Читать книгу Ena Murray Omnibus 33 - Ena Murray - Страница 13
10
ОглавлениеToe hulle by die voordeur van Trovato instap, kyk Elske en Pieter vinnig op. Die res van die straatwerkers is reeds bed toe, maar hulle het wakker gebly en gewag. Elske help Vegter om Midas op ’n stoel te laat neersak, kyk vraend op. Hy skud sy kop.
“Die meisie in die hospitaal was toe my suster. Sy is dood.”
Elske sluk. “Weet jou pa …?”
“Hy weet dat dit sy dogter was. Toe ek hom weglei, het ek hom aangespreek as pa, maar ek dink nie hy het regtig gehoor nie.”
“Ek gaan vir julle kos en iets te drinke haal.”
Toe Elske uit is, ontmoet Pieter en Vegter se oë, keer dan weer terug na die gebroke man op die stoel wat met sy gesig in sy hande sit. Pieter staan op.
“Ek dink dis nou die oomblik om oop kaarte met hom te speel, Vegter. Hy trek hom sy dogter se dood vreeslik aan. Vertel hom nou dat hy nog ’n seun het.”
Toe hulle alleen is, stap Vegter na sy pa, sak op sy hurke voor hom neer en trek die bewende hande voor die gesig weg.
“Pa …” Midas se hande gryp syne vas. “Pa het nog ’n seun oor.”
Die trane loop oor Midas Hammond se wange. Hy kan nie onthou of hy al ooit voorheen in sy lewe gehuil het nie. “Ek het dit van die begin af geweet.”
“Pa het … geweet?”
“Ek dink van die eerste oomblik dat ek in jou oë gekyk het, toe jy voor my kom staan het. In my hart het ek tog so gewens.” Hy glimlag hartseer in sy seun se verdwaasde oë af. “Ek dink as jy iemand anders na my gebring het, sou ek teleurgesteld gewees het. Van die begin af het ek gehoop jý is my seun.”
“Pa!” Vegter skud sy kop, gaan sit op die stoel langsaan. “Terwyl Pa geweet het ek wou Pa afpers?”
“Ja. Iets het my vertel jy sal dit teen die end nie doen nie. En toe jy die geld nie wou neem nie, het ek geweet … en ek was trots op jou, my seun!”
Vegter frons. “Hoekom het Pa nie dadelik gesê Pa vermoed ek is Pa se kind nie?”
“Omdat jy dit nie van die begin af te kenne wou gee nie. En ek wou jou nie aanjaag nie. Ek het geweet daar moet ’n rede wees waarom jy dit doen. Wat sou dit wees?”
“Weet Pa nie? Maar dis tog voor die hand liggend. ’n Skurk en bendelid … met ’n pa soos Midas Hammond? Ek het nie gedink Pa sou my aanvaar nie.”
Midas glimlag weer. “ ’n Mens se kind bly jou kind, Vegter. Niks kan daardie feit uitwis nie. Jy is my seun … en dit sal jy bly.”
Vanuit die deur glimlag Elske en Pieter toe hulle met die kos binnestap en laasgenoemde sê: “Dis soos God ons ook liefhet. Die verlore seun in die Bybel het tussen die varke gebly, saam met hulle geleef en geëet. Maar toe hy teruggaan na sy vader het dié hom nie weggestuur omdat hy vuil is en sleg ruik nie.”
Pieter se oë rus deernisvol op Midas Hammond. “Hoeveel te meer moet ons aardse vaders hul kinders nie liefhê al beland hulle tussen die varke nie? Dit gebeur tog die een of ander tyd met ons almal.”
Midas knik. “Dis waar. My oë het die afgelope paar dae vir baie dinge oopgegaan. Wie is ek om te oordeel, Vegter? En wat my dogter gedoen het, is ek nie van vry te spreek nie. Ek het haar te laat gevind. Maar ek gaan my belofte aan haar nakom. Ek gaan haar saamneem na Babel.”
