Читать книгу Soekmekaar - Dana Snyman - Страница 11
8. Basie
ОглавлениеFok dit, dit kan nie so aangaan nie. Dis tyd lat ons Afrikaners saamstaan. Genoeg is genoeg. Kyk net hoe word ons boere op hul plase gevermoor. Kyk wat word van Afrikaans. Oral word ons uitgeskuif. Nêrens stel hulle meer ’n Afrikaner aan nie. Die ANC, die EFF – die hele spul soek ons nie hier nie. ’n Mens kan ook nie meer die DA trust nie. Jy kon darem nog altyd vir hulle stem, maar kyk wat het nou weer by daai skool gebeur. Hulle vat wragtig die EFF se part. Die DA hou nie regtig van ons Afrikaners nie. Hulle gebruik ons net om vir hulle te stem. En wat gaan met die Vryheidsfront aan? Kruip nou by die Kleurlinge. Belaglik! Solidariteit en AfriForum traai hul bes. Hulle probeer minstens die potholes in die paaie toegooi. Maar gaan ou Flip en ou Kallie nie op die ou end maar weer voor die ANC kruip nie? Nes generaal Jannie Smuts destyds voor die Engelse gekruip het. Daar is nou vir jou ’n verraaier as daar ooit een was: Smuts. Kyk wat het hy met Jopie Fourie gedoen. Mense gaan so tekere oor ou generaal De la Rey, maar De la Rey was ook maar ’n ou bliksem. Hy het die rebelle in 1914 in die steek gelaat. Die beste van hulle almal bly maar ou generaal De Wet. Ons het weer ’n De Wet nodig. Generaal De Wet het nie kak gevat nie. Of iemand soos Eugène Terre’Blanche wat weet hoe om ons mense op te sweep. Terre’Blanche het net te veel gedrink en van sy perd afgedonner. Jy kon ook nie regtig vir oom Jaap Marais stem nie. Oom Jaap met sy budgies. PW was seker ’n goeie leier, maar PW was ’n regte ou korrelkop. PW moes nooit toegelaat het dat die KP van die NP af wegbreek nie. Dis waar ons trouble begin het, want in ’91 toe ons almal nee in FW se referendum moes stem, toe stem die meeste ja. FW het ons uitverkoop. Verraaier. Tipies Dopper. Nie dat die klomp in die NG Kerk beter is nie. Die liberaliste het die NG Kerk oorgevat. Maybe moet ons vir selfbeskikking gaan? Maar waar? Die klomp in Orania is al klaar weer aan die baklei. Ons moet terugkeer na God toe. Ons het nou eintlik vir Verwoerd nodig. Die probleem is: Ons het nie leiers nie. Wat het van Kortbroek geword? En waar is Constand Viljoen? Dis net jammer oom Angus is Engels, hy sou ons kon gelei het. Maybe moet Steve Hofmeyr tog maar sy party stig. Steve kom darem op vir die Afrikaner. Maar Steve is nie ’n politikus nie. Steve is soos Piet Retief. Steve het mos saam met Zuma gebraai, nes Retief saam met Dingaan. En kyk wat het met Retief-hulle gebeur? Die Voortrekkers het in elk geval ’n fout gemaak, hulle moes nooit Natal en Transvaal toe getrek het nie. Hulle moes Suidwes toe getrek het. Nou sit ons met al die shit. Ons sal moet saamstaan. Hierdie keer het ons nie ’n keuse nie. Hoekom kon ons Afrikaners nog nooit saamstaan nie? Wat de fok gaan met ons aan?