Читать книгу Satyn Omnibus 2 - Helena Hugo - Страница 12
Оглавление9
Dit word ’n baie besige dag by Soete Verleiding. Die ontbytgaste het vermeerder tot drie-en-twintig, en die quiche was net genoeg. Die roti was ’n reuse-sukses, mense bestel dit graag vir ontbyt, ook gewone pannekoeke. Hulle bestel selfs smoorsnoek.
Sharise sorg vir ’n wye keuse, bedien vars vrugte en brode, botterbroodjies en muffins, ’n Engelse ontbyt met eiers, spek en roosterbrood. Die marmelade kom uit haar ouma se kombuis.
Teen tienuur begin die teevrouens aankom en raak die bestellings makliker. Dit klink soos ’n vinknes-kolonie wanneer ’n skindergroepie op die tuin toesak. Sharise maak deeg aan vir patatkoek. Sy hou daarvan om dit vars te bedien, en sy gaan hulle daarmee verlei.
“Jy werk vandag soos ’n masjien,” sê Myrna wat skinkborde met teegoed aandra. “Ons bak mos nie elke dag roti en patatkoek nie?”
“Hier is genoeg klante,” is Sharise se verskoning. “Ek wil hê hulle moet weer kom om van hierdie te koop.”
Sy loer deur die venster na die mollige vroue wat sjokoladekoek en botterbroodjies met room en aarbeikonfyt verorber. Sy sprinkel kaneelsuiker oor die patatkoek voor sy dit in die warm oond steek.
“Hoe gaan dit nou?” vra Myrna.
“Vra jy oor vanoggend?” wil Sharise kastig weet. Natuurlik vra sy oor vanoggend, wat anders?
“Jip, en die man, die donker man uit jou verlede.”
“Donker en uit my verlede – dit kan jy nog ’n keer sê.”
“Hy spook by jou, snags laat hy jou nie met rus nie.”
“Nee, ek bedoel hy is donker en hy hoort in my verlede, dis verby.”
“Ek glo nie,” waag Myrna dit.
Sharise skakel die stoof af en draai na Myrna. Dié is besig om kookwater in drie teepotte te gooi.
“Roer vir jou daar!” jaag Donald haar aan. “Die dames raak haastig hier buite!”
Sharise gee ’n koekbord met patatkoek vir hom aan. “Kalmeer hulle hiermee.”
“Ja, en wat kos dit?”
“Dis ’n promosie, volgende keer betaal hulle.”
“Ons is generous vanoggend,” brom Donald. “Maar ek kla nie, dan kry ek groter tips.”
“Ek bring die tee,” sê Myrna agterna.
Donald sit twee notas op die toonbank neer. “Volgende bestelling, Sharise.”
Sy lees die bestelling, ’n maklike een. Heuningbostee en melktert. Sy trek ’n skoon skinkbord nader en die koekborde. Dankie tog Donald het met groot lawaai hier ingekom, anders sou sy Myrna moes stilmaak.
Skoonmakers het skerp ore, en as hulle eers begin praat, word die stories reguit Rosedal toe aangedra. Liesbet het juis vertel sy ken Sharise se ouma se niggie se dogter. Dit was om Sharise sover te kry om haar aan te stel, en dit was toe die waarheid, want Sharise het by haar ouma gaan seker maak. Haar mense hou van gesels, en veral om verlangse familie uit te pluis en op snaakse plekke te ontdek, tot in die hoogste gestoeltes van die akademie en die parlement soms!
Ouma Maria was tog te bly om Liesbet ná jare weer in haar huis te ontvang. Dankie tog, Liesbet was nie vanoggend vroeg hier om getuie te wees van Sharise se vertoning nie. Sy ril en sit een van haar sjabloonpatrone op die naaste bord neer, tel die bussie met kaneel op en begin sprinkel.
Miskien moet sy seker maak dat Myrna haar mond hou, al moet sy haar dreig. Sy gaan hierdie ontmoeting uit haar geheue verban, sy gaan Jacques uit haar geheue verban.
Sprinkel, sprinkel, sprinkel.
