Читать книгу Ena Murray Omnibus 33 - Ena Murray - Страница 12
9
ОглавлениеNiemand sal die koning van Babel herken nie. Twee lang dae en nagte gaan verby waarin Midas Hammond self die donker nagstrate van Kaapstad bewandel; in nagklubs en hole kruip.
Nie eens Toby sou hom herken nie. Bedags dra hy sy slenterdrag, ’n hoed en donkerbril. Snags is hy sonder hoed en bril, maar niemand sou die geldmagnaat onder die ongekamde hare en baardstoppels herken nie.
Hy soek doelgerig na The Bats – sonder sukses. Toevallig – of is daar werklik iets soos toeval? – hoor Spike hoe hy by iemand navraag doen oor Vegter. Hy beskou eers die man deeglik voordat hy hom versigtig nader.
“Hoekom vra jy uit oor Vegter?” Hy draai nie doekies om nie.
Midas beskou hom deeglik, kom dan tot die regte slotsom en besluit hy het met ’n bendemaat te doen.
“Ek moet hom uiters dringend spreek. Dis lewensbelangrik. En dis persoonlik.”
“Ek soek ook na hom. Dis vir my ook lewensbelangrik.”
Midas kan sy teleurstelling nie wegsteek nie. “Dan weet jy ook nie waar hy is nie?”
“Nee. Ek hoop net hy is nog nie dood nie.”
“Dood! Hoekom sê jy so?”
“Vegter het baie vyande. Daar is baie wat afgunstig is op hom. Die feit dat hy sommer so verdwyn het … Ons deel ’n kamer. Hy was dae laas daar.”
“Wat is jou naam?”
“Spike.”
“Spike, ek moet Vegter kry. Ek móét net!”
Spike is ’n oomblik stil. “Daar is nog net een plek waar ek nie gesoek het nie. Maar ek kan nie glo hy sal dáár wees nie.”
“Waar is dit?”
“Vegter … Vegter het die laaste ruk baie verander. Hy het anders geword. Hy het skielik begin praat van Jesus en …”
“Jesus?”
“Ja. Hy wou by my weet wat ek van Jesus weet. Sulke snaakse vrae. Hy het gesê hy sou graag meer van Hom wou weet. Nee, hy sal nie dáár wees nie.”
“Waar is dáár?”
“By die straatwerkers. By die Jesus-bende.”
“Die Jesus-bende? Wie is hulle?”
“Dis ’n groot gang. Jesus is hul leier. Hulle is heeltemal anders as al die ander. Hulle doen nie wat bendes gewoonlik doen nie. Hulle het nie eens wapens nie. Loop net met die Bybel in die hand rond en preek vir mense, tydig en ontydig. Bedags. Snags.” Hy grinnik. “Hulle preek sowaar tot vir die hawehoere. Soms het ek al gedink dié mense is heeltemal mal.”
Midas frons, kyk die ander stip aan. “En jy sê Vegter het in dié bende belang gestel?”
“Nee, dit sê ek nie. Dis net sy praatjies oor Jesus. En hy kon Mac doodgemaak het … as hy wou. Hy moes eintlik, want Mac sou hóm doodgemaak het. Ons het dit almal gesien. Maar net toe Vegter aan die wen is, laat hy los, staan op en stap weg. Daarom bekommer ek my so. Hy moes Mac doodgemaak het. Mac gaan hóm doodmaak.”
“Waaroor het hulle baklei?”
“Mac is bang Vegter sal die boss word. Maar Vegter wil nie die boss wees nie. Dis ook snaaks. Niemand sê daarvoor nee nie. Mac glo hom natuurlik nie, daarom gaan hy hom probeer doodmaak.”
“Waar sal ek die Jesus-bende kry?”
“O, hulle is oral. Hulle loop snags in groepies langs die sypaadjies. Jy sal hulle maklik uitken. Kyk net of hulle ’n Bybel in die hand het. Jy sal sommer sien hulle is anders as ons ander. Hulle praat met jou, vra jou of jy Jesus ken. Staan maar net so ’n bietjie rond. Hulle sal jou eerste nader.”
