Читать книгу Wilna Adriaanse-omnibus 2 - Wilna Adriaanse - Страница 13

10

Оглавление

Nicolene swem stadig heen en weer in die koel swembad. Andrew het gaan slaap, gesê hy het ná die oggend se kuier ’n middagslapie nodig. Nicolene het hom nie gekeer nie, want op hierdie oomblik het sy nie lus vir enigiemand se geselskap nie. Die water is verfrissend teen haar oorverhitte vel en help dat die kloppende hoofpyn agter haar slape begin bedaar.

“Nicolene! In hemelsnaam, kind! Wat maak jy in die swembad? Jou hare!” Lisa se stem styg van skok. “Wat besiel jou om nou te swem? Ons moet oor ’n uur begin aantrek. Hoe gaan ons nou weer jou hare ordentlik kry? Daar gaan nie tyd wees dat Suzy jou hare weer doen nie!” Die woorde borrel soos ’n fontein uit haar ma se mond.

“My hare is nie nat nie. Ek wil net effens afkoel.” Nicolene kyk ergerlik na haar ma wat op die rand van die swembad staan. Waarom sukkel almal met haar? Kan hulle haar nie net uitlos nie?

“Dit lyk lekker ontspannend,” laat Karen hoor toe sy ook op die stoep uitkom.

“Jy klim beslis nie ook in die swembad nie!” Lisa swaai so vinnig om dat sy byna haar balans verloor en ook in die swembad beland. “Ek weet nie waarom ek so met julle sukkel nie! Julle is veronderstel om grootmense te wees!”

Karen skop haar skoene uit en gaan sit op die rand van die swembad. Sy laat haar bene in die koel water sak en skop liggies met haar voete heen en weer. “Het jy die pragtige ruiker rose gesien wat Jacques vir my gestuur het? En die kaartjie … Hy is darem dierbaar. Ek het nog altyd gedink die vrou wat hom kry, gaan baie gelukkig wees.”

Sonder om verder te dink, duik Nicolene kop eerste onder die water in, om ’n paar sekondes later met nat haarslierte oor haar gesig weer haar kop uit die water te lig. Sy vee met die agterkant van haar hand die water en hare uit haar oë en toe kyk sy vas in haar ma se gesig wat op daardie oomblik wasbleek geraak het. Selfs Karen se oë is groter as oomblikke tevore.

“Wat dink jy doen jy? Wil jy nou hierdie dag vir ons almal verongeluk!” Die kleur is stadig besig om na haar ma se wange terug te keer terwyl haar stem al hoe hoër styg.

Wilhelm moes die rumoer gehoor het, want hy kom haastig op die stoep uitgestap. Met een blik neem hy die toneel voor hom in. Hy neem sy vrou aan die arm en sy stem is rustig toe hy praat. “Kom ons gaan lê ’n rukkie voordat ons moet aantrek. Dis te warm om hier buite rond te loop.”

Karen kyk hulle agterna totdat die deur agter hulle toegaan en toe draai sy haar gesig na Nicolene. “Wil jy my vertel wat met jou aan die gang is?”

Nicolene skud haar kop. “Daar is niks aan die gang nie. Ek kry net vrek warm en ek het in elk geval nie van dié stywe kapsel gehou nie.”

“H’m … amper oortuig jy my … maar jy vergeet met wie jy praat. In elk geval, jy beter sorg dat jy my nie vandag in die skande steek nie. So, klim nou uit die swembad, skink vir jou iets om te drink as jy senuweeagtig is, en sorg dat jy betyds aangetrek kom. Ék is die een wat vandag mag stres, nie jy nie.”

Met dié finale woorde draai Karen om en stap ook die huis binne, terwyl Nicolene weer onder die water induik en twee vinnige lengtes swem.

’n Uur later is Wilhelm verplig om sy pak klere te neem en in Karen se kamer te gaan aantrek. Die hoofslaapkamer het in ’n miernes van bedrywighede verander soos wat die ontwerper, haarkapster en skoonheidskundige almal met die bruid doenig raak. Gelukkig het Karen hulle voor die tyd goed ingelig hoe sy wil lyk en kan almal met flinke hande hulle onderskeie take uitvoer.

