Читать книгу Soekmekaar - Dana Snyman - Страница 14
11. Die vierde gebod
ОглавлениеJy word wakker en dan is daar nie ’n trein wat by die stasie rangeer en motors in die strate en werkers wat op die sypaadjies loop en na mekaar roep nie. ’n Sondagoggend is voëls in die bome en Fanie Smit se stem oor die radio: “’n Hartlike goeiemôre van my, Fanie Smit, by nog ’n aflewering van Alle volke loof die Here. Ek gaan vanoggend begin deur vir u die ‘Magaliesburgse aandlied’ te speel, soos vertolk deur …” ’n Kerkklok wat lui. Die statige klank van die pyporrel in die kerk. Oom Martiens, die voorsinger se basstem, wat bo almal se stemme uitstyg: “Prys die Hee-e-eer met bly-e ga-alme …” En dan Dominee se stem, eers kalm, later vol vuur en swael, en dan, aan die einde van die preek, moeg en der dagen sat, byna snikkend, vol berou en vergifnis: “Vorm my en maak my na u wil, o, Heer …” Terug by die huis: die gesuis van ’n ketel wat begin kook, die geklinkel van teelepels in teekoppies. ’n Mes wat geluidloos deur ’n sjokoladekoek sak en die bord met ’n klikgeluid raak. ’n Oonddeur wat oopkraak. ’n Tafelklokkie wat lui. ’n Eenwoordgebed: Virspysendranksêonsunaamlofeerendankamen. ’n Kurkprop wat met ’n dowwe smakgeluid uit ’n Twee Jonge Gezellen-bottel loskom. Die geskraap van messe en vurke oor borde. Dan ’n stem wat roep: “Maria! Mari-jooeee! Jy kan maar die borde kom kry, my ou skepsel!” en Pa wat terugleun in sy stoel, en sê: “Ek weet wat ek nou gaan doen.” En dan, doodse stilte in die huis – tyd vir ’n middagslapie. ’n Bed wat se vere kraak, en dan Pa se ritmiese gesnork aan die onderpunt van die gang. Later Pa wat in die gang afkom, met spierwit bene in ’n kortbroek en kort swart kerksokkies. Dan die oonddeur wat oopkraak, die deksel wat gelig word van die skottelbak waarin die oorblyfsels van die skaapboud is. ’n Krakerige gebakte aartappel wat met die hand opgetel en koud geëet word. ’n Motor wat stadig in die straat verbydreun: die Viljoens in hul Chev Kommando, op ’n Sunday afternoon drive, elkeen met ’n roomys in die hand. Die platespeler wat in die sitkamer aangeskakel word en ’n Strauss-wals, soos vertolk deur die Weense Filharmoniese Orkes, wat deur die huis wieg. Ma wat by die voordeur uitgaan en op die draadstoel op die stoep gaan sit en na die horison sit en staar en geluidloos en traanloos huil oor onvervulde begeertes en verlore drome terwyl die son agter die seringboom in sak en dit donker word en die kerkklok in die verte die ure meedoënloos aftel.