Читать книгу Wilna Adriaanse-omnibus 2 - Wilna Adriaanse - Страница 8

5

Оглавление

Nicolene vee vaak oor haar oë toe haar deur oopgaan en Karen die telefoon na haar uithou.

“Jacques wil met jou praat.”

Sy bly roerloos lê, maar ná ’n paar sekondes steek sy tog haar hand uit en druk die telefoon teen haar oor.

“Weet jy hoe laat dit is?” Haar stem is hees en sy kug.

“Die son is al flou geskyn en dis beslis nie tyd om nog in die bed te lê nie. Jis, maar jy het versleg.”

“Ek gaan nou die telefoon neersit, want ek het beslis nie lus vir jou beledigings op my nugter maag nie.”

Hy ignoreer haar dreigement. “Kom maak gou ’n draai hier by my, ek wil jou iets wys.”

“Wat is dit?” Sy kug weer.

“Staan op en kom kyk.”

Nicolene sug hoorbaar. “Waar is jy?”

“Onder by die ou stalle, maar ek het nie die hele dag tyd om vir jou te staan en wag nie. Hoe gou kan jy hier wees?”

“As ek met my slaapklere kan kom, so oor ’n kwartier, anders oor ’n uur. En ek het nog nie ontbyt geëet nie, so dis nog ’n halfuur.”

“Nicci, lig jou sexy agterstewe en maak gou. Jy sal nie doodgaan van die honger nie. En as jy gou maak, sal ek dalk vir jou iets gee om te eet.”

Die verbinding word verbreek en Nicolene hou die gehoorstuk na Karen uit.

“Waarom het jy nie vir hom gesê ek slaap nog nie?” Sy gee ’n lang gaap.

“Hy het gesê ek moet jou wakker maak. Wat wil hy hê?” Sy sak op die bed langs Nicolene neer.

“My iets wys. Dis tyd dat hy trou … en verkieslik met ’n heks van ’n vrou wat hom kan kortvat. Vandat ek my verstand gekry het, het hy gedink ek is sy slaaf wat moet spring as hy so sê.” Sy gooi die beddegoed van haar af en staan dronkerig op.

Jacques staan met ’n rol papiere in sy hand toe Nicolene met haar pa se veldmotorfiets om die lang wit gebou se hoek gery kom. Sy hou ’n paar treë van hom af stil en haal stadig die valhelm van haar kop af.

“Uiteindelik! Jy het ’n tipiese vrou geword. Ek kan onthou hoe jy altyd binne vyf minute kon aantrek.” Die spot lê om sy mond en Nicolene kyk afgemete na hom.

“Miskien is dit tyd dat ek jou nou maar die waarheid moet vertel. Ek ís eintlik ’n vrou en ek kan nog steeds binne vyf minute aantrek, maar dis nie goed vir jou as alle vrouens spring as jy jou lang vingers klap nie.” Sy spring haastig weg toe sy sien hoe sy plathand nader kom. Toe beduie sy na die rolle papiere in sy hand. “En dit?”

Hy rol stadig die groot velle oop en gee vir haar twee punte om vas te hou. “Die planne vir die restourasie van die ou stalle. Die argitek het dit vanoggend gebring.”

Nicolene staar verbaas na die netjiese lyne. Die lang, reguit gebou het selfs op papier karakter gekry, en vir die eerste keer pas dit by die mooi ou herehuis.

“Dis pragtig,” laat sy ná ’n paar oomblikke hoor. “Waarvoor gaan jy dit gebruik? Dit sal hartseer wees as dit in onbruik moet staan.”

Jacques rol die groot velle papier weer versigtig op. “Ek weet nie. Ek sal seker wel iets kry om hier te doen. Miskien dit aan iemand verhuur om ’n restaurant te open. Dis juis wat ek jou wil vra. Wat sal die beste uitleg vir ’n restaurant wees?” Hy beduie na die gebou. “Ek is nie seker waar die kombuis moet wees nie.”

Nicolene kyk na die ou gebou en toe na die sketse voor haar. “Ek het nooit geweet jy oorweeg so iets nie.” Sy kyk nie na hom nie.

“Die gebou is besig om te verval, en terwyl ek nou daaraan moet laat werk, kan ek dit net sowel vir iets gebruik.” Hy kyk oor sy skouer na die opstal tussen die bome. “En dis ver genoeg van die huis af dat dit my nie sal pla nie.” Sy oë trek ondeund saam. “Miskien kan jy eendag, as jy moeg vir die Engelse geword het, of nie ’n man kry nie, ’n restaurant hier kom oopmaak.”

Haar blik gaan oor die toneel voor haar – die uitsig op die dam en die berge – en sy sug. “Dit is nou die lekkerste aanbod wat ek in ’n lang tyd gekry het. Ek sal jou aan jou belofte hou.”

