Читать книгу Satyn Omnibus 2 - Helena Hugo - Страница 8

Оглавление

5

Louise het die tafel vir die spesiale aandete met erfstukke en Kaapse blomme gedek. Die vyfgangmaaltyd word met sorg bedien deur twee netjiese jong kelners wat aan Jacques voorgestel word as Donald en Lucy.

Hulle is aantreklike mense, deftig in swart en wit geklee. Hulle bedien die kos en wyn geruisloos en professioneel. Donald maak die wyn oop en skink dit soos ’n maître d’hotel, met selfvertroue en panache, alte swierig. Sy hemp is kraakwit, so ook die vadoek wat oor sy arm hang. Lucy is skaam-vriendelik en fyntjies mooi, haar welige swart hare in ’n Franse rol.

Sy lyk vir Jacques so baie na Sharise dat hy skrik. Hy dink weer daaraan dat hy haar by die werkershuise gesien het. Hy wil graag glo dat dit Sharise was, maar dit kon hierdie meisie ook gewees het.

Hy moet daarop konsentreer om haar nie aan te staar nie, nie agterna te kyk nie. Netnou toe hulle by die werkershuise verby is, het hy opsetlik niks gesê oor die ou vrou en die jong meisie wat hy daar gesien het nie. Sy pa se kortaf antwoord nadat hy vroeër oor Sharise verneem het, was genoeg om sy mond te snoer – veral vanaand aan sy ma se etenstafel.

Sharise sal nie hier genoem word nie, nooit! Maar pla dit nie sy ma dat dié Lucy so baie op Sharise trek nie? Of is dit net hý wat Sharise in elke fyngeboude donkerkopmeisie sien?

Konsentreer op die ete, sê hy vir homself. Vergeet vir vanaand dat jy terug is in jou ou omgewing, en dat sy hier iewers is.

“Op Rosedal en op die toekoms!” sê Zack en lig sy glas.

“Op Rosedal en die toekoms,” sê Jacques en dink aan Sharise.

“Op jou en Suzette!” sê Louise.

Die hand waarmee Jacques die wynglas lig, bewe liggies. Ter wille van die skyn kyk hy vlugtig na Suzette, glimlag selfs. Sy pa het die beste uit sy kelder gekies. Dis werklik spesiaal, sy ma se kos ook. Alles is so perfek en smaakvol dat Jacques sy gedagtes aan Sharise met mening onderdruk.

Hy geniet elke happie, al sien hy hoe Suzette maak of sy eet: twee klein skeppies consommé afwurg, die kreef thermidor verder uitpluis, net een happie in haar mond steek. Die escalope van kalfsvleis, die hoender fricasée en paupiettes raak haar oor; sy weier die nagereg van gâteau au chocolat en glace à la fraise; sy laat die kaasbord by haar verbygaan. Sy het die ete met ’n chardonnay begin en hou daarby. Maar heeltyd swymel sy oor Louise se kookkuns en oom Zack se wyn. Jacques let op dat sy groente eet en baie stadig kou. Sy sluk asof sy ’n heel volstruiseier moet afwurg.

Hy sien hoe sy pa sy wenkbroue lig toe sy die soveelste bord met ’n gefrommelde servet bedek en vir Lucy aangee om kombuis toe te neem. Sy en Lucy is blykbaar kop in een mus, want Suzette kry elke keer weer ’n skoon servet. Jacques se ma het haar sinne verloor, sy is blind en doof vir die klugspel. Of dalk het sy en Suzette dit vooraf afgespreek. Jacques ken Suzette se dieetgrille, maar hy glo nie sy pa weet nie, tensy sy ma hom ingelig het.

Hy en sy pa maak op vir Suzette en eet soos wolwe, beskaafde wolwe darem, wat hul wyn ook waardeer. Bekroonde oesjare word oopgemaak en deeglik bespreek. Hulle vermy die onderwerpe waaroor hulle haaks kan raak soos brandewynversnyding, en praat oor nuwe wingerdvariëteite en ekologies volhoubare boerderymetodes. Hulle is dit hartroerend eens daaroor, ook Suzette, wat ’n verskoning kry om haar kos te vergeet en opgewonde te raak oor die bewaring van witkruisarende, vleivalke en die Afrika-grasuil. Jacques is naderhand geamuseerd, want sy het voorheen net mooi niks van hierdie voëls geweet nie, maar sy het duidelik haar huiswerk gedoen.