Want as dít is hoe sy reageer as hy toevallig sy verskyning op Soete Verleiding se drumpel maak, draai daar begeertes in haar onderbewussyn rond wat sy liefs met geweld moet onderdruk. Sy verlang na hom, dis ’n feit. Sy dink aan hom, dis die waarheid. Maar sy het nie besef haar gevoel vir hom is nog só sterk nie. Sy het die man agt jaar gelede laas gesien en is veronderstel om kwaad te wees vir hom, toe gaan val sy hom om die nek soos ’n tiener!
Sy plak die kaneelbussie neer.
Wat het in haar gevaar? Om dan nog boonop op haar bed te gaan neerval en in trane uit te bars, dis om soos ’n verliefde skooldogter te reageer.
“Melktert!” sê Donald skielik hier reg voor haar.
“O, ekskuus! Ek was besig.”
“Besig om te dagdroom?”
Sharise gaan haar nie verwerdig om hom te antwoord nie. Sy lig die sjabloon versigtig. Genade, maar sy hét met die kaneel gemors! En wanneer het sy al ses die koekborde met kaneelpatroontjiesversier? Sy kan glad nie onthou nie.
“Dis gevaarlik om in ’n kombuis te staan en droom.”
Kan Donald gedagtes lees, of is hy vanoggend net meer vrypostig as gewoonlik? Sy ignoreer hom, maar hy los haar nie. Hy torring aan haar.
“Ek sal jou vertel hoekom hy vanoggend hier was,” sê hy kastig vertroulik. “Vra my.”
Sy voel lus om te gil, maar sy hou haar in en draai na die toonbank waar die melkterte onder teenette staan. Toe sy die net afhaal, bewe haar hande. Sy hoor hoe Liesbet en Walda in die waskamer giggel. Hulle giggel oor haar en die donker man uit haar donker verlede. Sy is doodseker die nuus het al getrek, en dis Donald en Myrna, hulle het gepraat.
Toe vat sy die melktert met mening vas en plak dit op die toonbank tussen haar en Donald neer.
“Donald,” sê sy beslis, “ek het vanoggend al genoeg gehoor.”
Sy sny die melktert asof sy die bord ook wil deursaag, maar haal diep asem voor sy dit op die koekbord met die kaneelpatroontjie neersit. Dit wil sy nie bederf nie.
“Goed, ja. Miskien sal julle tweetjies dit van hier af op julle eie verder kan vat, maar ons is hier vir jou, onthou dit. Jy is nie net ’n werkgewer nie, jy is ’n vriendin ook, ons gee om.”
Sharise vee die nattigheid aan die laventeltakkie waarmee sy die tert wil versier met ’n papierdoekie af en plaas die takkie in die een hoek, langs die tert. Dit lyk mooi. Sy pak die borde op die skinkbord.
“Gaan. Gaan doen jou werk en los my privaatlewe uit.”
Sy gesig val; hy lyk so afgehaal dat sy hom byna om verskoning vra. Maar sy kyk weg en tel die volgende nota op. Botterkoek soos die Maleiers dit maak. Sy glimlag. Dis wat sy vandag nodig het: ’n bontversierde koek om haar dag op te helder.
Donald het klaar die vrolike koek onder die glaskoepel op die toonbank neergesit. Hy moes dit gedoen het terwyl sy gestaan en kaneel strooi het en sy het dit nie eens agtergekom nie. Geen wonder hy eien hom die reg toe om sy eie afleidings te maak – hy het gesien hoe sy staar.
Sy sal die volgende paar dae hard moet werk om haar ware gevoelens weg te steek, want dis ernstig. Jacques se soene het haar binnegoed laat omkeer! Sy onthou skielik hoe sy mond na peperment geproe het, raak versigtig aan die plekkie in haar nek waar sy vel met die stoppelbaard teen hare geskuur het.
Hoekom het hy nie geskeer voor hy gekom het nie? Of was hy vroegoggend op ’n ander missie en toe draai hy op die ingewing van die oomblik hier in? Kry toe meer as waarop hy gereken het. Sy skaam haar bloedrooi en sy is nou so lighoofdig, sy het beslis versiersuiker nodig.
