Читать книгу Satyn Omnibus 2 - Helena Hugo - Страница 14
Оглавление11
Ná ete gaan rus Jacques se ma en pa. Hy bly lomerig, dus verkas hy ook kamer toe. Hy gooi hom op die bed neer en maak sy oë toe.
Sy ma kon vanmiddag aan tafel nie end kry oor sy planne vir die toekoms nie. Sy pa het die gesprek in ’n ander rigting probeer stuur. Maar sy het so aangehou oor Suzette en die verlowing en die troue dat Jacques moes bontspring oor hoekom hulle nie gisteraand kans gehad het om te gesels nie. Feit van die saak is: hul hoofonderwerp was seks, wat toe nie uitgewerk het nie.
Die wyn en kos maak hom vaak – hier eet hy hom nog in ’n toestand van hibernasie – en hy sluimer net in toe sy selfoon lui.
Sy kop is so vol van Sharise, hy dink dadelik aan haar, maar Suzette se naam verskyn op die selfoonskermpie. Tipies, net wanneer hy wil slaap, sal sy bel en hom beveel om haar te kom haal. Hy wil sug, maar hy haal diep asem en antwoord.
“Hallo, Suzette.”
“Darling! How are you?”
“Oukei, en jy?”
“Wonderful, everything is just so wonderful today.”
Haar oordrewe entoesiasme irriteer hom. Hulle het nie te wonderlik afskeid geneem nie.
“Is julle klaar gewerk?”
“That’s why I’m calling.”
Sy moed sak in sy skoene. Hy en sy pa het drie bottels van Rosedal se beste oesjare oopgemaak – by elke skottel ’n ander bottel. Soos hy hier lê, het hy meer as te veel alkohol in sy bloedstroom. Hy het uitgewerk dat dit teen sesuur vanaand op ’n aanvaarbare vlak sal wees om te bestuur, nie nou nie.
“Moet ek jou kom haal?” vra hy nietemin.
“Not today, ek gee jou af.”
Hy hou die sug van verligting vir later.
“Bring hulle jou huis toe?”
“We’re not done yet, my darling man. Jean-Luc decided to do some night shoots, but we still have so much at stake this afternoon, it’s not practical to go home. So they’re booking us into a guesthouse nearby.”
Jacques is so verlig dat hy nie hoef te ry nie, hy wil amper hardop lag. Dis nie die eerste keer dat Suzette skielik haar skedule moet verander nie, en gewoonlik is dit tot haar voordeel – veral finansieel. Hierdie keer is dit tot sy voordeel ook, om redes wat hy liefs nie aan haar sal noem nie.
“Betaal hulle jou darem?” vra hy dan.
“More than I hoped for.”
Die klankie in haar stem is uitdagend en dubbelsinnig, maar dis so gou verby dat hy nie met sekerheid kan sê of hy hom dalk verbeel nie, en hy hou hom dom.
“Gaaf. Wanneer moet ek jou kom haal, of bring hulle jou môre?”
“Ek sal jou bel. Rainy days are forecast from tomorrow evening onwards. Please give my apologies to your mother. And tell her I’m fine.”
“Maak so. Hoor ek weer môre deur die loop van die dag van jou?”
“Towards late afternoon. Bye, darling! Must go!”
Sy verbreek die kontak voor hy kan groet. Die span het seker op haar toegesak. Hy weet hoe dit gaan, want hy het al ’n slag of twee gekyk hoe sy werk. Hy ken nie vir Suzette as hulle haar aangetrek – of uitgetrek – en gegrimeer het nie. Fotograwe val oor mekaar om haar te fotografeer, maar die vrou voor die kameras is byna onherkenbaar.
Blykbaar is sy uitstekende materiaal om mee te werk. Maar soos die span deskundiges met haar tekere gaan, kan hulle seker enige meisie in so ’n verskynsel omtower. Sy moet net die vermoë besit om geduldig te wees terwyl ander haar gesig verf en haar hare kam, soms haar lyf ook verf. Vreemd genoeg het Suzette baie geduld daarmee, anders wil sy alles dadelik hê, selfs seks as sy die dag lus is.
