Читать книгу Ena Murray Omnibus 33 - Ena Murray - Страница 14

11

Оглавление

Toe Vegter weg is om sy pa op die lughawe te gaan haal, kyk Pieter Elske net stil aan, en sy hart bloei vir haar. Dan het dit gebeur waarvoor hy bang was.

“Vegter het besluit om saam met sy pa te gaan.” Sy ontwyk sy oë. “Hy wil hê ek moet saamgaan, maar ek het hom gesê ek kan nie. Hy sal sonder my moet gaan.” Sy stap na die venster, kyk oor Trovato se rustige tuin uit. “Jy het my gewaarsku teen hierdie dag … onthou jy?”

“Ja.”

“Ek kon daardie dag nie verstaan wat jy bedoel het nie. Hoe kan daar enigiets wees wat my en Vegter kan skei as hy ook ’n kind van die Here is? Maar nou weet ek wat jy bedoel het. Hy sê ’n mens kan God ook in Babel dien.”

“Jy kan nie God én Mammon dien nie.”

“Nee. Maar hy glo hy kan sy geloof in daardie plek uitleef.”

“ ’n Mens kan nie met vuur speel en veilig bly nie. Hoe kan ’n mens jou skatkamers met geld uit dobbelmasjiene vul, na vuil films kyk, en jouself nog ’n kind van God noem?”

Sy sug, knik. “Ja. Maar ek dink nie hy het al so ver gedink nie. Sy pa is nou vir hom die belangrikste, en sy plig as seun.” Sy draai terug na Pieter, die kommer en hartseer lê bloot in haar oë. “Pieter, ek is so bang ons gaan hom verloor.”

Hy knik. Hy weet wat sy bedoel. Vegter kan Jesus verloor. “Ek weet.”

“Wanneer hy daar aanland, is hy die troonopvolger, die volwaardige seun van die koning van Babel … en alles wat daarmee gepaardgaan. Kan hy staande bly?”

“Ek twyfel, Elske. Want God laat hom nie tart nie en nog minder speel ’n mens met die duiwel.” Hy gaan sit, staar voor hom uit. “Ek het een keer deur Babel gestap … deur die dobbelsale, casino’s, teaters … En ek het by myself gewonder: Hoeveel van hierdie mense wat nou die dobbelmasjiene met hul geld voer, na die ontkleedanse kyk of die vieslike gemors voor hulle op ’n filmdoek, beskou hulself as Christene. Mense wat hulle op Jesus en sy liefde beroep wanneer smart hulle tref, die dood in hul midde kom. Maar nie omgee om jolyt saam met die duiwel te hou, ’n naweek of meer in Babel te fuif as dit goed gaan nie. Dis óf die een óf die ander … en ek kan nie dink daar is êrens ’n plek vir God in Midas Hammond se Babel nie.”

“Nee, nie eens die praalgraf wat hy vir sy dogter opgerig het en wat een van dié besienswaardighede in Babel is, kan ’n plek van verootmoediging teenoor ’n almagtige God genoem word nie. Ek kan nie saam met Vegter gaan nie, Pieter … nie as ek my siel wil behou nie. Maar … maar God weet dit ook, ek het hom baie, baie lief!”

Pieter kan niks meer doen as om die snikkende meisie teen hom vas te druk, sy oë te sluit en vir genade en krag van Bo te bid nie.

Die ontmoeting op die lughawe is vir albei roerend. Hulle druk mekaar styf vas en nie een van die twee mans is skaam oor die glinstering in hul oë nie.

Mag, hy het ’n pragtige seun! So groot en sterk! ’n Seun om op trots te wees! Hy het so na hom verlang. Nog nooit het nege maande so lank verbygegaan nie.

Op sy beurt voel Vegter hoe sy hart van trots en liefde swel. Pa! Sý pa!

“Hoe gaan dit, Pa?”

“Goed, my seun. Ek is net so dankbaar dat ons nou eindelik by mekaar is. Hoe gaan dit met jou?”

“Ook goed, Pa, dankie. Dis lekker om Pa weer te sien.” Toe hulle by die motor kom wat Pieter vir Vegter geleen het, vra hy: “Waarheen wil Pa hê ons moet gaan? Pieter het gesê Pa is baie welkom by Trovato.”

“Dankie, my seun, maar ek dink ons gaan hotel toe. Ons het baie om oor te gesels.”