Die grimering word oordeelkundig aangewend, en net genoeg om haar mooi gelaatstrekke te beklemtoon. Haar lang hare is reeds die oggend opgekam en laag agterin haar nek in ’n bolla gerol. Die haarkapster is nou besig om klein wit lelies om die bolla vas te maak. Die ontwerper staan geduldig eenkant en wag sy beurt af sodat hy die rok oor haar kop kan lig en die voltooide prentjie kan inspekteer.

Nicolene het intussen gaan stort en hare gewas, en gaan seker maak Andrew is wakker en ook besig om aan te trek. Daarna het sy gaan hoor of sy van hulp kan wees met die bruid se voorbereiding.

Suzy, die haarkapster, wat net klaar is met haar taak en nou terugstaan om na die eindproduk te kyk, lig haar oë vraend na Nicolene.

“Het jy nie ook vanoggend jou hare laat doen nie?”

Nicolene knik. “Ek het per abuis in die swembad beland.”

Karen is gelukkig te besig om kommentaar te lewer en sy gee net ’n grom.

Suzy kyk weer na Nicolene en beduie na ’n stoel. “Kom sit, dan maak ek jou hare droog. Jy kan sekerlik nie met sulke nat slierte by die kerk aankom nie.”

Nicolene gaan sit gedweë. Sy het onder die stort aan Karen se woorde gedink en besef sy sal haar moet regruk. Hierdie is Karen en Gerrit se dag. Sy en Jacques kan later hulle verskille uit die weg ruim. Dit is nie asof dit die einde van die wêreld is nie.

Toe Suzy uiteindelik terugstaan, knik Nicolene tevrede. “Baie beter. Dit voel soos ek. Ek pas nie in stywe kapsels nie.” Haar kort hare is ligweg agtertoe gekam en haar kuif maak fyn puntjies teen haar voorkop.

Toe Nicolene wil opstaan, beduie die skoonheidskundige sy moet bly sit. Die volgende oomblik begin sy met vaardige vingers room in Nicolene se gesig vryf en daarna word daar ’n verskeidenheid kwassies uitgehaal.

’n Paar minute later kyk Karen goedkeurend na haar suster. “Ek het nie gedink dis moontlik om jou nog mooier te maak nie.”

Nicolene kan net glimlag, want sy kan haar weer aan Karen verkyk. Maar hoe sy ook al wil glo dis die grimering en hare wat die verskil maak, weet sy met ’n seker wete dat Karen se oë die groot verskil maak. Daar is iets in die blink opgewondenheid wat haar vir ’n oomblik jaloers maak. Nicolene verskoon haarself om haar rok te gaan aantrek.

In haar kamer bly sy vir ’n oomblik in die middel van die vertrek staan, terwyl sy die trane probeer afsluk. Toe lig sy die pragtige rok van die hanger af en gooi dit oor haar kop. Toe sy in die spieël kyk, hoop sy haar ma en Karen is tevrede. Die week in die son het haar vel goudbrons verkleur en die kilogram of twee wat sy opgetel het, laat die rok soos ’n handskoen pas. Geen gapende voue meer nie.

Terug in haar ouers se slaapkamer is hulle net besig om Karen se rok oor haar kop te lig, maar almal staan eers ’n oomblik stil om na Nicolene te kyk, en sy is verlig toe die uitroepe haar verseker dat sy besonder mooi en elegant lyk. Selfs haar ma knik tevrede.

Toe staan Karen voor hulle in haar trourok en Nicolene moet weer aan die trane sluk. Sy sien hoe Lisa se oë stil word en sy haak by haar ma in.

“Ek vergewe julle nooit as julle nou begin huil nie,” dreig Karen, terwyl sy self hard moet sluk aan die knop in haar keel.

“Ons huil uit blydskap dat jy uiteindelik ’n man gekry het,” spot Nicolene met blink oë.

“Dan sal ons lakens nodig hê as jy die dag trou!” laat Karen deur haar trane hoor.

En so met blink oë en tussen die goedige gespot deur begin die groep buitentoe beweeg waar die fotograaf reeds op hulle wag.

Wilhelm se glimlag verstil ook vir ’n oomblik toe hy na die drie vrouens kyk en toe steek hy sy hand na Karen uit.

“Kon jy nie maar klein gebly het nie … dit was soveel makliker …”

Sy knik. “Op hierdie oomblik sou ek ook eerder in my pophuis wou speel.”