Die botterkoek is vanoggend helderpienk, grasgroen en songeel, met pers en pienk versiersuikerrosies en oranje blaretakkies. Hier en daar is ’n gehalveerde groen en rooi glanskersie. Sy sny vir haar ook ’n skyfie. Die koek self se bolaag is ligpienk, die onderlaag byna beetrooi. Kleure wat bots en skree en die lewe se vreugde uitroep.
“En daai sny?” vra Myrna toe sy haar skinkbord kom haal.
“Dis vir my, wil jy ook hê?”
“Jy kan dit bekostig, maar ek sal nie nee dankie sê nie.”
“Hoe lyk dit daar buite?”
“Almal is happy.”
“Mooi, dan is ek ook happy.”
Myrna kyk na haar met ’n fronsie tussen haar oë. Sy maak haar mond oop om iets te sê, maar bedink haar.
Sharise skink vir haar ’n koppie tee en knyp ’n takkie ment af om dit mee te geur. Sy neem ’n slukkie. Heerlik. Sy gaan sit om haar koek te eet, toe haar selfoon in haar sak lui.
Sy skrik en haar hart klop vinniger toe sy die selfoon optel om eers te kyk wie dit is. Hoekom verbeel sy haar dis hy wat bel? Hy ken nie haar nommer nie, tensy hy haar advertensie gelees het.
Dis haar ouma en sy skrik, want haar ouma bel selde in die middel van die dag.
“Hallo, Ouma. Iets verkeerd?” vra sy angstig.
“Môre, my kind. Wat laat jou dink daar is iets verkeerd?”
“Ouma bel nooit in die middel van die dag nie.”
“Is dit?”
“Ja, Ouma.”
“Seker maar omdat ek bang is jy is besig. Is jy besig?”
“Ek het nou net vir myself ’n koppie tee geskink. Ons het ’n stil tydjie.”
“Ek is bly.”
“Wat kan ek vir Ouma doen?” Sharise neem nog ’n slukkie van haar tee.
“Nee, niks. Ek het jou kolwyntjies gebak, jy kan vir Donald stuur. Maar eintlik wil ek hê jy moet self kom.”
“Ek was gister daar.”
“Jacques was vanoggend hier, hy het my kom groet.”
“O, wanneer was dit?”
“So teen negeuur se kant.”
Hy het reguit van hier af na haar ouma toe gegaan. Hoekom?
“Dis gaaf van hom.”
“Dis baie ordentlik van hom.”
“Het hy lank gekuier?”
Sharise wil graag weet wat hy met haar ouma gepraat het, maar sy sal nie vra nie. Dis ook nie nodig nie.
“Ek wil jou waarsku,” sê haar ouma. “Hy sal jou kom sien.”
Dis op die punt van haar tong om te sê hy was al hier, en om te vra of sy seker is dit was negeuur en nie vroeër nie. Wat maak dit ook saak of hy eers by haar ouma was of eers by haar?
Toe bars die bom.
“Ek het hom gesê jy is nog baie lief vir hom.”
Sharise laat val amper die selfoon in haar tee. “Ouma! Hoe kon Ouma!”
“Dis die waarheid, en ek wil hê hy moet weet.”
“Hy is verloof, hy gaan trou!”
“Ja, met jou. En hy is nog nie verloof nie, hy moet nog verloof raak.”
“Ouma weet nie hoe dit werk nie.”
“Ek weet goed, en hy het kom kyk hoe dit met jou gaan. Ek het hom van jou teekamer gesê. Moet nou nie onbeskof wees as hy daar opdaag nie, laat hom sy saak stel.”
“Ja, Ouma.”
“Jy klink nie baie opgewonde nie.”
“Dis omdat ... Ek verwag niks, en ek wil nie moeilikheid maak nie.”
“Solank jy nie moeilikheid na die verkeerde kant toe maak nie. Gee net die man ’n kans.”
Sharise sug. “Goed, Ouma, ek sal.”
“Dan gaan ek nou ’n boodskap na die groothuis toe stuur en vra dat hy môre se melkterte kom haal en by jou aflewer.”
