Читать книгу Ena Murray Omnibus 33 - Ena Murray - Страница 9

6

Оглавление

Die groepie mense wat die hawe nader, is nie onbekendes vir die hawepersoneel nie. Hulle gaan vannag baie werk hê, want die dokke lê vol. Skepe van oral oor lê vanaand aaneengeryg.

Die dokwerkers wat die groepie dophou, wonder by hulself hoe so ’n paar mense kans sien om teen so ’n oormag te veg. Die hawewerkers wat hulle so gereeld sien kom en gaan, het nie net die grootste respek vir hierdie mense nie, maar weet ook nie altyd wat om van hulle te dink nie. Want ’n mens se gesonde verstand vertel jou – veral as jy al jare lank in die dokke werk en presies weet wat agter die drywende staalrompe aangaan – dat hulle ’n verlore stryd voer. Hoe kan hulle een oomblik dink om net met ’n Bybel in die hand geharde hawemeisies tot ander insigte te bring? En tog …

Van die bekende gesigte het al verdwyn. Dit gebeur nie elke dag nie, maar daar het al meisies saam met so ’n groepie van die skepe afgekom. Van hulle het na ’n rukkie weer teruggekeer … maar sommige het nooit weer die hawe opgesoek nie.

Die oormag is so groot. Maar hierdie mense word nie ontmoedig nie. Getrou kom hulle elke keer weer met die Bybel in die hand aangestap – soos vanmiddag.

Dis vir ’n meisie tans wettig om haar “eie man” op ’n boot te hê en by hom te bly. Vóór die nuwe afkondiging het die polisie soms tot honderd-en-vyftig meisies per keer toegesluit. Die kapteins op die skepe se oë het oopgegaan vir die nood onder die meisies.

Die groepie stap eerste na ’n Japannese boot. Die vorige keer toe dit in die hawe vasgeanker gelê het, het die kaptein self die groep genader. Elske onthou hoe sy daardie middag na die Japannese kaptein staan en luister het … en die trane nie kon keer nie.

“Julle moet iets vir hierdie meisies doen. Hulle word vernietig,” was sy woorde. Elske het geweet hy praat van háár land se meisies. Die name op haar lysie het getuig wat die herkoms van dié meisies is. Elke ras in die land is onder hulle verteenwoordig: bruin, swart, wit.

Ook vanaand is die eerste meisie wat hulle in ’n kajuit raakloop Afrikaans en kom uit die hart van die platteland. Elise het nie grootgeword in ’n stad nie, maar in die ruim platteland op ’n plaas waar haar pa die bestuurder was. As dogtertjie, onthou sy, het sy saam met haar pa te perd veld toe gegaan. Sy onthou die hanslammetjie wat sy by die eienaar van die plaas gekry het, hoe haar pa ’n diaken in die kerk was en haar ma in die kerkkoor gesing het. En sy onthou haar valletjiesrok vir Sondae, die blou strikke in die blonde hare.

“Wat soek jy dan hier, Elise? Hiér op ’n boot … tussen die Japannese matrose?” Daar kom geen antwoord nie en Elske moet veg teen die trane.

“Elise …” Deernisvol tel sy ’n slap hand op. “Hoe het jy dan so ’n ver pad van ’n Karooplaas tot op ’n Japannese boot in Kaapstad se hawe gekom?”

Die verduideliking kom sukkelend uit, met flitse van ongeërgdheid in Elise se oë, asof sy die toehoorder goed wil laat verstaan dat sy maar net die feite gee … Dit skeel haar nie regtig dat sy op ’n Karooplaas begin en nou onder die mans van ’n vreemde nasie verval het nie.

“O, daar was probleme tussen my pa en ma en ek en my ma het Kaap toe gekom. Ma het gaan werk en … wel, ons het mekaar min gesien. Nie dat ek my ma daaroor verwyt nie, hoor? Sy moes gaan werk en saans … wel, sy was nog jonk. Ek het haar nie verkwalik dat sy die meeste aande uitgegaan het nie. Sy kon haar lewe lei soos sy wou en ek myne soos ek wou. Ek is saam met my maats nagklubs toe en … o, wel, dinge het net vererger en … toe’t ek hier beland en … hier is ek.”

