Читать книгу Ena Murray Omnibus 33 - Ena Murray - Страница 11
8
ОглавлениеDie uur is al amper verby, en nog staan Vegter op die straathoek skuins oorkant die agterstraathotel.
Jy kan nog omdraai, wegloop, sê ’n stem. Laat Midas Hammond sit en wag totdat hy grys word.
Ek wil nie wegloop nie, praat hy terug. Hoekom sal ek?
Omdat jy nie regtig wil doen wat jy jou voorgeneem het nie, antwoord die stem.
Wat laat jou dit dink? Natuurlik gaan ek voort met my planne. Ek wil daardie geld hê, nou méér as ooit. Ek moet padgee voordat Mac my doodmaak.
Die stem is tartend: Jy belieg jouself, Vegter. Jy wil jou pa nie regtig afpers nie. Jy wil nie met hierdie ding voortgaan nie. Maar jy wil ook nie omdraai nie. Jy brand om in daardie hotel te gaan – nie om Midas Hammond af te pers nie, maar om net een maal … net één maal jou eie pa in die oë te kyk.
Hy roer sy skouers onrustig, verskuif sy gewig van die een been na die ander, frons kwaai. Jy praat twak! My pa het nog nooit iets vir my beteken nie.
Maar hy het iets begin beteken vandat jy uitgevind het jy het ’n pa; dat hy lewe en na jou soek. En jy wil hom van aangesig tot aangesig sien.
Jy is skielik sentimenteel, raas hy terug. Ek weet hoe Midas Hammond lyk. Sy foto’s is in al wat ’n koerant en ’n tydskrif is. Ek hoef hom nie in lewende lywe te sien nie. Onsin!
Maar ’n foto en ’n pa van vlees en bloed voor jou is twee verskillende dinge. ’n Mens kan nie ’n foto se hand druk nie … Wanneer jy daardie hand druk, sal jy weet dieselfde bloed vloei deur jul are.
“Shut up!” Hy sê dit kliphard en ’n paartjie wat verbykom, kyk hom vinnig aan en dan stuur die man sy meisie wyd om die lamppaal.
“Hy is helder oordag dronk,” merk hy op en die meisie laat hoor: “Dis iets wat ek nooit sal verstaan nie. Waar kry hierdie leeglêers die geld daarvoor?”
Vegter trek sy asem in, kyk stip na die hotel oorkant en stap dan oor die straat. Na die duiwel met hierdie stem en die straatwerkertjie. Hy gaan voort met sy planne.
Natuurlik herken hy Midas Hammond onmiddellik toe hy die slordige hotelsitkamer binnestap. Dis egter te betwyfel of iemand in dié hotel die beroemde gesig so gou sou eien. Hy sal net bekend lyk, maar niemand sal ooit verwag om die koning van Babel in só ’n plek aan te tref nie.
Hy gaan staan in die deur, sien die man in die een hoek by ’n tafeltjie sit, met vingers wat ongeduldig op die tafelblad trommel. Hy aarsel. Dan kyk die man by die hoektafel op, en kom stadig orent. Vegter weet hy kan nie meer omdraai nie.
Hy stap stadig nader … en die twee mans se oë ontmoet, som mekaar op. Dan steek die man sy hand na Vegter uit.
“Dag.”
Hy aarsel, kyk na die hand … moet dan syne noodgedwonge ook uitsteek.
“Dag, meneer Hammond.”
“Noem my Midas. Hoe sal ek jou aanspreek?”
“Vegter.”
“Fechter?”
“Nee. Met ’n V en ’n G. Fighter.”
“Ek verstaan. Is dit hoe almal jou noem?”
“Ja.” Hy ontmoet die ander man se vasberade oë. “Dis al naam wat ek het.”
Midas knik, wys met die hand. “Sit, Vegter. Laat ons begin.” Hulle neem plaas. Die ouer man haal ’n dik koevert uit sy binnesak, sit dit op die tafelblad tussen hulle neer en kyk op na die kelner wat voor hulle staan en wag.
“Iets vir jou?” Vegter skud sy kop, en Midas wys die kelner met die hand weg. Toe hulle weer alleen is, skuif hy die koevert na Vegter se kant. “Daarin is ’n voorskot.” Dis doodstil.
