Читать книгу Satyn Omnibus 2 - Helena Hugo - Страница 5
Оглавление2
Maar Lucy is nog by die werk en sy werk glo laat, want Rosedal se mense het vandag die gemeste kalf geslag. Sharise hou haar dom en vra of iemand verjaar. Ouma Maria se oë blink.
“Nee, Jacques kom terug van Frankryk, dis ’n groot okkasie en dis vanaand! Lucy het daai mannetjie wat by jou werk, gevra om te help by die tafel. Wat is sy naam?”
“Donald.”
“Donald. Ek dink die tweetjies is verlief.”
Dis hoekom Lucy haar nie inlig nie – sy en Donald is te besig, dink Sharise.
Gelukkig is ouma Maria vanmiddag baie spraaksaam. Sy antwoord onwetend al die vrae wat Sharise vir Lucy wou vra. Dis einste Lucy wat die inligting aangedra het oor Jacques en sy wêreldberoemde vriendin. Sy kry alles eerstehands en praat baie wanneer sy ouma Maria help kook en bak.
“Dis wat ek gehoor het, my kind. En Lucy sal nie kom liegstories praat nie, nie in my kombuis nie.”
Ouma Maria weet nie van Sharise en Lucy se ooreenkoms nie: dat elke stukkie en brokkie wat sy oor Jacques te wete kom, so gou as moontlik by Sharise moet uitkom. Lucy het gebel en vertel dat hulle hom verwag. Maar vandag!
“Nou toe nou,” is al kommentaar wat Sharise kan lewer.
Onder die tafel wring sy haar hande saam en krul haar tone om nie te opgewonde te lyk nie. Ouma Maria is besig om die roseteepotjie se gehekelde mussie op te sit. Sy werk so versigtig asof sy ’n baba aantrek en konsentreer gelukkig só dat sy nie die blos op Sharise se wange sien nie.
Ouma Maria stoot die teepotjie met die mus stadig tussen die rosekoppietjies in. Dis pragtige fyn porselein wat sy sestig jaar gelede vir ’n trougeskenk by oorlede Francis du Plessis van die groothuis gekry het. Anders sou daar nooit sulke durabele porselein in dié eenvoudige huisie beland het nie. Dis mooi, dis Victoriaans, dis iets uit ’n vorige lewe wat gereeld vir gaste gebruik word en nie in die vertoonkas staan en pronk nie.
Ouma Maria het baie oor hoëklas-gewoontes in die groothuis geleer. Vir haarself maak sy heuningtee in haar wit enemmelpotjie wat sy eenkant op die stoof laat prut, maar dek haar kuiertafel met haar roseteestel en goeie Ceylontee. In die somer kuier hulle om die tuintafel op die stoep onder die rankdruiwe, in die winter by die skoongeskropte kombuistafel met sy geborduurde tafeldoek en rosekoppies.
Hoe die tee ook al bedien word, sy roer altyd ’n knypie kardemomsaad en ’n bietjie droë gemmer in. Sharise ruik dit, die skerp, soet geur – eksoties Oosters soos haar innigste drome. Ouma Maria steek ’n skyf soetlemoenkonfyt af en sit dit in ’n koekbordjie voor Sharise neer.
“Dis van die nuwe seisoen se lemoene.”
“Dankie, Ouma.”
“Jacques is terug, jy kan my glo.” Ouma Maria se hande vou weer om die teepotjie. “Sy pa het vanmiddag Kaapse lughawe toe gery om hom te gaan haal. Onthou jy hom nog?”
Sharise glimlag; natuurlik onthou sy hom. Maar dis haar ouma se manier: elke keer as sy van Jacques praat, vra sy doodernstig of Sharise onthou.
“Ja, Ouma, ek onthou.”
Sharise is versigtig om sy naam te veel voor haar ouma te noem, en sy het Lucy die dood voor oë gesweer as sy begin rondvertel dat sy navraag doen. Lucy is getrou aan haar woord. Maar Sharise sal nie vir Lucy vertel hoe sy diep in haar hart voel nie, hoe sy in die stilligheid hoop en verlang nie.
Sy droom van Jacques; sy het selfs in Jermaine se arms van hom gedroom. Later elke keer wanneer hy haar beetgepak het, haar oë toegemaak en Jacques se gesig voor haar gesien. Jermaine het dit agtergekom, haar een keer geklap en gesê sy moet vir hom kyk terwyl hy met haar besig is, hy wil weet sy is by hóm en nie in haar verbeelding op een of ander tropiese eiland in Brad Pitt se arms nie.