Dis ’n goeie weersiens. Suzette dra ’n laag uitgeholde rok en haar vol borste swel sensueel, veral toe sy begin opgewonde raak oor die grasuile. Die kerslig speel op die rondings en raak weg in die spleet waar die twee bymekaarkom. Die goue hart van die hangertjie wat hy ’n tyd terug vir haar gegee het, lê met sy punt reg op die spleet. Dit laat sy hande jeuk. Haar borste is nou wel vergrotings gedoen deur ’n plastiese sjirurg, maar dit voel eg en sag, en die tepels werk normaal. Ten minste is haar vel haar eie, en dis heuningbruin en vlekkeloos.

Terwyl Jacques en sy pa en ma hul nagereg eet, beduie sy hoe sy eenkeer saam met uile moes poseer.

“Dit was vir nagklere, en hulle het heeltyd gesit en slaap! Maar een het wakker geword en sy vlerk gestrek. Toe haal die foto die voorblad. Kan julle glo, dit was my eerste voorblad – net omdat ’n uil sy vlerk gerek het! Seker dié dat ek hulle so graag die lewe gun.”

As Suzette so flap met haar kunsmatige wimpers en vroetel met haar goed versorgde hande, lyk sy so ingetoë en beskeie, dink Jacques, dat iemand wat nié van haar hou nie, baie onregverdig sal wees. Sy ouers kyk albei met deernisvolle oë na die brose wese wat hul seun se hart gesteel het en trane in haar oë kry oor die Afrika-uile wat soveel vir haar loopbaan beteken het en nou gaan uitsterf.

Jacques voer haar drie teelepels van sy roomys sodat sy kan proe sonder om skuldig te voel. Roomys is immers haar swak in die lewe.

Ná ete verkas hulle almal sitkamer toe, waar Louise met Lucy se hulp sjokolade, koffie en likeur bedien.

Suzette kan haarself nie meer keer nie, sy eet eers een en dan ’n tweede Switserse sjokolade, drink haar hele glasie likeur. Dis van verligting omdat sy nie ingegee het aan tafel nie, dis haar beloning vir haarself en haar bomenslike wilskrag.

Toe sy ’n vierde sjokolade neem, weet Jacques ook dat sy die stryd verloor het en vannag heelnag gaan opgooi. Hy wens hy kan in sy kar klim en ry, iewers in ’n hotel gaan slaap, want hy sal byderhand moet wees om haar gesig af te vee.

“Jacques, maar vat dit weg!” Sy lees seker sy gedagtes. “Voor ek nog een neem.”

“O, ek kan ’n hele boks opeet,” erken Louise.

“Ek ook, maar ek mag nie!”

“Jacques ...!” Louise kyk streng na haar seun.

Zack skink die likeurglasies weer vol, Suzette s’n ook.

“O nee!” roep sy uit. “Ek het vanaand só geëet en gedrink, ek sal môre nie in Jean-Luc se klere pas nie!”

Suzette sit graag skuins en gooi dan haar een lang been oor die ander een. Vanaand doen sy dit weer so uitlokkend, selfs Zack kan nie help om te kyk nie. Die swart wolrok wat sy aanhet, pas soos ’n tweede vel en is besig om onbehoorlik ver bokant haar knieë op te skuif. Sy doen dit aspris, maar vir wie? wonder Jacques.

Hy staan op, vat die glasbord met sjokolade en loop daarmee uit. Hy is van plan om dit op die eetkamertafel neer te sit, ver genoeg. Vir hom is die aand bederf, want as Suzette met haar dieet en Jean-Luc se klere begin, slaan sy ore toe. Hy wil dit nie hoor nie en dis waaroor dit nou gaan, hy hoor sy ma en Suzette terwyl hy wegstap. Hulle praat oor die hongerly-lewe van internasionale modelle, én oor Suzette se lyf.

Jacques grinnik in sy mou. Sy pa skink seker nou vir hom nog ’n stywe Drambuie en versluk hom daaraan, of is hy teen hierdie tyd gewoond aan die vroumense se geklets? Miskien is likeur nodig om hom te kalmeer as Suzette ’n slag haar rok so hoog oor haar knieë opskuif.

