Читать книгу Ena Murray Omnibus 33 - Ena Murray - Страница 16
1
Оглавление’n Entjie van die twee meisies lê die hawewater donker in die nag.
“Ja, wat wil jy hê?” wil die jonger een uitdagend weet.
“Ek wil met jou praat.”
“Waaroor?”
“Oor jou lewe, Rita. Oor die lewe wat jy lei …”
“O … ek sien. Jy is een van dáárdies! Daardie heiliges. Wel, ek het nie tyd om met jou te praat nie. Loop!”
“Rita …”
“Loop, sê ek! Loop sanik op ’n ander plek. En in die toekoms los jy my uit!”
“Jy is op die verkeerde pad, Rita. Op die pad van selfvernietiging, op die pad van die dood en die hel …”
“Na die hel met jóú, man! My lewe is myne en ek lei dit soos ek wil en dis mý saak as ek op pad hel toe is, soos jy sê! Dis mý lewe en ek doen wat ék wil!”
“Waar kom jy vandaan, Rita?” Dis ’n vraag wat altyd tref, wat ’n oomblik van huiwering in die stortvloed aanvallende woorde bring. Want dis ’n vraag wat jou laat terugdink en onthou, of jy wil of nie. Elise maak gebruik van hierdie oomblik, en waag ’n raaiskoot: “Uit ’n Afrikaanse huis êrens op ’n dorp in die platteland?”
Weer ’n kort stilte. Dan: “Luister hier … snuffel sal jou niks help nie. Jy het boggerôl te doen met waar ek vandaan kom …”
“ ’n Huis met ’n pa en ’n ma en miskien broers en susters en waar jy gelukkig grootgeword het en …”
“Shut up! Jy weet nie waarvan jy praat nie! Gelukkig grootgeword … Moenie my laat lag nie!”
“Wat het daar gebeur? Vertel my.”
“Wat bedoel jy ‘gebeur’? Vra liewer wat daar nié gebeur het nie. Maar dit het niks met jou …”
“Vertel my daarvan, Rita. Jy het nog nooit met iemand daaroor gepraat nie, het jy? Dit lê nog al die jare soos ’n klip hier binne-in jou. Dis dit wat jou hawe toe gedryf het, is dit nie?”
Elise sien die stryd, hou asem op. Gaan Rita omdraai en wegloop of gaan sy oopmaak? Sy kies haar woorde versigtig toe sy met groot deernis verder praat: “Iets moes jou hierheen gedryf het, want jy weet daar is ’n beter lewe as hierdie. Wat was dit, Rita?”
“Goed. Ek sal jou vertel.” Die emosiebelaaide stem is skor en laag. “Dit was my pa. Hy het my … misbruik. Jy sien, my ma … as sy spiteful wou wees, het sy nee vir hom gesê. En soms moes hy haar eers betaal of anders weier sy hom ook. En toe … toe het hy my begin gebruik …”
’n Siddering gaan deur albei se liggame en Elise se stem is self nou laag: “Hoe oud was jy toe?”
“Dertien. Ek is uit die huis toe ek sestien en klaar met graad tien was. Ek het weggeloop van die huis af.”
“Het hulle jou nie gesoek nie?”
“Ek weet nie. Hulle het my in elk geval nie gekry nie.”
“En sedertdien is jy nog altyd hier … in hierdie … professie?”
“Ja.”
“Hoe lank is dit nou al?”
“Vier jaar.” Die oë flits verdedigend, uitdagend. “Watter ander werk kan ek hê? ’n Kind wat in drie jaar kort-kort deur haar eie pa verkrag is … Elke keer wanneer dit gebeur het, het ek by myself gesweer dat hulle eendag daarvoor sal betaal … elke man sal in harde munt betaal daarvoor.” ’n Kortaf, harde laggie. “En hulle betaal! Ek is ’n dame wat maklik ’n goeie paar duisend rand ’n maand loslê!” Daar is selfs trots in die stem. Toe, skielik, straal sy weer vyandigheid uit: “So los my uit, juffrou heilige. Ek het ’n goeie inkomste, leef lekker en geniet die lewe en …”
“Dis nie waar nie, Rita, en jy weet dit. Jy haat dit elke keer wat jy dit doen.”