Dis eers toe hulle in Midas se eie private suite in ’n vyfsterhotel is, dat Vegter besef dat hierdie man ook Midas Hammond is. Hy voel half ongemaklik.

“Hou Pa hierdie plek net aan vir die enkele kere wat Pa Kaap toe kom?” wil hy weet, en Midas knik, stap na die drankkabinet.

“Ja. Gaan jy iets drink?”

“Nee, dankie.”

Hy kyk stil toe hoe Midas ’n stywe whiskey ingooi, dan na hom keer en sy glas lig: “Op ons! Op jou, my seun! En op jou toekoms! Wanneer kan ons vertrek?”

“Vertrek?”

“Ja. Babel toe, natuurlik. Ek kan nie wag om my stad vir jou te wys nie!”

Vegter aarsel, ontwyk sy pa se oë, stap stadig na die groot skuifdeure wat na die balkon oopmaak. Sy oë soek na dié deel van die stad waar Vegter, die bendelid en dwelmsmokkelaar, nog altyd sou rondgedwaal het – was dit nie vir die genade van God nie.

Midas laat sy glas sak, volg sy seun na buite. “Vanuit my woning in Babel kyk jy oor die hele stad uit. Jy kan ook Zia se praalgraf op die koppie oorkant sien staan.”

“Dan het Pa dit gebou?”

“Ja. Dit het amper ’n miljoen gekos, maar dis vir my dogter. Ek gee nie om nie.”

Vegter bly stil. ’n Swierige praalgraf vir ’n dogter wat nie meer lewe nie …

“Vegter …”

“Ja, Pa?”

“Pla iets jou?” Stilte. “Jy … e … kom mos saam met my? Waarheen sal jy anders gaan? Jy is my seun. My erfgenaam. Babel gaan joune word.”

Dis ’n oomblik stil voordat hy antwoord: “Ja, Pa. Ek sal saamkom, maar …”

“Maar? Vra enigiets, my seun. Enigiets. Wat wil jy hê?”

Midas frons, voel die kommer in hom groei. Niks mag hom en sy seun nou meer skei nie. “Daar is min dinge wat geld nie kan koop nie.”

Vegter draai na sy pa, besef in hierdie oomblik hoe baie hul wêrelde van mekaar verskil – en sy pa wil hê hy moet deel word van syne.

“Net nie geluk nie, Pa. Geld kan dit nie koop nie.”

“Maar, Vegter … jy sal alles hê!” Hy lag kortaf. “Is ’n stad van goud dan nie genoeg nie?”

“Nee, Pa, nie sonder die een wat ek liefhet nie. Ek sien nie kans om sonder haar Babel toe te gaan nie.”

“Elske?” Vegter knik, en sy pa glimlag breed. Vir ’n oomblik het hy regtig geskrik! Maar dit is geen probleem nie. Sy seun is verlief! “Daar is niks om oor bekommerd te wees nie, my seun. Natuurlik kan Elske saamgaan. Ek dink sy is ’n baie oulike meisie. Het jy gedink ek sal haar nie goedkeur nie? Dan kan ek jou gerusstel …”

“Dis nie so eenvoudig nie, Pa. Dis … sy keur óns nie goed nie.”

“Ekskuus?”

“Ek het my verkeerd uitgedruk. Eintlik keur sy Babel af.”

“Babel? Babel! Wat bedoel jy?”

“Net dit, Pa. Elske sien nie kans om saam met my na daardie stad te gaan nie.”

Midas kyk hom aan asof hy van sy kop af is. “Hoekom nie?”

“Dis nie haar soort lewe nie, Pa. Nie haar wêreld nie, kan dit nooit wees nie. Sy sal nooit gelukkig in Babel wees nie.”

Midas se gesig verstrak. ’n Straatwerkertjie wat haar neus vir Babel optrek! Dan glimlag hy weer breed, selfversekerd. “Ag, my seun, sy is maar net ’n bietjie oorweldig. Sy sal wel aan al die weelde gewoond raak.”

“Dit sal nie help nie. Sy soek nie rykdom nie. Sy sal nooit daaraan gewoond raak nie. Met Pa se Babel wil sy niks te doen hê nie.”

“Nie mý Babel nie, óns stad, Vegter. Dit laat my dink … Dis tyd dat ons jou regte naam gebruik. Vegter is iets van die verlede. Jy is nou Sean Hammond. Ek sal met haar gaan praat.”

“Dit sal nie help nie.”