“Ouma!”
“Hy sal dit doen, hy het gesê hy wil jou sien. Moet nou nie sê ek help julle nie!”
“Miskien moet Ouma liewer los.”
“Nee, Sharise,” sê haar ouma hard en beslis. “Hierdie keer staan ek nie weer terug en kyk hoe jy jou kanse verspeel nie.”
“Watter kanse?” keer Sharise.
“Julle is vir mekaar bedoel, van kleins af al, en ek sal my plig versaak as ek nie my deel doen nie.”
Sharise wil haar waarsku, teen mevrou Du Plessis en haar vooroordele, sy wil haar waarsku teen Jacques se nuwe liefde, teen vernederings en beledigings wat hulle voorland is. Maar as haar ouma so vasberade is, is daar nie keer aan haar nie, en dan duld sy ook nie teenspraak nie. Ouma Maria is ’n sterk vrou, sy sal die gevolge kan dra. Want gevolge gaan daar wees as sy Jacques by die groothuis laat haal om vir haar ’n afleweringswerkie by Soete Verleiding te doen, dis nie altemit nie.
Jacques sit op die koel stoep van Rosedal met sy bene lank voor hom uitgestrek, sommer bo-oor een van die drie goue labradors wat hulle soggens op die stoep tuismaak. Sy ma het die tee en toebroodjies reggehou, nes sy belowe het. Hulle praat oor die perde en die pryse wat sy vir haar opreggeteelde diere behaal. Dis ’n winsgewende stokperdjie.
“Hoe vind jy die merrie?”
“Pragtig. Ek sal haar elke oggend uitvat.”
“Dis gaaf, Johnny sal dit waardeer – vir solank jy hier rond is.”
Hy kyk na haar en sien haar ongelukkigheid raak, die trek op haar gesig toe sy oor die wingerde voor hulle uitkyk. Hy wil nie hê sy moet ongelukkig wees nie, maar dalk is dit die fout wat hy destyds gemaak het: om haar geluk bo hom en Sharise te stel.
“Ma ...”
Hoe moet hy die saak aanroer? Hoe moet hy dit vir haar sê as hy self nog nie klarigheid het nie?
Sy draai na hom. “Ja, Jacques, ek wil weet, ek en jou pa. Wat is jy van plan om te doen? Waar wil julle julle vestig?”
Hy kyk af na die hond wat rustig lê en slaap. Hy ken nie die diere nie en tog het hulle hom aanvaar, asof hulle instinktief weet dat hy deel van die familie is. Die een teef, Sonja is haar naam, het hom uitgekies. Sy volg hom en bly naby hom. Hy verskuif sy bene en krap haar in haar ribbes, sodat sy haar uitrek en ’n tipiese hondegaap los.
“Sy hou van jou,” sê sy ma.
“Dis ’n kompliment.”
“Sy is snaaks genoeg lief vir Suzette ook.”
“Dis goed.”
“Wat is jou plan, Jacques?”
“Wil Ma my eerlike antwoord hê?”
“Asseblief.”
Hy kyk na haar. “Ek weet nie.”
“Dit help veel.”
“Ek weet nie, want ek weet nie of ek Suzette lief genoeg het om die res van my lewe met haar grille opgeskeep te sit nie.”
Sy ma roer onrustig. “Dis ’n mondvol.”
“Ma wou die waarheid hê.”
“Wel, ek is ook bekommerd oor haar eetsteurnis. Ek weet modelle moet maer wees, maar soos sy aangaan ... Dis nie normaal nie.”
“Sy het probeer hulp kry en sy het ’n sielkundige en ’n dieetkundige wat na haar omsien, maar ek is bevrees hulle het nie veel invloed nie. En ek kan nie help nie, ek sien haar ook te min.”
“Ek dag julle woon saam?”
“Ons woon saam as sy die slag in Parys werk, dan kom sy Marne toe of ek gaan Parys toe.”
Louise se oë rek. “Hoe kan dit goed wees?”
“Ons is wêreldburgers, sover.”
“Daar is dus ’n moontlikheid dat julle iewers tot rus sal kom?”