“Jy praat twak! Dis te heerlik om te sien hoe hulle die note uithaal en neersit. Dan dink ek by myself: Dis reg, duiwels, betaal! Betáál vir wat jy wil hê! As ek sien die ou is regtig in die nood, sit ek sommer nog ekstra by.”
“Vir daardie kere toe dit van jou afgedwing is?”
’n Ongeërgde optrek van die skouers. “Miskien. Ja, seker. Ek weet net niks gee my groter genot as om te sien hoe die geld afgetel word nie. En ek wil nie anders lewe nie, verstaan jy? Los my uit!”
Sy stap vinnig weg voordat Elise nog iets kan sê om haar te keer. Hulle gesprek vir vannag is verby. Sal hulle ooit weer verder gesels? Want Rita het haarself wysgemaak sy wíl so lewe. Daar is nie ’n ander soort lewe vir haar nie, nie ná wat in haar jeug gebeur het nie. Arme mens …
Elske kyk haar vriendin skerp en ondersoekend aan toe Elise oomblikke later die klein kantoortjie van die Christelike straatwerkers op die haweperseel binnestap. Sy kan sommer dadelik sien iets is verkeerd, want sy ken Elise. Hulle stap al ’n lang pad saam.
“Iets verkeerd?”
“Nee.” Elise se oë is ontwykend. “Nee, ek … het met Rita gesels.”
“Rita! Gesels? Dan het jy ’n deurbraak gemaak. Teenoor ons ander is sy ’n geslote boek.” Elske hou haar ongeërg. “Wat sê sy?”
“Sy is ’n hawehoer omdat sy glo daar is geen ander professie vir ’n meisie wat tussen haar dertiende en sestiende jaar gereeld deur haar eie pa misbruik is nie.” Elske trek haar asem in. Dit laat Elise ’n oomblik vinnig opkyk. Toe sy vervolg, is haar oë egter terug by die haweliggies. “Sy het ’n verskoning. Sy het voor God ’n verskoning vir wat sy vandag is.”
In daardie oomblikke weet albei ook wat Elise nié gesê het nie: Nie soos ek nie … Bekommerd sien Elske haar vriendin se strak gesig voor haar. Die ou seerplek is ná ses, sewe jaar nog nie genees nie. Maar dis oor Rita wat sy praat toe sy die stilte verbreek.
“Ja. Dis ’n afgryslike ding om met ’n jong dogter te gebeur. Die gees kan nie anders as om dan binnekant verwronge te raak nie.”
“Dit is so. Ek het in my tesisnavorsing vasgestel dat vyf-en-twintig persent van die meisies in hierdie professie in hul puberteits- en jongmeisiedae in bloedskandelike situasies betrokke was.”
“Dis ontstellend hoog.”
“Ja. En wat dit nog meer ontstellend maak, is dat dit glad nie net voorkom onder die laer klasse nie.”
Elske knik. “Ja, soos in Rita se geval. Haar pa was ’n posmeester en haar ma ’n onderwyseres. Dít kon ek darem al uit haar kry. As die kinders net sal praat! Rita het nie nodig gehad om vier jaar lank deur daardie hel te gaan nie. Hoekom moet sy ook glo dat dié soort werk al is wat vir haar in die lewe oorgebly het?”