“Ek sal jou geregte natuurlik net eers moet keur. Ek vertrou nie die Engelse se smaak nie.”

“Ná al die kos wat ek in my lewe al vir jou en Paul gemaak het, behoort jy hierdie plek vir my present te gee!” Sy staan met haar hande uitdagend op haar heupe.

“Hy is joune as jy hom wil hê.”

Sy frons. “Ek dink nie jou aanstaande gaan toelaat dat ek elke dag hier op haar drumpel werk nie. Netnou verlei ek jou tussen die potte en die pampoene.”

Hy kyk veelbetekenend na haar. “Dit klink baie interessant. Jy het my nog nooit probeer verlei nie. Ek sal graag wil sien hoe jy te werk sal gaan.”

“Ek het nie gesê ek gáán jou verlei nie, ek sê jou vrou sal bang wees ek dóén dit!”

“Ai, dis darem jammer … Ek het nou net opgewonde geraak.”

Nicolene kyk gesteurd na die lang man langs haar. “Jou mond is nog net so groot soos altyd. Ek kan nie wag om te sien hoe ’n vrou jou eendag in die bek gaan ruk nie. En ek het ’n vermoede jou dag is naby!”

Hy sit sy arm om haar skouers en laat afgehaal hoor: “Hoe kan jy my verwens? Ek het nog nooit vir jou gesê ek hoop jou man ruk jou in die bek nie. Ek het jou nog altyd net die beste toegewens.”

Voordat Nicolene hom kan antwoord, begin die selfoon in sy hempsak lui en terwyl hy dit beantwoord, staan en kyk sy weer na die lang wit gebou. Toe draai sy om en kyk oor die dam en die groen wingerde. ’n Restaurant … hier … Elke dag onder haar geliefde berge, naby al haar mense … Toe skud sy skielik haar kop. Dis ’n sinlose droom. Sy het ’n ander pad gekies, en sy is gelukkig met haar lewe. Hy is nou sommer weer besig om haar kop deurmekaar te krap.

Toe sy stem stil raak, draai sy om en hy beduie na die motorfiets. “Kom ry gou saam met my, ek moet iets by die bank gaan teken.”

“Ek is honger.”

“Ek sal vir jou iets op die dorp koop.”

Nicolene klim agterop en sit haar hande op sy heupe. Hy hou by die huis stil en laat oor sy skouer hoor dat hy net gou sy valhelm gaan haal.

Nicolene kyk hoe hy met lang, gemaklike hale by die agterdeur in verdwyn. Toe verskyn Drika, hande op die heupe en kopskuddend, in die agterdeur.

“Jy kan nie saam met die kind op die gevaarte klim nie. Netnou verongeluk hy jou!”

Nicolene kan nie help om te lag nie. Drika wou nooit hê sy moes saam met Jacques op een van die motorfietse ry nie.

“As hy nie versigtig ry nie, sal ek bestuur, Drika,” paai Nicolene.

“Oor my dooie liggaam! Ek het nou nog letsels soos jy met my in die sloot ingery het.” Hy klim weer voor haar op die motorfiets.

“Dit was nie my skuld nie! Jy het my aandag afgetrek, en as ek reg onthou, het jy net ligte skrape gehad.” Nicolene rol haar oë vir Drika wat hulle nog hande op die heupe staan en aankyk. “Tipies man! Nou is daar kastig letsels!”

“Herinner my tog dat ek jou my sogenaamde letsels wys.”

Hy maak die valhelm vas en Nicolene moet vashou toe hy die motorfiets omdraai en hulle stamperig oor die plaaspad ry. By die teeraansluiting sit sy haar arms om sy lyf en toe gee sy haar oor aan die bekendheid van die gevoel. Gelukkig het sy ’n kniebroek aan en nie ’n rok of ’n kortbroek nie.

Met haar arms om sy lyf en haar kop teen sy rug, wieg hulle liggame in perfekte harmonie om die draaie. Nicolene kan voel hoe die bloed in haar are bruis en daar is ’n opgewonde fladdering op die krop van haar maag. Hierdie is herinneringe wat in die geheue van haar lyf vasgelê is. Sy voel hoe die son warm op haar rug bak. Sy kan maar haar oë toemaak en haar lyf sal intuïtief elke knik en draai in die pad kan antisipeer. Hierdie is haar wêreld. Hier lê haar spore.

Hy verminder spoed toe hulle in die dorp indraai en sy lig haar kop en hou die verkeer en die voetgangers langs hulle dop. Sy het altyd gewonder waarom voel dit soveel anders om op ’n motorfiets deur die verkeer te vleg as in ’n motor. Miskien omdat ’n motor jou afsluit. Dis ’n afgesonderde ruimte, ’n eiland in die bewegende massa. ’n Motorfiets is deel van die beweging. Asof jy op ’n golf ry.

