Читать книгу Wilna Adriaanse-omnibus 2 - Wilna Adriaanse - Страница 4

1

Оглавление

Jacques Roux hou die gesigte van die passasiers dop terwyl hulle met swaargelaaide bagasiewaentjies by die deure uitkom. Oë wat afwagtend heen en weer flits; wit glimlagte en uitroepe van herkenning. Enkeles lig nie hulle koppe nie, duidelik seker dat daar nie ’n verwelkoming op hulle wag nie. Hulle oë soek slegs na die naaste uitgang en sodra hulle dit vind, beweeg hulle haastig daarheen. En dan sien hy die bekende gesig … maar hy waai nie, kyk net hoe haar oë ook begin soek.

Sy het verander. In die twee jaar wat hy haar nie gesien het nie, het die mooi, jeugdige gesig plek gemaak vir ’n meer volwasse aantreklikheid. Die lyftaal is meer selfversekerd, haar kleredrag duidelik meer gesofistikeerd …

Hulle oë ontmoet, maar sy herken hom nie. Net voordat sy egter wegdraai om verder te soek, is dit asof haar oë fokus en sy glimlag breed terwyl sy deur die mense beur. Die oomblik toe sy voor hom staan, gooi sy albei arms uitgelate om sy nek.

“Wat op aarde maak jy hier?”

Die sagte lippe rus gemaklik en bekend op syne en hy kyk haar ’n oomblik ondersoekend aan. “Geen neusringe of kettings deur die lip nie! Ek is verbaas.”

“Maar darem een deur die naeltjie!” Sy lag vrolik op in sy gesig. “Maar wat maak jy hier?”

“Vir jou kom haal. Die ander is tussen trourokke en troukoeke …” Hy begin haar waentjie in die rigting van die uitgang stoot.

“Jis, dis lekker dat dit jy is … dit stel die chaos darem met nog ’n uur of wat uit.” Sy haak by hom in en hy beduie met sy kop in die rigting waar die motor geparkeer is. Haar wenkbroue trek vraend omhoog toe hy by ’n nuwe, bottelgroen viertrekvoertuig tot stilstand kom.

“Genade, maar dit gaan goed met die boerdery! Hoe hou jy die meisies van jou lyf af?”

“Hoekom sal ek hulle wil afhou?” Hy laai haar tasse agterin die motor en maak die passasiersdeur vir haar oop.

In die voertuig draai sy na hom en bekyk hom onbeskaamd op en af.

“En … wat is die gevolgtrekking?” laat hy glimlaggend hoor toe hulle uit die parkeerplek draai.

“Dis so onregverdig! Waarom lyk ’n man se lagplooie soos ontwerpersbykomstighede! Selfs die lyf toon ook nog nie eers tekens van verval nie … Wat gaan met die meisies aan dat jy nog los rondloop … of is jy steeds te uitsoekerig?”

Hy trek sy skouers op en glimlag. “Ek is nog te jonk vir so ’n groot stap.”

“Nóg een van die lewe se onregverdighede! ’n Ongetroude man van dertig is soos ’n goed beleë bottel rooiwyn – uiters gesog – terwyl die wenkbroue al lig as ’n vrou op sewe en twintig nog nie aanstaltes maak om gekerk te word nie!”

Sonder om te dink, steek hy sy hand uit en sy vingers vee deur haar kort hare. “Ag wat, jy lyk darem nie te sleg vir sewe en twintig nie … en volgens jou ma is die kerk en die ring nie te ver nie.”

Nicolene gee ’n lang sug. “My arme ma sal ook enigiets kwytraak om haarself te troos. Gelukkig het Karen my voorlopig met haar troue gered, anders het ek wraggies nie hierdie jaar huis toe gekom nie.”

“Is dit net troosstories wat jou ma verkondig?” Sy wenkbroue lig vraend.

“Dit hang af wat jy gehoor het.”

“Skatryk … uiters suksesvol … lang familiegeskiedenis … en boonop aantreklik ook …”

“H’m … feitelik korrek, maar die kerk is beslis nog nie bespreek nie.”

“En sy besoek … is dit ook nie om die ring aan te steek nie?” Hy kyk vlugtig na haar.

“Nee … ek het net gedink dis ’n goeie geleentheid om hom die land en die familie te wys … en om darem ’n metgesel vir die troue te hê, aangesien ek gehoor het jy is nie beskikbaar nie. Volgens jou ma lyk dit baie ernstig … en is sy baie mooi.”