Nou ja, dit sal ook nie vanaand gebeur nie.
Dan glimlag Jacques. Hy is vry, hy kan môre ry waar hy wil, hy kan selfs vanaand ry waar hy wil. Maar nee, hy sal nie die perke oorskry nie. Hy wil regmaak tussen hom en Sharise, en dit kan nie oornag gebeur nie. Of hy sy ouers moet vertel, dit weet hy nog nie. Hy sal wag tot hy sake met haar uitgesorteer het en tot hy seker is van sy eie hart.
Hy draai op sy sy, voel Sharise warm en sag in sy arms. Dit was goed om haar weer te omhels. Hy kan nie anders as om positief te wees nie, selfs opgewonde oor môre. Watter toeval het dit so bewerk dat hy vannag alleen slaap en dat Suzette nie hier is om hom deurmekaar te maak nie?
Hy kan op Sharise fokus, op elke klein herinnering; hy kan sy kop skoon kry. Wanneer die tyd ryp is en hulle twee mekaar weer gevind het, wanneer hy seker is, sal hy na sy ouers gaan en hulle alles vertel, al verloor hy ook sy reg op Rosedal. Hy sal nie weer sy liefde opoffer nie, al moet hy Sharise saamneem Frankryk toe en daar ’n nuwe lewe begin, hom losmaak van sy grond en sy familie. Hy wil gelukkig wees soos toe hy nog ’n seun was. Toe het hy geweet hoe dit voel om smoorverlief te wees.
Van sy kant gaan hy alles moontlik doen om reg te maak. Hy sal haar vergewe dat sy weggegaan het, hy sal haar vergewe dat sy nie sy briewe beantwoord het nie, hy sal haar vergewe dat sy getrou het.
Met dié gedagte oorval die slaap hom, en hy slaap vas tot sy ma hom wakker klop. Dis donker in die kamer en sy klink taamlik histeries.
“Jacques, wat van Suzette? Moet jy haar nie gaan haal nie?”
Hy loop toe-oog deur toe en pluk dit oop. “Sy’t gebel en gesê hulle bly daar in ’n gastehuis omdat hulle wil klaarmaak voor die reën wat van môreaand af voorspel word.”
“Hoekom sê jy nie vir my nie?” Sy ma is ontsteld. “Ek bekommer my morsdood!”
“Julle het geslaap, ek wou julle nie steur nie, en toe slaap ek. Is dit oukei?”
“Ek sou dink jy verlang genoeg om uit te ry en te gaan kyk hoe sy werk.”
“Ma, as jy op een van daai shoots was, was jy op almal, en ek is moeg.”
“Beneuk ook,” brom sy ma.
“Jammer, ek sal van môre af bykom.”
“Dis goed. Jou pa wil jou die verbeteringe by die kelders gaan wys. Hy’s in die studeerkamer, ons wag vir jou daar.”
Oeps! Hy sal ’n storie vir sy pa moet opdis.
Sy ma draai om en hy strompel wasbak toe om die slaap uit sy oë te was. Sy kop werk teen die spoed van wit lig om ’n plan uit te dink. As sy pa hom die kelder wil wys, sal hy seweuur wil ry – en seweuur wil hy by Sharise wees.
Moet hy nie maar sy kaarte op die tafel gooi nie?
Hy trek ’n skoon hemp aan, gooi ’n trui oor sy kop en gaan af eetkamer toe. Die tafel staan gedek, maar sy ouers is nog nie daar nie. Die meisie wat elke keer bedien, is besig om servette op die slaaibordjies neer te sit. Sy lyk so baie na Sharise, hy skrik elke keer as hy haar skielik sien. Maar sy skrik nog groter toe hy naby haar keelskoonmaak.
“Lucy?” vra hy.
“O gonna, meneer! Jammer, meneer!”
