Читать книгу Soekmekaar - Dana Snyman - Страница 17
14. See toe, 1973
ОглавлениеKom, kry vir julle? Toe, kom … Seun, kan Mamma vir jou ’n broodjie aangee? Tamatie? Of appelkooskonfyt en kaas? En kry vir jou ’n frikkadel … En jy, Engel? Wat gaan jy eet? Kan ek vir hom ’n worsie aangee? … Kan jy solank vir ons koffie ingooi? Die fles is daar … Waar is Simon? Simon …! O, daar is jy. Miesies het vir jou ook kos gebring. Hier. Kom kry. Lekker jêmtoebroodjies … En wors. Kry vir jou, my skepsel … Hy kan seker maar hier by ons sit, Pappa? … Het jy jou beker gebring? Gaan kry jy jou beker lat die baas vir jou koffie kan ingooi … Moet ons nie eers ogies toemaak nie, Pappa? Maak gou vir ons ogies toe … Amen … En wat van ’n eier? Kry vir jou ’n eier, Seun. Jou ma is tog so lief vir ’n hardgekookte eier … Sjoe, maar die pad is besig, nè? Waarheen jaag almal? Mensekinders van Korag, maar die mense jaag. Die see sal nie weghardloop nie … Hier’s ’n lappie, Seun. Moenie jou handjies aan jou broek afvee nie, hoor. Hier, gebruik die lappie … Nog ’n broodjie vir jou, Engel? Ek het spesiaal een met grondboontjiebotter en stroop vir jou gemaak … Simon! Waar is Simon nou? Hy moet sy beker bring vir koffie … Wat maak jy nou, Seun? Jy kan mos nie die eier teen jou kop kraak nie, my kind. Nee, man. Help hom ’n bietjie daar, Engel … en gee sommer die fles aan … Simon moet vir hom kom koffie kry … Lyk my nie hy wil by ons sit nie …