“Daar is baie faktore wat daartoe bydra, Elske. In die eerste plek is hulle jong, verwarde, geskokte kinders wie se verstand nie werk soos myne en joune nou nie. Vrees en skaamte is natuurlik die hoofoorsake dat hulle hierdie gruwelike misdryf in stilte verduur. En as hulle sou waag om iemand daarvan te vertel, sal hulle ooit geglo word? Soos in Rita se geval … ’n Posmeester op ’n klein dorpie het nogal status. In die meeste gevalle word ook só ’n goeie beeld na buite voorgehou dat die gevaar wel bestaan dat sy nie geglo sal word nie. Toe sy van die huis af weggehardloop het, was dit met ’n diepe wrok in die hart. Sy het besluit om daardie ding wat haar jong lewe verguis het, in die toekoms te gebruik as ’n wraakmiddel teen die lewe en al wat man is. Intussen is sy maar eintlik net besig om haarself verder te vernietig, maar hoe bring jy haar dít aan die verstand? Ook dat daar wel ’n ander lewe vir haar wag as sy net wil. Sy glo nie dis moontlik nie.” Die haweligte gooi strepe oor die see. “Dan veroordeel ’n mens so maklik, jy kan so gou neersien op die hawehoer, jouself soveel beter waan … maar daar ís van hulle wat vergewing by ’n liefdevolle Here sal kan vind.”
Elske is bewus van Elise se sielspyn en sê sag: “Nie net vir enkeles nie, Elise. ’n Liefdevolle Here het vergifnis vir álle hoere wat tot inkeer kom. Jý weet dit.”
Dis ’n oomblik stil. Dan ’n byna hartverskeurende sug. “Ja, my liewe vriendin. Vir almal. Goddank, vir almal. Maar …”
Elske stap nader, plaas ’n arm vertroostend om haar skouers. “Ons het al so baie daaroor gepraat, Elise. Kon jy dit nog nooit in jou hart vind om jouself te vergewe nie? Jy weet en jy het die volle oortuiging in jou hart God het jou lankal die sondes van gister vergewe. Maar dis jy … jý wat nie kan vergewe nie … jouself kan vergewe nie. Sodoende ly jy swaar en so onnodig. As dit dan nie meer by God bestaan nie, hoekom sal jy dit bly voed in jou eie hart? Dis nie soos Hy dit wil hê nie, Elise! Hy dink nie eens meer daaraan nie. Daardie belofte aan jou staan in sy Woord. Maar jy vergeet dit nie; jý onthou, dink altyd weer terug wanneer jy met die Ritas in die hawe te doen kry.”
Elise knik. “Ja, dit is so. Die fout lê by my, nie by God nie.” Gemarteld gaan sy voort: “Elske, daar is geen vergiffenis op aarde swaarder as dié teenoor jouself nie. Dis die swaarste iets om te vergewe – jouself … en min kry dit regtig werklik reg. Dank God dat daar nie iets só groot in jou verlede lê dat jy dit nie kan regkry om jouself daarvoor te vergewe nie. Ek … kan nie. Ek probeer, dink ek kry dit soms reg, maar … dan kom daar aande soos vanaand … en ’n Rita staan voor my …”
“Elise, ek het al gewonder of jy nie liewer jou studierigting moet verander nie.”
“Hoekom?”
“Ek weet jy is ver gevorder met jou doktorstesis oor prostitusie, maar jou sielevrede is vir jou baie meer werd. Hierdie studierigting hou die verlede te vars vir jou.”
“Maar dis my lewenstaak, Elske! Toe ek sewe jaar gelede teruggekom en by julle aangesluit het, was dit my roeping vir die toekoms: om te werk onder die prostitute van die stad, spesifiek die hawemeisies. Dis al waarvoor ek lewe, om soveel van hulle te red as wat moontlik is. En nou sê jy vir my …”
“Jy het ’n groot taak verrig in hierdie sewe jaar, ’n grootse taak. Daarvan kan talle meisies getuig wat nou eerbare, Christelike lewens lei, selfs nou getroude vrouens is, voorbeeldig en goed aangepas. Maar dis juis dit wat my hinder. Jy het die deur vir so baie ander na ’n gelukkige, volwaardige lewe as vrou en moeder oopgemaak … en jouself vergeet.”
Elise swaai weg. “Dis nie vir my nie.”