“Ja.”
“Sy hou baie van Rosedal.”
“Ma, hoe lank is sy nou hier?”
“Tien, twaalf dae ... twaalf dae om presies te wees.”
“En hoe lank werk sy al?”
“Hulle het haar kom sien, die eienares van die boetiek en die ontwerper. Verlede week was hulle twee keer hier, maar vandag is haar eerste regte werkdag. Wanneer moet jy haar gaan haal?”
“Vanaand sesuur.”
“Ek is so bekommerd. Sy het aan die begin geëet, maar die afgelope week! Ek weet nie hoe sy op haar voete gaan bly nie.”
“Sy doen dit.”
Louise sug. “Jy wou sê van haar werk.”
“Suzette raak gou moeg vir plekke. Sy sal vir twee weke dink hierdie plaas is hemel, tot sy ’n ander roep kry. Iemand bel haar uit Rusland of Kanada en sy spring op ’n vliegtuig. Sy is nie van hier nie, Ma.”
“Sy is ’n pragtige meisie, sy bekoor mense, sy betower almal wat haar ontmoet. Sy is enigmaties, hoor.”
“Ja, ’n misterieuse wese.”
“Toe kies jy haar?”
“Dit het gebeur. Toe ek weer sien, toe het ek haar.”
“Nou weet jy nie wat om met haar te doen nie?”
“Ons ken mekaar al drie jaar.”
“Julle is ’n paartjie, hoekom nie trou nie?”
“Paartjies trou nie meer nie, selde in Europa.”
“As sy so moeilik is ... Wat hou julle dan saam?”
Jacques voel die stuwing in hom en hy kruis sy bene, verskuif sy gewig weg van sy ma. Seks, wil hy vir haar sê, maar twyfel aan die wenslikheid en bly liewer stil. Toe sê sy dit.
“Is dit seks?”
Hy wil eers stik, maar hy is ’n volwasse man en sy ma is iemand wat byhou by die tye, meer as sy pa. Agt jaar gelede sou sy nie hierdie vraag gevra het nie. Sy sou dit ook nie laas in Parys gevra het nie, want toe het sy pas agtergekom dat Suzette se klere in die dubbelkas in sy kamer hang én dat haar gesigrome en ander persoonlike goed in sy badkamerkas is, sowel as haar gesondheidskosse en vitamienpille in sy kombuiskas.
“Ek is dertig, ek kan nie die res van my lewe sonder seks nie.”
“Ja, wel, soms dink ek dis hoekom ons in die ou dae getrou het. Maar dis waarom baie huwelike nie die toets van die tyd deurstaan het nie.”
“Ma en Pa is nog saam.”
“Ons is, want dis nie net seks wat ons by mekaar hou nie.”
“Dis ook nie net seks wat my en Suzette saam hou nie,” sê Jacques en hy wens homself geluk, want só klink dit darem asof hy omgee.
“Jy sien dus kans om haar te help?”
“Ek help haar, het sy Ma nie vertel nie?”
“Ons het nie oor haar probleme met kos gepraat nie, Jacques.”
“So, wat bly oor?” Hy is nie lus om dieselfde gesprek te herhaal nie. “Gaan Ma met haar praat?”
“Nee, julle gaan ’n datum vasstel en dan gaan ons haar ouers ontmoet.”
Jacques haal diep asem. Hy ken hulle, en sy ma weet nie waarvoor sy haar inlaat nie.
“Daarvoor sal Ma hulle in die somer Suid-Afrika toe moet nooi, of wag tot hulle eendag weer Llandudno toe kom, of julle moet vinnig New York toe vlieg.”
“Wonderlik! Ek wou lankal soontoe! Maar nou moet ek eers gaan kyk wat in die kombuis aangaan.” Sy bly ’n rukkie stil en sit dan haar hand op syne. “Ek is bly ons het gepraat.”
Met dié staan sy op en begin goed op die skinkbord laai.
“Kan ek help?” vra hy.
“Nee, dis net twee koppies en twee borde. Ontspan jy maar.”
Hy gaap. “Ek is nogal lui.”