“Ek gee jou ’n hele paar duisend rand nog voordat jy my ’n enkele woord vertel het om jou te wys ek bedoel dit eerlik met jou. Jy kan dit tel as jy wil.” Vegter sit en kyk net na die koevert, verroer nie ’n vinger nie. Ná ’n oomblik steek Midas sy hand in die ander binnesak van sy baadjie, trek nog ’n koevert uit. “Goed. Ek onthou jy het gepraat van ’n groot bedrag. Dan maak ons die voorskot tien persent van die totaal. Tevrede?”
Nog maak die jong man geen beweging nie, en Midas frons liggies. “Jy vertrou my nie. Ek kan dit sien. Jy het my woord dat dit nie gemerkte note is nie.” Hul oë ontmoet weer. “Maar as jy steeds onrustig voel, kan jy nou saam met my gaan en ek sal die bedrag by ’n kitsbank vir jou gaan trek. Dan weet jy dit is heeltemal veilig.” Vegter pers sy lippe net stywer op mekaar. Midas se frons verdiep. “Ek weet nie wat ek nog moet doen om jou gerus te stel nie. Hoekom het jy nou bang geword?”
“Bang?” Dis ’n woord wat nie vir Vegter gesê word nie.
“Ja. Jy het my begin afpers en nou het jy bang geword. Waarvoor?”
Die jong gesig verstrak. “Ek is nie bang nie.”
“Dalk onrustig? Goed. Kom ons skakel dit ook uit. Jy pers my nie meer af nie. Jy het my nooit afgepers nie. Jy het met my in verbinding getree en jou hulp aangebied. Ek het jou in diens geneem. Jy werk nou vir my … en daardie is ’n deel van jou salaris. Hoe klink dit?”
Sy tong lê soos lood in sy mond. Dit wil nie beweeg nie, en nou frons Midas openlik, die oë skerp. “Goed. Ek verstaan. Jou aanvangsalaris is te min. Sal ons sê …”
“Nee, verdomp, dis nie wat ek wil hê nie!”
Dit word baie stil.
Wat sê ek tog! Dis mos wat ek wil hê! Soveel as wat ek kan kry! Is ek dan mal? tas hy wild in sy gedagtes rond. “Wat ek eintlik bedoel, is … jy is baie vrygewig en jy weet nie eens of ek jou na jou kinders kan lei nie.” Sy oë verdonker. “Is dit vir jou só belangrik om jou kinders te kry?”
Die ander huiwer nie. “Ja. Dit is.”
“Hoekom?”
Dis Midas se oë wat ’n oomblik sak. “Het jy kinders, Vegter?”
“Nee. Ek is nie getroud nie. Ek het ook nie los kinders nie.”
“Dan sal jy nie verstaan nie. Maar ek wil my kinders hê, Vegter. Help my … asseblief.” Vegter knik stadig en Midas vra: “Wat weet jy van hulle af? Waar het jy gedink om te begin soek?”
Vegter frons, kyk na die twee wit koeverte. “Ek wonder of jy verder moet soek, meneer Hammond. Ek dink nie jy gaan baie van jou kinders … hou wanneer jy hulle kry nie.”
“Dan weet jy tog baie van hulle af. Hoekom sê jy so?”
“Wat as hulle … nie is soos jy jou hulle voorgestel het nie?”
Midas skud sy kop. “Ek is bevrees ek het hoegenaamd nie eers aan so iets gedink nie. Ek het nie die vaagste benul wie of wat hulle kan wees nie.” Hy glimlag skeef. “Dit het sy voordele. Die waarheid kan my nie juis skok nie. Maar ek begin vermoed in watter rigting ek moet dink …”
Vegter se gesig verstrak weer. “Ja, dis beter dat jy jou voorberei …”
“Dis ’n lelike sny daardie.”
“Ja.” Dit is waar Mac se mes hom aan die begin van hul geveg getref het.
“Behoort jy aan ’n bende?”
“Ja. The Bats.”
“En Sean?”
“Sean?”
“Ja. My seun – Sean.”
“O! Ja. Hy het.”
“Het?”
“Hy het verdwyn. Ons sal hom moet soek.”