Elske is sonder haar terug. Die pragtige meisie wou liewer tussen die matrose agterbly. En sy het haar rede gegee:

“Jy praat nou van Jesus en dat my lewe kan verander … Daar was ’n tyd dat ek baie met Hom te doen gehad het. Ek het jou vertel dat my pa ’n diaken was en my ma in die kerkkoor gesing het. Elke Sondag was ons in die kerk; ek in die Sondagskool. Ek het ’n Kinderbybel gehad waaruit ek nogal graag gelees het. En toe … wat gebeur? My ouers, goeie Christene, skei. Ma sê dis Pa se skuld. Pa sê dis Ma se skuld. Maar intussen … wat word van my en Jesus?”

Elske moes hulpsoekend opkyk na haar groepleier. Hierdie ding was te groot vir haar, want sy het skielik in haar eie, jong hart ’n tikkie opstand ontdek. Dieselfde vraag as dié op die lippe van die hawemeisie het swaar in haar gelê: Wat word van Jesus?

Toe hulle by die kajuit uitstap, was daar ’n hartseer so groot en wyd soos die Karoovlaktes in Elske. Ek moet ’n meisie soos ek hier agterlaat as ’n speelbal, het sy gedink. Sy wou terugdraai, Elise aan die skouers gaan gryp en uitroep: In die naam van Jesus, besin!

Maar Elise wou nie saamkom nie. Daar was nie meer omdraaikans nie, het sy gesê.

Die groepie was stil toe hulle daardie aand teruggaan na die koffiehuis. Dit was ’n aand van mislukking en diepe teleurstelling. Hulle kon nie een van die hawemeisies oortuig om die sedelose lewe vaarwel te roep en saam met hulle te kom nie.

Die ervare groepleier se hart het ewe veel vir sy groepie jong mense gepyn as vir die meisies wat hy agterlaat. Dis net ’n ware Christenkind wat die moed kry om ná so ’n aand weer te probeer. Maar vanaand is hulle moedeloos. Wanneer hulle in die gebedskamer bymekaarkom, sal hulle opnuut hul diepe afhanklikheid bely. En hul Hoofleier sal hulle weer met nuwe moed en begeestering vir hierdie taak besiel.

“Kan ’n mens ’n stadium bereik wanneer jy nie meer kan omdraai nie?” wou een weet en die antwoord het dadelik met vaste sekerheid gekom:

“Nee, Kobus. By Jesus bestaan daar nie so iets nie. Die genade van God ken nie ’n keerpunt nie. Hou net daaraan vas. As jy dit nie glo nie, sal jy nie met hierdie werk kan voortgaan nie.”

Dit was stil totdat hulle in die kombi geklim het en deur die hawehekke gaan.

“Sy is twintig. So oud soos ek.”

Niemand het iets daarop te sê nie.

“Sy is ’n Afrikaanse meisie … soos ek.”

“Ja, Elske.”

“Maar hoe begin dit? Waar en wanneer het dit so handuit geruk?”

“Die oorsake is legio, maar twee van die belangrikstes is ’n lewe sonder God en los gesinsbande … Ek dink nie ek slaan die bal mis as ek sê meer as die helfte van die ouers hier in Kaapstad weet vanaand nie waar hul kinders nou is nie – ewe min as wat die kinders weet waar hul ouers is. Status het ’n baie belangrike ding geword. Jy moet op die regte plekke en by die regte mense gesien word. Dis deesdae belangriker as die gesinslewe. Ons kinders betaal die prys vir ons snobisme.”

Die groepie weet dis waar: party uit eie ervaring, ander uit wat hulle gehoor het. Dis feite. Sommige ouers wat vanaand by een van die vele gesellighede in die stad is, dink hul dogter is werklik by haar vriendin se huis. Of hul seun doen sy skoolwerk by die huis. Of die kinders kyk na ’n videoprent. En die ouers dink hul onskuldige kinders – hulle is nog net elf, twaalf, dertien – kyk na ’n Walt Disney-prent of Tarzan. Min wetende dat wanneer hulle vanaand tuis kom, hul twaalfjarige dogter of dertienjarige seun hulle meer van seks sal kan vertel as wat hulle al van gedroom het. Hulle weet nie hul dogter se goeie vriendin is reeds ’n volbloed-prostituut nie, dat sy op hierdie aand hul mooi dogter in die nagklub in die oudste bedryf op aarde inlyf nie.

Hulle gee hul kinders alles. Maar die alles sluit nie liefde en aandag in nie. Daar is enkeles wat wel liefde en aandag ook kry – en dan moet die fout by die oordaad gesoek word. Want die een wat alles in die lewe het, is dikwels die ongelukkigste mens op aarde. So iemand leer nooit om die eenvoudige dinge van die lewe te waardeer nie.