“Ek sal jou nie kwalik neem as jy gaan skuinslê nie. Jy het ’n lang vlug agter die rug.”
“Ek sluimer sommer hier, kyk vir die berge.”
“Dis jou plaas, Jacques. Drink die skoonheid in. Suzette is verlief op Rosedal en op jou. Sy sal alles los om jou vrou te wees. Ek jok nie.”
Jacques is stomgeslaan. Sy ma wag gelukkig nie vir ’n antwoord nie. Sy glimlag asof sy ’n taak goed afgerond het, vat die skinkbord en stap weg.
Nou het hy haar gerusgestel en nie die mandjie patats uitgegooi nie, dink hy toe hy haar agternakyk. Suzette sal trou, ja, maar vir hoe lank weet hy nie – tot sy weer op haar ou krukke terugval?
Nou het sy hom nog nodig. Hy is die sterk een in die verhouding, die een wat haar regop hou wanneer sy wil inmekaarstort. Wat haar dun spiere masseer as sy moeg is, wat haar moed inpraat wanneer sy dink sy is lelik of as ’n ander model ’n kontrak voor haar neus weggeraap het.
Hy is die een wat saam met haar winkels toe gaan en geduldig sit sodat sy die een uitrusting ná die ander vir hom kan vertoon. Sy is verspot versot op klere, kry dikwels ontwerpersuitrustings present, maar dra dit selde. Nee, sy moet die winkels invaar en nog klere koop en hom saamsleep vir ’n tweede opinie. Hy haat dit, veral as dit heeldag aanhou.
Sy kan ook nie markte met vars produkte weerstaan nie en koop mandjies vol kos, wat hy later vir die skoonmaker moet weggee. Sy sit vir hom kos voor, maar sy eet nie saam nie, en hy geniet dit nie om alleen te eet nie. Wanneer sy ’n slag vir ’n maand of twee by hom was, voel hy moeg en depressief, selfs skuldig omdat hy haar blykbaar nie gelukkig kan maak nie. Al is seks ’n hoogtepunt, laat sy hom hoog en droog as sy met hom klaar is. Jaag hom soms selfs uit die kamer sodat sy kan rus – asof hulle nie saam kan rus nie.
Hy is moeg. Hy verlang na ’n vrou wat hom wil troetel, soms ook sý spiere masseer, saam met hom eet en drink, kans sien om saam met hom te gaan stap. Wandelpaaie langs die see en in die berge, dis sy vreugde – nie ’n trapmeul in die gim nie.
Skielik, helder oordag, sonder dat hy bewustelik daaraan dink, kry hy die reuk van fynbos en nat grond, Sharise se intiemste plekkie wat na pynappels ruik. Hulle het orale seks gehad, met die verskil dat hulle dit nie by daardie naam genoem het nie. Nee, dit was hul teerste soene, hul eerlikste liefdesdaad, die beste alternatief vir ’n sonde wat dalk op ’n ontydige swangerskap kon uitloop.
Hy was ses jaar selibaat voor hy weer aan ’n vrou gevat het, twee weke van hel nadat hy die nuus gekry het van Sharise se huwelik met ene Jermaine. Oor hom kon hy nie eens op die internet iets opspoor nie, ’n nikswerd met geen verlede, hede of toekoms nie.
Die meisie vir wie hy ten minste geval het, is wêreldbekend.
Die bekende model.
Suzette.
Net Suzette, sonder ’n van.
Voor haar het hy homself gehelp en Sharise onthou. En nou, noudat hy haar weer gesien het en in sy arms vasgehou en gesoen het, nou weet hy nie of hy ooit weer in Suzette se omhelsing gemaklik sal wees nie.
Hy moet terug na Sharise. Die glimp wat hy van haar gekry het, is te min en ook te veel. Hoe kon hy droom dat sy so pragtig sou word! Skraler, weerloser, meer sensueel, haar hare nog langer, haar oë effens hartseer, en daardie mond, dis of haar mond ryper is. Hoe het hulle nie gesoen nie!
As sy ná vanoggend sê sy stel nie in hom belang nie, lieg sy.