Читать книгу Wilna Adriaanse-omnibus 2 - Wilna Adriaanse - Страница 9

6

Оглавление

Nicolene kyk op haar horlosie en besef sy sal huis toe moet bel. Dis reeds agtuur, maar Frans en sy is nog nie uitgekuier nie en Hendrine is ook nog op pad.

Terwyl sy die plaas se nommer skakel, kyk sy laggend hoe Frans haar met gebare probeer oorreed om in die stad te oornag. Nicolene skud net haar kop en sy is dankbaar dis Karen wat antwoord. Haar ma sou te veel vermanings gehad het.

“Ek weet nie hoe laat ek by die huis sal wees nie, maar sê asseblief vir Ma hulle hoef nie bekommerd te wees nie,” lig sy Karen haastig in.

Nicolene gooi die telefoon terug in haar skouersak en neem die glas witwyn wat Frans na haar uithou, terwyl sy kopskuddend laat hoor: “Die oomblik wat ’n mens jou voete in jou ouers se huis sit, word jy weer ’n kind, ongeag of jy al jare jou eie potjie krap.”

Toe stap sy agter hom aan tot op die ruim balkon wat op die see uitkyk. Sy strek haar bene lank voor haar uit en neem ’n sluk uit die mooi langsteelglas, haar oë op die son wat rond en geel in die Atlantiese Oseaan wegsak.

“Ek wonder of julle aldag weet wat julle het,” laat sy dromerig hoor. “Daar kan nie sommer ’n mooier uitsig as hierdie wees nie.”

Frans knik. “Waarom dink jy het ek teruggekom? Ek sal liewer elke jaar spaar vir ’n vakansie in Europa, maar ek wil nie meer daar woon nie. Ek is versot op hierdie plek. Ek het genoeg koud gekry, en ek mis die energie van die Kaap.”

Nicolene knik ingedagte en haar stem is sag toe sy praat. “Dis eienaardig dat ’n mens eers moet terugkom om te besef hoeveel jy dit mis. Toe ek hier was, was ek so haastig om my vlerke te sprei en te gaan kyk hoe dit daar buite lyk.”

“Ek nou het jy ook besef die een plek is maar soos die ander,” onderbreek hy haar. “Dis die mense wat die verskil maak.”

Nicolene teug in stilte aan die yskoue wyn. Sy en Frans het mekaar vier jaar gelede ontmoet, ’n maand nadat sy in Londen aangeland het. Sy was pas klaar met haar huishoudkunde-graad en hy het pas ’n driejaar-spysenieringskursus in Londen voltooi. Albei het ingeskryf vir ’n kursus by ’n bekende kookskool en die twee Suid-Afrikaners het spoedig vriende geword. Ná die tweejaarkursus het Frans besluit om terug huis toe te kom en vir hom ’n klein restaurantjie in die Kaap oopgemaak. Hy het sy bes probeer om Nicolene om te praat om in ’n vennootskap met hom te gaan, maar sy het ’n aanstelling by ’n bekende restaurant gekry en wou eers nog ondervinding opdoen.

’n Klop aan die deur laat albei opkyk en toe Frans die voordeur oopmaak, gooi ’n rooikopmeisie haar arms om sy nek en soen hom op die wang. Sy sit twee bottels wyn op die eetkamertafel neer en stap met uitgestrekte arms op die balkon uit. Nicolene staan laggend op en vir ’n oomblik vou die twee meisies se arms om mekaar.

“Jis, maar dis lekker om jou weer te sien.” Sy bekyk Nicolene van haar kop tot haar voete en dan na Frans wat intussen met nog ’n glas by hulle aangesluit het. “’n Mens kan sien ons vriendin is nou ’n wêreldburger. Kyk net die klere en die haarstyl. Alles uit die prenteboeke uit! Ons moet geëerd voel dat sy ons nog wil ken.”