“Maar hy is nog hier rond?”
“O ja. Hy is nog hier in die Kaap.”
“En my dogter?” Midas frons. “Dit klink nie goed nie, ek weet, maar ek kan haar naam nie onthou nie. Dit was iets uitheems.”
Vegter se mond trek. “Jy was ’n baie liefdevolle pa, nè?”
Midas sug. “Ja. Ek is skuldig. Maar ek onthou net die troetelnaampie wat Sean haar gegee het. Babie of Baba. Niemand het ooit haar doopnaam gebruik nie.”
Vegter hou sy oë afgewend, maar die wrede trek om sy mond verraai sy gevoelens. Hy onthou nie eens sy eie kind se naam nie! Hoekom bekommer jy jou oor hom? vra hy homself bitter af. ’n Pa wat nie eens sy kind se naam kan onthou nie! Dan voel jy skuldig om hom af te pers? Stroop hom kaal, die vuilgoed!
Maar hý onthou vir Babie. ’n Klein dogtertjie in ’n verslete, vuil rok wat huil van die honger. En ’n boetie wat troos: Ons gaan nou-nou eet. Laat die sop net ’n bietjie kook.
“Haar naam is Zia.”
“Zia! Nou onthou ek! Ken jy haar?”
“Ek … het haar al by Sean ontmoet.”
“Was julle vriende, jy en Sean?”
“Min of meer.”
“En Zia? Wat het van haar geword?”
“Jou dogter was in ’n stadium ’n prostituut.” Reguit. Brutaal eerlik. “Ek sal na haar ook moet soek.”
Midas is stil, knik dan eindelik. “Dan begin ons. Weet jy waar om te begin?”
“Ja. Ek sal hulle wel uitsnuffel.”
“Ek gaan saam.”
“Saam? Jy is mal!”
“Ek gaan saam. Dis my kinders.”
Vegter kreun, ’n desperate woede in sy stem en sy oë blits op die man oorkant hom. “Jy maak my siek! Wat probeer jy nou eintlik bewys?”
“Wat bedoel jy?”
“Verdomp, man! Al die jare het jy jou nooit aan jou kinders gesteur nie. Jy het hulle so vergeet dat jy een van hulle se naam nie eens meer kan onthou nie! En nou wil jy hulle uit die bloute dringend hê! Só dringend dat jy tussen bendes en moordenaars en dwelmslawe wil inbars! Moenie my probeer vertel jy het skielik ’n misplaaste vaderliefde vir hulle ontwikkel nie!”
“Nee.” Midas Hammond staar voor hom uit. “Die nie vaderliefde nie. Soos jy sê, dit sou misplaas wees. Ek weet self nie wat dit is nie. Dis net … sedert ek aan my kinders begin dink het, is dit lewensbelangrik vir my om hulle te kry. Dis ’n drang wat net ál sterker word.” Hy kyk moedeloos na die harde, jong gesig. “Dis vandag die belangrikste ding in my lewe.”
“Hoekom?”
“Ek weet nie,” herhaal hy weer.
Vegter sy oë kyk stip. “Wat het jou in die eerste plek aan hulle laat dink? Laat onthou dat hulle bestaan? Dat daar iewers op die aarde twee kinders van jou rondloop?”
“ ’n Hartaanval – en die besef dat ek die een of ander tyd sal doodgaan. En dat ek Babel aan iemand moet nalaat.”
Vegter se gesig word onleesbaar. “Jy bedoel … jy soek na jou kinders om Babel aan hulle te gee?”
“Dit kom daarop neer, ja. Ek is sterflik, Babel onsterflik. Daar moet altyd ’n Hammond in beheer van Babel wees.”
Dis ’n rukkie stil, en Vegter snork minagtend. “Jy verstom my! Dit is dus nie ter wille van jou kinders en jou vaderskap dat jy na hulle soek nie? Alles draai om jou dierbare Babel!” Hy vleg sy vingers inmekaar en leun met sy elmboë op die tafel, kyk die ander vas in die oë. “Het iemand jou al gesê dat jy die selfsugtigste mens op aarde is?”
