Читать книгу Satyn Omnibus 2 - Helena Hugo - Страница 13

Оглавление

10

Jacques het ingesluimer en was vas aan die slaap toe die hond langs hom knor en opstaan. Hy word wakker en keer die dier met sy hand. Waar is ek? wonder hy toe hy die blou berge eerste sien, wit vlieswolkies wat saampak, en wingerde.

Is dit Champagne of Languedoc of Provence?

Vir ’n oomblik is hy heeltemal gedisoriënteer. Die laaste tyd was daar geen plek wat hy sy eie kon noem nie. Hy het altyd tydelik iewers oorgebly, altyd gehuur, hom nooit langer as ses maande verbind nie.

Nou herken hy die pad met die wit huisies, sy ma se stoepmeubels, en die geel labrador wat rek en weer gaan lê.

“Askies ... askies, oom.”

Die kind op die breë stoeptrap lyk tegelyk stout en versigtig. Lewendige bruin oë in ’n ronde gesiggie met ’n wilde krulkop, maer beentjies grou van die grond, kortbroekie en trui wat ’n nommer te groot is, seker ’n ouer boetie s’n gewees.

Moet hy nie in die skool wees nie?

Jacques sit orent. “Ja?”

“Ouma Maria het my gestuur.” Die kind hou ’n koevert voor hom uit. Hy is versigtig om nader te kom. “Ek’s bang virrie hond.”

Jacques staan op en stap na hom toe, bly tussen hom en die hond, wat nou heel vriendelik stert swaai.

“Toemaar, sy sal nie byt nie. Sien jy, sy lag.”

Die outjie lyk skepties. “Ek ken haar, sy byt.”

Hy hou sy afstand, die koevert in die punte van sy vingers. “Ouma Maria het gesê ek moet dit in meneer Jacques se hande sit, die jong meneer Jacques. Is dit oom?”

“Jip, dis ek.”

Die kind kyk hom aan asof hy hom nie glo nie. Lyk hy al só oud?

“My pa is die ou meneer,” verseker hy hom.

Die outjie druk die koevert in sy hand. Dit lyk of hy wil hardloop, maar hy bly staan.

“Is jy nie vanoggend skool toe nie?” terg Jacques.

“Ek gaan volgende jaar, ek is Desember ses.”

“Jy’s slim om boodskappe af te lewer.”

“Ouma het gevra, ons mag nie hier kom nie.”

Jacques steek die koevert in sy broeksak, goed gevou. Die seuntjie trippel rond, kyk van die oop voordeur na die hond en dan weer na Jacques. Sy oë rol senuweeagtig.

Jacques ken die storie. In Europa kry almal fooitjies – wat hulle ook al vir jou doen. In Afrika noem hulle dit bribes. Hy steek sy hand in sy agtersak, haal twee vyfrandstukke uit.

“Hierso. Dankie, hoor!”

Die seuntjie gryp die muntstukke. “Jislaaik!”

Hy struikelval met die trap af, slaan amper bolmakiesie soos hy maak dat hy wegkom.

“Wat maak daai kind hier?” vra Jacques se ma skielik agter hom. “Het hy tog nie kom geld bedel nie?”

Jacques voel skuldig. Hoekom het sy ma nog steeds so ’n uitwerking op hom? Dis sý geld, hy kan dit gee vir wie hy wil.

Intussen hou hy sy hand in sy sak oor die briefie; dit krap teen sy palm. Het sy ma gesien hoe die kind die briefie oorhandig? Wil sy kom uitvis?

“Hy’t net kom loer wie is die vreemdeling.”

“Toe vra hy geld?”

“Toe gee ek hom iets. Hy het nie gevra nie.”

“Jy gaan vir jou moeilikheid op die hals haal. Môre-oormôre hardloop al wat ’n kind op die werf is agter jou aan. Jy ken dié mense se kinders.”

Jacques wil hom vererg, maar hy hou hom in. “Ek sal nie weer nie, ek belowe.”

“Hulle is nie veronderstel om naby die voorstoep te kom nie.”

My ma wat so byderwets is, sal oud voor haar tyd wees as sy nie meer kinders op die werf kan verdra nie, dink Jacques. Eintlik kon sy nooit kinders verdra nie, selfs nie vir hom en sy susters nie. Hulle moes eers groter word, volwasse mense, voor hul ma hulle behoorlik begin raaksien het, hulle naby haar wou hê.

Dalk het sy nou ver teruggedink, twee en twee bymekaargetel en vermoed dat iemand uit sy verlede met hom wil kontak maak. Hy dink self so. Dat die briefie van Sharise kom, via ouma Maria.

Maar Louise vra nie verder uit nie. Sy het haar trots.

“Ons eet oor twintig minute, jou pa is hier. Hy’t gekom terwyl jy nog geslaap het.”