“Hoor ek Rita praat?” Hul oë ontmoet. “Jy weet ek is reg, Elise. Helgard het jou destyds weggestuur toe jy hom van jou verlede vertel het. Maar dis nie te sê omdat een man …”
“Dis oorbekende dinge waarvan jy praat, Elske. Ek weet dit alles … en dit help nie. Ek sal my nooit werklik kan losmaak van my vroeëre lewe nie. Ek aanvaar dit ook nou so. Ek is moeg van probeer wegkom daarvan af.” Iets soos bittere ironie teen haarself gemik skemer deur in die stem: “Verder, my liewe vriendin, kan ek nie my studierigting verander nie, want dis die rigting wat ek ken.” Sy draai om. “Ek gaan maar eers terug. Ek dink nie ek sal vannag vir enigeen meer tot hulp kan wees nie. Ek gaan maar werk aan my tesis.” Sy loop haar byna vas in ’n man wat by die deur inkom. “Naand, Vegter.”
“Naand, Elise. Op pad?”
“Ja. Goeienag, julle twee. Hoop julle het ’n suksesvolle nag.”
Hulle kyk haar agterna; dan sug Elske saggies. “Die arme Elise. Sy het al so baie vir ander gehelp, maar kan haarself nie help nie. Ek wonder of daardie Helgard ooit sal weet wat hy haar destyds aangedoen het.”
“Moenie te hard oordeel nie, my vrou. Dit moet vir geen man maklik wees om te moet hoor dat die meisie wat hy liefhet eers haar geld op bote in die hawe gemaak het nie.”
“Nee, ek oordeel nie, skat. Dis net … Elise is só ’n lieflike mens van binne en van buite. Dis ’n sonde dat sy nie tot haar volle reg sal kom nie. Sy hou al die jare al wat man is weg van haar.”
Haar man glimlag en kyk teer op haar af. Hoe lief het hy hierdie vrou van hom! “En hoe weet jý dit lê nie vir haar in die toekoms en wag nie? Wie sou ooit kon droom dat Vegter van The Bats op ’n mooi aand soos vanaand voor ’n ewe lieflike vrou sou staan en weet sy is sý vrou?”
Sy glimlag na hom op. “Maar ons is anders …”
“Ja. So is elkeen anders … iemand spesiaals ook in die oë van die Skepper. En soos Hy ’n Godsplan vir my en jou uitgewerk het, glo ek sal Hy ook een vir Elise hê. Ek het weer ’n gevoel dat daar êrens op die pad vorentoe iets baie moois, iets baie spesiaals vir haar wag. Ons moet haar net in vertroue aan Hom opdra. Terloops, ek het met Pa gepraat voordat ek hierheen gekom het. Hy laat weet natuurlik baie liefde vir sy lieflingskoondogter.”
“Hoe gaan dit in Babel?”
“Goed. Maar hy verlang baie. Sê hy gaan ’n naweek wegsluip na ons toe.”
“Dit sal wonderlik wees.” Maar haar oë is somber, want altyd is daar maar iets in die hart wat krap of ontbreek. Sy weet Midas Hammond is vir haar lief, maar sy weet ook dat hy ’n ander lieflingskoondogter sou wou gehad het, een wat aan hom ’n kleinkind sou kon gee wat eendag sy stad van goud kan erf. Maar hulle is nou al sewe jaar getroud en daar is geen teken dat so iets gaan gebeur nie. Dit was ’n bittere teleurstelling vir die rykste man in Suider-Afrika dat sy enigste seun destyds nie kans gesien het om saam met hom terug te gaan na sy plesierstad van dobbelsale nie, maar verkies het om hier te bly en liewer aan ’n ewigheidstad te bou as werker onder die bendes, prostitute en dwelmverslaafdes van die Moederstad. Maar ’n bitterder teleurstelling is dat daar blykbaar ook geen kleinkind gaan wees nie. Wanneer Midas Hammond die dag sterf, sal sy stad van goud in vreemde hande val of saam met hom sterf.
Dikwels het Elske al by haarself gewonder of sy God nie liewer moet dank dat Hy haar moederskoot gesluit het nie. Midas was verplig om van sy planne vir sy seun afstand te doen, maar hy sal nie so maklik afstand doen van sy planne vir sy kleinseun nie. Maar intussen … intussen is dit haar hart wat verlang, wat pyn elke keer as sy in die oë van ’n kind kyk, wat ween as sy afkom op iets soos vanaand …
“Wat is verkeerd, my vrou?”
