Читать книгу Soekmekaar - Dana Snyman - Страница 18
15. Afrikanergeskiedenis 101
Оглавление’n Mens probeer dit maar vir jouself verduidelik. In hierdie post-waarheid tye.
In die begin was daar Jan van Riebeeck en sy mense wat in die Kaap aangekom het om ’n verversingspos vir die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie te vestig. In 1652. Toe kom die Franse Hugenote en ander Europese immigrante. Nederlanders. Duitsers. Ook slawe en bannelinge uit die Ooste.
Later was daar vryburgers, en opstand teen die Kompanjie. Adam Tas. Ook Hendrik Biebouw, wat een Maart-dag in 1707 vir Johannes Starrenburg, die landdros van Stellenbosch, dronkerig uitdaag: “Ik wil niet loopen, ik ben een Africaander, al slaat die landrost mijn dood, of al setten hij mijn in den tronk. Ik sal, nog wil niet swygen.” Die eerste opgetekende geval van ’n Europeër wat homself ’n Afrikaner genoem het. In daardie tyd is dié benaming, Afrikaner, gebruik vir sekere slawe, vry swartes en Khoi-Khoi wat in die Kaap gebore is.
Intussen het hierdie immigrante, hierdie Europeërs met die bleek vel, ’n nuwe taal beginne praat, ’n heerlike kombuistaal wat moontlik eerste deur die Khoi-Khoi gepraat is wat met die Hollandse seelui in aanraking gekom het. Afrikaans was van die begin af glad nie net wit nie.
Toe die eerste Britse besetting van die Kaap. 1795. Oorlog aan die oosgrens. Die Slagtersnek-rebellie. Daarna die Groot Trek: Piet Retief, Gerrit Maritz, Louis Trichardt en ander wat die binneland in is met ’n Statebybel in die wakis en die nuwe bastertaal uit die Kaap op die lippe. Bloukrans. Bloedrivier. Sarel Cilliers. Die Gelofte. ’n Volk wat ontstaan – die Afrikaners.
Later word diamante in die land ontdek. Die Eerste Vryheidsoorlog. Majuba. Daarna die Anglo-Boereoorlog. Kruger, Steyn, Botha, Smuts, De la Rey, De Wet. Die konsentrasiekampe, die lyding, die afgebrande plase, die armoede ná die oorlog. Die armblankevraagstuk. Die stryd om Afrikaans as ’n amptelike taal erken te kry. Langenhoven. MER. Die Eerste Ekonomiese Volkskongres. ’n Volk wat uit die as van armoede opstaan. Die Reddingsdaadbond. Die Broederbond. Sanlam. Volkskas. 1938 se Simboliese Ossewatrek. ’n Gees van nasionalisme wat Die Volk beetpak. Toe 1948: die Nasionale Party wat aan bewind kom. Malan. Strijdom. Bruin mense wat in 1955 van die kieserslys verwyder word – ’n kans vir iets meer oop en wyd daarmee heen. Bram Fischer. Verwoerd. Die Groepsgebiedewet. Gedwonge verskuiwings. Sharpeville. Beyers Naudé. Die digter DJ Opperman wat waarsku: “Die Afrikaner het gebou aan sy eie wêreld, het hom sterk gemaak en in die proses die Engelsman, Kleurling en Bantoe van hom vervreem.” Vorster. Steve Biko. Die Kerkstraatbom. Nog ander ANC-bomme. PW Botha. Sanksies. Townships wat brand. Van Zyl Slabbert. FW de Klerk. Genl. Constand Viljoen. Wittes wat bevrees boeliebief, Toppers en ander voedsel koop en bêre. Eugène Terre’Blanche. Drie AWB-krygers wat doodgeskiet langs ’n poeierblou Mercedes in Bophuthatswana se stof lê en hul makkers wat vlug. Die koms van die nuwe Suid-Afrika. Nelson Mandela. Never again. Aartsbiskop Desmond Tutu. Francois Pienaar op Ellispark: “We did it for forty million South Africans.” Die reënboognasie. Die NP wat die regering van Nasionale Eenheid verlaat. Eugene de Kock, die offerlam van ’n brutale bestel. Die NP word die NNP word die DP word die DA. Die reënboog wat verdof. Misdaad. Wanbestuur. Korrupsie. Marthinus van Schalkwyk word Suid-Afrika se ambassadeur in Australië. ’n Verlore droom.
En nou, in die jaar van onse Liewenheer 2019, rig soveel Afrikaners hul hoop vir nuwe sekerhede op ’n popsanger wat homself graag ’n Boer noem, en swaar dra aan nostalgie oor ’n vergeefse vroeëre tyd van Afrikaner-oorheersing.
Hoe de hel het dít gebeur?