Читать книгу Satyn Omnibus 2 - Helena Hugo - Страница 15

Оглавление

12

Sharise het vanaand vroeër toegemaak. Weeksdae is Soete Verleiding nie so laat snags nog bedrywig nie, en aangesien sy môre vroeë ontbytgaste verwag, is sy dankbaar om vroeg in haar kamer te wees.

Die huis en haar woonstel wat sy op die solder ingerig het, is heerlik warm. Dis altyd so as hulle vuur maak, en Donald het teen twaalfuur se kant al die kaggel aangesteek. Dan styg die hitte boontoe en is haar nessie heerlik knus. Sy loop in haar pajamas en het nie eens nodig om ’n japon oor te gooi nie. Sy het hare gewas en blaas dit stadig droog. Dis kwart oor tien en dit was ’n goeie dag.

Reken sy Jacques se besoek daarby in?

Sy gaan staan voor die spieël en kyk reguit na haar spieëlbeeld, buk vorentoe, kyk nader. Haar vel is foutloos, nie ’n merkie nie. Toe sy en Jermaine getroud was, moes sy dikwels dik lae grimering aansmeer om kolle en vlekke te verbloem. Wonderlik hoe ’n blou kol van swart na geel kan oorgaan en hoe lank dit neem. Soms langer as ’n week wat sy nie haar neus by die deur kon uitsteek nie. Om nie te praat van die paar keer wat sy steke moes kry nie. Haar mond het nou nog ’n klein, fyn litteken.

Sy raak met haar vingerpunte daaraan. Maak haar oë toe en onthou hoe sy en Jacques gesoen het. Dit was die eerste keer in ’n lang, lang tyd dat sy so uitbundig en hartstogtelik gesoen het. Sy glo nie sy het Jermaine ooit so gesoen het. Daar was wel hartstog, maar nie met soveel gevoel nie, nie met hart en siel nie. Bolangse ekstase, ja, vlammende begeerte om seksuele verligting te kry, maar nie totale oorgawe nie. Nie toegeneentheid nie, nie liefde soos haar en Jacques se liefde nie.

Sy streel liggies oor haar mond. Sy sou graag sy teerheid wou voel, sy innige, eerlike besorgdheid. Dit het sy gemis, sy verlang so erg daarna soos ’n mens wat in die woestyn rondkruip op soek na water. Nou weet sy: sy sal enige plan maak, haar kapot werk, maar sy sal nie verligting vind vir haar dors nie.

Van haar vriendinne kry haar jammer omdat sy haar man aan die dood afgestaan het. Hulle dink Jermaine was wild maar aantreklik. Hy was so onweerstaanbaar, vroumense kon hom nie uitlos nie. Hoeveel keer het hy haar nie gedreig met sy ou storie dat hy haar enige tyd kan los vir enige ander vrou nie.

O, sy was so gereed om hom sy skeibrief te gee. Geen vrou met verstand kon toelaat dat iemand anders haar so verniel nie, beslis nie sy nie. Ongelukkig sou niemand haar glo nie, want niemand het geweet hoe erg dit regtig was om by Jermaine Strong uit te hou nie.

Sy dink tog haar ouma Maria het vermoed wat aan die gang was. Sy het baiekeer lang verskonings gehad oor hoekom sy nie kon kom kuier nie. Ouma het haar dan sommer reguit gevra of Jermaine haar weer geslaan het, en by haar aangedring om polisie toe te gaan. Dis oor haar ouma eenkeer moes help om die bloed te stop.

Jermaine het darem geskrik daardie laaste keer toe hy haar kop teen die muur gestamp het en die bloed soos ’n waterval begin stroom het. Hulle moes ’n stuk van haar hare afskeer voor hulle die steke kon insit. Van toe af was hy versigtig om nie na haar kop of gesig te mik nie. Hy het haar lyf getakel, haar ribbes en haar borste.

Dit was hel. Jacques sal dit nooit doen nie.

Maar by hom is daar ’n ander seer. Sy ma dink sy wat Sharise is, is nie goed genoeg vir haar seun nie.