“Dis ek wat moet jammer sê. Ek’t nie bedoel om jou te bekruip nie.”
“Is nie meneer se skuld nie, ek’t gedag ek’s alleen.”
“Moet my asseblief nie meneer noem nie, ek is Jacques,” sê hy.
“Is goed, meneer, maar meneer moet dit met Mevrou uitklaar, sy het haar reëls.”
“My ma is streng met julle.”
“Streng maar regverdig, meneer.”
Sy trek die buffet se laai oop, bêre die oorblywende servette en begin aanstaltes maak om te loop.
“Voor jy loop, ek wou vra of jy Sharise van Harte ken.”
“Sharise! Of course, ek ken haar, ons is niggies.”
“Ek’t gewonder of julle familie is, julle lyk baie na mekaar.”
“Ek’s baie lief vir haar, ons is groot vriendinne.”
Jacques wil saamstem oor die baie liefde, maar besef betyds dat dit onvanpas is. “Ons het saam grootgeword, ek en Sharise. Sien jy haar dikwels?”
“Nie soveel soos ek graag wil nie, ons werk al twee. Partykeer kom sy by ouma Maria aan, dan praat ons.”
“Sien jy háár baie – vir ouma Maria?”
“Elke dag! Ek loseer daar. Maar ek moet nou kombuis toe gaan, as meneer my sal verskoon.”
Lucy trek al naby die kombuisdeur, met Jacques agter haar aan.
“Kan ek jou ’n guns vra, Lucy?”
Haar oë is so yslik en verskrik, hy wonder of hy vir haar soos ’n wolf met ’n kwylbek lyk. Sy is pragtig. Baie soos Sharise, maar sy is nie Sharise nie.
“Hang af, meneer. Watse guns?” Haar stemmetjie styg.
“Sê vir ouma Maria ek sal môre vroeër kom om die melkterte op te laai, halfsewe, nie agtuur nie, sal jy?”
“Is dit al?” Sy lyk verlig en dan verbaas. “Mag ek vra watter melkterte?”
“Dis ’n lang storie. Hulle moet na Sharise se teekamer gaan.” Hy glimlag. “Dis jou ouma se plan om seker te maak ons groet mekaar darem dié keer.”
Lucy bloos en kyk af. “Oukei, Sharise wil so graag.”
Dan klap sy haar hand voor haar mond. “Nou’t ek my mond verbygepraat.”
“Nee, ek hou daarvan. Praat Sharise van my?”
“Ja, nogal baie.”
Jacques stut hom met sy hand teen die deurkosyn. “Interessant. Wat sê sy?”
Lucy is nou hoogs benoud. Sy trap rond. “Sommer ... so van hoe julle by ouma Maria gebly het en alles.”
Jacques wil weet watter alles, hy wil bitter graag uitvind hoe Sharise oor hom voel en hier is ’n gulde geleentheid, maar skielik klap sy ma se stem soos ’n sweepslag deur die lug.
“Lucy Isaacs! Staan jy en ginnegaap terwyl jy werk het om te doen?”
“Nee, Mevrou, meneer het my gevra, jammer, Mevrou!”
En soos blits wip sy om en maak dat sy wegkom. Jacques wou haar nog aan die boodskap herinner, maar hy sal nie sy ma nog ’n lat in die hand gee nie.
Hy draai na haar toe. “Ma, was dit nodig?”
“Ek kan jou dieselfde vraag vra.” Louise is ontsteld. Sy praat sag, loop na die kombuisdeur en druk dit toe. “Wat gaan aan met jou?”
“Hoe nou?”
“Is dit nodig om met die kombuismeisies te ginnegaap?”
“Genade, Ma! Jammer as ek haar uit die kombuis gehou het, dit was skaars drie minute. Ek het haar uitgevra oor Maria en almal, dis al, ons het nie geginnegaap nie.”