“Spike, as jy Vegter raakloop … asseblief, ek smeek jou … hier is my adres.” Hy gee die hotel se naam. “As ek nie daar is nie, laat ’n boodskap. Ek móét Vegter kry.”
Midas spoor die straatwerkers maklik op. Hy het hulle reeds in sy soektog na Vegter raakgesien. Jy kry daardie soort mense oral. Mense wat die verrotte mensdom met godsdiens wil red. Ook hý, nes Spike, was nog altyd baie skepties oor dié redding. Meer as ’n Bybel en ’n gebed is nodig om hierdie wêreld te red. Want in sy soektog na Vegter in die gure deel van die stad het hy uitgevind dat dieselfde dinge in die agterstrate aangaan as in die uitsoekbuurte. En dieselfde dinge gebeur ook in sy eie Babel. Maar daar word dit net anders genoem.
Ook in Midas Hammond is ’n onrus gebore. Is die wêreld werklik só verrot? Hy het die straatvroue gesien, is selfs deur ’n paar lastig geval. Met walging het hy hulle afgeskud. Maar dan … Is die prostituut in die nagklub beter as die straatmeisie? En die prikkelpop in Babel wat so gretig saam met hom in die bed klim?
En sy dogter is een van hulle, het Vegter gesê. Maar watter reg het hy om haar te oordeel? Hoeveel vroue was al in sy eie bed? Soos in Zia se geval: te veel om op te noem of te onthou. Zia het net haar werk op straat, in die hawe of in hotelkamers gedoen. Hy doen dit tussen satynlakens tuis in sy weeldesuite in sy eie stad van goud.
En sy seun … wat volgens Vegter van inbraak en diefstal leef en ander deur sy dwelmsmokkelary tot selfvernietiging aanhelp … Is sy pa beter? In een nag word mense in sy casino brandarm. Troubreuk word gepleeg en die dobbelmasjiene, bloufilms en vertonings saai morele vernietiging. Wie is hý om sy seun te oordeel? Hy is net so skuldig. Hulle aandeel om ’n voos wêreld meer verrot te maak, is ewe groot.
Hy kyk verdwaas op die jong gesiggie af wat na hom opgehef is. “Ek is op soek na iemand. Miskien het julle al van hom gehoor, weet dalk waar hy is. Sy naam is Vegter.”
Die sagte oë flikker besorg. “Ons ken hom. Maar ons het hom lank laas gesien.”
“Dan is hy nie by julle nie?”
“Nee. Ek wens hy was. Ons is baie bekommerd oor hom.”
“Ek ook.” Hy sug. “As ek net …”
“Is jy ’n bendelid?”
Hy aarsel. “Ja. Ek is ook ’n bendelid. As julle hom miskien te siene kry, sê hom … sê Grant sê …”
Hy word skielik onderbreek. ’n Meisie bars tussen hulle in. “O, dank God ek het julle gekry! Kom gou!”
“Elise! Wat is dit?”
“Sy het sommer net daar in die kajuit ingestrompel. Ek weet nie hoe sy daar gekom het nie. Maar sy is sterwend, ek is seker!”
“Hoekom het jy nie die polisie …?” wil Midas weet, maar Pieter skud sy kop en verduidelik vinnig: “Sy sal nooit die polisie roep nie. Dan is sy betrokke. Kom. Ons gaan kyk.”
Midas voeg hom by die groepie. Dis nie ver na die hawe nie. Elise lei hulle die Japannese skip op, wys hulle ’n kajuit uit. “Daar. Sy is daar.”
Stom van ongeloof en skok staar die drie na die mens op die slaapbank. Dit lyk asof Elise reg is. Sy moet sterwend wees …
“Kyk op haar voorkop!”
“Die onderstebo kruis.”
Midas staar verbysterd na die gesig. “Wat beteken dit?”