Jacques hou voor die bank stil en Nicolene beduie na die restaurant oorkant die straat. “Ek gaan solank koffie drink. Wat moet ek vir jou bestel?”

“Koffie en iets lekker om te eet.”

Toe draai hy om en Nicolene kan net haar kop skud. Hoeveel keer in haar lewe het sy nie al daardie woorde gehoor nie: “Bestel solank vir my iets lekker.” En die argumente daarna as hy dink dit was nie lekker genoeg nie. Maar die volgende keer doen hy weer dieselfde.

“Ek dog jy het gesê jy is honger?” Jacques kyk verbaas na die snytjie brood wat die kelnerin voor Nicolene neersit.

“Ek is.”

“En een snytjie gaan die hongerte wegneem!” Hy skud sy kop. “Moet tog in hemelsnaam nie ook een van daardie meisies word wat jou ten duurste vir ’n ete laat betaal, en dan net twee happies eet nie. Ek verpes dit.”

“Ek sal my hele snytjie opeet,” belowe sy met ’n pruilmond en groot oë.

“Jy is te maer. Jy kan doen met ’n bietjie meer vleis om jou bene.” Hy begin honger aan sy eie bord toebroodjies eet, en laat tussen happe hoor: “’n Man kla nie sommer oor so ’n lyf nie, maar ek dink jy sal nog beter lyk as jy ’n kilo of twee swaarder is.”

“Jacques, jy hoef jou nie oor my kondisie te bekommer nie. Ek is nie een van jou beeste of skape nie en verder dink ek nie jy het die laaste sê oor my lyf nie.”

“A! Hou die Engelsman van geraamtes? Is dit waarom jy so min eet? Bang hy los jou as hy hier kom en jy lyk soos ’n mens?”

“Vir jou inligting: Andrew het niks oor my lyf te sê nie.” Nicolene beduie vir die kelnerin om nog koffie te bring.

“Natuurlik sal hy nie kla nie, want hy hou blykbaar daarvan om jou ribbes te tel. Hy is seker bang een raak weg.”

Nicolene laat die koppie sak. “Die ou-ou storie! Niemand wat ek ooit huis toe gebring het, was goed genoeg vir jou of Paul nie. Daar was altyd iets waarmee julle fout gevind het. Totdat ek self begin twyfel het!” Sy gee ’n spotlaggie. “Maar ek is nie meer sestien nie … en jy ken nie eers vir Andrew nie. So, ek sal dit waardeer as jy jou mening vir jouself sal hou. Ten minste is my opinie oor jou vriendin op persoonlike ervaring gebaseer!”

Sy diep lag laat ’n paar mense opkyk en ligweg glimlag. “Aha! Toe hét jy ’n mening oor haar. Ek moes dit geweet het. Nie dat ek kan dink hoe jy ná een ontmoeting ’n objektiewe mening kan hê nie.”

“Maar jy kan allerhande goed oor Andrew verkondig, sonder dat jy hom eers ontmoet het! Klink dit nie vir jou verskriklik aanmatigend nie?”

Hy skud sy kop terwyl hy glimlag. “Nee, want ’n man wat jou so kan laat lyk, kan nie goed vir jou wees nie. En in elk geval ken ek die tipe ouens waarmee jy nog altyd uitgegaan het. Verwaande skepsels een en almal!”

Nicolene trek haar asem hoorbaar in. “Verwaand! Ek ken nie iemand verwaander as jy nie!”

“Dan is dit nogal vreemd dat jy nooit met my uitgegaan het nie. Ek sou goed by die ander ingepas het.” Hy strek sy lang bene langs die tafeltjie uit en toe die kelnerin oomblikke later byna daaroor struikel, vang hy haar betyds en glimlag ’n skitterwit verskoning. Die meisie skud blosend haar kop, maar Nicolene kan sien hoe haar blik oor die aantreklike gesig gaan en sy wonder hoeveel keer in haar lewe sy al dieselfde toneel gesien het. Een glimlag en die meisies is aan sy voete.

Toe hulle weer alleen is, beduie sy met haar kop na die meisie wat nou eenkant saam met haar medekelnerinne staan en lag. “Dít is presies die rede waarom ek nooit in my lewe met jou sou uitgegaan het nie: jy flankeer met elke meisie wat verbykom.”

Sy lag laat ’n tweede keer die mense by die ander tafeltjies opkyk en hierdie keer is hulle glimlagte breër. Asof sy lag aansteeklik is.

“Ek het die arme kind opgehelp.”

