Читать книгу Soekmekaar - Dana Snyman - Страница 10

7. Kruisvuur

Оглавление

Ek sit in Charlie’s, drink ’n cappuccino en lees die koerant. Die deur swaai oop en ’n man kom in, selfoon teen die oor. Hare deurmekaar.

Buite waai ’n woeste Kaapse wind.

“Die polisie was daar,” sê hy in die foon. “Lyk nie of daar enige vingerafdrukke is nie. Ja … Ek weet nie … Ek weet nie. Sê net hy moet my bel, asseblief. Ek móét met hom praat … Dankie. Baai.”

Hy laat sak die foon en knik effens verleë in my rigting, stap na die tafeltjie in die hoek, sit die foon en ’n bos sleutels daarop neer, trek ’n stoel uit, gaan sit. By nie een van die ander tafeltjies is iemand nie. Iewers neul ’n Kenny G-saksofoon uit ’n luidspreker. Ek skat hom iets in die vyftig. Gryserig om die slape. Dit lyk of hy nog nie kans gehad het om te was en te skeer en ordentlik aan te trek nie. Sy T-hemp is vol kreukels, sy een Nike-tekkie veterloos.

’n Kelner kom staan by hom, spyskaart in die hand.

“Net ’n gewone Americano. Met warm melk.” Sy stem is moeg.

Hy sit ’n paar oomblikke stil voor hom en uitstaar toe die kelner wegstap, dan tel hy sy foon van die tafel af op, lees iets op die selfoon se skermpie, tik iets met ongeduldige vingers, sit die foon weer neer.

Onder die tafel wip sy een been op en af.

Hy kelk sy hand om die melkbekertjie om te voel of die melk warm is toe die kelner dit saam met die Americano voor hom neersit. Dan lui sy foon. Hy kyk vlugtig in my rigting, en tel die foon op.

“Luister, kan ek jou terugbel? Ek wag net vir ’n oproep. Ja … Ja … Hulle is tot met my skoene weg … Ja … Ek is net bly ons leef … Dankie … Reg. Ons praat … Ek sal. Ek sal … Dankie. Ons praat.”

Hy sit die foon weer neer, trek ’n pakkie suiker uit die bakkie voor hom, skeur dit oop, gooi die suiker in die koffie, tel ’n teelepeltjie op, roer die koffie en kyk na die mense wat skuinserig in die wind buite voor die venster verbyskarrel.

Sy hand skiet dadelik uit na sy foon toe dit weer lui. “Hallo.” Hy staan op en stap na die deur met die foon teen sy oor. “Nee. Moet dit nie vir my sê nie.” Hy gaan staan. “Wanneer sal hy terug wees? Ek kan dit nie glo nie. Ek móét met hom praat … Ja … Ja … Is jy seker? Ek kan dit nie glo nie … Goed. Môre. Dis seker maar reg so. Wat kan ek sê?”

Hy kom teruggestap na sy tafeltjie toe. “Enige tyd sal my pas … Ek sê: Enige tyd! … Ja … Oukei …” Hy laat sak die foon. “’n Lekker daggie vir jou ook. ’n Fantastiese daggie vir jou.”

Hy smyt die foon op die tafel neer en gaan sit, laat sak sy kop in sy hande. Onder die tafel begin sy been weer op en af wip.

Buite tjank die wind om die gebou se hoeke.

Soekmekaar

Подняться наверх