Читать книгу Satyn Omnibus 2 - Helena Hugo - Страница 11

Оглавление

8

By die huis parkeer Jacques sy pa se kar en stap om stalle toe. Hulle hou ’n paar ryperde aan vir eie plesier en omdat sy ma so lief is vir perdry. Dis vroeg en die perde sal seker nog op stal wees. Hy wil kyk of daar een is vir hom sodat hy die plaas op sy tyd kan verken, sy ou speelplekke besoek, ouma Maria gaan groet en haar uitvra oor Sharise. Hy moet weet.

Dis by die stalle waar hy sy ma raakloop. Sy is in rydrag en besig om met ’n jong man te praat.

“Jacques, dis Johnny. Hy bestuur die stalle vir ons, nou amper drie jaar, nè, Johnny?” stel sy ma hom voor. “Wat hy nie van perde weet nie, moet hulle self nog uitvind,” voeg sy by.

Johnny is klein en skraal soos ’n jokkie, maar sy handdruk is stewig. Werkers is besig om vurke hoog gelaai met die vorige dag se hooibeddens uit die stalle te dra. Een is op pad kampie toe met ’n pragtige Arabiermerrie aan ’n halter; haar vul draf saam.

“Hoeveel perde hou julle nou aan?” wil Jacques weet. “Lyk soos Arabierperde almal.”

“Hier is veertien, drie nuwe vulletjies, en Shakira moet nou enige tyd vul. Ná Hanover en Flying Star se dood het ons die bontspul opgeruim. Ons het deesdae net suiwer Anglo-Arabiere,” antwoord sy ma.

Jacques fluit saggies. “Ek hoop Ma het versekering.”

“Vanselfsprekend.”

“Is dit die moeite werd?”

“Ons doen goed, maar op klein skaal. Ek skou en verkoop vullens. Die teelprogram is geweldig interessant en veeleisend, maar ek stel nie meer belang in wedrenne nie.”

“Wat van oefening?”

“Johnny het sy helpers. Jou pa raak lui die laaste tyd, hy ry nie meer gereeld nie. Ek ry elke oggend, wel, amper elke oggend, ek was nou net uit op Catherina. Johnny, Jacques kan julle help met die oefenprogram. Hy kan vir Robyn of Seymore ry. Hy’s ’n goeie ruiter.” Sy kyk na Jacques. “Of het jy jou slag verloor?”

“Ek het verlede week nog gery, toevallig ’n Franse Anglo-Arabier, so ’n lewendige reuntjie, Chagall. Die eienaar het my sy landgoed te perd gewys, eers gedag ek praat sommer toe ek sê ek ry. Nee, ek is goed in oefening, Ma.”

“Ek saal vir jou Robyn op,” sê Johnny. “Sal gaaf wees as jy ons kan uithelp. Een van ons manne is vanoggend af siek, en dan raak ons besig.”

“Goed, dankie! Sien jou oor vyftien minute.”

Jacques stap saam met sy ma huis toe. “Jy het nog nie ontbyt gehad nie,” sê sy.

“Dis oukei, Ma. Ons het gisteraand wel gedaan, so die koffie en beskuit van vanoggend was genoeg. En ek wil nie vir Johnny laat wag nie.”

“Ek maak tee en toebroodjies vir as jy terugkom.”

“Dankie. Ek gaan trek net gou ander skoene aan.”

Hy hou vir haar die agterdeur oop. Louise is netjies gebou en fiks vir ’n vrou van haar jare. Sy sal nog lank soggens op haar Arabierperde die veld kan invaar. Sestig is nie oud as jy jou lewe lank gewoond was aan vroeë oggende op vinnige perde nie. Veral nie as jy lief is vir die diere nie, en veral nie as jy Louise du Plessis is met ’n wil van staal en bogemiddelde uithouvermoë nie.

Toe die agterdeur agter hulle toeklap, draai sy na Jacques.

“Ek is bekommerd oor Suzette,” sê sy.

“Sy’s oukei,” sê Jacques en dink: Hierdie gesprek is nie iets wat jy in die verbygaan kan afhandel nie. Om die waarheid te sê, dis ’n gesprek wat hy liefs wil vermy.

“Maar sy eet nie.”

“Sy was nog altyd so.”

“Ek weet nie hoe hou sy dit nie.”

“Ma, soms wonder ek of sy nie skelm eet nie.”

Hy weet sy eet skelm. Hy het haar al hoeveel keer in die middel van die nag in sy kombuis betrap, ook in die badkamer as sy van die oordaad wil ontslae raak.

“Ek het haar fyn dopgehou. Weet nie waar sy hier kos in die hande sal kry nie, tensy sy lekkergoed tussen haar klere wegsteek.”