“Dis die werk van die duiwelaanbidders. Hulle laat altyd hul teken agter in die vorm van ’n kruis wat onderstebo is. Ons sal haar sou gou moontlik by ’n hospitaal moet kry. Dalk is dit al te laat.”
“Nee. Nee! Los my!”
Elske gaan met ’n hart wat pyn van medelye langs die meisie sit. Sy is nog jonk, maar haar lewe is verwoes …
“Ons gaan jou hospitaal toe bring. Moenie bang wees nie.”
“Nee! Dit sal nie help nie. Dis te laat. Los my net.”
Elske kyk Pieter bekommerd aan. “Sy is vreemd vir my. Dit moet ’n nuwe een wees.”
Die meisie op die bed antwoord met ’n wrangheid in haar stem wat selfs deur Midas Hammond se hart sny: “Nee. Ek is nie nuut in die hawe nie. Ek het hier begin … tien jaar gelede toe ek vyftien was. Nou eindig ek weer hier.”
“Nee, dis nog nie die einde nie. Ons gaan jou hier wegneem en jy gaan ’n nuwe lewe begin. Kry ’n ambulans, Pieter, asseblief.”
“Nee, dit sal nie help nie. Ek sê julle! Ek gaan sterf en ek wíl sterf. Daar is niks meer oor nie.”
Pieter verdwyn by die kajuitdeur uit om die ambulans en die polisie te ontbied. Dis Midas wat nader staan, met ’n dringendheid smeek: “Jy is nog jonk. Jou lewe lê nog voor. Jy gaan nog lewe …” Here, moenie laat sy sterf nie, pleit hy. “Die lewe gaan weer vir jou mooi word.” Ja. Of hy sy dogter kry of nie, maar hierdie meisie … Hy gaan sorg dat die lewe vir haar die moeite werd is.
“Die lewe was nooit mooi nie.” Sy kyk na Midas en iets in daardie oë gryp sy hart vas. “Ek ken nie ’n mooi lewe nie. Daar bestaan nie so iets nie.”
Hy gaan sit langs Elske en sy skuif ongemerk weg om vir hom plek te maak, kyk verstom na die vreemdeling wat so uit die niet verskyn het en nou by ’n hawemeisie pleit: “Moenie sterf nie! Jy gaan gesond word en ek gaan jou hier wegneem na ’n mooi plek, ’n stad van goud. Jy sal nooit weer swaarkry nie …”
Dan glimlag die meisie onder die omgekeerde kruis wat so koelbloedig met ’n dolk op haar voorkop uitgesny is. “ ’n Stad van goud? Sal ek nooit weer honger wees nie? Nooit weer … by mans slaap nie?”
Midas byt sy bolip vas. “Jy sal nooit weer honger ly nie. En ook nie … by mans moet slaap nie.”
Hy kyk ’n rukkie later die ambulans agterna, sê dan stil: “Ek het nie vir haar gelieg nie. Ek gaan haar hier wegneem as sy gesond word.” Hy lyk moeg onder die hawelig toe hy hom na die straatwerkers keer.
“Ek gaan nou verder na Vegter soek. Ek sal julle skakel om te hoor in watter hospitaal sy is en hoe dit gaan. Ek het nou jul adres.”
Hy stap weg en hulle kyk hom stilswyend agterna.
“ ’n Eienaardige man.”
“Ja. Ek wonder wat hy met sy belofte van ’n stad van goud bedoel het.”
“En ek wonder waarom hy na Vegter soek. Ons moet seker teruggaan. Die mense by die koffiekamer sal bekommerd word.”
Maar dis ’n nag van onderbrekings. Toe hulle om ’n straathoek stap, roep ’n gestalte voor hulle op die sypaadjie, met sy hande na bo gestrek: “Here, ek kan nie verder nie! Help my!”
Hulle verstyf in hul spore. Is dit Vegter wat hier voor hulle staan en pleit? Dan gewaar hy hulle, strompel nader en val op sy knieë voor hulle neer met sy hande smekend na hulle uitgesteek.
“Help my! Help my!”