Buitendien, Jacques gaan verloof raak, hy staan op trou. As sy nou tussenin kom, is sy nie veel beter as Jermaine nie. Dié het daarmee gespog dat hy maklik paartjies kan opbreek, en hy het. Hy het oral moeilikheid veroorsaak, en op die ou end het van die mans háár beskuldig.

“Gee jy nie vir jou man genoeg seks nie? Hoekom kom soek hy dit by my vrou?”

Sy het hom gegee net wat hy vra. Sy het dit verduur. Sy het selfs gemaak of sy dit geniet het en sy het moeite gedoen. Sy was sy vloerlap later. Skaars ’n jaar en hy het ’n vloerlap van haar gemaak. Maar teen die einde het sy haar skadevergoeding gekry. Hoe op aarde hy daaraan gekom het om so ’n groot lewenspolis uit te neem, weet sy nie. Al wat sy weet, is dat dit opgemaak het vir maande van fisieke mishandeling en geestelike aftakeling.

Nou is sy amper gelukkig, vir die eerste keer in jare is sy byna gelukkig. Was dit nie vir Jacques nie, kon sy tevrede wees. Sy kon haar elke dag gedaan werk, in die bed neerval met Sokkies op haar voete, droom oor uitbreidings, droom oor nuwe resepte, beter spyskaarte, winste, oorsese reise, ’n behoorlike pensioen vir haar ouma, ’n rustige oudag vir haarself, goeie dade vir minderbevoorregtes, ’n sopkombuis iewers in die townships, vrede. Haar lyf sou al minder onthou, al minder verwag, en dalk sou ’n goeie man met sagte hande uiteindelik haar pad kruis.

Dis net dat Jacques tot vandag toe nie getrou het nie.

Maar hy het nou iemand.

Môre sien sy hom weer. Dan sal sy hom vra om haar liewer te los, hom ferm en finaal wegstuur.

Sy laat val haar kop in haar hande. Dis verskriklik, dit sal erger wees as die dag toe sy Jermaine moes gaan uitken het. Dit sal wees asof Jacques ook dood is. Sou dit nie maar beter wees as hulle almal net dood kon wees nie?

“Miaau?” Sokkies het van die bed afgespring en staan op sy agterpote teen haar op. Hy kap-kap met sy pootjie na haar elmboog. Dis nogal ’n prestasie vir ’n kat om so te rek.

Sy steek haar hand uit en vryf sy digte pels. “Ek kom, Sokkies. Ons moet liewer slaap, nè, ounooi se kat, dat ek môre mooi kan lyk vir die man. Ja, hy kom weer, maar dis laaste sien môre.”

Sy tel die kat op en loop venster toe. ’n Koue, vogtige luggie trek van die rivier se kant af. Daar is wolke aan die opbou. Die sterre is onsigbaar en die maan sukkel deur swart bollings onweer. Die wind druk die bome en struike skeef, alles roer en beweeg, die tuinligte gooi spookagtige skaduwees.

“Vannag kom die reën,” sê sy vir die kat en pluk die gordyne toe. “Goed ons het vandag ’n sonnige dag gehad, môre sal niemand buite kan sit nie. Môre gaan een van daardie trietsige dae wees.”

Die huis wat netnou nog snoesig was, is aan die afkoel. Sy sit Sokkies op die bed neer en haal nog ’n kombers uit die kas.

“Ek sal môreaand vir ons ’n warmsak maak,” belowe sy hom.

Hy kom lê styf teen haar bene. Sy wens dit was Jacques.

Jacques is Boschendal toe, net om te ontdek dat die mense wat foto’s geneem het nie meer daar is nie, en dat hulle ook nie vanaand terugkom om nog foto’s te neem nie. Die wag by die hek is behulpsaam en vriendelik, maar hy kan hom nie sê waar hulle is nie. Hulle het hul tente afgeslaan en die voertuie is weg; hy weet nie of hulle môre weer terugkom nie.