Jacques wil by die eetkamerdeur ingaan toe hy ’n manstem hoor. Klink soos Donald die kelner.

“Sharise jou gesê?” vra hy.

“Jy bars as jy gaan oorvertel!”

Die meisie wat heelaand so bedees was, klink so parmantig dat Jacques in sy voetspore stol.

Het hy reg gehoor? Hy gaan staan met sy rug teen die gangmuur en luister. Hulle is besig om die tafeldoek op te vou, en hulle stry.

“Help my vou aan die tafellap. Almal ken die storie, jy kan vir Myrna ook vra.”

“Wat sal ek sulke dinge gaan uitvis? Dis vroumensgoed.”

“Ag, jy’s vrek nuuskierig, ek kan sien. Jy vou verkeerd, diékant om! Hulle was soos een mens, sy en mister Jacques, amper verloof en getroud. Nou die dag nog sê sy hy is haar eerste liefde gewees.”

“Toe trou sy daai gangster van ’n Jermaine Strong. G’n wonder sy’t haar van teruggevat toe hy doodverongeluk het nie, ek sou ook.”

“Alhoewel, Strong pas by haar.”

“Van Harte ook.”

“O, moenie vir my sê jy kyk vir haar nie!”

“Hoe sal ek vir haar kyk, ek werk vir haar.”

“Sy’s mooi.”

“Ja, mooier as hierdie plankdun een wat so mors met goeie kos!”

“Hy laaik haar. Sharise sal moet spring as sy hom wil terugkry.”

“Wil sy? Moet ek die soutpotte afbring?”

“Bring, ons bêre dit in die kombuis ...”

En weg is hulle.

Jacques span sy ore in, maar hy hoor niks verder nie. Hy loer versigtig om die hoek. Die lampe op die buffet gooi sagte lig oor die vertrek, maar daar is geen teken van die twee nie. En hy weet steeds nie wat Sharise nou van hom dink nie.

Hy was wel haar eerste groot liefde, daarvan is hy seker, maar of hy haar laaste is, dis ’n ope vraag. Intussen het hy vir Suzette. Dit maak hom moeilik as iemand so neerhalend oor sy keuse van ’n meisie praat. Wie is dié kelnertjie? Al is Suzette plankdun, seks met haar is prima, en daarvan kan Donald maar vergeet.

Asof sy geroep is, verskyn Suzette skielik in die deur. Sy is begeerlik en hy het haar gemis.

“Jacques, where are you?” vra sy.

“Ek eet gou al die sjokolade op voor jy en my ma julle vergryp,” paai hy.

“I’m going to my room. Have to get up at five tomorrow morning.”

Sy ma kom staan agter haar. “Sy kan nie lyk asof sy heelnag haar verloofde onthaal het nie.” Sy sit haar arm om Suzette en gee haar ’n drukkie.

Is dit ’n skimp dat hy uit haar kamer moet bly of ’n waarskuwing dat hy nie te laat moet kuier nie? Louise is nie meer so konserwatief oor paartjies en saamwoon nie; sy het die reëling tussen hom en Suzette sonder ’n oogknip aanvaar. Hy vermoed tog onder die voorwaarde van die hangende verlowing.

Maar hulle is nog nie verloof nie, al praat Louise van verloofdes. Is dit om haar eie gewete te stil? Zack is soos altyd versigtig om sy mening te lug, en seker ook verblind deur Suzette se skoonheid en oënskynlike onskuld.

“Kom, my meisie,” sê Jacques en neem haar hand. “Nag, Ma, nag, Pa.”

“Nag, Louise, nag, oom Zack.”

Suzette en sy ma is dik vriendinne en op voornaamterme, dink Jacques, maar sy het nog respek vir sy pa.

“Nag, julle jongmense,” brom Zack.

“Julle moet sê as julle iets nodig het,” roep Louise hulle agterna.

Op die trapportaal draai Jacques om en sien hulle staan nog en opkyk. Hy hou Suzette se kamerdeur vir haar oop, en gee haar ’n piksoentjie.

“Your place or mine?” fluister hy in haar oor.