Midas Hammond kyk terug. “Ja. Al my vorige vrouens. Veroordeel my as jy wil, Vegter – maar ’n man kan nie ’n stad van goud bou en dit dan saam met jou tot stof laat vergaan nie. Dis iets wat moet agterbly, verder uitgebou moet word. Ek kan dit nie uit die graf doen nie. My seun moet … of my dogter.”
’n Grynslag laat sy gesig vertrek, sodat die sny op sy wang ’n potsierlike halfmaan vorm wat sy gelaat na ’n grynsende masker laat lyk. “Ek verstaan, meneer Hammond. Ek verstaan. Jy gaan jou kinders met ’n stad van goud troos omdat jy nooit ’n pa vir hulle was nie. Dan gaan jy met ’n hart vol vrede in jou graf rus. Nie sleg nie. Glad nie ’n slegte vergoeding nie, moet ek sê. Maar …”
“Maar?”
“Daar is dinge in die lewe wat jy met niks kan vergoed nie – nie eens met ’n stad van goud nie. Het jy al daaraan gedink dat jou kinders miskien nie in staat sal wees om jou kosbare Babel vir jou op te pas nie? Jy het nou al ’n vermoede wie en wat hulle is. Sal jy jou stad aan ’n prostituut en ’n tronkvoël gee?”
Midas sit peinsend terug. “Daaroor sal ek net kan besluit wanneer ek hulle kry. Dit sal alles van húlle afhang.”
“Hoe so?”
“Hulle is mý kinders. Iets van my moet in hulle wees. As ek so ’n eienskap vind … neem ek hulle saam na Babel.”
“En as jy dit nie kry nie?”
“Dan sal ek weer moet dink.”
“En veronderstel jy kry daardie eienskap, en hulle weier om saam te gaan?”
Midas frons. “Waarom sal hulle weier? Nie enige kind kan ’n Babel erf nie.”
Vegter se oë spot koud. “Nie enige pa vergeet sy kind nie.” Hul oë voer ’n stille tweestryd. “Hulle ken nie eens hul eie van nie. Hulle weet nie eens wie hul pa is nie.”
“Hoe weet jy dit?”
“As hulle geweet het Midas Hammond is hul eie bloedpa, sou hulle lankal met jou kontak gemaak het. Hoekom sal jy jou liggaam aan elke vuilgoed met ’n paar vuil note in sy hand verkoop as jou pa ’n stad van goud besit? En hoekom sal jy met dwelms smous en die gevaar trotseer om agter tralies te gaan sit as jou eie bloedpa die koning van Babel is?”
“Dan is dit regtig só erg?”
“Erg?” ’n Bitter laggie ontsnap uit sy keel. “Jy weet nie wat erg is nie, Midas Hammond. Jy dink jy ken skurke en die soort lewe wat hulle lei. Jy is immers self een. Anders sou jy nie gekom het waar jy vandag is nie. Maar daar is ’n verskil tussen jou soort vuilspel en dié van jou seun en dogter. Jy het nie die vaagste benul wat jou twee kinders moes deurmaak terwyl jy ’n Babel gebou en miljoene bymekaargemaak het nie. En nou verwag jy om net met die klap van ’n vinger, ’n swaai van ’n goue towerstaffie, hulle in waardige erfgename te verander. Jy verwag baie, nie waar nie?”
Midas knik sy kop afgetrokke. “Ja, ek sien wat jy bedoel. Jy het iets beet. Ek het natuurlik nie besef … dinge is só erg toe ek na hulle begin soek het nie. Ek het maar gedink hulle is doodgewone mense êrens; Zia miskien ’n huisvrou of ’n onderwyseres, ’n verpleegster … en Sean dalk ’n werktuigkundige of ’n ambagsman … ek het nooit kon droom my dogter is ’n … straatvrou en my seun …”
’n Smalende laggie sonder enige simpatie klink op. “En noudat jy weet? Gaan jy hulle nou weer vergeet wanneer jy teruggaan na Babel?”
“Nee. Ek móét hulle eers kry. Ek gaan nie hier weg voordat ek hulle nie ten minste gesien het nie …”
“… en jou gewete gesus het dat hulle nie werd is om Midas Hammond se kinders te wees nie, jou Babel nie verdien nie?”
“Jy klink baie bitter. Hoekom?”