“Vegter!” Elske kniel langs hom waar hy op sy knieë staan. “O, Vegter!”
“Moenie … weggaan nie! Moenie my los nie!” Hy gryp haar vas, gryp ook na Pieter se bene. “Bring my na Jesus! Asseblief!”
Pieter sak ook op sy hurke neer. “Ons hoef jou nie na Hom te bring nie, Vegter. Hy is nou hier by ons. Dis wat ons leier so wonderlik maak. Hy is in ons, om ons – altyd.”
Hulle trek Vegter op, haak weerskante by hom in. “Kom. Ons gaan koffiekamer toe.”
Dis ’n uur of wat later dat die Jesus-bende, soos hulle by die ander bendes bekend staan, ’n nuwe lid bykry. Dis ’n man wat met oë vol trane bely: “Dit was my eie pa wat ek wou afpers. Jy weet daarvan, Elske. Ek wou hê jy moes dan saam met my gaan. Jy het geweier. Ek is bly jy het.” Hulle glimlag vir mekaar, en Vegter se stem raak weer ernstig. “My pa soek na ons. Ek het nog ’n suster ook. Ek wou hom nie vertel wie en wat ons is nie, want dan sal hy dalk sy rug op ons keer. Ek wou eers geld uit hom maak … ’n miljoen of twee.”
“Dan moet hy ’n baie welgestelde man wees,” merk Pieter droog op en Vegter knik.
“Hy is. Hy is die rykste man in die land.”
“Vegter …” Elske en Pieter se oë ontmoet; dan kyk sy onseker na hul nuwe bendelid. “Daar word algemeen aanvaar dat dit Midas Hammond is.”
Hy glimlag, neem haar hand en druk dit vas tussen syne. “Dis reg, ja. Hy is nie net die rykste man nie … hy is ook my pa.”
Twee verslae mense sit en luister na Vegter se vreemde verhaal. Maar hulle weet dis die waarheid wat hy praat, al klink dit soos ’n sprokie.
Elske skud haar kop verdwaas. “Maar dan verstaan ek jou glad nie, Vegter! Hoekom jou pa afpers vir ’n skamele paar rand as jy die erfgenaam van miljoene kan word?”
Hy skud ook sy kop, lag saggies. “Ek het julle reeds gesê ek was bang hy onterf my heeltemal as hy uitvind watter soort mens sy seun is.”
Pieter glimlag, lê sy hand op Vegter se skouer. “Jy is verkeerd. In werklikheid was dit blote onnoselheid, die domheid van die sondaar. Jy het die rykste pa in ons land. Maar ons het almal die rykste Vader in die hele wêreld. Is dit nie ironies dat sondaars Hom vrees nie … Jy wou jou pa afpers om ’n paar rand in die hande te kry, terwyl jy as sy kind reeds in besit is van alles wat syne is. Jou pa se besittings is ook joune. Dit breek my hart wanneer ek snags deur die strate stap en daaraan dink: As hulle net wil glo dat hulle reeds kindskap van God ontvang het deur Jesus wat die bloedband op Golgota gesmee het. Van hulle kant af hoef hulle niks te doen nie. Hulle moet dit net glo en aanvaar. Ons het ’n Vader met ’n hart wat brand om die seëninge en skatte van die hemel op ons uit te stort. En ons ploeter daagliks rond soos bedelaars. Ons verkoop ons liggame vir geld. Ons breek in en steel, terwyl ons ’n Vader het met skatkamers wat oorloop. Ons verdof ons verstand met dwelmmiddels om die werklikheid te ontvlug en ons sien die waarheid nie raak nie: dat ons ’n Vader het wat ons die erfgename van ’n ewige heerlikheid wil maak. Maar ons wys dit van die hand! Ons is net so dom soos jy, Vegter. Ons kan nie glo dat ons Vader ons, so sleg en besmet, as kinders sal aanvaar nie. Jy was ook bang jou pa sal jou nie as sy kind aanvaar as hy uitvind jy is ’n bendelid, ’n dief, ’n inbreker, ’n dwelmsmokkelaar nie. Toe besluit jy om maar tevrede te wees met ’n paar rand. Hy moet sy Babel maar aan iemand anders gee.”