“Dis net totdat sy vir Gerrit sien, dan gaan sy baie vinnig van pophuise en familie vergeet!” Nicolene staan en kyk na die prentjie voor haar: haar pa wat met soveel trots en heimwee na sy jongste dogter staan en kyk. Vir ’n vlietende oomblik wonder sy hoe sy weer sal kan teruggaan na ’n onpersoonlike lewe waar niemand haar werklik ken nie.

Gelukkig is daar nie verder tyd vir allerhande gedagtes nie, want die fotograaf het sy kamera uitgehaal en vir die volgende veertig minute gee hy die een bevel ná die ander.

Andrew kom later buitentoe gedrentel, netjies aangetrek in ’n pak klere. Hy komplimenteer Karen met haar voorkoms en toe kyk hy ondersoekend na Nicolene. “Jy lyk mooi … net te bruin na my sin, maar heel sexy.”

Nicolene besluit om te swyg. Iets is tussen haar en Andrew verkeerd en sy kan nie haar vinger daarop lê nie, maar sy het ook nie vandag tyd om daaraan te dink nie. Hulle het die volgende drie dae om te gesels.

Sy kyk op toe ’n motor stilhou en sy sien hoe ’n baie deftige Mariaan uitklim. Die ligblou minirok wat sy dra, pas haar baie goed en sy kan sien hoe Andrew waarderend na die blonde meisie kyk. Toe stap hy glimlaggend nader en hulle twee groet soos ou vriende. Nicolene kry ’n beleefde kopknik, terwyl die ander mense hartlik gegroet word.

Sy en Andrew staan nog ’n rukkie en kyk hoe die foto’s geneem word en toe beduie Mariaan dat dit tyd is om te ry.

Nicolene is verlig toe die motor wegtrek, selfs al het Andrew haar nie gegroet nie. Sy hou nie van die meisie nie en was ook nie meer lus vir die foto’s terwyl hulle staan en kyk het nie.

Net toe Lisa al bekommerd raak oor Paul wat nog nie daar is nie, arriveer hy en Annemie. Daar word haastig vir hom ook ’n knoopsgatruiker aangesteek, waarna daar van die hele familie ’n paar foto’s geneem word.

Toe kyk Paul op sy horlosie. “Ons sal moet ry as die bruid nie laat wil wees nie.”

Lisa ry saam met Annemie, terwyl Karen, Nicolene en Wilhelm al drie saam met Paul in die bruidsmotor klim. Die res van die geselskap volg almal in hul eie motors.

Die straat voor die kerk en die parkeerterrein langsaan is stampvol motors, maar reg voor die kerk is ’n plek vir die bruidsmotor oopgelaat.

Nicolene help vir Karen uit en toe stap hulle stadig met die paadjie op na die ou houtdeure. Die ander het êrens parkering gevind, en kom haastig agter hulle aangestap. Karen se hare, grimering en rok word vir oulaas bekyk, en toe is dit tyd vir Lisa, Paul en Annemie om in te stap.

Lisa skuif in die voorste bank langs Gerrit se ouers in, terwyl Paul en Annemie net agter hulle gaan sit.

Die eerste klanke van die bekende troumars klink op en Nicolene wonder wie van sy of Karen op daardie oomblik die bangste is. Maar terwyl sy seker is dat Karen se grootste vrees is dat Gerrit nie daar gaan wees nie, is die feit dat Jacques wél voor die preekstoel gaan wees háár grootste vrees.

Wilhelm hou met ’n bemoedigende knipoog sy arm vir Karen uit en toe begin hulle stadig die paadjie afstap, met Nicolene agterna.

Karen se vrese was ongegrond, want Gerrit staan met ’n skitterwit glimlag voor in die kerk vir haar en wag en Nicolene slaak sag ’n sug van verligting. Nie dat sy ooit getwyfel het dat hy vandag hier sal wees nie.

Toe skuif haar oë na die donkerkopman wat langs hom staan en sy voel hoe haar hart onstuimig onder haar ribbes begin klop. Sy sien hoe hy glimlaggend vir Karen knipoog. Sy blik verskuif na haar en vir ’n lang oomblik kyk hulle oor die rye mense na mekaar. Die glimlag huiwer nog om sy mond, maar sy kan nie die uitdrukking in sy oë lees nie en sy kyk weg.