“Verdomp, man, watse onsinnigheid is dit dié? Enige meisie sal spring om …”

“Elske is nie enige meisie nie, Pa. Sy sal so onvanpas in Babel wees as ’n engel in die hel.”

“Dan is dit tot daarnatoe. Veg- … Sean, jy gaan my nie nou in die steek laat oor ’n ou meisietjie nie? Al hierdie maande het ek net gedroom oor dié dag dat ek jou na Babel kan neem … Sean?”

Vegter sluk. “Nee, Pa.”

“Ek meen te sê, my seun, jou plig lê sekerlik in die eerste plek by mý. Daar sal nog baie meisies wees.”

Vegter draai sy gesig weg, staar blind oor die stad uit. “Ja, Pa.”

Toe Elske Midas Hammond sien nader stap, weet sy waaroor dit gaan. Sy kan aan sy gesig sien die koning van Babel het iets op die hart. Maar sy ontmoet sy blik vierkantig toe hy voor haar gaan staan.

“Ek wil met jou praat.”

Sy kyk na Pieter en hy knik. “Ek sal iemand anders in jou plek stuur.”

Sy huiwer ’n oomblik, sê dan: “Laat ons in die oorkantste hoek gaan sit, meneer Hammond.”

Hulle neem plaas en sy blik dwaal vlugtig om hom in die koffiekamer. En hy wil Babel aan haar en Sean gee! ’n Plakkaat teen die muur trek vir ’n oomblik sy aandag, dan kyk hy vinnig weg.

“Elske, Sean sê my jy wil nie saam met hom kom nie,” val hy sommer met die deur in die huis.

Sy voel hoe haar hart krimp. Dan het hy nou al ’n ander naam ook, dink sy wrang. Sy kyk op, antwoord op die man af: “Nee, meneer Hammond.”

“Hoekom nie?” Sy swyg en hy vra kortaf: “Was jy al daar? Weet jy hoe lyk Babel?”

“Ja, meneer Hammond. Ek was ongelukkig al daar. Ek weet hoe lyk … Babel … en wat daar aangaan.”

Hy kug. “Jy hoef niks te doen wat teen jou beginsels is nie, Elske. Jy moet net daar wees ter wille van Sean. ’n lewenslange vakansie in die stad van goud! Wat sê jy?”

“Die antwoord is nee, meneer Hammond.”

Hy sluk. “Elske, jy het hom tog lief, dan nie?”

“Ja. Ek het hom lief.”

“So? Ons het hom albei lief. Hoekom …?”

“Maar Jesus het hom die heel liefste.” Hy sit terug, kyk haar net aan met ’n harde gesig, en sy gaan onverskrokke voort: “Só lief dat Hy vir hom aan die kruis gesterf het. Dit beteken iets, meneer Hammond. Vir só ’n liefde kan jy ’n stad van goud inboet.”

“Elske, luister … goed. My liefde wil my seun die rykste man in die land maak, hom ’n stad van goud gee. En joune? Wat gee dit aan hom? Die dood?”

Sy staar hom net aan, en hy vervolg driftig: “Dis wat jou liefde vir hom gaan bring – sy dood. Vegter is voëlvry onder die bendes verklaar. Jy weet dit. Bly hy hier en doen wat jý verlang, gaan hy sterf. Hulle gaan hom doodmaak. Wel?”

Sy kyk hom bleek maar kalm aan. “Meneer, net Vegter kan besluit. En die leiding moet hy van God bid. Nie ek óf jy kan sy toekomsweg bepaal nie. God sal sy voetstappe in die regte rigting lei – na watter kant dit ook al mag wees. Maar ek het reeds die oortuiging van Bo ontvang: myne lei nie na Babel nie. Myne bly hier … in die stad van nagstrate.”

“Jy is koppig.”

“Nee. U verstaan my verkeerd. Weet u hoe swaar dit vir my is om nee te sê, te moet sien dat hy van my af weggaan? Ek wat hom liefgehad het toe hy nog Vegter, aan die verkeerde bende se kant was? Ek verseker u, hierdie besluit van my is nie sonder trane geneem nie. Nege maande al het ek met Hom hieroor gepraat, want ek het geweet wat gaan gebeur wanneer Vegter uit die tronk kom. Ek het allerlei planne beraam hoe om die duiwel te omseil. Maar dit werk nie so nie, meneer Hammond. ’n Kind van God onderhandel nie met die duiwel nie. Nie eens Jesus wou in die woestyn ’n kompromis met hom tref nie. Hoe kan ék dan? Ek verruil nie die ewigheid vir jou stad van goud nie, meneer Hammond.” Haar oë smeek en bewende lippe pleit: “En moenie dit aan jou seun doen nie!”