“Will see,” fluister sy terug. “Ek moet eers bad.”

“Sonder my?”

“Seblief.”

“Oukei, wag vir jou.”

Hy het sy arms om haar, maar voor hy sy hande oor haar rug laat afgly, loer hy vinnig weer ondertoe. Sy ouers het intussen verkas en hy trek Suzette hard nader.

“Your parents ...” wil sy keer.

“Hulle is weg,” grom hy en kry haar aan haar boudjies beet. Dis so plat daar, hy wonder soms hoe sy dit regkry om normaal te sit. Dalk dié dat haar rok opskuif.

“Jou rok het netnou so hoog opgeskuif, ek moes die kamer verlaat.”

“Really?”

“Jy nie agtergekom nie?”

“Ek’t kouse aan en die kaggelvuur was warm.” Sy druk haar een knie tussen sy bene in, skuur hom saggies waar dit saak maak.

’n Benoudheid met geen keer nie sak op hom toe. “Wil jy hê ek moet nou inkom?” kreun hy.

Sy laat sak haar been en staan met haar rug teen die breë deurkosyn, steek uitdagend haar tong vir hom uit. Hy kan nie anders nie, hy pak haar beet en soen haar tot sy nie anders kan nie, haar bene vou om sy lyf en haar rok rek en skuif saam.

“Demmit, hierdie rok van jou is in die pad!”

Sy giggel, haar mond proe na Kirsch en sjokolade. “Do you want me to take it off?”

Vergete is sy besluit om sy deur te sluit en nie naby haar te gaan nie. Die herinnering aan Sharise was netnou te intens. Dit was op slot van sake in hierdie kamer waar hy haar ook die laaste keer teen hom vasgedruk het.

Hy kan die aakligheid van daardie dag uitwis met nuwe herinneringe tussen hom en Suzette, ’n volle drie weke se ontbering omkeer en sy ewewig terugkry. Die gastevleuel is ver van die hoofslaapkamer – as hy haar vooraf waarsku, behoort sy haar gille onder beheer te hou. En hy kan die spoke van die verlede vir goed besweer.

“Kom stort ... saam met ... my,” hyg hy tussen die soene deur.

Haar ellendige sykouse sit so styf, dis net so erg soos daardie sellofaanverpakkings wat nie sonder ’n mes of skêr gestrip kan word nie. Hy sukkel om dit af te trek en terselfdertyd sy balans te hou.

Skielik glip sy van hom af. “Ek wil liewer bad.”

“Oukei,” sê hy gretig.

“Alleen.”

Tipies Suzette. Sy lyk so toegeeflik, maar sy hou van hierdie soort kat-en-muis-speletjies. Hy val daarby in omdat hy weet wat goed is vir hom. Hy laat haar gaan en loop na sy eie kamer, waar hy uittrek, vinnig stort en op sy bed gaan lê.

Die leeslamp met die dun porseleinskerm is aan, en hy lê op sy rug en kyk op na die geel plafon met die oranje en goue Art Deco-rose net onder die kroonlys en om die hooflig se aansluiting. Die lampskerm van geel en oranje gebrandskilderde glas is ’n kunswerk – een van Louise se beste pogings. Sy is ’n verbete restoureerder en tuisteskepper.

Die kamer was blou en sy het dit in oranje en geel oorgedoen – asof hy nie sal weet watter kamer hierdie is nie. Skielik tref dit hom weer dat hy terug is, by die huis, en nie in sy eie kamer nie, soos ’n gas in die gastevleuel om naby Suzette te kan wees. Hulle is nou ’n paartjie; die strop is om sy nek; dit sal kort voor lank stywer getrek en vasgeknoop word.

Sy ma het in Parys al begin skimp, en sy gaan hom môre vra wat sy plan is. Vir al wat hy weet, het sy en Suzette al die datum van die verlowingspartytjie vasgestel. En saam na ringe gaan kyk sodat Suzette net haar bestelling by hom kan plaas.

Hy voel skielik doodbenoud, hy voel soos ’n fout wat besig is om te gebeur. Sy ma weet nie alles van Suzette nie. Sy lyk op die oog af gelukkig, en in die laaste tyd gaan dit beter, hoewel hy bekommerd is oor vanaand se ete. Soos hy haar ken, sal sy nie vanaand wil praat nie – net doen. Maar een of ander tyd sal hulle moet praat. ’n Huwelik is ’n lewenslange verbintenis, en jy moet mekaar in ag neem. In hierdie verhouding is hy die een wat gee en gee ...