Toe staan hulle voor die kansel. Wilhelm gee met ’n handdruk en ’n soen sy jongste dogter aan haar bruidegom af en Nicolene verwonder haar aan die outydse, maar treffend simboliese gebaar. Sy gaan staan aan Karen se linkerkant en Jacques skuif regs agter Gerrit in. Hy loer weer vlugtig na haar, maar sy kyk vinnig weg en is dankbaar toe die predikant begin praat.

Nicolene dwing haarself om te luister. Die predikant is ’n jare lange familievriend en sy woorde is werklik ’n persoonlike boodskap aan die twee mense voor hom.

Uiteindelik is dit verby en Nicolene moet vorentoe tree om die ruiker te neem en Jacques om die ringe te oorhandig. Karen se hand bewe net effens toe sy Gerrit se troupand moet aansteek en Nicolene sien hoe hy haar glimlaggend staan en aankyk. Hy is duidelik die gelukkigste man in die kerk.

Met hulle hande in mekaar word die bruidspaar deur ’n vriend toegesing, waarna die slotgebed volg. Daarna verdaag die gaste, terwyl die bruidsgevolg agterbly vir die ondertekening van die register. Daar word oor en weer gelukwensinge uitgedeel en toe staan Jacques voor Nicolene en sy kan maar net na hom kyk.

“Baie geluk met jou suster se troue.” Hy huiwer, dan sak sy kop en sy mond vee sag oor hare.

Nicolene vertrou nie haar eie stem nie en knik net. Gelukkig is daar soveel mense om hulle dat daar nie tyd vir ’n langer gesprek is nie en sy is verlig toe hulle eindelik saam buitentoe kan beweeg.

Buite word daar hande vol gedroogde roosblare oor hulle gestrooi en Nicolene kan voel hoe van die blaartjies in haar hare bly sit. Terwyl die gaste na die onthaal vertrek, word daar foto’s van die hele gevolg binne die kerk en in die tuine geneem. Nicolene staan nog en kyk hoe die bruidspaar afgeneem word, toe Jacques langs haar inskuif.

“Ek wonder hoe lank daardie twee ons vanaand met hulle teenwoordigheid gaan vereer. Ek het ’n vermoede as hulle kan, maak hulle nie eers ’n verskyning by die onthaal nie.”

Sonder om te dink, lig Nicolene haar gesig laggend. “Ek weet nie of ek al twee gelukkiger gesigte gesien het nie.”

Hy vertel haar hoe bang Gerrit voor die tyd was dat Karen nie gaan opdaag nie en kort voor lank staan hulle twee soos van ouds met mekaar en grappe maak. En toe die foto’s van hulle twee geneem moet word, is die atmosfeer tussen hulle vir die eerste keer in dae ontspanne.

By die hotel word die troumars weer gespeel totdat almal hul plekke by die bruidstafel ingeneem het.

Jacques is ook die seremoniemeester en hy begin sommer dadelik met die verwelkoming en heildronke op die bruidspaar se ouers. Hy vertel hoe Karen voor hom grootgeword het, hoe hy haar in ’n onbesonne oomblik aan sy universiteitsvriend voorgestel het en voordat hy sy oë kon uitvee, was die twee smoorverlief. Die gaste staan met geligte glase op en drink op almal se gesondheid.

Nadat hulle weer gaan sit het, kyk Jacques na Nicolene wat langs hom sit. “Laastens wil ek net vir Gerrit sê hy het sekerlik die mooiste bruid gekry wat daar al ooit was, maar ek het beslis die mooiste strooimeisie gekry.”

Sy hand rus ’n oomblik op haar skouer terwyl hy praat en Nicolene voel hoe haar vel onder sy vingers begin gloei. Sy is dankbaar toe hy sy hand laat sak en, nadat hy vir Gerrit aan die woord gestel het, weer langs haar kom sit. Sy lig die vonkelwynglas na haar lippe en neem ’n groot sluk.

Onder vele uitroepe bedank Gerrit almal vir hulle teenwoordigheid, hy bedank die twee ouerpare, vir Jacques en Nicolene en laastens vir Karen. Terwyl hy praat, verbreed sy glimlag net en geen van die uitroepe kan hom van stryk bring nie.

Uiteindelik is al die toesprake agter die rug en kan die spysenier die eerste geregte begin bedien. Nicolene is geensins honger nie, maar sy voel verplig om ’n skeppie van elke gereg te proe, aangesien sy weet haar ma sal ná die tyd ’n volledige verslag wil hê. Tot haar verbasing gesels Jacques met haar asof daar niks gebeur het nie, en danksy die vonkelwyn gee die knoop in haar binneste effens skiet. Daar is gelukkig ook soveel mense wat kort-kort met hulle kom gesels, dat daar nie veel tyd vir gesels is nie.