“Dan dink jy die beginpunt van al hierdie ontaarding moet by die ouer en die ouerhuis gesoek word?” wil Elske reguit weet.

“Nee, nie altyd nie. In baie gevalle is die kind se afdwaling die gevolg van faktore buite sy beheer. Dit is kinders wat nooit ’n geleentheid gekry het om tot volwasse mense te ontwikkel nie, wat van geboorte af in die stryd om oorlewing gewikkel was. Ons kry daagliks met sulke produkte van verwaarlosing en kindermishandeling te doen. Hulle het nooit ’n kans gehad nie. Maar daar is ook die ander wat wel ’n goeie begin gehad het.”

“Soos Elise? Totdat haar ouers geskei is, het sy ’n goeie kans gehad. Maar haar ouers se egskeiding het alles verander.”

“Maar dit beteken nie noodwendig dat die ouers se gebreke Elise laat ontspoor het nie.”

“Hoekom sê jy so, Regina?”

Die ander meisie in die groep erken openhartig en eerlik: “Ek kom self uit ’n gebroke huis. My ouers is geskei toe ek nege was. Maar van albei kante het ek baie liefde ontvang. Miskien te veel, want die een by wie jy is, is altyd geneig om dinge oor die hoof te sien, toegeeflik te wees. En dis verkeerd, besef ek vandag. Ek besef ook dat ek hul liefde tot my eie voordeel uitgebuit het.”

“Dit was dus eintlik tot jou voordeel dat jou ouers geskei is? Dink jy so?”

“Nee. Dis tot geen kind se voordeel nie. Maar dis erger om in ’n huis vol spanning groot te word. Ek weet self nie wat die ergste is nie. Ek weet net dat ek die Here nie dankbaar genoeg kan wees vir my ouers nie, al het hulle geskei. Ek is vandag ’n kind van die Here, en ek hoop om ook eendag te trou en kinders te hê … ek weet nie of ek dalk dieselfde probleem sal hê nie. Ek glo daar is baie kinders van die Here wat liewer die pad na die skeihof verkies as om voortdurend in onenigheid te moet leef. Ek het twee godvresende ouers, en al is hulle nie bymekaar nie, dank ek die Here vir hulle.”

“Wat moet ek dan sê?” vra Elske stil. “Dis eers sedert ek straatwerk begin doen het, dat ek werklik besef het hoe goed God vir my was om my sulke ouers te gee. Mense wat in alle opsigte hul plig teenoor hul kinders nagekom het; hulle in ’n warm, huislike, gelukkige en godvresende atmosfeer laat grootword het. Ek dink nie kinders in sulke huise is altyd dankbaar genoeg daarvoor nie.”

“Dis soos jy sê, Elske. Behalwe die twee hoofoorsake van ons samelewing se ontaarding wat ek netnou genoem het, is daar ook ’n derde: ondankbare kinders.”

“Ondankbare kinders?”

“Ja. Party kinders ontvang al die kanse in die lewe maar is nooit werklik dankbaar daarvoor nie. Jy sal vannag kinders uit gegoede en godvresende huise in Kaapstad se nagklubs aantref. Dink maar aan Regina en Elise. Albei kom uit gebroke huise, met min of meer dieselfde agtergrond. Albei se ouers is geskei. Regina het nie die pad byster geraak nie. Sy is ’n kind van die Here, en dank Hom vir haar ouers. Elise gee egter haar ouers die skuld vir wat sy vandag is. Dis haar ouers se skuld dat sy op ’n Japannese skip sit. Dis haar ma se skuld dat sy snags begin rondloop het en ’n prostituut geword het. Ek sê nie aan die kant van die ouers is nie ook foute gemaak nie, maar was sy liewer dankbaar vir ’n paar jaar van huislike geluk en ’n moeder wat ná die egskeiding uitgespring en gaan werk het, was sy dalk nie vannag waar sy is nie.”

“Wat moes sy gedoen het?”