“Jacques, jy moenie dink ek is onder ’n kalkoen uitgebroei nie. Ek sien hoe die wind waai: jy is weer agter Sharise van Harte aan, en dit terwyl jou verloofde haar doodwerk dwarsdeur die nag!”
Jacques is sprakeloos. Sy ma is sowaar vlymskerp, en sy is steeds nie ten gunste van Sharise nie. Of sy het agter die deur gestaan en afluister. Hier gaan hy nie loskom nie, en as hy hom vererg, is dit verby.
“Ma, ek wou net uitvind hoe dit met Sharise gaan, vanselfsprekend. En die meisie lyk soveel na haar, ek dag ek vra haar. Is dit so ’n groot sonde?”
“Jy staan op trou met ’n wêreldklas-model en jy stel nog belang in kombuismeisies?”
“Sharise is nie juis ’n kombuismeisie nie. Ek hoor sy besit haar eie restaurant.”
“Teekamer, in ’n ou huis, nie juis wat jy ’n restaurant kan noem nie.”
Jacques dink aan die mooi, netjies gerestoureerde huis en die terrastuine, die smaakvolle dekor en deftige gaste.
“Was Ma al daar?”
“Nee, maar ek hoor wat die mense sê.”
“En wat sê hulle?”
“Dis oulik, maar dis nie die Lord Charles Somerset nie.”
“Miskien moet Ma ’n slag soontoe gaan en self uitvind, dán oordeel Ma.”
Sy snork. “Jy moet dink ek is mal. En jy bly daar weg!”
Hy skud sy kop. “Ek gaan, en Ma sal my nie keer nie.”
“Waarheen wil jy nou gaan?” Sy pa staan in die gangdeur, ’n glasie in die hand.
“Hy wil by Sharise van Harte gaan aanlê. Wat was haar getroude van? Strong! Ek dag ons is ontslae van haar!”
“Louise, hulle het saam grootgeword,” paai sy pa.
“En noudat hy groot is?” vra sy ma. “Wat soek hy by haar?”
“Ek wil haar gaan groet, ek wil weet hoe dit met haar gaan.” Jacques voel skielik weer soos ’n klein seuntjie – onder bespreking en in die moeilikheid.
“Laat die kind gaan, anders wonder hy vir die res van sy lewe,” sê Zack.
“Ja, soos jy nog steeds wonder oor daai Zelma Wessels-vroumens!” kap Louise terug.
Dís nuut, dink Jacques.
“Ag, vrou,” sug sy pa. “Jy ryg nou al hierdie derm uit vandat ons op daai simpel skoolreünie was. Jacques, ek het hardop gewonder oor haar, en toe bring een van my ou maats my in die skande en vertel ’n storie vir jou ma wat net halfpad waar is. Louise, gaan ons vanaand eet of gaan ons heelaand staan en stry? Ek is honger, ek het vandag gewerk.”
“Wil jy sê ek het nie gewerk nie?” Louise is reg vir verder stry.
“Jy verdraai my woorde, vrou.”
Jacques kyk op sy horlosie. Hier wil hy nou wegkom.
“Ek gaan uitry Boschendal toe om te gaan kyk hoe vorder Suzette-hulle. Kan ek die BMW kry?”
“Met plesier, maar ek sê nog ons moet vir jou jou eie karretjie koop.”
Sy pa sit sy arm om Jacques se skouers. Dis of daar ’n nuwe kameraadskap tussen hulle is. Het Zelma daarvoor gesorg?
Sy ma tel die klokkie van die tafel af op en lui dit hard.
“Kom ons eet, aangesien jy haastig is,” sê sy hard. “Gaaf om te sien jy stel ten minste belang in jou verloofde se werk.”
Die ete is gedemp, maar almal is hoflik. Omdat Jacques op pad is, drink hy net een glasie wyn, ’n goeie chenin blanc. Ná ete maak sy ma verskoning om die kombuispersoneel in te lig oor die volgende dag se spyskaart. Hy en sy pa gaan studeerkamer toe, waar Lucy met neergeslane oë die koffie bedien.