Haar ooglede fladder verraderlik terwyl haar stem egalig bly: “Dis Louise … Hulle het my vroeër vanaand kom roep na haar toe. Ek het haar in ’n plas bloed op die Portugese boot gekry. Sy was blykbaar swanger en het toe iets daaromtrent gedoen. Ek skat sy was so vier maande verwagtend. Ek het haar in die kombi hospitaal toe gestuur.”
Hy sê niks, trek haar net teen hom vas met soveel deernis en begrip dat sy haar oë styf moet toeknyp en haar gesig onder sy ken wegsteek. Hy weet watter uiters teer saak haar kinderloosheid is, en as daar dan sulke dinge gebeur – dat swangerskap gegee word aan ’n meisie van die hawe en daardie lewe doelbewus en wreed beëindig word – is dit moeilik om nie in felle opstand te kom nie. Want die onverstaanbare is ook altyd die onaanvaarbare vir die mens. Hier bid ’n goeie, ware kind van God elke aand op haar knieë om ’n kindjie, terwyl ’n ander kindjie doelbewus die lewe ontneem word, want hy is onwelkom, in die pad.
Daarom hou Vegter Elske maar net styf teen hom vas.
In hierdie oomblik is daar nog iemand wat maar net swygend voor haar uitstaar en wonder oor Sy gedagtes wat nie ons s’n is nie – nadat sy ’n brief gelees het.
Dit het vir Elise gelê en wag toe sy van die hawe af terugkom. Sy het dadelik die bewerige handskrif herken. Dis van ta’ Vroeteltjie. Nuus van die huis af. Pa is maar ’n swak korrespondent. Hy bel liewer. Dis ta’ Vroeteltjie wat met haar maandelikse brief Elise op die hoogte hou van al die nuus ter plaatse, en so onwetend bydra om die verlede vir Elise lewend te hou. Want ta’ Vroeteltjie – “nou sonder om te skinder, hoor?” – weet van ’n ieder en elk alles af wat wetenswaardig is. Sy is huishoudster vir die baas van Paradys, Nols Retief. Sy weet alles van hom en van sy kinders. Elise is daarom goed ingelig oor Helgard, al het sy hom sewe jaar laas gesien. Elise weet nie of sy vanaand lus is om van die “hele ou spul” te lees nie, van Helgard en sy beeldskone vrou.
Maar sy voel skuldig toe sy die brief eers eenkant wil sit vir later. Sy weet watter inspanning dit vir die twee knopperige ou rumatiekhande moet wees om altyd so gereeld die lang “rapport” te skryf. Sy bedoel dit goed. As sy onwetend daarmee rowe van ou wonde afkrap, kan Elise haar dit nie verkwalik nie. Ta’ Vroeteltjie bly nou eenmaal die grootbaas Retief se huishoudster en sy hou ook boonop ’n wakende oog oor Elise se pa wat nooit weer getroud is ná sy destydse egskeiding nie en wat nog steeds Nols Retief se regterhand op die spogplaas is.
Sy tel dus maar weer die koevert op en skeur dit oop. Vroeër of later sal sy dit tog moet lees …
Liewe Elise – Hoop dit gaan goed met jou. Hier vroetel dit ook nog, dankie.
Elise skud die kop, moet glimlag. Vandaar die bynaam. Haar antwoord op die navraag hoe dit gaan, is altyd klokslag: “Nee, dit vroetel darem nog, dankie.”
Dan frons sy. Dis nie die gewone verslag oor Paradys en sy mense nie. Dis ’n kort en bondige briefie.
Kind, ek skryf vir jou, al weet ek jou pa sal baie ontevrede wees as hy dit moet weet. Maar ek voel jy moet weet. Jou pa is baie agteruit, Elise. Hy is ’n siek man. Hart en maag. Jy moet huis toe kom en hom kom versorg. Ek doen my bes vir hom, maar ek kan nie oral gelyk wees nie. En Jan is koppig. Wil nie na my luister nie. Jy moet regtig maar kom, Elisie. Spyt kom te laat, my kind. Om by ’n oop graf te staan en huil, help ook nie.