“Die pad wat jou kinders ken, meneer Hammond, stap ek nog my hele lewe lank. En as jy dink ek is verbitter – wag totdat jy Sean ontmoet het of voor jou dogter staan en sy moet uitvind dat sy haar liggaam verniet verkoop het, want haar pa is die rykste man in die land. As jy mý pa was, sou ek jou kon … vermoor.”
Midas laat sy oë skuldig sak. “Ek was nie altyd só ryk nie, Vegter.” Nou is dit hy wat ’n vreemde, harde laggie laat hoor. “Toe ek vanmiddag hier ingestap het, om my gekyk het … het ek ver teruggedink. My begin was ’n soortgelyke plek. ’n Derderangse hotelletjie. Ek het nie die soort lewe gelei wat jy ken nie, maar dit was wild genoeg, glo my. Toe is my pa dood en ek het met die hotel gesit. Ek het uitgespring en begin werk. As jy dink dit was maklik, maak jy ’n fout. En as jy dink alles het sommer van die begin af in my skoot geval, moet jy weer dink. ’n Midas Hammond word nie oornag gemaak nie. En as jy eers ’n geldmagnaat is, werk jy dag en nag. My werkdag is twintig uur lank. En die woord vakansie bestaan nie meer vir my nie. Waar ek is, staan my telefone langs my. Selfs al ontspan my liggaam, werk my brein. En ek kan nooit my rug draai of my waaksaamheid verslap nie, want daar is vele wat jou wil besteel. Jy dink ek het ’n wonderlike lewe gehad in vergelyking met dié van my kinders. Ek wonder … ek wonder …”
Vegter staan op. “Ek sal jou skakel by jou hotel sodra ek meer weet. Dit sal seker môre wees. Is daar iemand by wie ek ’n boodskap kan laat as jy uit is?”
“Nee. Ek sal hier wees. Jy kan my hier skakel.”
“Hier? In dié plek?”
Midas Hammond glimlag. “Ja. Ek het besluit om oor te trek hierheen. Dit gaan nogal iets anders wees, dink ek. Onthou, ek kén ’n derderangse hotel!”
Vegter kyk hom fronsend aan. “Maar wat van jou telefone en … dinge? Jy het pas gesê jy is gedurig aan die werk, moet …”
“Ja, ek weet.” Nou glimlag die magnaat breed. “Maar ek het skielik besluit een keer in my lewe gaan ek ook ’n vakansie neem. Ek wil van geen telefoon, kontrak of onderhandeling weet nie. Ek gaan ’n paar dae lank net Grant Hammond wees.”
“Grant Hammond.”
Midas lag saggies. “Ja. Dis my regte naam. Ook dit het ek al amper vergeet!” Dan raak hy ernstig. “Ek wil saam met jou kom, Vegter.”
“Jy is mal. Hulle is throat cutters. Hulle sal jou doodmaak.”
“Maar as jy by is? Jy het tog seker invloed? Sal jy my nie kan beskerm nie?”
“Nie goed genoeg nie. Ek kan niks waarborg nie. Ek is nie nou so gewild nie.”
“ ’n Bendegeveg?”
“ ’n Twis binne die bende. Ek verwag self enige oomblik ’n mes tussen my blaaie. Ek kan nie nog softies ook beskerm nie.”
“Hierdie een verras jou dalk. Twee paar oë is beter as een. Een paar kan vorentoe kyk, die ander agtertoe.”
“Vergeet dit, Hammond. Ek neem jou nie saam met my nie.”
“Ek wil bitter graag gaan. Asseblief.”
“Hoekom?” Vegter klink geïrriteerd en ongeduldig. “Dis nie ’n plek vir nuuskieriges nie.”
“Ek weet. Maar ek wil graag kennis maak met die wêreld waarin my kinders lewe.”
Die mondhoeke smaal weer. “Dis nie ’n mooi wêreld nie, Hammond. Dis nie ’n Babel nie.”
“Wat laat jou dink Babel is altyd mooi?”
Vegter trek sy wenkbroue op, dan sy skouers. “Ons kan môre verder daaroor besluit. Laat ek eers hul spoor vannag kry.”