Suzette het byvoorbeeld ’n uur nodig om te bad, soms langer. Hy is moeg, dit kom hy nou agter, en vaak. Hy slaap nie te lekker voor ’n lang vlug nie en het ook nie in die vliegtuig vas geslaap nie. Hy gaap. Hy sal iets moet doen om wakker te bly. Dalk lees, van die tydskrifte en koerante op die ottoman aan die bed se voetenent. Hy buk oor en neem die eerste een wat hy raak vat.

Dis die plaaslike koerantjie. Hy stut hom op sy elmboog en begin dit van agter af deurblaai. Nog maar dieselfde okkasies: skolesport, stoei, krieket, toutrekspanne, familiesaamtrekke, wynproegeleenthede, die heemgroep se herdenkingsfees, ’n bekende egpaar wat hul diamantbruilof vier. Hy lees die berig omdat hy die oom en tannie herken, kyk behoorlik na die groot familiefoto. Daar sien hy een van sy skoolmaats, getroud met sy matriekmeisie, twee kindertjies. Bly hy iewers agter? Op dertig is jou lewe darem nog nie verby nie. Hy gaap vreeslik, blaai verder sonder om juis in te neem wat op die vaal bladsye staan.

Maar ’n advertensie in ’n hartvormige raamwerk trek sy aandag.

Heel bo op die ronding van die hart staan Soete Verleiding in druppende versiersuikerletters. Binne-in:

Koeksisters en kolwyntjies, melktert en rosynebrood, suikerbolletjies, lallimala en tameletjies! Tradisioneel en vars gebak, tee en koffie.

Kuier saam en word verlei met die soetheid van die Kaap. Sondagbuffet, elke eerste Sondag van die maand, R110 per persoon, kinders halfprys. Ontbyt en ligte etes word ook bedien. Heerlike kerrievis en kreef in seisoen.

Laat my toe om jou te verlei.

Sharise van Harte.

Sy hart maak ’n bokspring toe hy die naam en die telefoonnommer sien. Hy is op die punt om dit uit te skeur, toe hy hom bedink en dit in sy selfoon intik. Van hier af volg hy sy eie instink, besluit hy. As hy deur die loop van die week daar uitkom, is dit in sy sterre geskryf. Dan moet hy Sharise weer sien. Miskien vat hy vir Suzette saam. Sy is immers die vrou met wie hy sy lewe die laaste tyd deel, en volgens alle aanduidings die vrou met wie hy gaan trou.

Hy grinnik. Sexy Suzette ...

Toe hy vyf minute later aan haar kamerdeur klop, kerm en kreun sy. “Go away, please go.”

Vreemd hoe verlig hy is. Hy kry dit selfs reg om nie te stry nie, eerder besorg te vra: “Is jy siek?”

“Like a dog. I had too much chocolate.”

“Moet ek vir jou iets bring?”

“No, I’ll be fine.”

“Oukei, maar bel my op my sel as jy my nodig kry.”

“Make sure I’m up and going by five. First shoot’s at Boschendal, I must be there at seven.” Sy kreun jammerlik. “It’s your mother’s food. It’s killing me.”

Hy ignoreer die verwysing na sy ma se kos. Hy het alles geëet en hy voel glad nie sleg nie. Sy het ’n porsie slaai en groente in, een glas witwyn en toe die hand vol sjokolade en twee glasies likeur. Geen wonder sy is naar nie. Saam met haar skuldige gewete oor kos behoort dit gevaar te spel.

“Goed, slaap nou.”

“Don’t be cross with me.”

“Ek sal jou vyfuur kom wakker maak.”

“Love you.”

Hy antwoord haar nie, loop reguit terug kamer toe en sluit sy deur.

Hy moes by sy eerste besluit gebly het en haar in die duister en op haar plek gehou het tot hy Sharise gesien het. Want kyk wat doen sy hom aan: behandel hom soos ’n hondjie wat buite moet slaap.

Satyn Omnibus 2

Подняться наверх