Jacques kyk op sy horlosie. Dis halfeen.

“Dankie, Ma.”

Sy haal die tafeldoek van die stoeptafel af en vou dit op.

Hy staan nog ’n rukkie daar en loop dan kamer toe. Die geur van vleis wat in wyn gaar stowe, hang in die lug. Hy ruik suiker wat in botter braai, blomkool wat kook, hoor gesellige klanke uit die kombuis. Dis soos ’n huis in die winter moet wees, dink hy – warm en gesellig. Die kosreuke herinner hom aan die plaaskombuise van Provence en Champagne. Dis hoekom hy so lank daar kon uithou: hy hou van boerekos en goeie wyn; hy geniet maaltye en geselskap om die tafel.

Dis wat hy mis by Suzette. Hulle sal nooit so saam kan eet nie, nooit ’n tafel kan dek met ’n gesin wat rondom vergader nie. Sy sal haar kinders van vroeg af op dieet sit; haar dogters sal in elk geval haar voorbeeld volg. Hy het gehoor seuns kry ook eetsteurnisse. Wil hy sulke seuns en dogters in die wêreld bring en grootmaak?

Maar sal Suzette ooit kinders wil hê? Hy het nog nooit aan ’n gesin saam met haar gedink nie. Dalk kan hy met haar trou, eksperimenteel vir ’n jaar of wat ... Sal dit veel anders wees as hulle lewe nou?

Miskien. Hy kan haar op ’n lang wittebrood neem op ’n seiljag in die Middellandse See, haar oesters en olywe voer as deel van hul sekslewe. Op daardie gebied gaan dit tog taamlik goed. Hy kan haar dag vir dag meer gee om te eet, sjokolade en roomys, en elke keer meer seks en beter seks. As sy kos met goeie seks begin assosieer, word eet dalk vir haar net so lekker.

Hy stoot sy kamerdeur oop en onthou om dit agter hom te sluit. Pluk die koevert haastig uit sy broeksak, vou dit oop.

Dis ouma Maria se versigtige, regop handskriffie.

Beste Jacques,

Ek wil jou ’n groot guns vra. Sal jy kans sien om môreoggend teen agtuur se kant, selfs vroeër, ’n halfdosyn melkterte hier by my te kom haal en dit by Sharise se teekamer af te lewer? Soete Verleiding is langs die rivier in Rivierstraat. Jy kan dit nie mis nie, maar ek sal vir jou die pad beduie. Hier is Sharise se selfoonnommer, ek het klaar met haar gereël dat jy dit sal bring.

Baie dankie,

Ouma Maria.

Jacques sal met plesier dié guns doen. Hy hoop net Suzette het weer ’n vroeë roep. Anders maak dit ook nie saak nie, want as sy nie werk nie, slaap sy laat, en agtuur sal sy nog in die bed wees.

Hy tik dadelik Sharise se nommer op sy selfoon in, stoor dit onder “Restaurant” om seker te maak niemand vermoed enigiets oor haar nie – veral nie Suzette as sy sy foon in die hande kry nie. Moet hy Sharise bel of moet hy net daar opdaag?

Hy is opgewonde. Hy sien uit na hul tweede ontmoeting. Hierdie keer bly hy vir ontbyt, dis mos ’n restaurant? Hy móét haar sien, en hy het belowe om haar te bel. Nou kan hy direk na haar deurkom.

Hy skeur die briefie in fyn flentertjies, maak dit nat en vou dit in toiletpapier toe voor hy dit in die toilet afspoel. Hy gaan nie toelaat dat iemand moeilikheid maak tussen hom en Sharise nie, nie noudat hy ’n tweede kans kry en ouma Maria op haar manier soveel moeite doen nie. Die ou dier is aan sy kant! Of is sy dalk aan Sharise se kant? Wie het hierdie plan gemaak – sy of Sharise?

Hy haal sy selfoon uit. Sal hy haar nou bel of later?

Sy hande jeuk, en daar is nog tyd.

Hy druk “r” vir “restaurant” en die groen telefoontjie. Dit lui! Sy keel trek toe, sy hande sweet. Dit lui. Sy mond word droog, sy ore suis. En dit lui.

Antwoord, Sharise!

Hy begin al dink aan ’n boodskap, toe sy skielik praat, uitasem: “Soete Verleiding! Sharise hier.” Op die agtergrond hoor hy mense lag en gesels, eetgerei op borde raas, musiek speel.

“Sharise, dis ek.”

“Ekskuus, wie praat?”

“Jacques du Plessis.”

“Jacques wie?”

“Du Plessis.”

“Jammer, meneer, ek kan nie hoor nie, bel jy om ’n tafel te boek?”

Skielik tref die idee hom. “Ja, ek wil graag.”

“Vir wanneer?”