Jacques bel Suzette, maar haar selfoon is af. Hy laat ’n boodskap en ry terug plaas toe. Iets is nie lekker nie. Sal hy kwaad word of bekommerd wees? Suzette is ’n wêreldreisiger, sy sal haar nie maklik laat ontvoer nie, maar vanaand voel dit of sy soos ’n groot speld verdwyn het.

Hy besluit om nie dadelik huis toe te gaan nie. Hy ry Strand se kant toe en gaan parkeer langs Kusweg. Die wind waai en die see is onstuimig. Daar is wolke oor die water, reënweer aan die broei. Die see lyk onheilspellend. Die gedreun van die golwe en die gesuis van die wind laat hom aardig voel. Miskien is dit gevaarlik om so stokalleen vir die swart water en wit branders te sit en kyk, met geen ander geparkeerde kar in sig nie.

Hy SMS vir Suzette: Ek sit langs die see by die Strand, dink aan jou. Waar is julle vanaand, hoekom is jou sel af?

Hy huiwer voor hy dit stuur, maar stuur dit tog.

Sy antwoord nie.

Dan skakel hy die kar aan en ry Somerset Mall toe, parkeer en klim uit, loop daar rond. Die koopsentrum is vol ligte en lewe, heelwat mense. Daar is koffiekroeë, restaurante en flieks. Hy kan gaan fliek, maar die titels interesseer hom nie.

Hy koop ’n koerant en ’n koppie koffie by een van die koffiekroeë. Die koerant is vol stories oor moord, verkragting en een oor ontvoering. Hy probeer weer om Suzette te bel. Haar selfoon bly af.

Sal hy ’n gek van homself maak as hy haar verdwyning by die polisie aangee? Beslis. Hy bestel nog ’n koffie, sit tot tienuur en ry dan huis toe. Hy het sy eie sleutel en hy laat homself saggies in, loop op sy tone die trap op.

Daar is liggies aan sodat hy goed kan sien waar hy loop, nes in die ou dae toe hy op hoërskool en later op universiteit was en naweke gekuier het. Toe hy en Sharise nog uitgegaan het.

Sy ma het dan soms uit haar kamer gekom, moeg gewag en bekommerd.

“Nag, Ma, Ma kan nou gaan slaap,” het hy dan altyd gesê, en gewonder of sy elke nag ook so wakker sit wanneer hy by die koshuis is. Later het hy besef dat dit wat die oog nie sien, die hart nie skeel nie.

Dit moes haar geskok het om hulle saam te sien, kaal in die stort. Dit sou hom geskok het om mense so te sien, mense van wie hy dit nie verwag het nie. Dit was ’n jammerte, ’n ramp dat sy hulle betrap het. Vir hulle was dit ’n speletjie, pret, begeerte, lewe, niks leliks nie.

Daar skyn ligte in die boonste gang ook. Hy skakel dit nie af nie. Sy ma glo aan lig snags, in geval van ’n noodsituasie, sê sy altyd. Hy het vanaand die nare gevoel dat daar iets in die lug broei. Onweer beslis, dit kom reën.

Sal Suzette-hulle môre buite kan werk? Gaan hulle buite werk? Het hulle nie die hele sessie gekanselleer nie? Suzette skakel haar selfoon af as sy slaap. Sê nou sy is hier? Sal sy sy verduideliking glo? Dis maar simpel om doelloos Strand toe te ry en ’n uur alleen in ’n inkopiesentrum rond te sit en koerant te lees.

Hy loop na haar kamer, druk die deurhandvatsel stadig af. Dis nie gesluit nie. Die gordyne is diggetrek, die kamer donker. Hy stap op sy tone tot by die bed.

Dis leeg.

Dankbaar gaan klim hy in sy eie bed. Hy raak aan die slaap met ’n mengsel van kommer en skuldgevoelens.