Nicolene beduie na die stoel langs haar. “Hendrine, kom sit, en hou op onsin praat.” Haar blik gaan weer oor die son wat nou soos ’n halwe lemoen op die blou water dryf. “Ek sal elke stukkie klere wat ek besit, weggee as ek elke dag hierdie prentjie kan sien.”

Hendrine was saam met Nicolene op universiteit en ná baie draaie in die buiteland en ’n verskeidenheid werke, is sy deesdae ’n baie suksesvolle kosskrywer vir ’n vrouetydskrif.

Frans beduie laggend na Nicolene terwyl hy met Hendrine praat. “Sy is nog nie lank genoeg terug om te sien hoe krepeer ons klomp hier aan die suidpunt nie. Sy is nog onder die invloed van die berg en die see en sekerlik haar ma se kos en haar pa se wyn!”

Nicolene wys na die smaakvolle woonstel agter haar rug en die uitsig voor haar. “Ja, ek kan sien hoe julle krepeer. Ek is eintlik jammer vir julle!”

“Hoe gaan dit, Nicci?” wil Hendrine tussen twee haastige slukke weet. “Ek wil alles hoor. Waar is die liefde? Gaan ons hom ontmoet? Gaan jy trou? Toe, moenie dat ek so moet uitvra nie!”

“Andrew arriveer Vrydagoggend en vertrek weer aanstaande Dinsdag, maar julle sal hom darem by die troue sien.” Sy kyk na Frans. “Maar jy hét hom mos verlede jaar ontmoet toe jy by my was.”

Die blonde man knik. “Sal nou nie sê ek het veel met hom gepraat nie, maar ons het darem ontmoet,” antwoord Frans ontwykend.

Nicolene kyk met meer aandag na hom en sy kan nie help om te voel dat hy die onderwerp probeer vermy nie. Hy wou destyds ná hulle ontmoeting nooit regtig vir haar sê wat hy van Andrew dink nie, en sy kan sien hy gaan ook nie nou verder oor hom praat nie.

“Gaan julle trou?” herhaal Hendrine haar vraag van vroeër.

“Waarom wil almal dit weet? Is dit my ouderdom wat julle bekommerd maak, of is julle bang ek kry dalk nie weer iemand wat in my belangstel nie?” wil Nicolene verontwaardig weet.

“Ek het so ’n maand of twee gelede eendag met jou ma gepraat en sy het gesê sy wonder of julle nie Kersfees verloof gaan raak nie,” verdedig Hendrine vinnig.

“My ma hóóp ek raak verloof. Al is hy nou nie haar eerste keuse nie, is dit darem beter as om te sê haar oudste dogter is nog nie getroud nie. Ek is bevrees ek is besig om die skandaal van die familie te word. En nou trou kleinsus nog voor my!”

Hendrine se klokhelder lag laat Nicolene onwillekeurig glimlag. “En hoe gaan dit met die mooie Jacques? Het julle twee nog nie besluit om nou maar die handdoek in te gooi en mekaar te vat nie? Dít behoort jou ma baie gelukkig te maak!”

“Die mooie Jacques het ’n beeldskone blondine wat redelik streng oor hom waak. Ek dink nie ek sou ’n kans staan nie, al wou ek.”

Frans skud sy kop meewarig. “Wat ’n jammerte. Ek het my nog altyd reggemaak vir heerlike niksdoen-naweke onder die akkerbome, terwyl jy my met allerhande lekkernye bederf en jou man sy kelder vir my oopsluit. Waar sal ek nóú van my stres ontslae kan raak en wat help dit ’n mens het vriende en hulle gun jou nie ook ’n stukkie van hulle luukses nie?”

“Jy lyk nie vir my té gestres nie,” kap Nicolene terug. “En ek is seker jy kan enige tyd vir Jacques gaan kuier. Aangesien jy nie kompetisie vir die mooie mevrou is nie, behoort jy welkom te wees.”

“Hét hulle trouplanne, of spot jy net?” wil Hendrine met ’n frons tussen haar wenkbroue weet.