Sy diep lag vibreer teen die motorruite. “Dis haar poging om jou jaloers te maak. Jy weet sy sal jou nooit vergewe dat jy nie haar seun wil hê nie.”

Nicolene sit haar hand op sy skouer en lag saam. “As ek net nie haar seun so goed geken het nie, sou ek dit nogal oorweeg het.”

“Jy dink maar net jy ken hom so goed. Jy sal verbaas wees om te weet hoe oningelig jy is.” Sy oë spot in hare en toe sy hom net met ’n wye mond uitlag, verander hy die onderwerp.

“Wanneer kom jou kêrel?”

“Aanstaande Vrydag. Ek kon hom beslis nie nou al saamgebring het nie; hy sal hom doodskrik vir die histerie in die huis.” Sy kyk na hom. “Ek is seker nie verkeerd as ek sê die familie is redelik histeries nie?”

Hy skud sy kop stadig terwyl hy weer begin glimlag. “Ek dink histerie is ’n redelik goeie beskrywing.”

“En die arme Gerrit? Het hy nog nie besluit om die hasepad te kies nie?”

“Daardie arme vriend van my weet nie wat hom getref het nie. Ek dink hy gee nou nie meer om of die bruid in bloedrooi of pikswart opdaag en of daar ’n krieseltjie kos is nie, solank niemand hom weer sy mening vra nie. ’n Man kan net na sóveel troukoeke en huistoebehore kyk en dan wraggies nie meer nie!”

Nicolene lag hardop. “Jou dag sal ook nog kom.”

Hy kyk skeef na haar. “Is die Engelse nog beïndruk met jou kos?”

Nicolene knik. “Dit lyk so. Dit gaan goed by die restaurant. Ek werk baie hard, maar geniet al die nuwe dinge wat ek leer. En die voordeel is natuurlik dat die Europese vasteland so naby en bereikbaar is. En ek is dol oor Italië en Frankryk. So, as ek ’n paar dae af het, glip ek maklik oor die kanaal en gaan skep asem op die platteland.” Sy tik teen sy skouer. “Hoekom het jy nie ’n draai by my kom maak toe jy vroeër vanjaar daar was nie? Ek het die rooi tapyt afgestof en uitgerol.”

“Ek het jou mos al gesê ek kon nie met ’n wildvreemde meisie by jou aankom nie. En in elk geval het ons die hele week geski en net ’n vinnige draai in Parys gemaak. Dit was byna oestyd en ek kon nie langer wegbly nie.”

“Gaan ek haar darem nóú ontmoet?”

“As ek seker is ek gaan my nie vir jou skaam nie.”

Sy draai haar rug op hom, maar toe hulle by die wit hekke indraai en stadig tussen die wingerde deur ry, vergeet sy dat sy veronderstel is om vir hom vies te wees. “’n Mens leer later om die verlange te onderdruk, maar nou besef ek eers ek het my doodverlang.”

Hy kyk na haar en toe hy sien hoe haar oë agter ’n mistigheid wegraak, sit hy sy hand oor hare.

Die voordeur gaan oop toe die motor stilhou en Nicolene glimlag toe sy sien hoe haar ma en pa wedywer om eerste by die motor te kom. Albei vou haar in hulle arms toe en al drie se wange is nat toe hulle opkyk.

“Staan eers so dat ek jou kan sien!” beveel haar ma toe die ergste hartseer bedaar het. “Genade, maar jy lyk so anders … ek weet nie hoe nie … so wêreldwys … en ek hou van jou korter hare … Of wat sê jy, Jacques? Sy lyk goed, nè?” wil Lisa du Toit uitasem weet terwyl sy haar dogter bekyk.

“Sy lyk nie te sleg nie,” terg Jacques. Toe knipoog hy vir Wilhelm wat nog sprakeloos tussen die twee vrouens staan.

Die ouer man glimlag. “Net te maer. Dit lyk my nie sy eet haar eie kos nie,” laat hy met ’n growwe stem hoor.

“Sy is nie té maer nie, dis net omdat sy swart dra en bleek is. Sy sal ná ’n maand by die huis weer bruingebrand en uitgerus wees,” verklaar Lisa soos ’n kenner.

Sy haak by Nicolene in en hulle begin aanstap. Die twee mans volg met die bagasie en begin boerderysake bespreek, terwyl die ouer vrou onverpoos voortgaan om nuus uit te ruil.

