Читать книгу Mede-wete - Antjie Krog - Страница 11
6.
Оглавлениеleef die mite
hoe oneindig duisel die uiteinde van die grond-as-ons-s’n nie
bloekom- wilger- populier-monogramme as ons-is-hier
geplant die spruit lou saans van amandellig en ’n boorling
sterre tarentale en kiewiete wat eeue al uit die grasse tamp
plek wat nog altyd my gebeente kon breek tot taal
my tot stemme wrong my ingewande inbéúr
’n soort hoortheelheid uithang as my diepste tong
himnes en iets soos krakele uit my harsingkorse skeur
oor jou werf het ek safpotig intiem gesnuffel snags
ruig van begeertes afgodes en wraak – versaligd los-
gelaat uit die sandkliphuis se ligvol vuis vir die nag
maar altyd as geërfde keer jy my na jou toe terug
wat ook al verkeerd gedoen is hier, grond – nog nooit het jy
ontkiem onder soveel sublieme beminning – jou nasate
oral versprei kyk verruk op as hulle jou naam hoor
totdat ’n vlammestriem ons verlange tot stoppels seng