Midas se kaakspiere verstyf, dan staan hy op. In ’n lae fluistertoon sê hy: “Ons het niks meer om oor te praat nie. Sal ons die besluit dan aan Vegter oorlaat?”

Sy knik net stom, sien Vegter in die koffiehuis se deur staan. Hy stap nader. “Julle lyk ernstig.”

“Ja.” Sy pa aarsel, sê dan reguit: “Ek het Elske probeer oorreed, maar soos jy gewaarsku het, wil sy van niks weet nie. Dit is vir jou om te besluit waar jou toekoms lê, my seun. Maar ek wil net vir jou sê ek het met Spike gepraat toe jy in die tronk was. Jy is nou voëlvry. As jy hier bly, gaan hulle jou kry.”

Hy stap weg en Vegter sak op die bankie neer waar sy pa so pas gesit het, steek aarselend sy hand uit en neem hare in syne. “Elske … ’n mens kan God ook in Babel dien.”

Haar oë bly vasgenael op die deur. “Dis moontlik, Vegter. Maar dit gaan baie, baie moeilik wees … té moeilik vir my. Ek is te swak.”

Dit word stil. Hy plaas haar hand op sy lippe en sy voel dat haar vingers nat word. “Sal jy vir my bid?”

“Jy weet dit tog, Vegter. Ek sal altyd …”

Pieter kyk die jong man met die hangende skouers agterna toe hy by die deur uitstap.

Dan gaan sy blik na die meisie in die verste hoek … en hy sien sy kom reeds haar belofte na. Sy bid.

“Elske …” Haar kop lig op en sy kyk hulle ’n oomblik half verdwaas aan. “Kyk wie is hier!”

“Elise! Jy! Waar … waar kom jy vandaan? Dis wonderlik om jou te sien. Kom sit!”

Elise skud haar kop. “Nee. Dis nie ’n kuiertjie nie. Ek … is hier om te bly … as ek mag.”

“Te bly? Maar … wat van die vriend van wie jy …?”

“Dit het toe nie uitgewerk nie. Jy sien, ek kon dit nie regkry om met hom te trou as hy nie alles weet nie. Jy kan nie met ’n leuen saam met Jesus loop nie. Helgard moet weet wie en wat ek was, en … dit was te veel vir hom. Ek het hom so jammer gekry. Hy het baie hard probeer. Maar hy kon dit nie verwerk nie. En toe … het ek maar teruggekom – na julle. Mag ek saam met julle werk? Ek wil so graag veral die hawemeisies help …”

Met grenslose liefde en deernis druk Elske haar teen haar vas. “Natuurlik! Jy is só welkom.”

Pa en seun is terug in die weeldesuite in die hotel. Midas kan die minute wat hy op Vegter se verskyning gewag het, nooit beskryf nie. Sy wêreld sou in duie gestort het as sy seun nie wou terugkom nie. Om alleen na Babel terug te keer het ondenkbaar geword. Hy moes hom inhou om nie te huil toe die deur oopgaan en Vegter daar staan nie. Hy het gekies! Hy is hier … en môre gaan hulle Babel toe!

“Jy het die regte besluit geneem, Sean. Dit sou nie anders kon uitwerk nie. As jy bly, gaan jy jou lewe net onnodig in gevaar stel. Daar is baie wat straatwerk kan doen, maar ek het net een seun. Ek kán hom nie afstaan nie.”

Vegter kyk peinsend voor hom uit. Dink by homself: maar God het. Hy het ook net een Seun gehad – en Hy het Hom afgestaan.

“Jy weet, ek wonder hoe dinge sou verloop het as ek nie destyds die hartaanval gekry het nie. Sê nou net ek het nie betyds tot die besef gekom nie … Ek wil nie eens daaraan dink nie. Hoe kon ek al die jare sonder jou gewees het? Hoe sou jóú lewe uitgedraai het … Daaraan wil ek ook nie dink nie.”

Vegter is stil en sy pa kyk hom fronsend aan. Hy kan darem ten minste ’n bietjie meer opgewonde lyk! Verknies hom natuurlik nog oor die ou meisietjie … “Wel, ou seun, ons kan seker gaan rus. Môreoggend vertrek ons met ons eie straler terug Babel toe en ek verseker jou – veel tyd vir rus sal daar nie wees nie! Jy gaan dit geniet. Jy sou seker nooit kon droom dat jý eendag die septer daar sal swaai nie, nè?”