“U bedoel …?”
Hy knik vir Elske. “Ja. Sy gaan na Babel gebring word. Daar gaan ek vir haar ’n praalgraf in die stad van goud bou.”
Hul oë sak en Pieter sê stil: “Kom eet eers iets en dan moet ons almal gaan rus. Ons is almal moeg.”
Vegter vergesel sy pa na die kamer waarheen hulle gelei word en help hom in die bed. Dis ironies dat die koning van Babel met ’n geleende pak slaapklere in ’n vreemde bed moet klim. “Watter plek is dit hierdie?” wil hy weet en Vegter verduidelik:
“Dis Trovato, die vergaderplek van die Jesus-bende, met ander woorde, van die straatwerkers. Pa gaan nie vannag terug hotel toe nie. Slaap nou. Môre … môre praat ons verder.”
“Ek is moeg. Ek is regtig moeg.” Sy oë ontmoet dié van sy seun. “Dank God ek het jou nog oor.”
Vegter trek die kamerdeur agter hom toe, stap uit op die stoep na waar hy Elske eenkant sien staan.
“Jy moet gaan rus, Vegter.”
“Ja. Jy ook, Elske …” Hy wag totdat sy na hom kyk, vervolg dan: “Alles is nou so deurmekaar. Dit sal ’n rukkie duur om alles te verwerk, die regte besluite te neem. Maar een ding moet jy weet … ek het jou lief.”
Dan draai hy om en stap na binne.
Sy bly staan, lig haar kop en staar met ’n diep sug na die naghemel bo haar. Want sy is bekommerd en sy weet Hy kan dit in haar hart lees. Pieter het haar destyds gewaarsku dit is nie vanselfsprekend dat ’n toekoms vir hulle twee saam wag indien Vegter tot bekering kom nie. Vannag sien sy wat hy bedoel het. Vegter is nou aan Jesus se kant, maar hy het ook ’n pa bygekry … en hy is die koning van Babel.
In sy kamer vernou Pieter se oë ook bekommerd terwyl hy oor alles nadink. Daar is ’n deernis in sy hart teenoor Elske wat miskien ’n groot offer sal moet bring. In sy hart groei die kommer oor die jong Christen wat tog ook mens bly. Sterker, meer ervare kinders van God sal ’n stryd hê wanneer hulle skielik voor ’n geldmagnaat vir ’n pa met só ’n erfporsie te staan kom. Daar is ook jammerte vir Midas Hammond in hom. Die ryk man wat ’n praalgraf vir sy verlore dogter gaan bou, ’n stad van goud vir sy seun wil gee – en vergeet van sy eie siel, sy kosbaarste besitting.
Hoewel tot die uiterste afgemat en uitgeput, bly die slaap weg van Vegter. Hy weet daar wag ’n vuurproef op hom en sy jong geloof. Sy pa se woorde kom weer in hom op: Dank God ek het jóú nog oor. Vir Midas Hammond is dit ’n uitgemaakte saak dat sy seun nou die pad saam met hom gaan stap. Maar Vegter moet nog duidelikheid oor die pad vorentoe kry. Oor Babel voel hy vertwyfeld. Maar dan … wat gaan hy met sy pa doen? En Elske? Waar pas sy in sy toekomsprentjie? Kan sy daarin deel? En Jesus … waar pas Hy in die prentjie wat sy pa reeds vir hom begin teken het?
Toe Midas ure later wakker word, is Vegter nie daar nie.
“Hy het net gesê daar is iets wat hy moet gaan doen, hy sal gou terug wees,” verduidelik Elske. Sy is verlig toe Vegter ’n rukkie later verskyn. Midas is vanoggend oor sy ergste smart oor sy dogter. Hy kan sy toekomsplanne uitwerk vir hom en sy seun. En Babel … Elske en Pieter luister stilswyend terwyl hy hulle daarvan vertel … en nêrens kan hulle ’n kind van God se plek sien nie.