“Ek weet nie, en hy antwoord my ook nie as ek hom vra nie. Nog net so geheimsinnig soos al die jare. Ek moet haar seker jammer kry. Ek weet nie of een van die menigte meisies deur die jare al ooit geweet het waar hulle met hom staan nie.”

“Dit gaan steeds my verstand te bowe dat julle twee mekaar nog nie gevat het nie. Ek sou wraggies nie so ’n catch laat wegkom het nie.” Hendrine skud haar kop terwyl sy die drie glase weer opvul.

Dis net voor middernag toe Nicolene vir Frans en Hendrine groet, en weer eens hulle uitnodiging om by een van hulle te oornag van die hand wys.

Sy bestuur ingedagte. Haar gedagtes is by die heerlike aand wat verby is. Sy mis sulke kuiers in Londen. Miskien is dit omdat sy daar so hard moet werk, en wanneer sy tyd het om te kuier, is dit met nuwe vriende. Daar is niemand wat weet waar sy vandaan kom, of Afrikaans met haar praat nie. Selfs al is daar Suid-Afrikaners in die geselskap, praat almal altyd Engels.

Dit ontstel haar dat sy meteens soveel heimwee het. Toe sy twee jaar gelede kom kuier het, was die kuier baie lekker, maar sy was gereed om weer terug te gaan. Maar nou is daar ’n loodswaar gevoel in haar as sy aan haar terugkeer dink. Dis asof haar hele wese daarteen rebelleer. Sy voel hoe die spiere in haar lyf onwillekeurig saamtrek. Dis goed Andrew arriveer Vrydag. Sy teenwoordigheid behoort haar te help. En sy sien daarna uit om vir hom allerlei plekke te wys. En aan almal bekend te stel … Dit sal ook al makliker wees as hy weet hoe die mense lyk wanneer sy van hulle praat.

Sy het nie groot verwagtinge rondom hom en Jacques nie. Jacques sal seker weer iets te sê hê, maar hy kan nie namens haar kies nie. Net so min as wat sy namens hom kan kies – al sou sy eintlik graag wou. Maar aan die ander kant weet sy ook nie of daar al iemand was wat sy gedink het die regte vrou vir hom sal wees nie.

Waarom kon sy nie maar sestien gebly het nie? wonder sy skielik vol heimwee. Alles het so eenvoudig gelyk. Geen groot besluite nie. Op sestien kan ’n mens maklik dink die lewe gaan altyd so ongekompliseerd wees. En nou krap Jacques net haar kop nog verder om met sy praatjies van ’n eetplek op die plaas. Sy kyk op haar horlosie en wonder of hy alleen is. Maar as hy haar enige tyd van die dag of nag kan bel, kan sy seker dieselfde doen. En in elk geval kan die mooie Mariaan ook maar ’n bietjie wakker lê.

Sy luister hoe die telefoon aan die ander kant lui en sy oorweeg dit ná ’n rukkie om die oproep te kanselleer, maar toe hoor sy die diep stem.

“Goeienaand, dit is u gelukkige aand. U is die wenner van ’n romantiese ete vir twee, in u eie huis, berei deur een van die wêreld se voorste sjefs.” Sy praat Engels en haar stem draal hees in die geslote ruimte van die motor.

Daar is ’n oomblik stilte. Toe hoor sy hoe die herkenning in sy stem kom lê toe hy in foutlose Engels antwoord: “Baie dankie. Ek neem aan ek mag ’n metgesel vir die aand kies.”

“Nee, die sjef sal die metgesel kies.” Sy kan voel hoe die glimlag aan haar mondhoeke trek.

“H’m … ek weet darem nie … Hoe sal die sjef weet wat my smaak is?”

“Glo my, sy wéét!”

“Ek is nie so seker sy weet nie. Ek het ’n vermoede sy het nog nóóit geweet nie.”

“Is jy alleen?” laat sy laggend hoor. “Want as jy nie is nie, gaan jy ná dese baie hê om te verduidelik!”

Hy ignoreer die vraag. “Waar is jy?”

