Читать книгу Soekmekaar - Dana Snyman - Страница 13
10. Nog ’n baie mooi dag in Afrika
ОглавлениеHy staan voor in die betaalry in OK Foods. In die een hand het hy ’n 2 ℓ-Coke; in die ander ’n 2 kg-pak wors en ’n pak Blitz. Sy sweetpakbroek hang laag op sy boude.
“Volgende!” roep die meisie agter die kasregister.
So vroeg op ’n Sondagoggend is die ander betaalpunte nog gesluit.
Hy stap vorentoe en sit die Coke, die wors en die Blitz langs die kasregister neer. “Twee pakkies Stuyvesant,” sê hy en beduie na die sigaretrak agter die toonbank.
“Gee sommer daar drie pakkies Grand-Pa ook.”
Die meisie sit die twee pakkies Stuyvesant en die Grand-Pa’s by die wors en die Blitz voor hom op die toonbank neer.
“Julle vat kaart, nè?” Hy kyk na haar.
Sy knik.
’n Seuntjie kom van agter af gedraf, verby ons ander in die ry. Hy gaan staan by die man en hou ’n groot pak NikNaks na hom toe uit. “Is daar niks meer by die huis nie?” Die man wys na die NikNaks. Die kind skud sy kop. “Oukei. Gee.” Hy vat die pak by die kind en die meisie lui dit saam met die Coke en die sigarette, die wors en die Blitz op.
Terwyl die meisie al die goed in ’n plastieksak pak, gryp die seuntjie die pak NikNaks voor haar weg en draf daarmee by die deur uit. Die man wikkel ’n bankkaart uit sy hemp se bosak en gee die kaart vir die meisie. Sy druk dit in die kaartmasjien, tik die bedrag in, en gee die masjien vir die man om sy geheime nommer in te tik.
Die man staar stip na die masjien totdat die velletjie papier by die masjien uitkrul. Die meisie skeur die velletjie af, kyk daarna, frons. “Dit sê: ‘Declined’. ” Sy gee die strokie vir hom.
“Kan nie wees nie.” Hy wys na die kaartmasjien. “Is hierdie ding reg?”
Die meisie druk weer die kaart in die masjien, tik weer die bedrag in.
Voor die man weer sy geheime nommer intik, trek hy eers die sweetpakbroek op tot bokant sy stuitjie. ’n Paar oomblikke later krul ’n nuwe strokie uit die smal opening aan die kaartmasjien se bokant. Sonder om iets te sê skeur die meisie dit af en gee dit vir die man. Hy vat die strokie, kyk met ’n frons daarna, frommel dit op en stap by die winkel uit, met die broek wat weer moedeloos oor sy boude sak.
Buite skyn die son helder, die lug is blou, die wind gaan nie vandag waai nie. Dit is die perfekte Sondag om te braai.
“Volgende,” sê die meisie en skuif die sak met die man se Coke en wors en ander goed in eenkant toe.
Ek stap nader met die twee koerante waarvoor ek wil betaal. By die deur is ’n beweging. Dis die veiligheidswag wat altyd daar op die stoel sit. Met ’n groot pak NikNaks in die hand kom hy van buite ingestap.