“Waar was jy?” wil sy pa weet toe hy verskyn.
“Ek het gaan reëlings tref vir … Zia. Pa het gesê Pa wil haar Babel toe neem.”
“Ja. Natuurlik moet die reëlings getref word. Dankie, my seun. My verstand wou gister nie werk nie.”
“Wanneer wou Pa haar liggaam na Babel laat bring het?”
“So gou as wat ons kan gaan. Dit hang van jou af.”
Dis ’n oomblik stil. Elske voel haar hart ruk. So ook Pieter s’n. Eindelik kyk Vegter sy pa vas aan: “Ek is bevrees dit sal nie so gou wees nie, Pa. Ek het eers baie om hier te doen.”
“Hier? Wat?”
“Ek was ook vanoggend polisie toe. Ek het alles … gaan bieg.”
“Wat?”
“Dis nodig, Pa. Ek moet eers my lewe skoon kry voordat ek oor my toekoms kan besluit.”
Midas se gesig verstrak. “Wat het jy hulle alles vertel?”
“Alles. Alles wat ek gedoen het.”
“Jy het jou ou maats gaan verraai.”
“Nee. Ek het net my eie oortredinge gaan bely.”
Midas tas wild in sy brein rond, sê dan met ’n laggie: “O, wel, dit kan nie so vreeslik wees nie! Ek sal met hulle gaan praat …”
“Nee!” Vegter se stem klink beslis. “Nee, Pa. Dankie, maar dis nie nodig nie. Pa bedoel eintlik Pa gaan Midas Hammond se geld laat praat, maar dit werk nie so nie. Ek wil vir my oortredinge gaan boet.”
“Jy praat deur jou nek!” Midas spring op. “Besef jy hulle kan jou in die tronk sit!”
“Ja, Pa. Hulle gaan dit ook doen. Ek weet dit. Hulle sal my moet straf. En ek sal dalk baie lank moet sit. Ek het ’n rekord.”
“Maar dan … Hemel, Vegter, dan is jy mos mal om …”
“Nee, Pa. Nie mal nie. Maar daar is net een manier om ’n skoon toekoms tegemoet te gaan … en dis om skoon te begin. Verstaan asseblief!”
Midas sluk, swaai desperaat na Pieter en Elske.
“Praat met hom! Vertel hom dit was ’n sinlose ding om te doen! Hy moet na my luister. Ek moet met hulle gaan praat …”
Maar Pieter en Elske glimlag net vertroostend na Vegter se kant.
“Ek is nie bang nie, Pa. Nee …” Hy swyg. “Nee, ek jok. Ek ís bang. Ek wil nie weer tronk toe gaan nie … veral nie nou nie, noudat ek Jesus gevind het en ’n nuwe lewe op my wag. Maar … ek kan nie anders nie. Ek móés dit doen.”
Midas gaan weer sit, byt sy tande vas. Hy het gedink hy en sy seun gaan binne die volgende dag of wat terug Babel toe. Nou gaan Vegter tronk toe …
“Wanneer … wanneer sal ons weet … wat hulle met jou gaan doen?”
“Hulle het my belowe hulle sal my so gou moontlik laat voorkom. Intussen het hulle my op eie verantwoordelikheid laat gaan. Maar ek mag natuurlik nie hier weggaan nie.”
Die nuwe verwikkelinge rus swaar op elkeen se gemoed. Midas loop radeloos in Trovato se tuin rond. Al sy drome sedert hy besef het hy het sy seun teruggekry …! En nou gaan daar dalk niks van alles kom nie.
Ook Elske voer ’n stryd. Enersyds is sy so trots op Vegter. Andersyds is sy diep bekommerd. En in alle menslikheid moet sy erken sy weet nie wat om te bid nie. Moet sy God vra dat hy nie tronk toe gaan nie, maar na Babel? Of dat hy liewer veilig agter tralies is as blootgestel aan die talle versoekinge in die stad van goud?