“Môreoggend vir ontbyt.”

“Tafel vir twee vir ontbyt, vir meneer Du Pisani. Hoe laat?”

Hy wil haar reghelp. Hy is nie Du Pisani nie! Maar miskien is dit hoe Kupido te werk gaan. Hy maak meisies blind en doof.

Du Pisani! Is dít wat sy gehoor het. Twee keer? Ken sy nie meer sy stem aan die ander kant van ’n telefoonlyn nie? Hy het háár herken. Maar hy het darem geweet dis met haar wat hy praat. Sy vermoed niks.

“Meneer?”

“Seweuur, is dit te vroeg?”

“Glad nie, tensy u ’n spesiale bestelling het.”

Ek het, ek wil jou vir myself hê, jou heeldag tot my beskikking hê!

“Ek sal bestel wat beskikbaar is. Dankie.”

“Dankie, meneer Du Pisani.” En weg is sy.

Hy druk die rooi telefoontjie en sit ’n ruk met sy selfoon in sy hand. Sy afspraak by haar is vir seweuur en hy moet die melktert agtuur kry. Hy sal ouma Maria moet laat weet dat hy halfsewe by haar sal wees, hy sal vroeg by die huis uitsluip. Dit sal help as Suzette ’n vroeë roep het.

Vaagweg hoor hy sy ma se etensklokkie lui. Hy wonder of Sharise regtig dink hy is ’n meneer Du Pisani. Sy was vanoggend so ontsteld, maar vanmiddag klink sy of sy ten volle in beheer is. Niks verhoed hom om enige tyd van die dag by Soete Verleiding op te daag nie. Hoofsaak is, hy moet haar nie verskrik of ontstel nie, nie hierdie keer nie.

Hy was sy hande, druk sy selfoon in sy sak en haas hom na die eetkamer, waar sy ma en pa reeds aangesit het. Die opskepskottels is al op tafel en sy ma is besig om die sop in te skep. Dit lyk lekker en hy het na hierdie soort samesyn met sy ouers verlang, maar hy wens hy kon Sharise dophou wat skottels en borde kos aandra en glimlag en haar gaste verwelkom.

Sharise is besig. Die restaurant het vandag mense gelok soos min, en daar is ’n toerbus met Amerikaners wat Kaapse kos wil proe. Sy het pampoenbredie ontvries; sy en Myrna het vars kerrieboontjiebredie en waterblommetjiebredie gemaak. ’n Groot pot basmati gekook. Daar is kerrievis en smoorsnoek, ertjiesop en groentesop, pampoendol, ryspoeding en appeltert met room.

Bredies vries goed en Sharise hou by ’n keuse van drie. Sy maak altyd een of twee disse wat sy vroegoggend opsit. Die week se spyskaarte word fyn beplan. Dis harde werk, maar omdat sy haar spyskaart afwissel, is dit nooit vervelig vir haar en haar personeel nie, ook nie vir die gereelde gaste nie.

Die man wat gebel het om ’n tafel vir twee te bespreek, is seker een van daardie neurotiese vente wat hom verbeel ’n restaurant sal nie vroegoggend plek hê vir twee nie, nogtans gee hy nie om wat hy eet nie. Hy beter nie daardie tyd van die oggend wondere verwag nie.

Moet sê, as sy so oor die eetkamer kyk en af met die terrasse, is wonderwerke nie uitgesluit nie. Dis ’n wonderlike dag! Gelukkig reën dit nie, anders moes daar van die mense omdraai, want die eetkamer in die huis is nie ruim genoeg nie.

Sy loop na die afspraakboek en skryf onder ontbyt: Meneer Du Pisani, 2X.

Dan haas sy haar weer na die volgende tafel. Wanneer die plek so vol is, hardloop sy nes Donald en Myrna. Vanoggend voel ver, dit voel soos ’n droom. Was Jacques du Plessis regtig hier? Het hulle regtig gesoen? Die opwinding wat haar in die middel van ’n besige middagete beetpak, is so intens dat sy bloedrooi bloos. Sy het hom aangesê om te loop, maar sy wil hom tog hê.

“Warm!” lag Myrna in die verbygaan.

Ja, warm, dink Sharise en sit ’n stapel skoon borde langs die stoof neer. Sy moet onthou om haar ouma te bel. Sy het nagedink oor die ding dat ouma Maria Jacques sommer wou opkommandeer om melkterte aan te ry. Haar ouma hou haar onskuldig, maar sy is baie moedswillig, en dit gaan net moeilikheid veroorsaak. As mevrou Du Plessis dit uitvind, kan sy die lewe baie onaangenaam maak vir hulle, maar veral vir haar ouma. Sharise besluit sy gaan bel en sê sy stuur vir Donald, sy wil ver wegbly van Jacques. Sy wil hom sien, maar sy het vrede gemaak met die feit dat hy op trou staan, en haar ouma beter ook.