“Nee, Pa. Nooit. Ek het … ander drome gehad.”

“O? Vertel my daarvan. Miskien kan ons ’n paar van hulle nog verwesenlik!”

“Wil Pa regtig weet?”

“Natuurlik, my seun! Vertel my. Watter drome het jy gekoester voordat ek op die toneel verskyn het?”

“Dis maar onlangse drome, Pa.”

“Dit maak nie saak nie. Ek wil graag weet. Wat sou jy met jou lewe gemaak het as ek nie in die prentjie gekom het nie?”

“Môre? Pa bedoel, wat ek met my lewe môre en oormôre sou doen?”

“Ja.”

“Ek sou ook ’n stad gebou het, Pa.”

“Nog ’n stad?”

“Ja. Ook ’n stad van goud. Maar dit sou nie net myne wees nie, want daar is al aan gebou. Maar ek sou graag my deeltjie wou bydra.”

“Ja? Hoe?”

“Deur met die genade van Bo te probeer om my bendelede na Jesus te lei. Al kan ek net een vir die ewigheid wen. Want dis nie ’n aardse Babel waaraan ek wil bou nie … dit vergaan. Myne is ’n ewigheidstad.” Midas luister geskok.

“Want elkeen wat eendag in daardie stad gaan, Pa, is Koningskinders. Ons Vader het dit reeds vir ons voorberei. Ek wil ’n erfgenaam van dáárdie stad wees, Pa.” Hy sug. “Ek weet Pa verstaan dit nie … Ek sou ook ’n eed wou nakom wat ek voor God afgelê het nog voordat ek Hom geken het. Benewens die bendes, is daar ook die klubs waar Zia gewerk het. Ter wille van my suster in haar praalgraf sou ek graag ’n meisie, al is dit net één, wou help.”

Midas Hammond laat sy kop skuldig sak. “En jou lewe wat in gevaar is?”

“Ek het die bendes nie verraai nie. Ek het ’n skoon gewete. Ek is nie bang nie, Pa, want Jesus gaan saam met my. Hy sal my beskerm. Ek glo dit.” Dis stil. “Dit … was my drome, Pa. Nag.”

“Nag … my seun.”

Vegter was lankal vas aan die slaap toe Midas nog op die balkon gestaan en tuur het. Sean Hammond is sy kind, van sy bloed en vlees. Maar Vegter is Jesus se kind, deur sy bloed gekoop. Dis ’n feit wat hy moet aanvaar. Sean Hammond is bereid om saam met sy pa te gaan. Maar Vegter se lewensideaal is om ’n vegter vir Jesus se bende te word; aan ’n ewigheidstad te bou eerder as aan een van stene. Liewer bou aan iets wat nooit sal vergaan nie, soos hy sê.

Elke mens is geregtig op sy drome. Hy het syne gehad. Sy droom van ’n Babel was sy stukrag. Hy het dit verwesenlik. Nou het sy seun ook ’n droom … het hy die reg om hom dit te ontneem?

Ek gaan nie my ewige stad verruil vir jou stad van goud nie, meneer Hammond. Moet dit ook nie aan jou seun doen nie, klink die pleitende stem weer in sy ore.

Hy dwaal op die balkon rond. Die feit dat hy nie dieselfde as hulle oor dié dinge voel nie, gee hom nie die reg om dit te minag nie. Want ook hý het amper so ’n pad gekies. Pieter se woorde daardie dag toe hy hom met ’n Bybel in die hand teruggestuur het Babel toe, kon hy nie vergeet nie. Elke keer dat hy daardie deel oor die ryk man gelees het, wou ’n benoudheidin hom posvat, maar die veeleisende lewe het hom nie toegelaat om daaroor te peins nie. Want die Ewige Lewe waarna verwys word, is ver en onwerklik. Babel is hiér en nóú. Midas se borskas het geswel van trots oor sy stad. Hy het sy Babel gebou. Wat daarna gebeur … Sy blik het na Zia se praalgraf gegaan. Daarná ook die graf …

Daar is nóg mense wat in hierdie nag nie kan slaap nie. Dié wat bid. ’n Meisie, Pieter en die ander straatwerkers. Ná die nag se werk kom hulle in die gebedskamer van die koffiehuis byeen, word daar gebid vir ’n Vegter en ’n Midas Hammond. Toe hulle opstaan, is die vrede terug in hul harte. God sal voorsien. Hy rig die voetstappe.