“Wat ontstel jy tog jou ma so?” vra Zack toe Lucy die deur saggies agter haar toetrek.
Dis koud en daar brand ’n vuur in die kaggel. Dié tydjie wat pa en seun deel, kan geselllig wees, of dit kan die spanning verder opjaag.
“Ek het die indruk gekry dit ontstel Pa ook.”
“Jong ...” Zack staar in die vuur. Hy het vir hom ’n brandewyntjie geskink en verwarm die bolglas in sy bakhande.
Jacques let op dat dit werkershande is. Sy naels is verweerd, al is hulle kort geknip. Sy vel is grof. ’n Litteken loop langs sy linkerduim op en raak weg onder die mou van sy trui. Jacques kan nie onthou waar en hoe sy pa hom so seergemaak het nie. Hy het groot hande wat klippe bymekaar kan maak en boeselmandjies oplig, wat kragopwekkers, lyndrade en besproeiingsnetwerke versien, ’n perd kan beslaan. Zack du Plessis is bekend as ’n hardwerkende man.
“Ek is jammer, Pa,” sê Jacques spontaan. “Ek moes hier gewees het om Pa te help.”
Zack haal sy skouers op. “Ek mis jou soms, maar hier is ’n paar goeie handlangers, en ek het ’n jong mannetjie in die kelder wat goed vaar. Dis net ... hy werk vir ’n salaris.”
“Ja, Pa, ek het ook – in Frankryk.”
“Jou plek is hier.”
“Ek weet, ek besef dit.”
“Dink jy Suzette stel belang?”
“Dit gaan nie hier om Suzette nie, besef Pa dit?”
Sy pa buk oor, tel ’n stomp op en druk dit in die vuur. Daar is ’n rooi gloed teen sy voorkop, ’n diep frons tussen sy oë.
“Jou ma wou my nooit vertel wat destyds met julle gebeur het nie. Dit was tussen jou en die Sharise-meisiekind en jou ma. Dit het haar só ontstel as ek haar daaroor uitvra dat ek later opgegee het. Ek kan jou dít sê: ek het Sharise geblameer omdat sy betrokke was en jy daarom weg is. Sy het ook nooit weer haar gesig by ons gewys nie.”
“Wat baie onregverdig was, want dit was nie haar skuld nie.”
“Ek het Maria ook gaan vra, maar sy weet nog minder. Niemand weet iets nie, net julle drie. Wie se kant moet ek kies? Jou ma is baie erg oor jou; die enigste seun beteken baie vir ’n moeder. Sy verlang na jou, Jacques. Sy wil jou terughê. En sy hou van Suzette, hulle het vriende gemaak.”
“En Pa?”
“Jy moet liewer nie my mening vra nie.”
“Nee, Pa, wees ’n slag eerlik. Ek kan Pa vertel wat daai dag gebeur het, man tot man. Dit sal my help as Pa my raad kan gee, ek het raad nodig.”
Zack kyk op. Die uitdrukking in sy oë is die ene verbasing. Dat sy seun hom in sy vertroue wil neem!
Jacques besef dit. Ook dat hy sy pa nog nooit toegelaat het om in sy hart te kyk nie. Hy het maar net grootgeword ná daardie dag, en van toe af sy eie lewe hanteer. Hy het in sy dop gekruip vir jare, tot Suzette hom met haar skoonheid en sensualiteit verlei het. Hy kon in die eerste plek sy liggaam met haar deel, en hier en daar van sy gedagtes, maar nog nie sy siel en sy lewe nie, nog nie homself nie.
“Ek is ’n eenvoudige man, ek boer,” sê Zack sag.
“Maar Pa is ’n man.”
“Jy en daai klein Sharise was altyd soos twee karperdjies, alles saam gedoen. Sy is jonger as jy, maar jy kon sweer julle was in dieselfde klas. Sy is ’n mooi meisiekind, en haar teekamer doen goed – ek’t gesien in die koerant, durf dit nie vir jou ma wys nie. Maar miskien het sy ook gesien. Ons vermy getrou die onderwerp.”