Vegter knik peinsend. “Jy is reg, Pieter. Dis presies wat ek gedoen het.”
“En nou? Wat gaan jy nou doen, Vegter? Jy het kindskap van ’n hemelse Vader aanvaar. En nou is jy die erfgenaam van ’n ander stad van goud wat jou hemelse Vader vir jou voorberei het. Wat gaan jy nou maak met jou pa wat ’n erfgenaam vir sý stad van goud soek?”
Hy sit lank en dink, sê dan eindelik: “Ek sal na hom gaan en sê wie ek is … wat ek is …”
“Wat jy was,” help Elske hom sag reg en hy glimlag.
“Ja, en wat ek was. Dan moet hy besluit of hy my as sy kind wil aanvaar.”
“En as hy nie wil nie?”
Hy skud sy kop met ’n glimlag om die lippe. “Dan maak dit nie saak nie. Ek weet nou ’n aardse vader kan sy eie kind misken of onterf, maar nooit die hemelse Vader nie. Dis genoeg vir my.”
“Wat beplan jy dan? Het jy al verder gedink?”
Hy is ’n wyle stil, knik dan sy kop. “Ja. Ek gaan nou eers terug na my ou bende. Ek gaan hulle sê ek het nou by julle aangesluit.” Hy sug diep. “Dan moet ek my suster gaan soek. Ek moet haar kry. Ek soek al die afgelope dae en nagte na haar, want sy werk nie meer op dieselfde plek nie. Sy was een van die meisies by ’n gesellinklub. Sy is daar weggejaag en het verdwyn. My suster is sterwend. Sy het … vigs.”
“Nee!”
“Vegter!”
Hulle kyk hom geskok aan en hy knik. “Ja. Sy moes dit by een van die … mans opgetel het. Sy is maar vier-en-twintig. Ek móét haar kry! Voordat dit te laat is …”
Die ander twee laat hulle koppe sak. Elske se stem is skor toe sy dit eindelik uitkry: “Ons sal saam met jou bid, Vegter.”
“Daar is iemand wat na jou ook soek, ene Grant … dis die naam, nè, Elske?”
“Ja. Hy het ons vroeër vanaand genader net voordat ons hawe toe is …”
“Grant? Ek ken nie …” Dan verhelder sy gesig. “Nou weet ek. Dis my pa. Sy regte naam is Grant Hammond. Wat het hy gesê?”
“Hy soek jou dringend. Hy wou nog ’n boodskap gee, maar ons is onderbreek deur ’n noodgeval in die hawe.”
“Noodgeval?”
“Een van die hawemeisies het ons kom roep … ’n Vreemde meisie het by die kajuit ingestrompel, wreed aangerand, skynbaar deur die duiwelaanbidders … sy het die omgekeerde kruis op haar voorkop gehad. Sy …”
“Hoe het die meisie gelyk?” vra Vegter vinnig en hulle beskryf haar so goed moontlik. Hy staan vinnig op, en sy gesig lyk grys. “Na watter hospitaal het hulle haar geneem? Wat was haar naam?”
“Sy is na Tygerberg, maar ons ken nie haar naam nie. Jou pa … Grant … het gesê hy sal haar daar gaan opsoek. Nou onthou ek … Hy het haar belowe hy sal haar wegneem na ’n stad van goud …”
“Dit was beslis my pa.” Hy begin sy sakke leegmaak en sit verskillende voorwerpe voor die twee paar verbaasde oë op die tafel neer. “Ek het nie meer daardie goed nodig nie.”
Hy begin aanstap na die deur en Elske keer vinnig: “Waarheen gaan jy, Vegter?”
“Ek gaan eers na my ou bende … en dan hospitaal toe.” Hy glimlag gerusstellend in haar bekommerde oë. “Moenie bang wees nie. Ek sal terugkom.”