Maar toe sy selfoonwekker halfses afgaan, voel hy uitgerus. Die stilte van die plaashuis en omgewing is so volkome, vanoggend kwetter selfs die voëls gedemp en sporadies. Hy druk die wekker af en lê ’n rukkie op sy rug. Dis koud en reëndruppels tik teen die ruite, maar hy is opgewonde, want hierdie dag kan sy lewe omkeer.

Voor hy gaan stort, maak hy seker of daar deur die nag enige SMS’e deurgekom het. Niks, en die selfoon toon geen teken van oproepe wat hy gemis het nie. Maar as Suzette vanoggend werk, sal sy al op wees.

Hy loop venster toe en kyk uit. Dis ’n vaal dag; fyn reën is aan die neersif. Hang af, dalk wil hulle tonele skep agter ’n deursigtige reëngordyn, die modemense kom met allerhande kreatiewe idees. Hy hoop dis hierdie keer die geval, so nie gaan hy eerlik wees en vir Suzette sê hy kan haar nie vandag kom haal nie, Jean-Luc se mense moet haar Rosedal toe bring.

Hy stort vinnig. Die vooruitsig om Sharise te sien, maak hom warmer as die stort se water. Al weer dieselfde stort-hokkie ... Hy moet keer of hy konsentreer te veel op die herinnering.

Wat sou hy nie vanoggend wou gee om haar saam met hom hier te hê nie, haar oulike lyfie glad van die seep, al die kurwes en rondings haar eie. Ja, hy glo nie Sharise het tyd vir diëte, inspuitings, inplantings en allerhande sulke bog nie. Sy is ’n natuurlike meisie en pragtig soos sy is.

Hy klim uit die stort, handdoek om die middel. Die badkamer is die ene stoom en hy stoot solank die deur oop sodat dit kan ontsnap. Hy borsel tande, skeer sorgvuldig, vryf naskeerroom in en plas eau de toilette aan: Versace pour homme.

Sy hare is kort, dit pas hom goed, ook die netjiese tatoeëermerk op sy regterboarm – ’n appelboom met die woord Terre in sierskrif. Hy is ’n groot aanhanger van alle Red die Aarde-bewegings en het die tatoe op ’n landboukonferensie in Konstanz, Duitsland laat doen. Hy span sy spiere en grinnik, sy tande blink. Hy laat sak die handdoek om sy middel, beskou homself – nie sleg nie.

“L’amour ca fait chanter la vie ...” sing hy terwyl hy aantrek.

Hy kies nuwe onderklere, ’n wolhemp, skoon jeans, nuwe sokkies. Bekyk sy toonnaels, haal die knipper uit en knip. Sy vingernaels is altyd goed versorg. Hy smeer handeroom aan. Geen bruidegom kan beter voel en lekkerder ruik nie!

Dan bondel hy sy vuil wasgoed saam, pluk die duvet reg, laat die kamer taamlik netjies. Hy hou nie van die gedagte dat Sharise se niggie sy deurmekaar kamer moet regpak nie. Maar miskien werk sy net in die kombuis. Beter om haar agter die kospotte voor te stel – besig om stomende disse op te tower, vars kruie in te snipper, met wyn te toor – as met ’n skropborsel op haar knieë aan die vloere was.

Hy tel sy selfoon op. Nog geen boodskap van Suzette. Hy gaan haar nie bel nie. Hy gryp sy beursie en die BMW se sleutels. Spring die trappe twee-twee af, want hy voel energiek.

Dis twintig oor ses. Die huis ruik na vars koffie. Iemand is in die kombuis. Hy kry Louise daar in haar rydrag, besig om beskuit uit ’n blik te haal.

“Môre, Ma.”

Sy lyk of sy nie goed geslaap het nie. Sy groet met ’n moeë glimlag.

“Kry vir jou koffie en beskuit.”

“Dankie, maar ek sal ’n ontbyt koop by Sharise.”

Sy sug gelate. “Doen so.”

Hy soen haar op haar wang. “Ma moenie bekommer nie, ek gaan net groet.”

Sy kyk hom in die oë, sê dan plegtig: “Jy het my oortuig. Ek het besluit om vanoggend daar te gaan tee drink.”