“En Sharise, het Pa weer met haar gepraat?”
“Nie gepraat nie, op ’n afstand gesien by Maria se huis, in haar kar ook as sy verbyry. Ons groet altyd. Ek moet jou ma ondersteun, al weet ek nie presies waaroor nie. Lamlendig, nè? Maar ek wil in vrede leef en ... ek is lief vir jou ma.”
“Ek ook, Pa.”
“Wil jy gelukkig wees?”
“Ons wil almal gelukkig wees.”
“Ja, maar jy.”
“Pa, ek en Suzette ... sy het probleme.”
“Die kos?”
“Ek kry swaar, ek kan nie vir Pa sê hoe swaar nie.”
“Ek dink jou ma het ’n voorsmakie gehad. Sy hoop dat dit ná die troue beter sal gaan.”
Jacques sit sy koffiekoppie neer. “Suzette is onvoorspelbaar, maar ek gee om vir haar. As Sharise van Harte nog getroud was, sou ek Suzette miskien gevra het. Maar nou is Sharise vry. Ek moet haar sien. Ek het ’n ding oor haar.”
“Jou eerste liefde?”
“Eerste groot liefde. Ons wou trou, ons sou, as dit nie was vir daardie dag nie.”
“Jou ma kan nie aanvaar dat jy met een van die werkers se dogter wou afhaak nie. Sy het dit oor die standverskil.”
“En Pa?”
“Was vir my ook moeilik, maar tye verander.”
“Kan ek Pa ’n guns vra? Ek was gister by ouma Maria en sy het ’n plan uitgedink. Sy wil hê ek moet môreoggend melkterte restaurant toe neem, maar Ma sê Pa wil my kelder toe vat ...”
Sy pa lag. “Gaan, vat die melktert, dan kom jy agterna kelder toe. Ek sal heeldag daar besig wees.”
“Dankie, Pa. Gee Pa om as ek die BMW vanaand gebruik en uitry Boschendal toe?”
“Boschendal toe, of na ... wat is Sharise se teekamer se naam?”
“Ek belowe Pa ek gaan nie soontoe nie. Môreoggend, nie vanaand nie.”
“So, jy voel nog vir Suzette?”
“Ek het ’n gevoel ek moet vanaand na haar gaan soek, dis al.”
Zack vra nie verder uit nie, ook nie oor die voorval wat daartoe gelei het dat Jacques oorsee is en daar gebly het nie. Hy besef opnuut dat sy pa ’n bogemiddeld geduldige en sensitiewe mens is. Dis waarskynlik die rede hoekom hy en Louise reeds ses-en-dertig jaar getroud gebly het. Sy is ’n talentvolle vrou met dryfkrag en vaste idees oor haar huis en haar gesin, ’n perfeksionis wat altyd hoër streef – nes sy pa. Sy pa wil op sy beste boer en hy slaag daarin. Maar sy ma kan nie stop nie, sy wil nog beter as haar beste, en sy verafgod haar huis.
Jacques kan dit verstaan. Sy het ’n leeftyd geneem om dit na haar smaak in te rig. Sy sal dit nie aan enige armsalige gesiggie oorgee nie, veral nie aan ’n meisie wat in een van Rosedal se werkershuise grootgeword het nie.
Hy verstaan dit, maar Sharise is anders. Sy is net so talentvol soos sy ma, en Soete Verleiding is enige tyd net so stylvol soos Rosedal. Maar sy ma wou haar nie ’n kans gee nie, het nooit moeite gedoen om haar te ken nie.
Jacques is trots op Sharise. As hy ooit sover kom om sy pa te vertel, sal hy hom nie onnodige besonderhede gee nie. Hy sal sê sy ma het hulle saam in die stort betrap en die res aan sy pa se verbeelding oorlaat. Dinge vervaag met die tyd, en dalk het sy ma al vergeet wat sy presies gesien het.