“Op pad huis toe. Ek het saam met Frans en Hendrine gekuier. Hulle sê groete en wil weet hoekom jy my nie wil hê nie. Hulle vermoed daar is ernstig fout met jou.”

“Wat was jou kommentaar?” Sy kan hoor hy glimlag.

“Ek het maar gesê ek weet nie. Wat moet ek ook nou sê? Ék weet nie waarom jy sulke swak oordeel aan die dag lê nie.”

“Hoeveel het jy gedrink?” wil hy skielik bekommerd weet.

“Wat het dít nou met die onderwerp te doen?” Sy verskuif die foon na haar ander oor en skakel die flikkerlig aan om van die hoofpad af te draai.

“Want jy is besonder uitgesproke. Waarom kom jy nie hierheen dat ek vir jou die antwoord op daardie vraag kan gee nie.”

Nicolene snak verontwaardig na haar asem. “Weet jy nie hulle sê three is a crowd nie!”

“Ek het nie geweet jy het iemand by jou in die motor nie.”

“Ék veroorsaak nóóit crowds nie. Ek weet hoe om my dinge te reël. En dis meer as wat ek van sommige ander mense kan sê …”

“En wát bedoel jy daarmee?”

Nicolene wag totdat die aankomende voertuig by haar verby is voordat sy antwoord. “Ek onthou ’n paar aande in my lewe wat ek soos ’n derde wiel aan die wa saamgesleep is fliek toe of na die een of ander partytjie toe.”

“Jy bedoel seker ’n vyfde wiel … en waarom het jy nooit gesê jy wil alléén saam met my gaan nie?”

Hy klink geamuseerd en Nicolene laat ergerlik hoor: “Ek wou nie alléén saam met jou wees nie. Hulle het my altyd behandel asof die kat my ongenooid in julle geselskap ingesleep het.” Sy merk die horlosie teen die paneelbord op en voordat hy kan antwoord, laat sy haastig hoor: “Ek gaan nou neersit, voordat jy môre nie meer ’n aanstaande het nie, want teen hierdie tyd moet sy al soos ’n pot kokende lawa wees. Ek weet ék sou as my kêrel in die middel van die nag telefoongesprekke met ander meisies gehad het.” Sy bly uitasem stil.

“Ek is alleen, en jy gaan met my praat totdat jy veilig by die huis is … of nog beter, hier by my is. Jy het swart koffie nodig. Ek het ’n vermoede jy het té lekker gekuier.” Sy stem is streng en Nicolene begin onwillekeurig haar kop skud, asof hy haar kan sien.

“Ek makeer niks, maar as jy so graag koffie wil maak, aanvaar ek die uitnodiging.” Sy wil die telefoon afskakel, maar sy stem keer haar.

“Dis nie ’n uitnodiging nie, dis ’n opdrag, en moenie die foon afskakel nie. Praat met my. Jy ry dalk in ’n sloot in.”

Nicolene gooi die instrument kopskuddend op die sitplek langs haar neer.

Sy glimlag toe sy hom ’n paar minute later voor die agterdeur gewaar. Hy het net ’n kortbroek aan en sy sit en kyk ’n oomblik na die mooi, atletiese lyf. Die motordeur gaan oop en hy trek haar aan haar arm uit.

“Waarom luister jy nie as ek praat nie?”

“Ek was al by die afdraai, en in elk geval kan jy nie meer vir my opdragte gee nie – ek is nou mooi groot.” Sy kyk onderlangs na sy kaal lyf. “Sal jou meisie nie omgee as jy hierdie tyd van die nag ander vrouens in jou huis onthaal nie … en dit nog half kaal …”

“Kom.” Hy stap met haar huis toe.

“Pla my kaal lyf jou?” wil hy weet toe sy by die kombuistafel neersak en hom weer bekyk.

“Nee, dis mos darem nie die eerste keer dat ek jou kaalbolyf sien nie, maar …” Haar wange word skielik rooi en sy skud haar kop.