Toe die tasse in haar kamer neergesit is, bedank Jacques hulle aanbod vir koffie en sê hy het nog heelwat dinge om te gaan doen. Nicolene stap saam met hom motor toe en druk ’n soen op sy wang voordat hy in die motor klim. “Dankie dat jy my kom haal het!”

“Dis ’n plesier.” Hy glimlag spelerig. “En ek moet nou maar erken: dis vrek lekker om jou weer te sien.”

Sy glimlag breed. “Ek het jou gewaarsku dat jy my eendag gaan mis, maar jy wou mos niks hoor nie! Ek hoop net die nuwe liefde is nie so jaloers dat ek jou nooit hierdie vakansie gaan sien nie.”

“Jy flenter vier jaar rond, kom bring net so elke tweede jaar ’n welwillendheidsbesoek en dan moet ek my meisies afskeep wanneer jy jou verwerdig om te kom kuier. Dis darem verwaand. In elk geval gaan jy jou hande vol hê om jou skatryk kêrel besig te hou.”

Sy sug. “Wat het my na jou laat verlang?”

Hy lag net en trek met ’n waai van die hand weg.

Terug in die huis kyk haar ma afwagtend op toe sy binnekom. “En toe – is dit nie lekker om hom weer te sien nie?”

Nicolene hou haar gesig ernstig toe sy knik en dan neem sy die koppie koffie by haar ma. ’n Bekende gesig loer om die sitkamerdeur en die jong meisie spring op. Elsa het haar help grootmaak.

“Elsa! Hoe gaan dit met jou?”

Die ouer vrou vou haar arms om Nicolene en maak klikgeluide met haar tong. “Waarom het jy so lank weggebly? En kyk hoe maer is jy!” Haar bruin oë bekyk Nicolene ontevrede.

“Moenie met my baklei nie, ek het so hard gewerk, maar nou is ek hier vir ’n hele maand.”

Elsa knik tevrede en dan verskoon sy haarself om die kos te gaan opsit.

Die volgende oomblik hoor hulle motordeure klap en toe die voordeur oopgaan, stap ’n jong man en meisie haastig binne. Karen gooi die inkopiesakke op die rusbank neer en omhels haar suster, terwyl sy aanhoudend praat. Ná ’n ruk staan sy darem opsy sodat die man langs haar ook vir Nicolene kan groet.

Nicolene haak by die man met die rooiblonde hare in en knipoog vir hom. “Ek is so bly om te sien jy het nog nie weggehardloop nie. Jy is voorwaar ’n dapper man.”

“Maar nie weer nie, hoor.” Hy trek haar nader en druk ’n soen teen haar wang.

“Beplan jy dat daar ’n volgende keer gaan wees?” laat sy aanstaande skoonma met opgetrekte wenkbroue hoor.

Hy knipoog vir Nicolene. “Tussen die twee van hulle sal ek nie eers koue voete kan kry nie. Hulle hou my met arendsoë dop.”

Karen gluur hom aan en swaai haar ligbruin hare oor haar skouer. “Jy sal jou wat verbeel! Jy is doodbang dat ék koue voete kry, daarom pas jy my so op.”

Gerrit soen haar op haar mond en dan laat hy gemaak ernstig hoor: “Daarom is dit vir my baie swaar om jou nou te verlaat, maar ek het nog ’n werk en as ek na al jou inkopies kyk, sal ek nie kan bekostig om my werk te verloor nie.”

Hy groet die ander en nadat Karen hom op die stoep afgesien het, kom sy haastig teruggestap en sak langs Nicolene op die rusbank neer.

“Vertel alles! Hoe lyk hy? Wanneer kom hy? Jis, ek is so nuuskierig. En het jy ’n mooi rok gekry? Ek sien nie kans om nou nog hier na ’n rok vir jou te soek nie.”

Nicolene knik en sit haar hand op die jonger meisie se arm. “Ek het ’n rok. Of dit jou en Ma se goedkeuring gaan wegdra, sal ons maar moet sien.” Sy knip laggend vir haar pa oog, terwyl hy hulle rustig sit en beluister.

“Nicolene … ek hoop van harte nie dis ’n kaal rok nie. Onthou die troue ís in ’n kerk!” Lisa se blou oë rus bekommerd op haar oudste dogter.

“Dis somer … en ek was bang ek kry warm, maar ek sal probeer om die halslyn so hoog as moontlik op te trek,” terg Nicolene.