Hy stap aan en Midas se stem dwing hom tot stilstand. “Jy het iets vergeet.” Hy draai terug, kyk vraend op en volg dan Midas se blik na die tafelblad waar die twee wit koeverte nog lê.
Vegter skud sy kop. “Ek het altyd geld nodig, maar ek sal nie weet wat om met daardie spul te maak nie.” ’n Vae beduidenis van ’n glimlag breek in sy oë, die eerste vriendelike teken wat Midas Hammond gewaar. “Hou dit maar eers.”
Hy tel dit op, plaas dit terug in sy binnesakke. “Goed. Ek sal dit vir jou bêre. Sukses vir jou, ou seun.”
Daar speel ’n glimlag om Midas Hammond se mondhoeke toe hy Vegter agternakyk. Hardgebak, nè? Dan trek sy oë peinsend saam.
Vegter stap blindelings voort. Die man wat sy pa is se gesig bly gedurig voor hom, word af en toe deur ’n ander gesig verdring. Hy kan dit nie doen nie, is die gedagte waarteen hy telkens moet stry. Wat gaan met jou aan? Jy kon reeds duisende rande in jou sak gehad het – die meeste geld wat jy nog ooit in jou lewe bymekaar gesien het! En dit nog eerlike geld, juffrou Elske, praat hy in sy gedagtes. Die nie eens meer afpersgeld nie. Midas Hammond het hom in diens geneem. Dis sy salaris daardie!
Wie dink jy bluf jy nou eintlik, Vegter? vra die moedswillige stemmetjie. Dis jou eie pa wat jy so bedrieg! Daardie man soek opreg na sy seun. Hy wil hom ’n stad van goud gee! En jy … Draai om en vertel hom wie jy werklik is.
Ek kan nie. As hy moet uitvind wie ek werklik is, sal hy sy rug op my draai, teruggaan na Babel en vergeet dat hy ooit ’n seun gehad het. Gryp hierdie kans! Jy sal dit nooit weer kry nie!
Ek kan nie. Dis … gemeen, laag, veragtelik. ’n Mens doen nie dit aan jou eie pa nie.
Waar kom die skielike gewete en skaamte en skuldbesef vandaan? wonder hy ontstoke en ontsteld. Dis ’n harde lewe. Daar is nie plek vir sentimentaliteit en ontydige skuldgevoelens nie. Gryp die miljoene en maak dat jy wegkom. Jy steel mos nie van ’n arm man nie. My kragtie, Midas Hammond het miljoene! ’n Paar miljoen sal hy nie eers mis nie!
Hy kom tot stilstand. Verduiwels! Hoeveel kere in die verlede het hy nie oneerlike geld, as jy dit dan so wil noem, geneem nie. Trouens, hy ken nie iets soos eerlike geld nie. Die geld in sy sak het hy nog altyd gekry uit ’n inbraak of dwelmhandel. Midas Hammond se geld is die naaste aan eerlik wat hy ooit sal kry!
Vegter, asseblief, ek smeek jou, bid jou … los daardie ding waarmee jy besig is! Dit kan net ongeluk en hartseer en verwoesting bring. Dis duiwelsgeld! Die sagte stem gee nie moed op nie.
Hy kyk radeloos om hom rond. Dis die oomblik van beslissing. Hy weet dit. Hierdie keuse gaan die gang van sy toekoms bepaal. Hy staan roerloos: ’n swart, eensame skaduwee op die sypaadjie.
Here, ek is so moeg van die lewe wat ek lei! Help my!
Sy asemhaling het ’n oomblik verstil. Here …? Jesus, wat moet ek doen?!
Hy druk sy handpalms teen sy gesig. Wat gaan aan? Hy bid dan! Hy vra dan ’n ander bende se leier wat hy moet doen!
Daar is ’n gejaagdheid, ’n onbeskryflike onrus in hom. Hy moet by iemand kom … met iemand praat! Hy kan nie na sy pa gaan nie. Hy kan nie na Elske nie. Waarheen dan? Na wie?
Mevrou bemerk onmiddellik onraad toe hy voor haar lessenaar gaan staan. ’n Ontevrede klant, dink sy. Sy haal haar beste glimlag uit.
“Kan ek help, meneer?”