“Sy het self gesê haar ma was nog jonk. Sy moes nie so selfsugtig gewees het nie. Hoewel sy die teendeel sê, hou sy dit tog teen haar ma dat sy snags rondgeloop het. Sy kon haar ma egter ’n bietjie ontspanning gegun het en saans eerder haar skoolwerk gedoen het. As sy ’n dankbare kind was, sou sy nie in haar ma se afwesigheid uitgesluip en nagklubs besoek het nie. Talle kinders wat die spoor byster raak, kan met reg hul ouers die skuld gee. Net soveel kinders skuil agter hul ouers se menslike foute om hul eie te verberg. Hulle is nie bereid om te erken: Ek het baie geleenthede gehad en dit nie benut nie. My mislukte lewe lê voor my eie deur.”

Daardie nag kan Elske nie slaap nie. Die een oomblik is haar gedagtes by Elise. O, as die Here haar net sal help om hierdie een meisie tot ander insigte te bring! As sy Elise net kan oortuig dat niemand só vuil kan wees dat God se genade hom of haar nie kan skoon was nie; dat haar Skepper vir haar ’n nuwe lewe wil gee.

En dan dink sy weer aan Vegter; sien hom soos daardie eerste aand, met die stukkend geskopte gesig soos hy daardie nag van Trovato weggestap het … ’n eensame, verlate figuur. En dan sak sy maar weer op haar knieë neer, smeek sy: “Net nie verlaat deur God nie, Jesus! Bewaar hom – vir u koninkryk … en vir my!”

Want sy kan dit nie langer ontken nie. Vegter is baie spesiaal vir haar. Hy is anders as al die vorige gevalle. Hy het ’n dringende, persoonlike saak geword. Só dringend dat sy met oë vol trane pleit: “Asseblief, Jesus, hy is so belangrik vir my! Red hom, asseblief! Verlos hom van daardie boeie van sonde waarin hy vasgevang is!”

Toe is dit asof ’n stem terugpraat, haar met die grootste deernis en liefde reghelp: Hy is só belangrik vir jou, Elske? Vir jou wat hom maar nou die dag die eerste keer ontmoet het, sy naam gehoor het? Hoeveel belangriker, dink jy, is hy nie vir My nie – wat hom geskape het, hom van die moederskoot al by die naam ken? Het jy vergeet hy kan nooit vir jou belangriker wees as vir My nie? Elske, dit was tog Ek wat vir hom aan die kruis gesterf het.

Die volgende oggend kyk die ouer man Elske met ondersoekende oë aan. Die spore van ’n slapelose nag en ’n sieleworsteling lê op die jong gesiggie, en hy dink hy verstaan waarom. Hy wag tot die geleentheid hom voordoen om met haar te praat.

“Elske … kan ek miskien help? Het jy ’n probleem?”

Sy gaan sit, knik. “Ja, Pieter. Ek het nie ’n oog toegemaak nie.”

“Dit kan ek sien.”

“Ek is … vreeslik bekommerd.”

“Waaroor … of oor wie?”

“Dit is … Elise. Ons moet haar help.”

Hy neem ook plaas, glimlag met begrip en deernis. Hy glo dat sy haar die hawemeisie se lot diep aantrek, maar hy weet ook dat die jonge Elske hom nou ’n bietjie om die bos probeer lei. Eintlik mislei sy haarself, nie vir hóm nie.

“Om op ’n verkeerde manier bekommerd te wees, is sonde. Om ’n heilige kommer oor jou naaste te hê, is nie sonde nie.”

“Maar … maar, Pieter, ek het verlede nag so gebid! Ek is bang!”

“Bang? Jy het tog jou kommer aan God opgedra, het jy nie?”

“Ek het, maar … elkeen word nie gered nie, Pieter! Nie elke Elise en …”

“Vegter?” lê hy sy vinger op die seerplek.

Sy kyk hom ’n oomblik stil aan, knik dan weerloos. “Ja. Nie al die Vegters word gered nie.”

“Dit is ongelukkig so, ja.”

“Verlede nag … toe ek op my knieë was … was dit asof sy stem direk met my gepraat het. Hy het my daarop gewys dat elke Elise en Vegter nie vir enigeen van ons belangriker kan wees as vir Hom nie, want Hy het immers sy lewe vir hulle gegee.”

“Dit is so.”

“Maar nie elke Elise en Vegter kom tot inkeer nie, Pieter! Wat as …”

“… Vegter nie gered word nie?” Dis stil. “Dis wat jy eintlik wil weet, is dit nie, Elske? Jy is diep bekommerd dat Vegter nie vir die ewige koninkryk gewen gaan word nie?”

Weer kan sy net instemmend knik. “Ja.”