Wilhelm staan laggend op en kondig aan dat hy die drie vrouens gaan los om verder die kuisheid van hulle rokke te bespreek. Lisa staan ook op om ’n paar oproepe te gaan maak en die oomblik toe hulle ouers uit die vertrek is, draai Karen na haar suster.

“Gaan julle verloof raak? Ek belowe ek sal nie vertel nie.”

Nicolene skud haar kop. “Nee, goeiste, daar sal nog heelwat water in die see moet loop.”

“Is jy lief vir hom?” Karen se blik gaan vraend oor haar suster se gesig.

“Genade, Karen! Jy klink soos die Spaanse Inkwisisie! Ek dink nooit regtig aan hierdie dinge nie. Dis lekker wanneer ons bymekaar is, en ek sal hom seker mis as hy skielik uit my lewe moet verdwyn … maar ek hoor nog nie regtig die gelui van trouklokke nie.”

“Het jy al by hom ingetrek?” Sy lag sag. “Ma wil eintlik weet, maar sy wil jou nie self vra nie. Ek dink sy is doodbang vir die antwoord.”

Nicolene skud haar kop. “Dis nie iets wat ek maklik sal doen nie. Ek dink ’n mens kompliseer ’n verhouding onnodig as jy nie meer ’n ruimte van jou eie het nie.”

Karen loer oor haar skouer. “Moet net nooit saam met Ma trourokmateriaal uitsoek nie. Sy sien ’n betekenis in elke stuk lap waarna jy kyk en dan moet jy verduidelik waarom jy nie die onskuldige, spierwit kant kies nie.”

Nicolene lag hardop en albei skud hulle koppe.

Daardie aand in haar bekende bed, met al die bekende reuke om haar, dink Nicolene lank oor die dag. Paul en Annemie, haar broer en skoonsuster, het kom groet en vir aandete gebly en dit was so lekker om hulle en die tweelingseuntjies te sien. Paul het ook oor Andrew uitgevra en Nicolene dink weer aan die gesprek met haar suster.

Dis so anders as ’n mens ver van die huis af is. Sy het nog nooit ernstig aan trou gedink nie. Solank die verhouding werk, maak niemand planne nie. Daar is nie familie wat vrae vra nie. Sy weet nie of Andrew se ouers hom ooit uitvra nie. Sy kan haar dit nie indink nie. Hulle is so korrek en teruggetrokke. En hulle het in elk geval nog nooit die saak met haar aangeroer nie. Sy suster het eendag gesê haar ouers sal bly wees as hy sorg vir ’n manlike erfgenaam, maar sy het nie die meisie verder uitgevra nie.

Die gelui van die selfoon langs haar bed versteur meteens haar gedagtes en sy antwoord ingedagte op Engels.

“Jammer om jou teleur te stel, maar dis nie jou minnaar nie.”

Sy glimlag en wikkel haarself gemakliker teen die kussings toe sy Jacques se stem herken. “Maar jy is darem ’n goeie naasbeste.”

“Gmf! ’n Mens kan hoor jy praat uit onkunde. Dis beslis nie die algemene gevoel hier rond nie.”

“Nou toe nou, wie sou dit nou gedink het! En al die tyd dink ek net aan jou as die gawe buurseun … wat nie juis kan soen nie.”

“En waarop grond jy jou bevindings?” Sy kan hoor hoe sy stem verdiep.

“Jy het my eendag uit die swembad gered. Ek het nogal gedink dis gaaf van jou …”

“En die ander deel van jou bevinding?”

Sy bly ’n oomblik stil asof sy eers dink. “Die soen? Onthou jy my agste verjaarsdag … agter die vyeboom!”

“En op grond dáárvan verklaar jy my naasbeste!”

“Nee … Daar was darem ook ’n paar verjaardae en Kersfeeste daarna …” Nicolene voel hoe haar glimlag al breër rek.

“Dink jy nie dis tyd dat ons jou gebrekkige ondervinding op datum moet bring nie? Dis nie goed om gevolgtrekkings op ou navorsing te baseer nie.”

“Maar wat as die gradering dieselfde bly?”

“Ek is bereid om daardie kans te waag.”

“Waarom het jy nou weer gebel?” verander sy doelbewus die gesprek.

“Ek wou net sê ek hoop jy slaap lekker in jou eie bed!”

“Baie dankie, ek is seker ek sal. En ek hoop jy slaap ook lekker!” Sy probeer so ernstig as moontlik klink. En toe skakel sy die instrument af en lê met ’n groot glimlag in die donkerte.

Wilna Adriaanse-omnibus 2

Подняться наверх