Jermaine was ook nie ’n fool nie, hy het gou agtergekom sy het nie veel liefde of respek vir hom oor nie. Hoe anders, sy moes haar kop wegdraai om nie sy drankasem te ruik nie. Gelukkig was hy gewoonlik te haastig om om te gee. Klim op en kry klaar, dit was sy styl. En dan moet sy agterna wag tot hy snork en saggies uit die bed klim en in die badkamer gaan huil.
Jacques sal nie so wees nie. Hy sal haar voor die tyd saggies liefkoos, en agterna sal hulle praat en gesels en die dag se dinge met mekaar deel. Nie soos sy en Jermaine nie. Hy was altyd aan die jaag iewers heen, vinnig in en uit op sy bike. Sy lewe ’n duisternis en ’n geheimsinnige gekonkel in die donker, wat dikwels laat nagte ingesluit het en plekke waar sy nie welkom was nie. Daar was ander vroue daar – dit het die skinderbekke haar deeglik onder die aandag gebring.
“Kan sien jy dink ver,” dring haar ouma se stem tot haar deur.
Sy skrik en gaap agter haar hand. “Nee, Ouma, ek’s net bietjie vaak ná laas nag.”
“Ek wens ek kan hom weer sien.”
“Vir Jacques?”
“Hy was darem een van my grootmaakkinders. En jy?”
Sharise haal haar skouers op. Dis moeilik om haar gesigsuitdrukking neutraal te hou. “Sy ouers kan seker nie wag nie.”
“Nes twee korhane oor ’n enkele kuiken, en hulle het tog die twee meisies ook.”
“Hy is die enigste seun, en hulle hoop seker hy kom terug vir Rosedal. Colette en Teresa het klaar geëmigreer.”
Sharise weet een ding: hy het nog nie die land permanent verlaat nie, en dit gee haar hoop.
“Die ryk mense se kinders kry almal koers. Suid-Afrika is nie meer goed genoeg nie,” sê haar ouma.
“Miskien is dit omdat hulle nie meer so seker is van hulle erfgoed nie,” probeer Sharise die Du Plessis-kinders verdedig, al hoor sy ook die laaste tyd min van Colette en Teresa, wat darem met haar verjaardag en Kersfees ’n briefie in die pos gegooi het.
“Hierdie plaas sal makliker in vreemde hande val as Jacques vir die res van sy lewe in Frankryk bly sit.” Ouma Maria klink bekommerd. Haar aftreehuisie is immers ook op Rosedal.
“Dis nog sy plaas,” paai Sharise. “Miskien het hy besluit om sy plig te kom doen.”
“Ja,” sug ouma Maria. “Dis sy grond en sy goed, en sy pa en ma raak nie jonger nie.”
“Ek wonder ook soms wat gaan word,” erken Sharise.
Met die indraai by Rosedal se hek het sy juis weer die woorde op die uithangbordjie raakgesien: J. P. du Plessis en seun.
Dit het haar soos ’n pyl in die krop getref: en seun. Jacques du Plessis is die man van haar hart, die een wat weg is en in die proses ’n stuk van haar hart uitgeskeur het. Nou is hy terug! Sy kan dit net sowel erken: sy sien ook uit daarna om hom weer te sien. Maar of hy daarin belangstel om háár te sien, is ’n ander storie.
Hy het immers haar hart gebreek en flenters getrap. Haar nie vasgehou nie, nie opgetel en met liefde vertroetel nie, nee, hy was te bly om van haar ontslae te raak. In ’n sekere sin is hy niks beter as Jermaine nie. Die herinnering aan die dag toe hulle uitmekaar is, maak haar benoud en bring trane in haar oë.
Onthou hy dit nog, of het hy vergeet?
Sy wil nie opkyk nie; sy hou haar ouma se hande dop. Ou hande met dik rumatiekknoppe by die vingers se litte, ’n dungeslyte trouring aan die linkerhand. Haar ouma was gelukkig getroud. Sy is ’n gelukkige weduwee, ’n vrou wat haar huiswerk geniet en steeds die heerlikste fyngebak en soetgoed aan haar kleindogter se teekamer lewer. Noudat Sharise ligte etes bedien, maak sy ook spesiale kerriedisse en poedings.
Sharise wil haar bedank vir die lensiekerrie en sagopoeding wat die buffetgaste gister so hoog aangeprys het. Maar haar ouma dink nie aan kos nie, sy gee ’n skelm laggie.