“As jy ons nie hier kry nie, kom Trovato toe. Jy weet mos waar dit is.”
“Ja. Dankie, Pieter. Ek sien julle weer.”
Pieter lê sy arm vertroostend om die skraal skouers. Hy kan hom voorstel wat in die jong gemoed omgaan. Daar is die groot vreugde dat Vegter eindelik gered is, maar ook die kommer oor sy veiligheid.
“Ons kan hom net aan God opdra, meisie. Ons kan niks meer doen nie.” Sy knik net stom en hy neem haar hande. “Dan doen ons dit nou.” Hulle buig die hoofde.
’n Stilte wat met ’n mes gesny kan word, sak neer toe Vegter onverwags in die bendekring verskyn. Hulle is duidelik onkant betrap. Niemand het verwag om hom weer in hul geledere te sien nie. Dis tog dwaasheid. Spike se hart wil gaan staan. Is Vegter dan mal?
Maar Vegter lyk doodnormaal. En tog ook anders … iets straal by hom uit.
“Hallo.” Hy kry nie ’n antwoord nie, maar het ook nie een verwag nie. “Ek het julle net kom sê ek is nie meer ’n lid van The Bats nie.” Die oë staar hom ongelowig aan. “Ek is nou een van Jesus se gang.” Niemand waag dit om die stilte te verbreek nie. “Ek is ernstig.”
Die manier waarop hy die laaste sin sê, moet die verdwaasde manne oortuig. Spike se mond val oop, gaan weer toe en dan weer oop en hy sê sommer die eerste ding wat in sy kop kom: “Waar is jou gun?”
“Ek het dit ook vir Jesus gegee. En my messe. En my ketting. Ek het dit nie meer nodig nie.” Sy oë ontmoet dié van Mac … en hy glimlag.
“Ek dra nie meer wapens nie. En ek baklei nie meer nie. Ek sal nooit weer inbreek of steel nie. Dwelms sal my nie weer sien nie. Maar ons gaan mekaar weer sien. Tot siens.”
Hy draai om en stap weg. Steeds beweeg nie een nie. Dis Mac wat eindelik die stilte verbreek, en hoewel sy stem bars klink, het dit tog ’n onseker klank in: “Die vuilgoed gaan traitor draai. Nou kom hy met sy Jesus-stories hier aan.”
Spike kom tot sy vriend se verdediging: “Vegter is nie ’n traitor nie en jy weet dit, Mac. Ek glo hom. As hy sê hy is nou een van die Jesus-gang, dan is hy.”
Mac grynslag. “Hmpff! Baie handig omdat hy weet sy dae is getel! Dit sal hom niks help nie! Hy is voëlvry!”
Spike gaan vreesloos voor Mac staan. Hy het maar altyd agter Vegter geskuil. Maar nou het hy tog skielik die moed en selfvertroue om Mac te konfronteer. “Jy is nog nie die boss nie, Mac!”
Hul oë ontmoet en ’n woordelose kragmeting volg. Dan draai Mac met ’n snork om en verdwyn die nag in.
Dis Spike wat ’n ander rigting inslaan met opregte kommer in sy hart oor sy vriend se veiligheid. Hy moet daardie vreemdeling by die hotel skakel. Hy moet Vegter waarsku om uit The Bats se pad te bly.
Hy kry hom eindelik in die hotel. Midas nooi hom binne toe hy hom in sy kamerdeur herken, hoewel hy tot sterwens toe moeg is. Die bekommerde magnaat het nog lank in die strate rondgedwaal op soek na Vegter, later maar die stryd gewonne gegee en hospitaal toe gegaan. Hy het voorgegee hy is die meisie se pa, anders sou hulle hom nie by haar toegelaat het nie. Langs die bed het hy op die bleek gesig op die wit hospitaalkussing afgekyk en sy hart het in hom saamgetrek. Dit kon sy dogter gewees het. Dit kon sy klein Babie gewees het wat nou so moet ly. Daar is genadiglik ’n verband om haar kop gedraai sodat hy nie die kruis weer hoef te aanskou nie. Sy het gelê en yl, het nie eens geweet hy is daar nie. Maar hy het ’n belofte langs haar bed afgelê. Wie hierdie meisie ook al is, as sy gesond word, gaan hy haar onder sy beskerming neem. Sy sal vir hom soos ’n dogter wees. Hy sal haar na sy stad van goud neem.
