Читать книгу Soekmekaar - Dana Snyman - Страница 6
3. Roes
ОглавлениеDries diens my bakkie en ek staan by hom in die werkwinkel. Hy spook met ’n vonkprop wat nie wil loskom nie. “Is hierdie dêm seelug,” sê hy en vat die spanner met beide hande vas. “Als roes vas.”
Die are op sy voorarms swel en swel, maar die vonkprop wil nie skiet gee nie. “Jy’t nie kinders nie, nè?” Hy loer so onderlangs na my.
“Nee,” sê ek. “En jy?”
“Twee. Seun en ’n meisiekind.”
Dis maar die tweede keer dat ek die bakkie na Dries toe bring.
“Ek het die seun op Stellenbosch laat leer. Tandarts.” Hy beduie na die hout-en-glashokkie in die hoek van die werkwinkel waar hy sy papierwerk doen. “Daar hang die foto.”
Teen die muur agter Dries se oorvol lessenaar is ’n geraamde foto, geneem ná die seun se gradeplegtigheid op ’n grasperk iewers op Stellenbosch. ’n Jong man in akademiese toga, Dries en sy vrou weerskante van hom. Dries in ’n pak klere wat effens te styf aan hom klou.
“Julle’s seker baie trots op hom,” sê ek.
“Die mannetjie sit nou in Kanada – hy en sy vrou.” In Dries se stem is opeens iets stram. “Hul laaitie verjaar vandag. My enigste kleinseun. Is al vyf. Ek’t vir hom een van hierdie stemgoed gestuur.” Hy wys na die selfoon in sy oorpakbaadjie se bosak. “Toe laat weet my seun: Pa, kan jy nie maar die boodskap in Engels stuur nie? Die kind verstaan nie Afrikaans so mooi nie.”
Dries bly ’n ruk stil. “Hoe moet ek vir daai laaitie in Engels sê: ‘Kom kuier ’n bietjie vir jou oupa lat hy vir jou kan wys hoe trek ’n mens kreef en hoe eet jy ’n bokkom?’ Come and see your grêndfather that he can show you how to pull a … Ek weet nie eens wat is ’n donnerse kreef in Engels nie, man.”
Hy kyk deur die werkwinkel. Die werkbank met die moersleutels bokant die bank teen die muur, elkeen omkring met ’n swart viltpen. Die plat domkrag op vier wieletjies. Die aambeeld. Die ghriesput. ’n Lewe.
“Weet jy hoe hard het ek gewerk om daai kind deur universiteit te kry?” Hy hou sy oliebesmeerde hande oop voor hom in die lug. “Ek kon my kleinkind nog nie een keer vashou nie. Hulle’s vier jaar gelede hier weg.”
Hy stap na die stoorkamertjie aan die werkwinkel se agterkant. ’n Rukkie later kom hy weer te voorskyn met ’n blikkie Q20 by hom. Hy moes met sy hand oor sy gesig gevee het toe hy daar binne was. Op sy wang is ’n oliestreep.
Hy spuit Q20 oor die halsstarrige vonkprop.
“Hierdie ding gaan ons nie vandag baasraak nie, my maat.” Hy sit die Q20 neer en tel weer die spanner op. “Hy’t nie ’n ma of ’n pa nie. Sy moer.”