Pieter ontvang ’n onverwagse besoek. Toe sy besoeker weg is, sit hy lank met ’n dankbare gebed op sy lippe. Dit gebeur nie elke dag dat ’n bendelid homself oorgee en sy oortredinge bely nie. Die landdros wat hierdie saak moet hanteer en sy vonnis moet vel, het persoonlik na Trovato gekom om meer oor hierdie uitsonderlike geval uit te vind. Toe hy wegry, is ook hý sprakeloos van verstomming, maar ook opnuut besiel met hoop. Wanneer jy elke dag op die regbank sit en met die duister dinge van die lewe te doen kry, is jy geneig om later jou geloof in die goeie te verloor. Maar vandag het hy weer besef hoe wonderlik God se genade kan werk – selfs in hierdie tyd.
Dis die aand voordat Vegter gevonnis moet word. Pieter is saam met die ander koffiekamer toe om daarna met hul straatwerk te begin. Midas skakel eindelik na Babel en vind ’n erg bekommerde Toby aan die ander kant.
“Midas! In hemelsnaam, man, waar is jy? Ek wou jou al as vermis aangemeld het! Wanneer kom jy terug? Hier is dit chaos sonder jou!”
Midas se mondhoeke trek wrang saam. Dit glo hy goed! Net ’n Hammond kan Babel aan die gang hou.
“Ek kom oormôre terug.”
“Hoekom eers oormôre? Midas, jy weet nie hoe dringend …”
“Dit kan nie dringender wees as dit wat my hier hou nie, Toby. Verwag my oormôre. Tot siens.”
En Elske kyk diep in Vegter se oë. “Ek wil net vir jou sê, Vegter … wat die vonnis môre ook al mag wees … ek sal vir jou wag.”
Vegter moet sluk teen die knop in sy keel. Here, ek is haar nie werd nie, dink hy. “Elske, ek verwag dit nie van jou nie. Toe ek jou vertel het dat ek jou liefhet, het ek nie eens verwag dat jy daardie liefde sal beantwoord nie. Ek wou maar net hê jy moet weet ek het jou lief. Ek vra nie dat jy jou vir my opoffer nie, meisie. Ek droom nie eens dat daar ooit iets meer tussen ons sal wees nie. Jy verdien ’n beter mens as ek.”
“Waar liefde is, is geen opoffering te groot nie, Vegter. Niks sal my keer om vir jou te wag nie – jy weet tog dat ek jou ook liefhet.”
“Elske …” Hy neem haar hande in syne, vreugde én kommer in sy oë. “Het jy? Het jy regtig? Is jy seker? Vir mý?”
Sy glimlag teer na hom. “Ek het jou liefgehad toe jy nog lid van die ander bende was! Maar dit weet jy ook!”
Hy trek sy asem in, druk haar meteens styf teen hom vas, sluit sy oë. Eindelik kry hy beheer oor sy stem, fluister skor: “God is goed vir ons, my liefling. Oneindig goed!”
“Ja, Vegter. God is goed.”
Hierdie woorde kan die twee jong harte net beaam toe die vonnis die volgende dag gevel word. Nege maande gevangenisstraf. Buite die hof sê die landdros aan Pieter: “Ek het hom die minste opgelê wat ek kon. Ek wens ek kon hom liewer laat gaan het.”
Pieter knik. “Ons verstaan. Ek glo Vegter ook. God het ’n doel daarmee. Dit is miskien nodig vir Vegter, en sy sieleheil, om nege maande in afsondering te wees.”
Toe hy weggelei is, het hy en Elske se oë vlugtig ontmoet … en hy kon deur die waas van trane die glimlag op haar lippe sien. Vol hoop het hy teruggeglimlag, en sy hand in ’n groet gelig vir sy pa – ’n diep teleurgestelde Midas wat sonder sy seun moet omdraai. Nog nooit het nege maande vir hom so lank geklink nie. Nog nooit het hy met soveel teësin in sy hart gereedgemaak om na Babel terug te keer nie.