Midas laat vaar sy besluit om uit te trek en te gaan lê. Hy besef die bendelid kan dalk nuus van Vegter bring.
“Kom binne, Spike. Het jy hom gekry?”
“Ja en nee. Hy was daar by die bende. Hy …”
“Het jy hom gesê ek soek hom dringend?”
“Daar was nie tyd nie. Voordat een nog ’n woord kon sê, was hy weer weg.”
“Wat het hy daar kom maak?”
“Hy … hy het ons kom sê hy is nou een van Jesus se gang. Hy het nie gelieg nie. Glo jy dit?”
Midas staar hom ’n oomblik aan, knik dan en sluit se oë. Dan is Vegter veilig! “Ja. Ek glo hom. Dis dalk die beste wat kon gebeur het. Hy is nou veilig.”
“Ek is nie so seker nie. Mac gaan hom voëlvry verklaar.”
“Wat beteken dit?”
“As ’n bendelid, ongeag aan watter bende hy behoort het, voëlvry verklaar word, stel hulle al die bendes daarvan in kennis. Dis erger as die dood. Jy word gejag deur al wat ’n bende is. Hulle martel jou stadig dood … sorg dat die ander ouens ook ’n happie kan kry. Vegter se lewe is nou éérs in gevaar.”
Midas voel die koudheid deur hom spoel. “Maar hoekom wil Mac hom voëlvry verklaar? Is dit dan so ’n sonde om van ’n bende weg te breek?”
“Nee, maar hy en al die ander sal dink hy het nou ’n traitor geword.”
“Verraaier?”
“Ja. Hulle dink juis omdat hy nou een van die Jesus-gang is, sal hy die polisie alles vertel. Hy moes liewer na ’n ander gang oorgeloop het. Hy gaan bars.”
Die nagwag onderbreek hulle met ’n boodskap. Meneer Grant moet dadelik hospitaal toe gaan. Midas neem diep bekommerd van Spike afskeid.
“Jy moet Vegter dadelik in die hande kry, Spike. Waarsku hom. Ek gaan net hospitaal toe, dan sal ek self met die straatwerkers gaan praat.”
’n Ruk later kom hy in sy spore tot stilstand toe hy die hospitaalgang afstap en die man voor ’n deur gewaar en eien.
“Vegter! Wat soek jy hier?”
“Die straatwerkers het my vertel hulle het ’n meisie hierheen gebring. Ek het vermoed dit kan dalk … jou dogter wees.” Twee paar oë ontmoet, en Vegter kan net knik. “Gaan in. Maak gou. Sy is sterwend.”
Midas bars die kamer binne. “Zia …”
Die oë bly toe en die verpleegster sê: “Ek dink nie sy kan u hoor nie, meneer.”
“Sy moet! Zia! Dis jou pa wat praat! Zia, asseblief, luister, maak oop jou oë! My kind, asseblief …” Geen reaksie. Die verpleegster draai weg, laat ooglopend toe dat die gebroke man op die bed gaan sit, sy dogter teen sy bors trek. “Babie …”
Die oë fladder oop terwyl die wit verband van haar voorkop wegskuif. Maar Midas Hammond sien nie meer die kruis op haar voorkop raak nie. Hy kyk in sy kind se oë en weet dis te laat.
“Jy het belowe … om my na … ’n stad van goud … te neem …”
“Ja. Ek sal jou na daardie stad neem. Ek belowe …”
Dis Vegter wat haar losmaak uit sy arms, laat terugsak teen die kussing en die laken oor die gesig trek.
“Dis verby. Kom ons loop, Pa.”