Ná die hoofgereg bedien is, begin die orkes speel en Gerrit en Karen staan op om die dansbaan te open. Hulle beweeg stadig oor die baan, terwyl hulle glimlaggend in mekaar se oë kyk.

Met haar oë peinsend op die twee figure, voel Nicolene hoe haar stoel uitgetrek word. Toe sy opkyk, beduie Jacques vir haar dat hulle moet gaan dans.

Die oomblik toe hulle voor mekaar staan, vou sy arms om haar en sy hand rus gemaklik teen haar kaal rug. Nicolene voel hoe sy liggies teen hom begin bewe. Toe begin hulle met die ritme en sekerheid van twee bekende lywe beweeg. Hy het haar léér dans. Sy kan hom blindelings volg en hy weet dit. Hulle dans die eerste paar oomblikke in stilte.

“Ek is bly om te sien jy het nog nie alles vergeet wat ek jou geleer het nie.” Sy stem is by haar oor.

“Hoe kan ek vergeet – jy was ’n ongenaakbare leermeester.” Haar stem is lig, terwyl haar voete die ingewikkelde passies volg.

“En jy was ’n koppige leerling. Het altyd van beter geweet. Gee jy Andrew ook soveel moeilikheid?”

Nicolene se voete struikel meteens en vir ’n oomblik sukkel sy om weer haar ritme te herwin. Sy wil nie oor haar en Andrew praat nie. Sy wil ook nie hê hy moet van Andrew hou nie. Sy wil … sy weet nie … Haar gedagtes is so deurmekaar. Gelukkig eindig die musiek en is daar iemand anders om Nicolene vir die volgende dans op te eis.

Ná die tweede dans stap sy stadig na waar Mariaan en Andrew met Jacques sit en gesels. Andrew glimlag net vlugtig vir haar, en dit is Jacques wat ’n stoel vir haar nader trek, voordat hy die gesprek met Andrew en Mariaan hervat. Sy sien hoe Mariaan se goed versorgde hand op Jacques se been rus en sy kyk haastig weg.

Toe die orkes met die volgende nommer begin, staan Nicolene haastig op en kyk na Andrew. “Kom ons gaan dans.” Sy het nie lus vir dans nie, maar sy het nog minder lus vir Mariaan se geselskap.

Die ander twee staan ook op en spoedig word die vier lywe deel van die bewegende massa. Andrew is nie ’n slegte danser nie, maar Nicolene het al vergeet hoe goed sy en Jacques saam kan dans, en sy sukkel vir ’n paar oomblikke om weer by Andrew se meer stokkerige ritme aan te pas.

Sy gewaar soms vir Jacques en Mariaan en elke keer is die meisie se gesig laggend opgehef en rus haar hand strelend op Jacques se skouer. Nicolene weet ook nie meer of sy haar nie net al hierdie dinge verbeel nie. Sy weet net sy geniet nie die aand nie, en sy het maande lank hierna uitgesien. Hulle dans nog twee danse, terwyl sy vir Andrew al die bekendes uitwys. Daarna stel sy hom hier en daar aan iemand voor, maar waar dit vir haar ’n maand gelede baie belangrik was dat hy van haar familie en vriende moet hou en hulle van hom, gee sy nou nie meer om nie.

Jacques kom vra haar laataand weer vir ’n dans en Nicolene wens sy kan haar kop teen sy skouer laat rus. Asof hy haar gedagtes kan lees, trek hy haar stywer teen hom vas en verstadig sy pas.

“Is jy moeg?”

Nicolene knik.

“Ek weet jy wil dit nie vanaand van my hoor nie, maar jy lyk werklik baie mooi … en dis lekker om jou in my arms te hê.”

“Jacques …” Die knop is terug in haar keel en sy kan voel hoe die trane agter haar oë brand.

“Sjjjt … Dis al wat ek wou sê. Ontspan …”

Nicolene voel hoe sy lippe teen haar voorkop beweeg en sy sluit haar oë, terwyl haar lyf stadig saam met syne oor die vloer beweeg.

Wilna Adriaanse-omnibus 2

Подняться наверх