“Ek sou nooit kon glo ek sou so teësinnig ná so ’n lang afwesigheid na Babel terugkeer nie. Dis die langste wat ek nog weg was,” erken hy aan Pieter en Elske toe hulle groet. “Dis miskien goed dat ek nou teruggaan, anders sal ek later dalk glad nie wil nie!” spot hy.
“Jy hoef nie, Midas.”
Hy kyk die ander man ernstig aan. “Hoe kan ek anders, Pieter? Jy weet tog dis onmoontlik. Ek het ’n stad van goud gebou. Jy kan nie ’n Babel bou en dan sommer net wegry en daarvan vergeet nie.”
“Nee, seker nie, maar … jy kan na ’n ander Babel terugkeer. Jy kan na ’n ander soort lewe teruggaan, Midas.”
Midas sug. “Ek wens ek kon. Veral na wat met Vegter gebeur het, die verandering in sy lewe, het ek diep oor myself nagedink … en oor Babel. Ek het dikwels tot die slotsom gekom dis net ’n gejaag na wind.”
Pieter knik. “Ja, Midas. Die rykste man in die Bybelse geskiedenis het ook tot daardie besef gekom.”
“Maar kan ’n mens dan nie al hierdie dinge hê en … en …”
“… God ook?” Pieter sug diep. “Dis moontlik, maar baie onwaarskynlik. Jesus het self gewaarsku: Vir ’n kameel is dit makliker om deur die oog van ’n naald te kom as vir ’n ryk man om by die hemelpoort in te gaan. Daar het een keer ’n man na Jesus toe gekom, ’n baie ryk man. En volgens menslike standaarde was hy ook godvresend. Hy het ’n baie goeie Christelike lewe gelei. En tog het iets ontbreek. Hy het geweet hy is nie ’n ware kind van God nie. Hy het geweet dat alles wat hy in sy lewe gedoen het, ’n gejaag na wind was. Toe vra hy Jesus wat hy moet doen om die ewige lewe te verkry. Want dit is wat sin aan ons aardse bestaan gee, Midas. As dit waarop ons ons kragte en jare uitstort by die graf eindig, is daar geen sin in ons lewe nie. Dan is dit soos die Prediker sê: alles tevergeefs, ’n gejaag na wind. Daardie man het aansien gehad, rykdom, selfs ’n eerbare lewenswandel, en tog het hy iets gemis. En Jesus gee hom baie eenvoudige raad: Gaan verkoop alles wat jy het en deel dit aan die armes uit. Dan sal jy ’n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My.”
Midas kyk die ander strak aan. “En? Wat het gebeur? Het hy?”
“Nee. Toe hy dit hoor, was hy diep teleurgesteld, want hy was ’n baie ryk man.”
Pieter slaan die Bybel oop en lees voort: “ ‘… hoe moeilik is dit om in die koninkryk van God te kom. Dit is makliker vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te kom as vir ’n ryke om in die koninkryk van God te kom.’ ” Hy slaan die Bybel toe, hou dit na Midas uit. “Neem dit saam met jou wanneer jy teruggaan, Midas … en lees dit. En onthou, by God is alles moontlik.”
Midas neem dit, kyk daarna. “Pieter … Babel was ’n arm seun se droom. Babel is gebou en het my bestaan geword, die rede hoekom ek lewe en my vermoei. Alles draai om Babel. As jy Babel van my af wegneem, is daar … niks. Is ék nie daar nie. Is ék ook niks. Wil jy werklik vir my sê God vra dat ek Babel, mý Babel moet verkoop, uitdeel? Wat dan van my? Waarvoor het ek dan gelewe?”