“Ek wonder baie wat sal gebeur as julle mekaar ná al die jare weer ontmoet. Ek het julle grootgemaak, ek kan seker.”
“Ja, Ouma.”
“Ek onthou vandag nog so helder hoe julle saamgespeel het, onskuldige kinders. Kaalstert in daai plastiekdammetjie. Onthou jy die plastiekdammetjie onder die appelkoosboom?”
Sharise bloos. Haar ouma kan so sê wat sy dink sonder om te weet wat haar woorde alles ontketen.
“Ja, vaagweg,” erken sy.
Sy kyk deur die venster na die kaal takke van die appelkoosboom in die agterplaas. Dis vanmiddag so koud buite, sy kan amper nie glo dat hulle somers hier agter geswem het nie.
“Dit was jy en Jacques en sy twee sussies, julle was my laatlammetjies. Hier saam met mekaar gespeel – heeldag in die water en in die modder.”
“Ons het darem intussen grootgeword.”
“Jy’s reg, daardie tyd is vir altyd verby. Julle is groot en uitgegroei. Colette en Teresa het dan al kindertjies in Australië. Dis nog net jy en Jacques, en julle is stadig.”
“Ouma, ek was getroud.”
“Met die verkeerde man, en ek gaan niks verder sê nie. ’n Mens praat nie sleg van die dooies nie.”
Sharise voel soms sy moet Jermaine verdedig. Want was dit nie vir sy voorsienigheid nie, was sy nog steeds kelnerin in iemand anders se restaurant. En op af tye, vir ekstra geld, aan die konfyt kook en blatjang maak dat dit so sweet.
“Hy was nie net verkeerd nie.”
“Hm, slim genoeg om vir hom ’n life policy uit te neem.”
“Daarvoor is ek hom ewig dankbaar.”
“Sharise, my kind ...” Ouma Maria kyk na Sharise met ’n ernstige uitdrukking in haar oë, ’n jammerte ook. “Nou moet ek jou iets vertel, en dit gaan swaar van my af. Maar ek voel ek moet jou waarsku.”
Ouma Maria skuif die suikerpot reg, sy haal diep asem. “Jacques is nog nie getroud nie. Maar hy en die meisie van hom lyk ernstig. Sy kuier al amper twee weke hier by sy ma. Lucy sê hulle doen alles saam, lyk klaar soos ma en dogter. Almal sê Jacques kom om verloof te raak en te trou.”
So is dit. Miskien is hulle nie verloof of getroud nie, maar as die vrou vooruit kom kuier het ... Lucy het Sharise nie in soveel woorde gesê hoe dik die stories loop nie, maar as dit só gaan tussen die vroumens en Jacques se ma, beteken dit net een ding: die koeël is deur die kerk.
Sharise voel asof die koue van die winterdag alles in haar lyf kom sit en haar aftrek in ’n ysgat waar sy stadig sal doodgaan. Dis te laat vir haar en hom, besef sy nou. Sy is lankal nie meer deel van sy lewe nie.
“Wat dink jy, Sharisie?” vra haar ouma sag.
Sy sluk. As haar ouma haar Sharisie noem, is sy bitter baie jammer vir haar.
“Hy kan nie ongetroud bly nie, ’n man moet trou,” sê sy flouerig.
“Lucy sê vanoggend vir my die vrou is onvriendelik. Sy verbeel haar omdat sy mooi en beroemd is, is sy ’n skoonheidskoningin, maar sy is net ’n model.”
Ja, Lucy het gesê sy’s ’n model en modelle is mooi, dit weet Sharise, en dit het haar van die begin af bekommer. Modelle, veral beroemdes, is beeldskoon!
Sharise kyk verby die bome na die berg wat vanmiddag koud, grys en ongenaakbaar lyk. Sy moet wegkom sodat sy kan huil en skree en haar kop teen die muur kan stamp van frustrasie.
Haar ouma sny die melktert. “Dis met nartjieskil gegeur, ek wil hê jy moet proe. Lucy-hulle sal gou genoeg daarmee klaarspeel, hulle ken nie die verskil nie.”
Lucy woon in by ouma Maria, ook Lucy se broers, Shane en Peter. Hulle het op Ceres grootgeword en almal hier rond werk gekry toe hulle pa oorlede is. Peter ry elke oggend Slanghoek toe na ’n kelder waar hy werk, en Shane werk op Rosedal in die wingerd. Ouma Maria is bly sy het weer jong geselskap, sy kook en bak graag en bederf hulle met lekkernye.