Daarmee betrap sy hom onkant. “Dis ... gaaf. Dankie!”

En sy kry terstond ’n drukkie.

“Maar jy ruik vir jou lekker!” roep sy uit. “Wat is dit?”

“Versace, so ’n swart bottel.”

“Wel, as jy haar nie hiermee bedwelm nie ...”

Hy staan ’n entjie tru. “Is dit te erg?”

“Toemaar, teen die tyd dat jy daar is, het die helfte verdamp.”

Sy grinnik ironies. “Jacques, jy bluf my nie.”

“Met wat nou, Ma?”

“Jy is nog verlief op Sharise. Of wil jy net seker maak, haar regtig net een keer sien?”

Hy gaan haar nie vertel dat hy reeds gister daar was nie, nie nou nie.

“Sê maar so. Ek is net bly Ma het besluit om haar ’n kans te gee.”

“Dis omdat ek jou nie wil verloor nie,” sê sy sag. “Kan ek eerlik wees?”

Hy knik. Dis die eerste keer in agt jaar dat dit lyk of sy haar wil berou.

“Ek wil jou nie verloor nie, en ek is bereid om te veg.”

“Teen Sharise?”

“Nie noodwendig nie.”

“Sy is nie ’n bakleier nie.”

“Wel, ek ken haar nie meer nie. Ek het alles gedoen om haar te vermy, hoewel ek haar dikwels op ’n afstand gesien het. Soms by ou Maria gehoor hoe dit met haar gaan, maar dit was mos nie eintlik my besigheid nie.”

Sy stoot die beskuit in sy rigting. “Jy seker jy wil nie beskuit en koffie hê nie?”

Hy kyk op sy horlosie, spyt dat hulle nie die gesprek kan voortsit nie. “Liewer nie. Ek sal laat wees as ek nou koffie drink, en ouma Maria wag.”

“Dis sy wat die beskuit bak. Ek kry dit nog gereeld by haar.”

“En nuus van Sharise?”

“Ja, dis niks minder as goeie maniere om te verneem nie. Destyds toe sy getroud is, het ek ’n geskenk gestuur.”

Sy bly ’n rukkie stil. “Die man het haar mishandel.”

Jacques voel of hy wil skreeu. Niemand het hom ooit dít gesê nie. Die bietjie wat hy van haar verneem het, was altyd so min, veral die laaste paar jaar toe hy niks van haar wou weet nie. Dat sy getrou het, was genoeg om hom te laat onttrek. Hy was jaloers, en dit was makliker om Suzette lief te kry, as hy sy gevoel jeens haar liefde kan noem. Hy het gedink Sharise was gelukkig getroud.

“Min mense het geweet. Ou Maria het eendag iets laat val. Die patroon was toe al gevestig. Ek het haar jammer gekry, maar hoe kon ek inmeng? Toe was ons al so lankal verwyderd. Ek dag ek sê jou, dat jy weet sy het swaargekry. Ek gaan nie sê sy is gestraf nie. Dis moeilik vir my om alles wat verkeerd geloop het om te keer. Ek glo nie dis my skuld nie.”

Jacques kan sy oë nie glo nie. Sy ma is besig om te verkrummel. Daar is trane in haar oë en sy haal ’n snesie uit. Is sy jammer, of suggereer sy dat Sharise daardie bees van ’n man ... dat sy die mishandeling verdien het? Hy het nie woorde nie.

“Wel, nou het jy vir Suzette; die lewe moet aangaan. Julle sal trou, en dis beter om die ou brûe te verbrand. Gaan maak vrede met Sharise van Harte en dan praat ons datums. Suzette is ’n uitstekende keuse. Sy sal jou huis soos ’n koningin regeer, maar sy het jou nodig, Jacques. Ek glo jy is die enigste een wat haar kan help om te genees en weer normaal te eet. Sy is onseker, dis al. Sodra daar sekerheid oor julle toekoms is en sy weet sy hoef nie meer te werk nie, gaan sy soos handomkeer verander – ek waarborg jou dit.”