“Midas, hoe kan ek vir jou so iets sê? Dis ’n saak tussen jou en God. Jy moet dit met God uitmaak, nie met mý nie. Maar gaan lees Lukas 18 vers 29 wanneer jy in Babel kom …”
Midas is eers ’n rukkie stil. “Jy weet, ek het ’n hartaanval gekry en dis wat my tot my die besef gebring het dat ek ook sal sterf. Dis toe dat ek na my kinders begin soek het. Want die kommer was groot in my: wat moet eendag van Babel word wanneer ek sterf? En noudat ek my seun gevind het, die man wat Babel by my sal oorneem, moet ek dit verkoop en vernietig. Dis te veel gevra, Pieter. Ek … kan nie.”
Pieter knik. “Ja. Ek begryp. Maar miskien sal dit help as jy die vraag in jou hart verander. Miskien loop jy al die jare met die verkeerde vraag in jou hart rond; het jy jouself die belangrikste vraag nog nooit gevra nie.”
“Wat is dit?”
“Jy sê jy het nog altyd gevra: Wat moet van Babel word wanneer jy sterf? Maar die regte vraag is: Wat sal van Midas Hammond word wanneer hy sterf? Jy dink jy het nou die antwoord op jou vraag gekry. Jy het jou seun gevind, die opvolger vir jou aardse koninkryk. Beantwoord nou my vraag.”
Hul oë ontmoet. “Ek weet nie.”
“Dis jammer. Want jý, jou siel, is meer werd as ’n duisend Babels. Ek sou my liewer daaroor bekommer en Babel vir die aarde los. Want jou Babel het geen ewigheidswaarde nie, Midas. Dit gaan weer stof word. Maar jý kan vir ewig lewe.”
Hy sug. “Midas, ek probeer jou nie oortuig dat jy jou stad moet verkoop en die opbrengs onder die armes uitdeel soos dit in die Bybel geskryf staan nie. Maar ek wil jou een ding vra. In die komende maande wat Vegter in die tronk sit, dink tog goed na voordat jy vas besluit dat hy jou opvolger moet wees. Jy weet, Midas, ouers bou dinge op, bring Babels tot stand. En dan is hulle so dikwels geneig om te sê: Ons doen dit vir ons kinders; ons werk en lewe net vir hulle. Ek wonder soms of dit ’n seën of ’n vloek is. Ons bedoel dit so goed, maar belas hulle eintlik, rol struikelblokke voor hul voete op die pad na die ewigheid. Soos jou Babel …”
Sy stem kry ’n pleitende toon. “Jy is heilig oortuig daarvan dat jy ’n wonderlike erfenis aan jou seun sal nalaat. Maar is dit werklik so? Is Vegter werklik so ’n bevoorregte seun? Want sy pad na die ewigheid moet deur jou Babel gaan. Jy verwag van hom, Midas – en ek gaan dit vir jou reguit sê – dat hy met Jesus aan die een hand en die duiwel aan die ander hand moet lewe. Arme Vegter. Ek kry hom innig en opreg jammer.”
Dis nie net Pieter wat met dié skeurende gedagtes worstel nie. Waar hy in sy sel sit, besef Vegter wat die toekoms dalk vir hom gaan inhou. En skielik is hy dankbaar dat hy veilig in die tronk is, dat hy nie dadelik ’n besluit hoef te neem nie. Hy slaan die Bybel oop wat Elske vir hom gegee het. Dan kniel hy … en die man wat deur die loergaatjie kyk, sien iets wat nie elke dag in dié plek gebeur nie.
’n Rukkie later stap hy binne, kyk die jong man aan wat van sy knieë af opstaan.
“Ek sien jy lees jou Bybel en jy bid.”
Vegter knik, glimlag. Hy was al tevore in die tronk. Maar hoe anders is dit nie dié keer nie!
“Ja. Ek is nou ’n kind van die Here.”
“Dan moet dit nóg moeiliker vir jou hier wees.”
“Ja … Dit is. Maar … liewer in die sel saam met Jesus as buite sonder Hom.”
“Jy is reg, seun. Liewer so. Ek sal graag saam met jou wil bid.”
