Читать книгу Soekmekaar - Dana Snyman - Страница 12
9. A better life for all
ОглавлениеOral waar jy gaan, sien jy mense wag. Party staan. Ander lê. Die meeste sit.
Hulle sit op plastiekstoele voor karige huisies. Hulle sit op die trappe voor winkels en poskantore en Cash Converters. Hulle sit op die muurtjie by die slagpale waar ’n varkkop op ’n Donderdagmiddag slegs R25 kos.
Hulle sit in kliniekrye, vasgebind met ’n kombers op ’n moeder se rug. Op die stoep van ’n ouetehuis wat se staatsubsidie al weer laat is. In hofsale. In die tronk, in die bank en by daardie kruiedokter van Zanzibar wat belowe hy kan jou verlore geliefde terugbring en jou van vigs genees.
Hulle sit by skuldberaders, by die regshulpkliniek en in die balju se kantoor. Hulle sit op die hoek by die drankwinkel en langs die pad by ’n bus wat duskant Britstown gebreek het. Op die verdorde grasperk voor ’n afgebrande munisipale kantoor sit hulle. In die Australiese en Kanadese ambassade en in die stowwerige gange van die hofgebou.
Hulle sit op hoë stoeltjies in kroeë en op omgekeerde bierkiste in sjebeens. Hulle sit op die sawwe banke van kerke en kry brood by lawaaierige predikers – brood wat in klippe verander sodra hulle hul karige bydrae in die kollektebord gegooi het en by die deur uitstap.
Hulle sit in die begrafnisondernemer se plek, met voosgevatte boekies in die hand. Hulle sit in Sassa-kantore en in ’n bleekblou Camry iewers tussen die ou Transkei en Kayamandi, gestrand sonder petrol. Hulle sit by die lykshuis in Maitland en staar na ’n selfoon wat se lugtyd op is. Hulle sit in Helpende Hand se kantoor in Centurion en staar die verte in.
Hulle sit voor rekenaarskerms in PostNet en stuur nog ’n vergeefse CV na ’n maatskappy waarvan die direkteure vanjaar weer bonusse van meer as R300 miljoen gekry het. Hulle sit in die veld en hou ’n plaasopstal dop.
Hulle sit op pawiljoene in stadions waar die minister se toespraak al drie uur gelede moes begin het.
Hulle sit op randstene, paraat met ’n troffel, ’n waterpas en ’n verfroller byderhand. Hulle sit onder ’n flappende strandsambreel diep in die binneland en probeer Weskus-snoek verkoop. Hulle sit by die bushalte, plat op die boude, die bene reguit uitgestrek, by ’n paar tamaties en pakkies grondboontjies wat op ’n stuk koerantpapier uitgepak is.
Hulle sit by die winkelsentrum se ingang, blind, wit kierie tussen die kniekoppe, met ’n honger hoed langsaan op die grond. Hulle sit in die polisiekantoor, met ’n opgeswelde oog, ’n bebloede verband om die kop, en ’n leeftyd se klagtes in die gemoed.
Hulle sit by daardie plek op Hopetown wat vir jou ’n mikrolening teen makro-rentekoers gee. Hulle sit op ’n afgedopte hortjiesbank op die perron van ’n treinstasie waar die trein al weer ure laat is. Hulle sit onder ’n koelteboom by ’n skool waar die onderwysers staak.
Hulle sit op die regop staatsdiensbankies in die departement grondsake se kantoor, vir jare al sit hulle daar om te hoor wanneer kry hulle nou daardie grond terug wat hul oupagrootjie in 1913 onder dwang moes verlaat.
Hulle sit in flenterklere op klippe by kruisings. Hulle sit by vulstasies en hospitale en skrootwerwe. Hulle sit en wag.
Hulle wag.