As Jacques netnou nie woorde gehad het nie, het hy nou nog minder. Suzette het sy ma om haar pinkie gedraai, sy ken haar nie. Sy weet beslis nie wat Suzette nodig het nie, want hy is die afgelope twee jaar tot haar beskikking en al wat sy ooit by hom gesoek het, was seks. Haar eetsteurnis is wel aangespreek, en hy was saam met haar by haar sielkundige. Net om te hoor dat hy geduldig moet wees en haar moet aanvaar soos sy is, nie aktief moet ingryp nie, ondersteunend moet optree – en daarvan is hy nou al siek en sat.

“Tussen hakies, het jy haar toe gisteraand in die hande gekry?”

“Hulle was nie meer daar nie, en haar sel was af,” sê hy eerlik.

“Snaaks.”

“Sy sal seker later vanoggend bel. Ma, ek moet gaan.”

Hy soen haar vlugtig en maak dat hy wegkom. Toe hy die BMW uittrek, ry hy stadig deur die digte misreën. Amper het hy die indruk gekry sy ma het omgekeer ten gunste van Sharise, maar Suzette is steeds haar keuse vir hom.

Sy weet nie wat ’n verhouding met Suzette behels nie! Sy het nie ’n idee nie, en hy is nie van plan om haar in te lig nie. Soos sy nou voel, sal sy dink hy maak stories op. Sy sal Suzette se kant kies en haar verdedig en Sharise sal weer die skurk in die verhaal wees. Selfs al het sy ma Sharise blykbaar jammer gekry toe sy geweet het sy kry swaar, was dit ook jammerte met leedvermaak. Dit maak hom seer. Hoe kan sy ma so wees? En wat sal dit kos om haar tot insig te bring? Sal dit ooit regkom?

Die lighartigheid waarmee hy vanoggend opgestaan het, is aan die afneem, en die weer lewer geen positiewe bydrae nie. Dit reën harder, en toe hy by ouma Maria stilhou, sous dit só dat hy in die kar moet bly sit.

Verdeksels, hy is op die ou end so haastig die huis uit dat hy nooit aan ’n sambreel gedink het nie. Hy wil darem nie na nat hond ruik as hy by Sharise aankom nie. Hy is besig om sy woltrui uit te trek en die afstand agterdeur toe te bereken. Maar die liewe ouma Maria het hom gesien en sy stuur iemand met ’n yslike sambreel.

Jacques laat sak die BMW se ruit. “Hallo!”

“Shane, Lucy se broer, ek werk hier op Rosedal,” sê die ou.

“Jammer, ek het nie besef dit gaan so stort nie!”

“Moenie worrie nie. Maak die bak oop, ek sal die bokse bring,” sê Shane.

“Dankie, man, ek waardeer dit.”

Jacques bly sit soos ’n mamma-se-seuntjie. Hy het ook al in die reën gewerk, dikwels, hy is nie bang vir water nie, maar vandag het hy ’n lamswoltrui aan en hy is op pad na die vrou van sy drome. Hy wil op sy beste wees, nou sous dit!

En hierdie ding dat hy nie vir sy ma die waarheid kan vertel nie, is besig om aan hom te vreet. Sy maak haar afleidings maklik, en dalk is dit nie regverdig dat sy nie al die kante van die saak ken nie. Sy weet nie hoe Suzette kan wees nie, sy weet niks!

Die bak wip op en Shane pak twee plat bokse in. Hy haal ’n sambreel uit die bak, klop aan die venster en gee dit aan.

“Dit was in die boot,” sê hy.

“Ek’t nie geweet nie, dankie! Dis my pa se kar.”

“Ek sien!”

Dit reën so hard dat hulle moet skree om mekaar te hoor.

“Gaan in! Jy versuip!” lag Jacques.

Hy skakel die kar aan en trek weg. Hy het die ruitveërs op volspoed; die water val asof daar emmers in die hemel omgekeer word.

Satyn Omnibus 2

Подняться наверх