Haar outydse melkterte is onverbeterlik. Sharise, wat ’n fynproewer is, kan nooit foutvind nie, veral nie wanneer sy moeite doen met die geurmiddels nie. Dis goed hulle praat nie meer oor Jacques en sy model nie, dink sy.
“Heerlik, Ouma. Ek verkies nartjie bo amandel, maar dis net vir mense soos Ouma wat presies weet wanneer genoeg genoeg is.”
Sy stoot die bordjie eenkant toe, trek haar teekoppie nader.
Ouma Maria blom. “Kry vir jou ’n rosynetertjie, ek het dadels en pekanneute ingesit.”
“Soet,” sê Sharise nadat sy ’n happie gevat het.
“Hou jy daarvan?”
“Baie.”
“Ek het brandewyn by die vulsel gegooi.”
Sharise eet die tertjie skoon op. Sy wil niks meer van Jacques of van sy modelvrou weet nie. Maar haar ouma is nog nie klaar met die onderwerp nie.
“Daai vrou sit glo nie haar mond aan kos nie, krap net die borde om. Sy is so maer dat sy lyk soos ’n besemstok,” sê haar ouma en plak nog ’n tertjie op Sharise se bord neer. “Hoe dans jy met ’n besemstok?”
Skielik kry Sharise lus om te lag. Waar kom haar ouma skielik aan dans? Of bedoel sy dalk seks? Sy en Jacques het een aand met ’n besemstok gedans sodat hy kon oefen vir sy matriekdans. Hy het gewens hy kon haar saamvat, maar daardie jaar het die skool gesorg dat die matrieks net matrieks vra. As hoofseun moes hy die hoofmeisie vergesel en die dansbaan saam met haar open.
Sharise was nie jaloers nie, want die hoofmeisie was nie mooi nie, en boonop lank en maer. Jacques was tevrede met sy lot, maar in ’n toestand omdat hy nie kon wals nie, en Sharise moes hom leer. Hy het vinnig gesnap en toe het hulle die stok in die hoek staangemaak en styf teen mekaar gedans. Het hulle gedans? Hulle het gesoen, altyd gesoen.
“Maklik vir Jacques om met ’n besemstok te dans,” sê sy met ’n dun stemmetjie.
“Nee, ’n man soek iets sags.”
“Hy het gekies.”
“Weet hy jy is weer vry?”
“Wat wil Ouma vir my sê?”
“Veg vir hom, dis die moeite werd.”
“Soos Ouma vir Oupa geveg het?”
“Ek was nooit spyt nie.”
Sharise het ’n paar keer al die storie gehoor van Violet Taylor wat oupa Ismael in haar mag gekry het en byna by Ouma afgeneem het. Sy het in die kombersfabriek in die Kaap gewerk, was met die kommuniste deurmekaar en het altyd moeilikheid gemaak, selfs op die plase tussen die plukkers en pakkers. Oupa was amper saam met haar tronk toe, was dit nie dat Ouma hom met brijani en verbode wyn volgestop het nie. Oupa was toe nog streng Moslem en glad nie gewoond aan alkohol nie. Hy het in Ouma se arms aan die slaap geraak, die vergadering gemis en is toe nie gevang nie.
“Goed, ek sal Jacques teekamer toe lok en doepa in sy wyn gooi,” speel Sharise saam.
“Genoeg wyn, dis al wat jy nodig het, en mooi onderkleertjies,” sê ouma Maria met ’n vonkel in haar oog. “Die wyn gee jy hom saam met sy gunstelingkos, en die onderkleertjies hang jy aan die waslyn.”
“Ek verstaan die wyn, maar die onderkleertjies?” hou Sharise haar dom.
“Hulle moet weet van jou vroulikheid, my kind, die frilletjies sien wat jy teen jou lyf dra. As jy skaam is vir jou broekies, hang so ’n paar onderrokkies en nagrokkies op, jy het mos met kantjies en borduurseltjies? Jy wys hom niks meer van jouself nie. Verder moet jy hom laat wonder.”
Sharise bloos effens. Sy onthou die swemgat tussen die riete, die strand by Rooiels en hulle staptoere, die eerste keer wat hulle ’n nag saam deurgebring het.
“Hy het seker ’n groot man geword,” sê haar ouma.
“Nes sy pa.” Sharise probeer grappig klink. “Groot en vet.”
“Nee, dan sal daardie besemstok nie van hom hou nie.”
“Sê nou hy is ook een?”
“Wat?”
“Lank en maer, ’n besemstok, want hy’t saam met haar opgehou eet.”