Teen drieuur is daar ’n stil tydjie. Die meeste van die middageteklante is klaar weg, en dié wat nog kuier, sit rustig met koffie en likeur. Sharise verdwyn in haar kantoortjie, waar sy tevrede na die somtotaal op die kasregister kyk. Glad nie sleg vir ’n weeksdag nie. Maar dis ’n sonnige dag in die middel van die Kaapse winter, ’n dag wat met ’n verrassing begin het: Jacques du Plessis.

Sy kon hom maar vir ’n koppie koffie genooi het. Hoekom het sy nie? Hy is tog ’n ou vriend, en hulle is mos nou mooi groot, die storm-en-drang-jare is oor en verby. En daar gaan gedra sy haar soos ’n tiener en spring in sy arms. Pleks sy hom met die hand groet en innooi, dan kon hulle soos grootmense gesels het. Sy kon hom gevra het om sy aanstaande te bring sodat sy haar kan ontmoet. Grootmense dink tog nie meer so intens aan hul kindertyd nie, hulle gaan aan, kry selfvertroue, val nie oor mekaar as ou skoolvriende skielik opdaag nie. Haar ouma sou sê hulle gedra hulle waardig.

Nie dat haar ouma daarby hou nie. Gaan vra sy sowaar vir Jacques om melkterte aan te ry! Wat sal hy van haar dink as sy skielik sy hulp nodig het om voorraad vir haar restaurant af te lewer? Sy is in beheer en sy is trots op dit wat sy bereik het. ’n Kaapse kosresensent het Soete Verleiding al uitgesonder as uniek-tradisioneel. Hy het die soetgoed aangeprys, veral haar pampoendol en agurkiekonfyt, haar ouma se koeksisters en rosynebrode, die Kaapse melktert ...

Sy gaan nou bel en sê.

Sharise skakel haar ouma se huisnommer. Dit lui lank, en sy is al bekommerd toe haar ouma optel.

“Goeiemiddag, mevrou Daniels hier.” Sy klink nors.

“Middag, Ouma.”

“Is dit jy, Sharise?”

“Ja, Ouma.”

“Ek het gewonder wie bel hierdie tyd van die dag.”

Sharise kyk op na die horlosie teen die muur bokant haar aansteekbord. Dis kwart voor drie. Nooit daaraan gedink nie, dis haar ouma se tyd vir haar middagslapie!

“O, ek is so jammer, Ouma, ek het nie gekyk hoe laat dit is nie.”

“Nee, toemaar, ek moet nou opstaan, maar ek was in die kamer. Wat kan Ouma vir jou doen?” vra sy meer toegeeflik. “Ek bak jou melkterte môreoggend vroeg, ek het vanoggend genoeg skilferkorse gemaak. Tien terte is reg, nè?”

“Ek bel juis oor die melktert en oor Jacques.”

“Ja, wat nou?”

“Kan ek nie maar vanaand die melkterte kom haal nie?”

“Nee, Sharise, ek het klaar vir hom laat weet. Hoe kry ek hom nou weer in die hande?”

“Hoe het Ouma hom die eerste keer gekry?”

“Ek het Salien se seuntjie, Isakkie, gestuur en ek moes hom omkoop met tameletjie en lallimala en nog geld ook gee. Sy oupa was nie verniet ’n vissmous nie. Daai ene is nog nie in die skool nie en hy is klaar ’n klein entrepreneur. Toe kom hy terug en weet my te vertel die honde wou hom skraap en Mevrou het hom gesien, hy gaan nie weer nie en hy soek nog lallimala. Buitendien, ek kan nie vanaand melktert maak nie, ek bak beskuit vir daai tuisnywerheid buite De Doorns. Ek het hulle belowe, ek kan nie teruggaan op my woord nie. My program is uitgewerk.”

Selde dat haar ouma ongeduldig raak, maar dié keer hoor Sharise sy is goed omgekrap. Dis oor haar middagslapie so wreed versteur is, en hierdie onnodigheid is die laaste strooi. Sharise sien nie kans om in onvrede met haar ouma te leef nie en gee dus maar bes.

“Goed, Ouma, dan sorg ek dat ek hom verwag. Dankie vir die melkterte.”

“Dis my plesier. En kyk tog dat jy môreoggend op jou beste is.”

“Ja, Ouma, ek sal probeer. Totsiens, Ouma.”

Sharise sit die telefoon saggies neer al kners sy op haar tande. Sy is ook vies en sy wil dit nie wys nie. Haar ouma se laaste woorde het haar geheimpie pragtig verklap. Sy is besig om agter die skerms toutjies te trek sodat Sharise en Jacques mekaar weer te sien kry.

Satyn Omnibus 2

Подняться наверх