir my die dorp gaan wys en toe het ons by ’n paar kelders gaan wyn proe, en daarna het ons Jacques se meisie gaan oplaai en gaan eet. Baie mooi meisie – en baie vriendelik.” Hy kom sit langs haar op die bed. “Waarom lyk jy so kwaad?”

“Ek is nie kwaad nie. Ek is bly jy het so ’n lekker dag gehad. Maar ek sou ook volgende week vir jou die omgewing gaan wys het.” Nicolene vou haar arms voor haar bors en probeer haar bes om haar stem so neutraal as moontlik te hou, maar dis nie maklik nie. En sy is seker as sy nou vir Jacques in die hande kry, draai sy sy nek om.

Sy weet nie wat haar die kwaadste maak nie: dat Andrew die hele oggend in Jacques se geselskap was en sy nooit sal weet waaroor hulle gepraat het nie, of die feit dat hulle toe nog vir Mariaan ook gaan haal het. Sy kan voel hoe haar mond bitter raak.

“Mariaan het aangebied om my te kom oplaai,” sê Andrew, klaarblyklik onbewus van die storm wat in haar woed. “Jy en Jacques moet blykbaar by die familie sit.”

Hy klink so opgewonde met die reëlings dat Nicolene wens sy het die rose in haar hand gehad sodat sy hom daarmee oor die kop kon slaan.

“Dis vriendelik van haar.” Sy pers die woorde tussen haar lippe deur. “Waaroor het jy en Jacques die hele oggend gesels? Ek het nie gedink julle het eintlik iets gemeen nie.” Sy kan nie help om die vraag te vra nie.

“Ag, oor allerhande dinge: wyn, ski, Londen, beleggings … Hy het blykbaar ’n hele paar oorsese beleggings. Ek het hom gesê as hy wil, sal ek vir hom nog inligting stuur.”

Nicolene wonder of sy hom nie sommer net direk moet vra of hulle oor haar ook gepraat het nie, maar sy bedink haar.

“Waar is Jacques nou?”

“Hy het vir Mariaan huis toe geneem. Pragtige plek wat hy het …”

“Is Mariaan saam na sy huis toe?” Nicolene moet weer sluk om die bitter smaak uit haar mond te kry.

Andrew trek sy skouers op. “Ek weet nie.”

Nicolene voel hoe die kamer al hoe warmer word … en sy vee vervaard oor haar gesig. Agter haar oë begin ’n hoofpyn klop en sy wens sy kan net êrens gaan lê waar niemand haar sal kry nie. Sy wens die troue was al verby.

Wilna Adriaanse-omnibus 2

Подняться наверх