“Nie hý nie, hy’t altyd so lekker kon weglê aan my bredies en my snyselsoep. O, en die soetgoed, koninginbroodpoeding en sagopoeding. Jy kon hom ’n baksteen met suiker op gee en hy eet.”
“Hy was net so lief vir Ouma se vrugterol ook,” voeg Sharise by.
“Wat daarvan as ek hom hiernatoe uitnooi en ek nooi jou ook? Dan kook ek lekker kos en gaan kuier langsaan. Julle kan mekaar mos vermaak, dink net.”
“Ouma is nou baie romanties, maar dit sal nie werk nie. Sy vriendin is ook hier. Sy sal wil saamkom, en ek sien nie daarvoor kans nie.”
“Sê hom dis oor die ou dae, hy moet alleen kom.”
“Ouma, los dit liewer. Dis klaar tussen ons, agt jaar gelede afgehandel.” Sharise trek die teepotjie nader. “Ek skink.”
“As jy moet.” Haar ouma klink teleurgesteld. “Maar ek waarsku jou weer: dis jou laaste kans om jou fout met Jermaine reg te stel.”
“Ouma, Jermaine was nie perfek nie, maar ek glo nie ek het só ’n groot fout gemaak nie.”
Ouma Maria steek nog ’n stuk konfyt raak en sit dit op haar kleinbordjie. “Die noodlot ook nie,” brom sy.
“Haai, Ouma!”
Sharise sit die teepotjie neer en kyk haar ouma aan.
Dié waai met haar regterhand asof sy vlieë wegwaai. “Ek bedoel dit nie lelik nie, ek meen net te sê dis goed dat jy vry is noudat Jacques weer terug is. Praat met hom. Julle kan mos reguit wees met mekaar. Vra hom of hy seker is van sy toekoms.”
“Nee, ek kan nie.”
“Julle het saam grootgeword!”
“Maar ek is laag in hulle oë. Ek is nie geskik vir Rosedal nie.”
“Jy ís. Ons lewe vandag in ’n samelewing waar almal gelyk is.”
“Nie op hierdie plaas nie.”
“Bog, ek bly doodgelukkig in my eie huis, en Lucy werk in die hoofhuis.”
“Lucy werk daar, maar sy is nie die huisvrou nie, dis die verskil.”
“Jy is nie Lucy nie. Jy het jou eie besigheid. Jou teekamer is beroemd, jy hoef jou vir niks te skaam nie.”
Sharise gee haar ouma se tee aan, skuif die suiker en melk vir haar nader. “Ek is al amper ’n jaar aan die gang en Jacques se ma was nog nooit daar nie. Sy sal ook nie kom nie, sy hou nie van my nie. Hulle sal my nooit aanvaar nie.”
“Sy is ’n koppige vrou, sy is baie onregverdig.”
“Laat haar wees. Ek is gelukkig, my droom het waar geword.”
Ouma Maria skud haar kop. “Ek ken jou, en jy is nie gelukkig nie. En dis net helfte van jou droom.”
Sharise ignoreer die laaste aanmerking en lig haar teekoppie. “Ons drink op Soete Verleiding. Daardie teekamer is my lewe.”
Ouma Maria gee bes en tel haar koppie op. “Nou ja, as jy vir die res van jou lewe wil tee aandra, dan drink ek saam met jou.”
Asof ouma Maria nie haar hele lewe deur vir ander mense aangedra het nie. Haar liewe ouma. Sy het vroeg vanoggend anysbeskuit gebak en dis besig om stadig in die oond te droog. Die anysreuk hang om hulle, saam met die gemmergeure van die tee – al die speserye wat beelde wek van die mooie Maleisië waar haar voorgeslagte vandaan kom. Sharise wil nog eendag daar toer, en sy sal.
“Los nou maar vir Jacques, Ouma.”
“Ons sal sien,” sê haar ouma en steek ’n stukkie soetlemoen in haar mond.
“Ouma gaan nie agteraf met hom praat nie!”
“Hoe sal ek by hom uitkom? Ek loop nie hoofhuis toe nie. Anders het ek lankal geloop en gaan kyk hoe lyk die besemstok, ek is nuuskierig.”
“Dis die ding, Ouma is nuuskierig!”
“Moenie sê jy is nie ook nie?”
Sharise sal nie sê nie. “Kan ons die onderwerp verander?”
“Dan vertel ek jou van my rumatiek en my jig. My voete pla, en ek bewe deesdae as ek konsentreer om te skryf.”
Die res van die middag word Sharise aldus getrakteer op ’n volledige beskrywing van oumenskwale.