“Maar jy is nie só vreeslik bekommerd oor Elise en die baie ander Vegters nie?”

Eerlikheid is ’n mes wat skoon, maar diep sny. Sy knik weer, kyk dan met traannat oë op. “Is dit baie verkeerd van my, Pieter?”

“Nee. Jy het ’n heilige kommer oor almal. Maar by Vegter kom menslike kommer by, want jy weet dit gaan jou persoonlik raak as hy nie tot inkeer kom nie.”

“Ja.”

“Is jy baie seker wat dit is, Elske? Is dit nie miskien net ’n uitdaging vir jou om juis hierdie bendelid vir God te wen nie? Miskien, net miskien, ’n klein, klein bietjie sug na eie eer en selfvoldaanheid?”

“Nee! Glad nie! Ek het hom lief.”

“Hoe kan jy so seker wees? Hoe lank weet jy nou al van hom? Hoeveel keer het jy hom al gesien, met hom gepraat?”

“Ek weet, Pieter. Ek weet wat jy vir my probeer sê, maar … ek weet ook wat in my hart vir hom lê.”

“En jou begeerte om hom tot inkeer te bring? Weet jy presies waaroor dit gaan, Elske?”

“Wat bedoel jy?”

“Is jou grootste hartsbegeerte dat Vegter gered word, geanker in die moontlike redding van sy siel, of die moontlikheid van ’n toekoms saam?”

Sy frons, kyk hom geskok aan. “Pieter!”

Hy sug. Dis nie sy bedoeling om haar seer te maak nie. Hy wil haar beskerm, maar of haar jong hart dit kan verstaan, weet hy nie.

“As iemand siele probeer wen met persoonlike motiewe, voer hy ’n verlore stryd, Elske. Jy kan dan selfs ’n struikelblok in die pad van sy redding wees. God sal nie toelaat dat sy versoeningsdood in genade vir ons eie, menslike begeertes gebruik word nie. Watter aandeel het jý aan sy kruisdood gehad, Elske?” Hul oë ontmoet en hy knik, sê sag: “Nee, jy het nie een druppel van jou bloed namens Hom gestort nie, my meisie. En jy kan op geen manier, nie met al die druppels bloed in jou liggaam, ’n stukkie van die ewige lewe vir Vegter koop nie. Christus het reeds betaal.”

“Maar as dit dan regtig verkeerd en sondig om nie net ter wille van Vegter te hoop en te bid dat hy tot bekering sal kom nie, maar ook ter wille van myself, van óns toekoms?”

“Ek weet nie, Elske. Ek kan jou nie sê of dit verkeerd of sondig is nie. Ek weet dis menslik. Baie, baie menslik.” Hy glimlag, neem haar hand in syne. “En ek weet dat Hy baie meer begrip vir ons menslikheid het as wat ons sou dink. Ek besef, nes jy, daar is nou geen deur na ’n toekoms vir jou en Vegter saam nie. Maar dit kan ook wees, liewe kind, dat wanneer God in sy genade die deur na die hemel vir Vegter ontsluit, daar nie noodwendig ’n deur vir julle twee saam op aarde sal oopgaan nie. Hou dit net in gedagte …”

Hy sien die vertwyfeling, skok en hartseer in die groot oë en streel haar hand, vervolg teer: “Ons weë is nie sy weë nie. Ons maak die planne, maar Hy rig die voetstappe. Jou pogings om Vegter tot bekering te bring, moet uitsluitlik tot God se eer strek. Daarna … daarna sal Hy julle lei.”

Hy het nog lank agter sy lessenaar bly sit toe Elske uit is. Om ’n kind van God te wees is nie maklik nie. Dit verg offers … en Elske sal nie die eerste Christen wees wat ’n offer moet bring as Hy dit so bestem nie. Maar hy weet dat daar altyd ’n volmaakte rede is en dat Hy met elke offer ook die krag stuur. Daarom kan hy die Christenmeisie en die bendelid gelowig aan Hom opdra en afsluit: “Nie ons wil nie, Heer, maar laat u wil geskied.”

In ’n ander deel van die stad sit ’n meisie en luister hoe ’n doodsvonnis oor haar gevel word: “Ek is jammer om jou dit te moet sê, juffrou, maar jy het vigs.”

In nog ’n ander deel van die stad stap ’n man na ’n telefoon. Oomblikke later hoor hy die bekende stem: “Midas Hammond hier.”

Ena Murray Omnibus 33

Подняться наверх