Hy skakel die ketel aan en haal twee koffiebekers uit die kas. “Jy wou sê …”

Sy rug is na haar gedraai en sy skud weer haar kop, en toe sy praat, is haar stem effens ergerlik. “Niks …” Sy kyk op haar horlosie. “Ek moet huis toe gaan. Hulle gaan bekommerd oor my raak.”

“Nog ’n halfuur gaan nie ’n verskil maak nie.” Hy kom neem oorkant haar plaas. “Hoe gaan dit met Frans en Hendrine?”

Nicolene knik afgetrokke, haar oë afgewend, terwyl sy met ’n teelepel speel. “Goed …”

Hy knik en staan op toe die ketel met ’n klik afskakel.

Nicolene drink ingedagte haar koffie en antwoord net as hy ’n vraag vra. En toe die beker leeg is, staan sy haastig op. “Ek wil nou net in my bed kom en slaap. Ek is moeg. Lekker slaap … en dankie vir die koffie.”

Hy stap saam met haar buitentoe en bied aan om haar te gaan wegbring, maar sy skud haar kop en belowe om hom te bel sodra sy by die huis kom.

’n Paar minute later draai sy tussen die twee wit hekke deur en ry stadig met die smal teerpaadjie na waar sy die opstal se ligte voor haar sien. Dis ’n prentjie wat onlosmaaklik deel van haar geheue vorm.

En toe sy ’n uur later ná ’n koel stort in haar bed lê, kan sy nie help om haar kop te skud nie. Sy weet nie wat met haar aan die gang is nie. Dis asof sy besig is om die noodlot te tart. Hulle is nie meer kinders nie en hy staan op trou. Sy behoort hom nie in die middel van die nag te bel óf daar te gaan koffie drink nie. Maar sy en Jacques verval so maklik in hulle ou patrone, ongeag die tydsverloop of die nuwe paaie wat hul onderskeie lewens ingeslaan het. Hulle is soos twee siele wat ewig aan mekaar verbind sal wees. Asof hulle voor die bestaan van tyd mekaar al geken het.

Maar sy kan nie help om te wonder wat hy vanaand sou gesê het as hy nie alleen was nie. En sy wonder wat Ma-riaan van so ’n oproep sou gedink het. Sy weet beslis nie wat sy sou gesê het as ’n meisie daardie tyd van die nag vir Andrew sou bel nie. Maar sy was eintlik nog nooit werklik jaloers nie. Sy het al ’n paar van Andrew se vorige meisies ontmoet, en kan nogal met eerlikheid sê sy het selfs hier en daar van een gehou. Dis meer as wat sy van Jacques se meisies kan sê. Sy kan nie dink of daar al een was met wie sy gemaklik kon gesels nie. Volgens hom was dit altyd haar verbeelding, maar sy is seker daar was ook nog nooit een wat van haar gehou het nie.

Sy skud haar kop ergerlik. Miskien moet sy ophou rondrits en ’n slag goed uitrus. Vanaand het sy byna iets gedoen wat sy beslis nie veronderstel is om te doen nie. Sy wou aan hom raak … Sy wou voel hoe sy bruingebrande vel onder haar vingers voel … Sy wou voel hoe die spiere beweeg …

Haar selfoon se gelui laat haar skielik orent skrik.

“Waarom bel jy my nie?” Hy klink vies.

“Jammer … ek het vergeet.”

’n Stilte hang vir ’n oomblik tussen hulle. Toe laat hy sag hoor: “Lekker slaap …”

Dit klink of hy iets wil byvoeg, maar die verbinding word verbreek en Nicolene lê en staar na die maanlig wat in ligstrepe deur die gordyne val.

Dis maar goed Jacques kan nie haar gedagtes lees nie. Sy strek haar arms bo haar kop. Net ’n oomblik speel sy met ’n gedagte. Toe sluit sy haar oë, maar toe sy uiteindelik aan die slaap raak, huiwer daar ’n glimlag om haar mond.

Wilna Adriaanse-omnibus 2

Подняться наверх