Читать книгу Soekmekaar - Dana Snyman - Страница 20
17. Tornado
ОглавлениеOp die muurtjie voor The Evergreen Container in Diazville sit ’n maer man met ’n kaalgeskeerde kop. Ek hou naby hom stil. Ek is op soek na die seuns wat party middae hul vlieërs hier in die oopte die lug in stuur. Ek klim uit die bakkie. Stap nader.
Maybe hulle is Tabakbaai toe, sê die maer man.
’n Meisie kom nader. Sweetpakbroek. Made in China-sloffies. Vat Meneer photos? Sy wys na die kamera wat oor my skouer hang. Hoekom vat Meneer nie ’n photo van hierdie uncle nie? Sy sit haar een hand op die maer man se skouer. Nè, Uncle Henry, wys vir die meneer Uncle se tornado, dan vat hy ’n photo.
Die maer man glimlag flou. Toe nou, Uncle, wys vir die meneer.
Die maer man kom van die muurtjie af orent. Sy grys broek se gulp is halfpad oop. Op sy trui is Sea Harvest, die visfabriek hier naby, se wapentjie. Wys hom, Uncle.
Die maer man gee ’n paar treë vorentoe, asof hy ’n verhoog betree. Meneer moet nou kyk. Toe, Uncle. Kom nou.
Die maer man vat sy T-hemp en trui se onderkant met albei hande vas, trek die T-hemp en die trui boontoe, en ontbloot sy maag. Hy haal diep asem en trek terselfdertyd sy maag in. Kyk nou, Meneer. Toe, Uncle. Die maer man trek sy maag al dieper in tot sy maag onder sy ribbekas wegsak. Die are swel in sy nek. Dan laat hy sy maagspiere, die breë tregtervormige rif tussen sy beken en sy ribbekas, heen en weer beweeg. Hy laat kolk sy maagspiere soos ’n tornado. Sien Meneer! Sien Meneer!
Vir ’n paar oomblikke kruisig die maer man se skaduwee hom aan die kaal sypaadjie skuins agter hom vas terwyl hy sy maagspiere laat kolk en kolk.
Het Meneer nie vir ons daar ’n tweerandjie nie? Die meisie hou ’n hand na my toe uit, die handpalm honger na bo gedraai. Die wind waai soe hierie uncle van my kan nie uitgaan op die sie nie.
Langs haar blaas die maer man sy asem uit en laat sak die trui en T-hemp weer oor sy maag.