Dis wat sy doen, wil hy sê, maar hy byt sy lip vas.

“Ek sal liewer nie op haar spioeneer nie,” probeer hy die gesprek kortknip, maar Louise loop al agter hom aan.

“Sy hoef tog nie so maer te wees nie!”

“Dis hoekom die ontwerpers haar kontrakteer: hulle soek maer meisies.”

“Ten koste van haar gesondheid, en sy is so ’n pragtige mens. Moet sy in ’n kapstok verander?”

“Haar keuse.”

“As julle eers getroud is, moet jy haar sover kry om op te hou.”

Hy is al halfpad teen die trap op, sy ma agterna. Hy gaan staan stil en draai na haar.

“Hoe lyk dit my Ma begin Ma se opinie verander?”

“Nee, Jacques, ek dink steeds sy is die regte lewensmaat vir jou. Sy is beeldskoon, sjarmant, fyn opgevoed, talentvol en intelligent. Sy kom uit ’n vooraanstaande familie; hulle is welgesteld en welbekend in internasionale ekonomiese kringe. Haar oom beklee ’n posisie in die Wêreldbank, haar pa –”

Hy kyk op sy horlosie en val haar in die rede. “Ma, Mammie, ons kan nie nou nie. Johnny wag vir my met ’n opgesaalde perd. Ek wil nog gou ’n draai loop, en ek weet al hierdie dinge.”

“Al wat ek wil sê is: probeer sommige van jou vorige vriendinne met Louise vergelyk en kyk waar skiet hulle tekort – ver!”

“Ja, Ma, ek doen dit en ek is bevoorreg, ek tel my seëninge en een daarvan is ’n rit te perd in die wingerdpad. Waar is Pa?”

“De Doorns toe. Het hy nie gisteraand gesê nie?”

“Kan nie onthou nie, maar goed, nou weet ek. Sal Ma my eers verskoon?”

Sy laat sak haar skouers. “Nou toe, ons praat as jy terug is. Ek en jy moet ’n plan van aksie uitwerk. Suzette vertrou my, maar ek wou haar nie begin aanspreek sonder jou toestemming nie.”

“Dankie, Ma, ek waardeer dit.”

Sy boks hom liggies op sy boarm. “Ek is seker alles sal regkom.”

In sy kamer gaan sit hy op die bed se rand. Sy ma weet nie van alles wat verkeerd is nie. Sy het nie die vaagste benul van sy deurmekaar hart nie, en van sy arms wat leeg is en die viooltjiegeur wat nog vaagweg aan hom kleef.

’n Rukkie sit hy met sy kop in sy hande. Maar nee, hy kan nie nou vertoef nie. Eintlik wil hy net wegkom en uit, sodat hy iewers in die buitelug kan vrede maak met die leuens van sy lewe en die beelde van Sharise wat hom die hele pad terug getreiter het. Beelde van ’n skraal ou meisietjie in haar blou jeans en ’n langerige swart truitjie onder die wit-en-blou gestreepte voorskoot, haar vel so soel en perfek, die hare in strome agter haar rug af en die eerlike verrassing in haar oë. Hy het hom klaargemaak dat sy hom skaars sou herken en koel teenoor hom sou optree, maar sy het hom bestorm en omhels asof sy elke oggend as sy die deur oopmaak en die welkom-matjie uitsit, dit vir hóm doen. Asof sy hom verwag het!

Hulle het so gesoen ...

Maar toe is sy skaam en verleë, natuurlik. Hy is ook onseker, hoewel hulle duidelik hul gevoelens vir mekaar gewys het. Om te soen is maklik, om te praat en woorde te sê wat vir agt jaar agterweë gebly het – dis ’n ander saak.

Hy verstaan, hy verstaan so goed hoekom sy destyds weggehardloop het en toe nooit weer met hom wou praat nie. Hy het nie hard genoeg probeer om haar terug te wen nie. Sy was nooit landuit nie – waar sou sy sulke geld kry? Dis hý wat oorsee gegaan het en toe weggebly het, en te trots was toe sy nie sy briewe beantwoord het nie. Hoe moet hy weet wat intussen als met haar gebeur het!

Om sy ma te vra, sal ’n storm ontketen, maar dalk is ouma Maria meer toegeeflik. Van al die grootmense op Rosedal was sy nog altyd die geduldigste een – en oopkop ook.

Hy skop sy Italiaanse skoene uit, loop op sy sokkies kas toe en haal sy stewels uit.

