Читать книгу Mede-wete - Antjie Krog - Страница 20
verlies
Оглавлениеek bevind my
vir die seerste keer
in die skare van verbrandes
die ongeboekstaafde uitmekaar-uit-verbrandtes
tot-wond-geskroot en hart-knerpend
loop ons vooroor
ons dorsborskaste slepend van skerf- en afwaarts-stortende geluide
ek groet hom
die kind van my
kalsiumbenig nog met soveel vlieënde droom-neuriënde skaduwees
sy lyf hou ek vas
vir oulaas ter hart en melkig vas teen my vas
ín in my vastigheid vas
as ek my losmaak is ek korter huilender krankender
en skielik uitgedun wieg ek ontvlerkd op my voete
my liefde hortnaaldend en tot ewigontmagtiging gekneus
hy draai om na sy tasse
en my lyf skeur oop vorentoe voor
die nate van my arms bars los
en kwets bloeiend agter sy liefhebbende nabyende lyflikheid aan
sy lyfwesende lyfheid wat uit my uit geword het
uit uit alles wat kole was in my en onbevaar
onaflosbaar openbarend was sy lyf-ende geliefdheid
kind wat ek ook met die arms liefgehad het
en sy luidkeels heelhuids-singende wange
kind
kind van my bors
moet my nie verlaat nie
my en hierdie brandende ontworde onuitgesêde godvergalde vaderland