“Ek soek na Zia. Ek moet onmiddellik met haar praat.”
“Sy is nie hier nie.”
“Laat roep haar. Stuur iemand anders in haar plek. Dis dringend.”
“Sy werk nie meer hier nie, meneer.”
“Werk nie meer hier nie? Sy het nou die aand nog hier …”
“Sy is in die pad gesteek.”
Sy gesig verstil, verstrak. “Hoekom?”
Mevrou kyk ongemaklik weg. “Sy het … onbevoeg geraak.”
“Onbevoeg! Dan is dit soos jy dit doen!”
“Meneer, ek weet nie wie jy is nie, maar …”
“Ek is haar broer. En jy gaan nie hiermee wegkom nie. Zia is maar vier-en-twintig. Sy is nog jonk. Haar lewe lê nog voor. Sy …”
“Ek dink nie so nie, meneer. Zia het siek geword. Ek kon haar nie langer hier laat werk nie.”
“Siek?” Hy onthou nou. Zia hét siek gelyk. Hy onthou hy het gesê sy moet ’n dokter gaan spreek.
“Ja. En die aard van haar … siekte is so dat sy nie hier kan aanbly nie en … ek dink nie jou suster het baie tyd oor nie.”
Vegter verbleek. Dis die laaste ding wat hy nou wil hoor – dat Zia nie ’n toekoms het nie. Want sy hét! Sy het die wonderlikste toekoms voor haar as … “Wat makeer sy?”
Mevrou aarsel, sê dan prontuit: “Sy het vigs. Dis deur ’n dokter bevestig.” Haar oë is kliphard. “Jy kan dus verstaan dat ek haar onmoontlik langer hier kon hou, nie waar nie?”
Die aarde duisel om Vegter. Vigs … Daar is ’n waas voor sy oë. “Jy het haar liggaam gebruik om mee handel te dryf! En noudat sy besmet is deur jou deftige customers …”
“Jou suster was haar lewe lank ’n hoer. Moenie dit nou op my en my customers kom vaspen nie!”
“Sy was ’n hoer, ja. Sy het in die hawe begin … en by jou deftige sakeonderneming geëindig … en dis hier … hiér waar sy dit opgetel het!”
“Trap!”
“Ek loop. Maar dit sê ek vir jou – ek sweer voor God dat ek hierdie onheilspellende plek wat julle ’n gesellinklub noem met wortel en tak gaan probeer uitroei.”
“Jy? Wie is jy? Jy lyk soos ’n bendelid. Jy is ’n tor, ’n niksnuts. Wat kan jy doen?”
“Nie ek nie. Jesus sal my help.”
Hy strompel uit. Watter reg het hy om voor ’n God te sweer wat hy nie ken nie? En tog … Hy het. Hy het veel meer as dit gedoen. Hy het hom op Jesus se hulp beroep.
Hy moet dit weer doen toe hy by Zia se woonstel kom en hoor dat sy nie meer daar bly nie. Sy het gister haar sleutel aan die opsigter gegee, gesê hy moet maar die meubels verkoop vir die uitstaande huurgeld. Zia is daar weg met ’n tassie in die hand. Midas Hammond se dogter het verdwyn.
Jesus, help my! Ek moet haar kry, smeek hy radeloos.
Daardie nag soek Vegter onverpoos. Van die een nagklub na die ander, in donker stegies en dofverligte dwelmhole. Hy ken elke hoekie in die stad en kruip oral in.
Die soektog duur die volgende dag voort. Hy doen navraag by elke hospitaal … tevergeefs. Dan maar weer terug na die agterstrate, die vuil agterplaaskamertjies. Laat die volgende nag skakel hy Midas Hammond, rasend van kommer.
“Vegter!”
“Hammond …”
“Wat is dit? Wat het van jou geword? Ek het be- …”
“Gaan terug na jou Babel en vergeet van jou kinders.”
“Vegter … Wat het gebeur? Luister …”
“Nee, jy luister nou na mý, Midas Hammond. Gaan terug waarvandaan jy gekom het en vergeet dat jy ooit kinders gehad het.”
“Vegter, nee! Moenie, Vegter, luister eers, my seun …” Maar die telefoon klik ferm.