“H’m … daar is altyd die een of ander verskoning.” Nicolene vou die servet op en kyk op haar horlosie. “Ek wil nou huis toe gaan. Niemand weet waar ek is nie en my pa maak my dood as hy weet ek het met die motorfiets dorp toe gery.”

“Jy is saam met my. Hy weet hoe betroubaar ek is; hy het my nog altyd vertrou.”

Hierdie keer is dit haar lag wat die ore van die ander eters bereik. “En min weet hy dis vir wolf wat hy skaapwagter gemaak het!”

Voor sy huis skakel hy die motorfiets af en beduie dat sy moet inkom, maar Nicolene skud haar kop en bly op die saal sit.

“Wanneer kom kook jy vir my kos dat ek kan sien of jy iets geleer het?” Sy een hand rus gemaklik op die handvatsels.

“Ek wil nie vir jou kos maak nie. Jy behandel my te sleg.” Nicolene draai die sleutel en trap die enjin aan die gang, maar sy hand het die stukkie maagvel gesien wat onder die kort hempie uitloer en sy vinger sluit om die klein goue ringetjie.

“Dis omdat ek vir jou omgee en net die beste vir jou wil hê.”

“Ek sal nogal graag wil sien hoe lyk jou beste vir my.” Sy klap sy hand weg en begin om die valhelm op te sit.

“Ek dink nogal jy kan nie beter as ek kry nie.”

Haar lag styg bo die gedreun van die enjin uit en sy trek met ’n ruk weg. Sy verloor byna haar balans, maar ná ’n oomblik herwin sy beheer en ry haastig tussen die wingerde deur.

By die agterdeur bly staan Jacques met sy hande op sy heupe en ’n vreemde glimlag op sy lippe.

“Waar kom jy vandaan?” Lisa kyk fronsend na Nicolene se deurmekaar hare.

Nicolene ontwyk haar ma se vraag. “Het Mamma geweet Jacques gaan die ou stalle restoureer?”

Lisa knik. “Christa het my vertel. Ek wonder waarvoor hy dit gaan gebruik. Hulle het tog genoeg geboue op die plaas.”

Nicolene antwoord nie. Lisa kyk op van die notaboek waar sy besig is om lysies te maak, maar Nicolene trek net haar skouers op. Toe vra sy ingedagte: “Waar’s Pa en Karen?”

“Hy het saam met haar dorp toe gery. Die loodgieter is besig om een of ander lekplek in hulle badkamer reg te maak.”

Nicolene bly nog ’n rukkie sit. Toe staan sy op, maar Lisa se stem keer haar en sy sak weer langs haar ma by die stoeptafel neer.

“Nicci …” Haar ma se wange verkleur merkbaar. “Ek weet jy is groot en jy lei jou eie lewe in Londen, maar solank Andrew hier kuier …” Die pienk blos op die ouer vrou se wange verkleur tot ’n diep rooi.

Nicolene weet wat haar ma wil vra, maar sy besluit om stil te bly en te hoor hoe haar ma hierdie onderwerp gaan aanroer.

“Dis net dat dit vir jou pa baie swaar gaan wees … en ek wil nie graag hê ons tydjie saam moet versuur word nie … en jy weet hoe praat die werksmense onder mekaar …” Haar ma se stem raak uitasem weg en Nicolene moet keer om nie te glimlag nie, want sy is baie seker haar pa is nie die een wat sal swaarkry nie.

Sy besluit om tog die blosende vrou uit haar penarie te help. “Andrew kan in die gastekamer slaap, Ma.” Nie dat sy dink hy gaan beïndruk met dié reëlings wees nie, maar sy het hom darem al voor haar vertrek probeer waarsku.

Lisa se kop sak oor die papier voor haar en Nicolene kan nie help om vir haar jammer te wees nie. Haar trotse ma wat al die jare so bang is dat die mense oor haar kinders sal skinder.

Nicolene sit en kyk ’n paar minute hoe haar ma se hand oor die papier gly. Toe staan sy rusteloos op. “Kan ek Ma se motor leen?”

Lisa kyk vraend op. “Waarheen wil jy gaan?”

“Stad toe. Ek wil sommer by al die bekendes gaan inloer en hoor hoe dit gaan.”

Die ouer vrou knik. “Hoe laat sal jy terug wees?” Die vraag wat hulle van kleins af moes antwoord.

Nicolene trek haar skouers op. “Ek weet nie, maar moenie vir my wag nie. Ek sal laat weet as dit laat word.”

“Wees versigtig en sluit jou deure en moenie alleen in die nag ry nie. Dis baie gevaarlik.”

Nicolene druk ’n soen op haar ma se kroontjie. “Ek sal versigtig wees.”

Wilna Adriaanse-omnibus 2

Подняться наверх