Ouma Maria was die enigste een wat nie aanmerkings gemaak het as hulle mekaar by die tuinhekkie soen nie. Toe Sharise matriek geskryf het, was hy vir bloktyd by die huis, en hy het haar elke keer skool toe gevat en elke keer gaan haal. Sy het hard geleer, maar hulle kon mekaar nie uitlos nie. Het goed ’n halfuur in die kar gesit en soen voor sy uitgeklim en die entjie huis toe geloop het. Sy ma het hulle seker met haar verkyker dopgehou, want sy kon nie ophou preek nie. Sharise moes goed doen in matriek en hy was besig om haar van haar werk af weg te hou, was haar verskoning.

Ouma Maria het niks oor die soene gesê nie. Die reël was duidelik: Hulle moes afskeid neem by die hek en Sharise moes huis toe kom en leer. Daarby het hulle gehou, al het die afskeid ’n bietjie lank aangehou. Hulle het ook SMS’e gestuur en gebel, soms lank ná middernag om goeienag te sê.

Sharise se matriekuitslae was beter as syne en beter as sy derdejaarsvakke; een moes hy sleep. Dit het sy ma byna deur die dak gehad.

Aan al hierdie dinge dink Jacques terwyl hy stalle toe stap, die vul by Johnny oorneem, saggies met die dier praat, kennis maak en dan opklim. Die mis wat van die berg se kant afrol vallei toe, is aan die opklaar en die grond ruik ryp en skoon. Hy hou van die jong merrie wat Johnny vir hom opgesaal het. Sy het meer Arabier-eienskappe as Engelse volbloed, ’n goeie mengsel van Oos en Wes, lewendig en intelligent, maar tog gewillig onder sy hande. Hulle het mekaar dadelik gevind. Sy het ’n ent weg op galop gegaan en toe rustig verder gedraf. Die plaaspad loop in die regte rigting en gou is hulle by die afdraai na ouma Maria.

Sy is besig om ’n ry spierwit vadoeke aan die draad agter haar huisie op te hang. ’n Swart labrador draai om haar voete. Dis goed, sy moet beskerming hê, dink Jacques. Hy bring die perd op ’n draffie nader, onseker of die hond gewoond is aan perde.

Maar ouma Maria kyk op en dit lyk of sy hom herken, want sy glimlag in sy rigting en praat streng met die hond. Robyn steur haar nie veel nie. Daar is ook honde en hoenders by die hoofhuis en sy is gewoond aan hulle. Jacques trek die teuels in en klim af. Die merrie proes en swaai haar maanhare, trap rond. Hulle sal nie lank vertoef nie.

“My liewe, Jacques, ek dag ek sien jou!” groet sy.

Hy sit sy arm om haar en gee haar ’n drukkie en ’n soentjie. “Hoe gaan dit met Ouma?”

“Baie goed vandat ek gehoor het jy’s terug. Hoe gaan dit met jou?”

“Ook baie goed. Dis goed om terug te wees.”

“Darem lank weg gewees, jy.”

“Ja, Ouma.”

“Ek sê gister vir Sharise: hierdie keer moet julle by mekaar uitkom.”

Sharise het dus geweet hy is terug! Ouma Maria kyk na hom asof sy ’n antwoord verwag, maar hy glimlag net. Hy vertel haar nie dat hulle vroeër vanoggend reeds by mekaar uitgekom het nie.

“Sy het haar eie teekamer, weet jy? Jy kan gerus soontoe gaan en haar ondersteun, dis harde werk en sy sukkel om op haar voete te kom.”

Kan jy nou meer! Dis haar eie plek! En dit het nie vir hom gelyk of sy sukkel nie. Maar dalk betaal sy af aan die lening, en kos maak is harde werk as jy dit heeldag moet doen.

“Sy hou mos van kook. Onthou jy hoe ek julle leer kook en koekies bak het, jy ook!”

Hy onthou. Ouma Maria het enige ding gedoen om hulle konstruktief besig te hou.

“Ja, die koekies en die tameletjies!” lag hy.

“Met dennepitjies!”

“Maak Ouma nog?”

“Ja, vir die kleintjies, hulle eet. ’n Kind kan nie nee sê vir suikersoet nie. Wil jy inkom? Ek het botterkoek gebak, dis klaar afgekoel, ek is besig om te versier.”

“Ek wil graag, maar ek beter weg wees. Die perd is warm gery en sy sal koue vat in die mis as ek langer vertoef.”

Hy het ’n vermoede haar kombuis lyk nog net dieselfde en dit sal hy nie kan hou nie. “Ek kom gou weer,” belowe hy.

“Gaan kuier vir haar.”

“Dink Ouma sy wil hê ek moet?” vra hy moedswillig.

“Sy is lief vir jou, Jacques,” sê die ou vrou.

“Ek hoor dan sy was getroud.”