Die gewese bendelid glimlag. Soos ’n Paulus vind hy dat hy hom oral in sy Here kan verbly. “Dankie. Ek sal graag.”
Nege maande gaan verby. Die dag breek aan dat Vegter sy skuld teenoor die gemeenskap betaal het. Die ou bewaarder neem swaar afskeid. In die tyd wat verby is, het Vegter vir hom soos ’n seun geword. ’n Laaste handdruk en dan stap hy vry uit … en sy staan voor hom en wag.
Woorde is nie nodig nie. Die twee jong mense omhels mekaar met opregte liefde. En twee gelouterde harte stuur dankgebede omhoog.
Dan is hulle op pad terug Trovato toe.
“Jou pa het laat weet hy sal vanmiddag op die lughawe wees.”
Vegter knik. “En ander nuus?”
“O, daar is so baie. Ek weet nie waar om te begin nie.”
“Hoe gaan dit met die straatwerk?”
“Goed. Nog volstoom aan die gang.”
“Suksesse?”
“Ja. Die wonderlikste was Elise.”
“Elise?”
“Ja, die hawemeisie wat ons daardie aand na Zia kom roep het. Sy was baie diep getref deur alles en een aand het sy sommer net by die koffiekamer opgedaag. Ons was so dankbaar. Sy het ons vasgegryp, gehuil, gesoebat …”
Hy glimlag. “Soos ek?”
“Ja. Sy het die Here ook gevind. Pieter het met haar pa kontak gemaak. Hy is nog op ’n plaas in die Vrystaat. Hy het haar kom haal. Ek wens jy kon die ontmoeting tussen vader en dogter sien. Dit was … baie aandoenlik.”
“Ek sal dit glo. Weer iets van haar gehoor?”
“O ja! Sy skryf gereeld. Die jongste brief is vol nuus oor ’n jong boertjie daar! Die volgende sal seker ’n troukaartjie wees!”
“Pragtig!” Sy blik streel oor haar. “En hoe gaan dit met jou?”
Sy gee hom ’n stralende glimlag, haar onrus diep weggesteek. “Wonderlik … veral noudat jy weer by my is.”
“Dan … voel jy nog dieselfde?”
“Ja. En jy?”
Sy oë gee haar sy antwoord nog voordat sy lippe kan: “Ek het jou lief, Elske. Dit sal nooit verander nie.”
Hulle hou voor Trovato se deur stil, maar Vegter hou haar terug. “Wag. Ons moet eers oor iets gesels.”
Sy kyk op na hom en weet wat gaan kom. Sy sluk. “Jy het tot ’n besluit gekom?”
“Ja.”
“Wat?”
“Elske, ek het nooit ’n pa geken nie. Ek het nou een gevind. Ek wil graag ook ’n pa hê. En hy … Ek kan nie vir hom nee sê nie, Elske. Verstaan jy? Ek is nou al wat hy het … en hy my enigste bloedverwant. Pa en seun hoort tog saam, nie waar nie?”
“Dan … gaan jy saam met hom Babel toe?”
“Ja. Ek kan hom nie weier nie. Verstaan asseblief, Elske?” Sy knik net en hy vervolg: “ ’n Mens kan God oral dien … ook in Babel, dink jy nie ook so nie?” Sy kyk weg. Kan ’n mens? “Maar ek sien net kans daarvoor as jy saam met my na Babel gaan. Sal jy, Elske?” Haar mond bewe en sy byt haar onderlip vas. “Elske …?”
“Nee, Vegter. Ek kan nie. My plek is hier. Straatwerk het my roeping geword.”
“Maar jy kan tog straatwerk in Babel ook doen, my liefling. Ek dink nie jy sal een enkele ledige uur hê nie.”
Sy glimlag effens, skud dan haar kop. “Nee, Vegter. Jy weet dit sal nie uitwerk nie. Jy moet sonder my gaan. Ek kan nie. Daar is Pieter by die voordeur. Kom ons gaan in.”