Liefdegroetnis.
Elise laat die brief sak. Teruggaan Paradys toe …? Maar Pa is siek. Sy het nie geweet nie. Hy sê altyd dit gaan goed. Het dit vir haar weggesteek. Maar vir ’n onbepaalde tyd op Paradys gaan bly … met Helgard en sy mooi vrou ’n klipgooi van die Vermaaks se huis af … Ta’ Vroeteltjie het in ’n vorige brief vertel van die “marmerpaleis” van Helgard wat nou klaar is en so ’n paar honderd meter vanaf die groothuis staan waar sy pa nog steeds bly met ta’ Vroeteltjie en oom Klappies in die “anneks”, soos sy graag na die woonstelletjie aan die huis verwys. En tussen die twee huise staan Jan Vermaak s’n, waar hy nog al die jare as bestuurder woon.
In die sewe jaar wat verby is, was sy nog net drie keer weer op Paradys en dan ook net vir ’n naweek – nadat sy eers honderd persent seker gemaak het via ta’ Vroeteltjie dat Helgard en sy vrou en ook oom Nols nie daardie naweek tuis sou wees nie. Dit het haar gehinder dat sy haar pa so afskeep, maar sy het ook geweet dis verstandiger om nie weer die ander mense van Paradys van aangesig tot aangesig te sien nie. Sy het die skuldgevoel getroos met weeklikse briewe en periodieke telefoonoproepe, maar nou is dit nie meer genoeg nie. Ta’ Vroeteltjie sê Pa is siek, baie agteruit … en hy het sy dogter nodig.
Maar alles in haar skram weg van die idee om vir ’n onbepaalde tyd op Paradys te wees. Sy is besig met haar tesis. Dis baie moeilik om nou weg te gaan. Daar is Rita en die gesprek van vanaand wat sy graag vinnig sal wil opvolg, want sy wil haar só graag help … Daar is so baie ander redes wat sy kan opnoem wat dit nie nou moontlik maak om onbepaald hier weg te gaan nie, maar ta’ Vroeteltjie se laaste sin bly steek: Om oor ’n oop graf te staan en huil, help nie. Sekerlik het sy genoeg selfverwyt om te dra sonder om daaraan toe te voeg. Dus …
Maar dis met groot en donker bedenkinge in die hart dat sy haar twee liewe vriende die volgende dag verwittig van die nuwe verwikkelinge. Sy lees haar eie hart se kommer in Elske se oë, maar nie een praat daaroor nie. Dis beter ongesê gelaat.
Dis egter Vegter wat hardop verraai dat hy deernis het vir die swaarmoedige hart wat vir hulle tot siens sê: “Jy gaan nie alleen Paradys toe nie, Elise. Dit weet jy tog.” Sy knik. Ja, maar die vorige keer het sy ook geglo Iemand anders gaan saam met haar … en sy het in trane, skande en skaamte van Paradys af weggesluip.
Dis of Vegter haar gedagtes lees, want hy vervolg: “Niks gebeur sommer maar nie, Elise. Miskien het dit nodig geword dat jy eers weer moet teruggaan Paradys toe. Jou pa se siekte is deel van ’n plan wat nou vir jou verkeerd mag lyk, maar net omdat jy nie die hele plan sien nie. Hou net daaraan vas. En as jy hulp nodig het, moenie huiwer om ons te bel nie. Ons gebede gaan vanselfsprekend saam met jou.”
Toe sy laat daardie namiddag deur die indrukwekkende gewelfde ingang van Paradys ry waar die naam in sierletters aangebring is, sluit sy ’n oomblik haar oë. Bid vir my, my vriende. Bid baie hard vir my. Ek sal julle gebede nodig hê …
Toe sy haar oë oopmaak, moet sy vinnig rem trap, want voor haar in die rylaan staan ’n man. Sy herken hom onmiddellik.