“Die man is nou oorlede, en ek gaan nie sleg praat van die dooies nie. Ten minste het hy vir haar ’n erfporsie gelos, genoeg om haar teekamer te koop. Maar dis nie al wat sy nodig het om gelukkig te wees nie. Ek het julle saam gesien.”

Jacques bloos effens. Sy het hulle ’n paar keer uitgevang. “Ja, Ouma, maar dinge wou nie uitwerk nie.”

“Jy moet sorg dat dit hierdie keer werk. Jy is die man, jy moet sorg.”

“Ek sal probeer. Totsiens, Ouma.”

Hy sit sy arm om haar en gee haar ’n drukkie. Sy ruik na kaneel en gemmer en uitgebraaide vet, ’n lekker oumatjie wat so maklik praat, sy het hom in drie minute byna al die inligting gegee wat hy soek.

“Haar ma is ook dood,” voeg sy by.

Hy hoor die hartseer wat vlak lê. Hy het dit nie geweet nie. Sharise se ma was altyd vir hom baie mooi, en vriendelik met haar sagte manier van praat. Niemand het hom laat weet dat sy dood is nie, en hy voel skielik opstandig en skaam voor die vrou wat hom grootgemaak het.

“Ek is baie jammer om dit te hoor,” sê hy en bedoel dit opreg toe hy haar ’n ekstra drukkie gee. “Ek onthou haar, sy was ’n goeie mens.”

“Sharise se ewebeeld,” sug ouma Maria. “Gaan groet haar.”

“Ek wil, ek sal.”

Hy steek sy voet in die stiebeuel. Sy ma wag, en hy het sake wat hy met haar ook moet bespreek.

“Kom kuier weer, dan vertel jy my hoe dit gegaan het!” roep ouma Maria agterna.

Hy waai net vir haar. As Sharise hom nie voorspring en haar vertel dat hulle mekaar reeds gesien het nie. Hy sal soos ’n lafaard lyk. Dalk is hy een.

Die merrie is haastig en hy is bevrees hulle skop ’n stofwolk op. Toe hy omkyk, sien hy hoe ouma Maria haar voorskoot uitskud. Agt jaar ouer en hy kan dit skaars aan haar sien. ’n Mooi oumens, dis Sharise se ouma. Goeie gene wat hulle deel.

Maar hoekom het niemand vir hom gesê Marian van Harte is dood nie? Hy is lus en loop sy ma trompop. Dis nie asof Sharise een of ander misdadiger is, of dat haar familie so laag op die sosiale leer is dat hulle nie ’n bietjie menslikheid jeens haar kan betoon nie.

Marian het in die groothuis op Rosedal gekook, tot sy die werk by die universiteit se kampuskafeteria gekry het. Hy het nog vir haar die aansoekvorms gebring. Die salaris was drie keer beter as wat Louise haar betaal het, al het sy sulke lang ure gewerk dat sy net sekere naweke kon huis toe kom. Binne agt maande was sy hoofkok, ’n prestasie wat sy ma as haar eie beskou het. Sy was die een wat Marian ’n cordon bleu-kursus laat loop het en daarvoor betaal het. Stank vir dank, het sy gekla. Die oomblik toe Marian ’n kans kry, los sy haar hoog en droog en gaan werk vir die universiteit.

Hy het rusie gemaak met sy ma, haar verwyt omdat sy Marian nie ’n lewe anderkant die grense van Rosedal gun nie, omdat sy haar wou besit. Sy was toe so naar, sy was lus en dwing Marian om die kursusgeld terug te betaal. Zack het darem ’n stokkie daarvoor gesteek. Hy is tog maar die gematigde een. Laat hom net te maklik deur sy vrou opsweep, want hy was nie so gekant teen Sharise nie. Maar alles het saamgewerk om die verhouding tussen hulle en Sharise se mense te vertroebel.

Wat Jacques betref, hy aard na albei sy ouers en hy is lief vir albei. Hy wil nie sy ma seermaak nie, ook nie sy pa nie. Seker dié dat hy destyds so maklik handdoek ingegooi het oor Sharise. Hulle was twee teen een en toe hy ingee, was hulle drie teen Sharise.

Sy susters is sag, selfs sagter as sy pa, maar hulle was toe nie meer op Rosedal om alles te beleef nie. Hulle het kontak gehou met Sharise, al het hulle al minder nuus oor haar vir hom deurgestuur. Sy eie skuld, aan die begin wou hy niks hoor nie, en later was hy te skaam om te vra. Vandag is hy tussen die duiwel en die diep blou see.

Sharise en Suzette. Hy kan hulle albei los of een kies. Watter een sal dit wees?

Satyn Omnibus 2

Подняться наверх