Toby kyk verbaas op toe Midas skielik voor hom staan. “Ek het jou eers later vandag terugverwag.”

“Daar was geen rede om langer te versuim nie.”

Toby kyk oor Midas se skouer. “Is jy alleen?”

“Ja. Ek is alleen.”

Die ander man se mond gaan oop, maar dan keer hy die vraag op sy lippe. Midas Hammond se oë vertel hom dis beter om dit liewer nie te vra nie.

“Ek is bly jy is so vroeg terug. Die mense wil met die arena begin, maar daar is nog ’n paar dingetjies …”

“Goed. Stuur hulle in sodra hulle hier is.”

“Goed.”

Toby aarsel nog, sien dan dat die koning van Babel van sy teenwoordigheid vergeet het; sien hoe sy blik na buite dwaal, op die graf teen die koppie rus. Ook hý kyk daarheen. ’n Praalgraf … Dis al wat die koning van Babel nog van sy kinders het.

Die mense aan die etenstafel kyk op toe iemand in die deur verskyn. Dan sit almal hul messe en vurke neer, staar na hom. Een word bleek. Hy het seker net kom groet …

Maar dan glimlag hy, ’n glimlag van oorwinning wat hulle stom laat.

“Ek is terug.”

’n Stoel kraak, twee paar oë ontmoet … en dan hou hy sy arms vir haar oop. Die ander om die tafel se koppe sak in ’n dankgebed.

“Maar hoe …?” kry sy dit later uit terwyl die dankbare trane op haar wange blink.

“Ek weet self nie. Ek weet nie hoe dit gebeur het nie. Dit moet Jesus se werk gewees het. Gisteraand was my pa nog vas oortuig dat ek by hom in Babel hoort. Vanoggend toe ek wakker word, was hy weg – en dié brief en pakkie op die tafeltjie langs my bed.”

Hy haal die enkele vel papier uit die koevert, lees hardop:

In die pakkie is ’n paar rand in note. Dit kom nie uit Babel se dobbelmasjiene nie. Dis die bedrag waarvoor ek die hotel wat ek destyds van my pa geërf het, verkoop het. Dis eerlike geld. Gebruik dit na goeddunke in jul bouwerk. Ek het my Babel gebou, Sean. Bou jy voort aan jou ewigheidstad.

Ek sou graag kontak met jou wou behou, soms hoor hoe die bouwerk vorder.

Mag God jou seën, my seun.

Midas Hammond.

Dis ’n ander dag, ’n ander jaar. Babel skitter in die somerson. ’n Man stap stadig teen ’n koppie uit. Dan kom hy tot stilstand op een van die marmertrappe wat na bo lei, haal ’n brief uit sy sak.

Liewe Pa

Die bouwerk wat ons by Trovato aangepak het met Pa se rojale skenking is nou klaar. Ons kon uitbrei om aan meer mense tydelike huisvesting te verskaf totdat hulle ’n vaste betrekking en ’n nuwe heenkome gevind het. Ons is Pa en God innig dankbaar daarvoor. Pa onthou nog vir Spike? Wel, hy het ook nou by die Jesus-bende aangesluit. En Pa sal nooit glo wie nou die aand ingespring en my lewe gered het toe ek iemand in ’n bende-onderonsie wou help nie. Dit was Mac – van alle mense! As ek hom net kan oorreed. Mac ken nie ’n ander soort lewe as dié wat hy lei nie. Ek het ook nie. Ek glo Jesus sal my nog help om hom ’n nuwe pad te wys. Ek en Elske het die afgelope paar maande veral met die jong meisies in die gesellinklubs gewerk. Ons kon al vir drie van hulle ’n betrekking en ’n ordentlike verblyfplek kry.

Elise – ek weet nie of Pa haar nog kan onthou nie – doen wonderlike werk onder die hawemeisies. Ons het net stof tot dankbaarheid. Ek en Elske trou oor ’n maand. Ons wil graag die onthaal in die koffiekamer hou. Ek sal my pa baie graag daar wil hê.

Groete van almal hier. Met liefde en seënbede in Christus Jesus.

Vegter.

Hy vou die papier toe, druk dit terug in die koevert. Sy oë verteder, rus op die graf voor hom en hy glimlag. Niks sal my daar weghou nie, my seun. God seën julle.

Ena Murray Omnibus 33

Подняться наверх