Читать книгу Kokkedoor - Errieda du Toit - Страница 23
Skuinskoek
ОглавлениеLewer ±24 skuinskoeke
Plantjie
Twee dae voor jy wil bak, staan jy vol moed op en begin om die plantjie in te suur. Jy moet maar die hele week oophou, want jy weet nie hoe gou die plantjie gaan rys nie. As jy Woensdagoggend wil bak, sit die plantjie die Maandagmiddag in die water, maar as dit al lank lê (en al hard en uitgedroog is) moet jy dit al die Maandagoggend in die water sit.
Hier is hoe: Breek die plantjie stukkend en bedek dit met so 750 ml (3 k) koue water en 15 ml (1 e) suiker in ’n plastiekbak van 2 liter. Plaas die deksel op en laat staan op ’n lou plek – soos langs jou oond of in ’n sonnige vensterbank. (Dit moenie te warm kry nie.) As dit skuimerig is die volgende oggend, voeg jy by: 1 deel suiker vir elke 3 dele koekmeel. Ek gebruik ’n maatkoppie van 50 ml. Voeg die verhouding suiker en meel by tot die suurdeeg stywerig is, soos vetkoekdeeg. (Dit moet net-net afval van die lepel as jy dit skep.) Laat staan weer langs die oond of in die vensterbank tot dit volgerys is. Dit duur een dag. Onthou net: As die plantjie nie skuimerig is in die oggend nie, los dit waar dit is, moet dit nie op ’n warm plek neersit nie. Dit sal rys as dit reg is. MOENIE HAASTIG RAAK NIE!
As als goed gaan, behoort die suurdeeg wat jy in die oggend ingesuur het, teen die aand volgerys te wees. Dan knie jy. Hou vir jou so ’n halwe koppie suurdeeg agter waarby jy nog meel roer tot dit lekker styf is – dis weer jou nuwe plantjie. (Skep die nuwe plantjie op waspapier en laat oop staan tot droog. Hou net weg van vlieë, maar moenie in die yskas sit nie.) Die res is genoeg vir die mengsel.
Deegmengsel
2,5 kg koekmeel
1 liter (4 k) suiker
60 ml (1/4 k) anyssaad
2,5 ml (1/2 t) fyn neutmuskaat
20 ml (4 t) sout
suurdeegmengsel (of sien Wenk)
600 ml –1 liter louwarm water
250 g sagtevet of botter (verkieslik vet)
olie en sagtevet vir diepbraai
Meng al die droë bestanddele saam in ’n plastiekskottel. (Dit maak maklik skoon.)
Voeg die suurdeegmengsel en louwarm water by om ’n redelike stywe deeg – maar slapper as brooddeeg – te vorm. Knie goed deur en knie dan die sagte vet of botter in sarsies in, sowat 10 minute lank. Knie tot die deeg nie meer aan jou hande vassit nie. As jy dink dis goed geknie, is dit reg. (Al sit die deeg aan jou hande vas, sal dit die volgende môre reg wees.)
Maak warm toe met ’n swartsak en duvet en plaas weer naby hitte. (Nie direkte hitte nie, die deeg raak maklik suur.) As jy ‘n warmwatersak gebruik, maak seker die water is net sterk louwarm en draai in die swartsak en duvet toe. Bid die aand dat dit sal rys, en môreoggend staan jy baie vroeg op om te begin bak!
Volgende oggend: Verhit die helfte olie en sagtevet of net olie in ’n diep, wye kastrol. Knie die deeg af en druk die deeg plat tot ’n dikte van 1 cm. Sny in stroke van 3 cm en sny skuins. Toets die olie met ’n stukkie deeg – as dit gou opkom tot bo, is die olie reg. (Die olie kan liewer te warm as te koud wees, sowat 180 °C.) Roer die koekies in die olie terwyl dit braai, dan is hulle eweredig bruin. (Hulle moet die kleur van gemmerkoekies hê.)
Indien jy nie ’n plantjie gebruik nie, volg bogenoemde resep en gebruik 3 pakkies kitsgis in die plek van die plantjie. Meng al die droë bestanddele, asook die kitsgis, saam en maak aan met die louwarm water.
Knie die vet of botter goed in en laat staan die deeg om te rys. Knie net vroeg in die oggend, dan bak jy in die namiddag.