Читать книгу Satyn Omnibus 2 - Helena Hugo - Страница 7

Оглавление

4

Sharise het die BMW nie gesien nie. Sy ry reguit Soete Verleiding toe. Heelpad dink sy aan liefde en haat, en aan hom, Jacques du Plessis. Wil sy hom sien of wil sy hom nie sien nie? Sal sy hom vergewe of gaan sy hom straf?

Die een oomblik is sy seker, die volgende oomblik begin sy twyfel. Hy het duidelik huis toe gekom om sy verloofde bekend te stel. Sy en mevrou Du Plessis is seker besig om die troue van die eeu op die landgoed te beplan. Mevrou Du Plessis – haar naam is Louise, maar Sharise dink altyd aan haar as Mevrou – was baie gaaf met haar toe sy nog ’n dogtertjie was. Toe het sy haar oorlaai met geskenkies en haar aangemoedig om met haar kinders te speel.

Nie dat hulle veel by die groothuis rond was nie, hulle het by ouma Maria geboer tot hulle skool toe is. Van toe af doen hulle nog hul skoolwerk by Ouma se kombuistafel, en Ouma help hulle om hul boeke oor te trek en tafels en spelwoorde te oefen.

Haar ouma, Maria Daniels, het die drie Du Plessis-kinders grootgemaak – nie Louise du Plessis nie. Sy het dit voordelig getref, want sy was omtrent nooit by die huis nie. Het selfs oorsee gegaan en haar kinders vir weke by Maria gelos. Daarvoor was Maria en Sharise altyd goed genoeg.

Dis vandat Sharise hoërskool toe is dat Mevrou so aaklig met haar geword het – nie dat Jacques hom aan sy ma gesteur het nie. Hulle het maats gebly tot ná haar matriekjaar, toe hy op universiteit was en sy begin werk het. Sy het hotelbestuur op skool geneem en belanggestel in die restaurantbedryf, wou alles doen en van onder begin.

Mevrou Du Plessis het nie gedink dis goed genoeg dat haar seun wat op universiteit is, uitgaan met ’n meisie wat kelnerin is in ’n obskure restaurant nie! Jacques was in sy finale jaar en hulle het van verloof raak begin praat toe die ding gebeur het ...

Sharise bloos elke keer as sy daaraan dink.

Sy het al baiekeer gewonder hoe sou haar lewe gewees het as Mevrou nie daardie aand onverwags teruggekom het Rosedal toe nie. Miskien maar net dieselfde, of dalk slegter?

Teen daardie tyd was sy in elk geval nie in Mevrou se goeie boekies nie, lankal nie meer nie. Sy sien haar soms in die dorp, die neus-in-die-lug-vrou met haar vlasblonde hare wat so glad gekam word dat dit lyk of sy ’n helm dra. Haar gesig en glimlag onder die helm is so vals, sy gee jou die indruk dat sy ’n masker ophet. Maar dalk sit sy dit net op as sy Sharise sien aankom.

Sharise loop in elk geval wye draaie om haar. Sy het wel vir haar ouma gesê Mevrou was nog nooit in Soete Verleiding nie en dit pla haar, maar as Mevrou ooit daar uitkom, sal sy in die kombuis gaan wegkruip. Sy en Mevrou sal beslis nie kan saamkuier soos moeder en dogter nie, nooit in der ewigheid nie! Sharise is mos die een wat haar soet seuntjie verlei het om ...

Sy wil nie daaraan dink nie, sy wil dit nie onthou nie!

Teen die tyd dat sy by Soete Verleiding aankom, is sy vasbeslote om vir seker nie Rosedal toe te gaan terwyl Jacques en sy verloofde daar kuier nie. Sy sal Donald of Myrna stuur om haar ouma se tuisnywerheidprodukte op te laai, sy ry nie weer nie. Hulle kan ouma Maria hiernatoe bring vir die Sondagbuffet, sy gaan nie Rosedal toe nie. Sy wil buitendien lankal hê haar ouma moet trek en by haar kom inwoon. Dan is hulle vir goed verlos van daardie plek. Maar haar ouma is koppig, sy hou van die plaaslewe, en vir haar is Sharise se huis langs die rivier te naby aan die dorp.

Dis pophuis-pragtig, dink Sharise trots toe sy by haar gietysterhek inry.

Die tuin is idillies groen en wit en blou, met terrasse wat aflei na die water. Wilde-eende roei op die rivier. Hulle broei op die eilandjie en kom loop soms tussen die tafels rond, altyd op die uitkyk vir Sokkies, veral as daar klein eendjies is.

Dis ’n mooi tuin, selfs in die winter geilgroen. Die pienk en wit Iceberg-rose blom welig; die laventel is in netjiese heininkies gesnoei. Daar is sierbakke vol gesiggies en papawers, en ’n fonteintjie in die middel van die formele kruietuin.

Die tuin en die tuindienste het haar al baie geld gekos, maar dis oor en oor die moeite werd, want die deftigste vrouens kom kuier hier om hulle te verbeel hulle is in Frankryk, en tee en koffie te drink en koek te eet en te sit en gesels, te skinder ook. Soete Verleiding is baie gewild. Mevrou Du Plessis sal dit nie erken nie, maar Sharise is besig om ’n sukses van haar teekamer te maak.

Sy parkeer die viertrek voor die agterdeur. Hier is soos altyd genoeg wat haar aandag verg; sy gaan nóú ophou stres oor die ellendige Jacques en sy hele gespuis. Sy dra haar ouma se bokse in en pak die vars voorraad in die vertoonkaste. Sokkies loop al weer rond en is nêrens te sien nie.

Die restaurant se vloere is binne gevee en gewas, dit het sy vanoggend reeds gedoen. Nou tel sy stoele van die tafels af en gooi skoon tafeldoeke oor, pak houers met suiker en sout en peper terug, gooi water in die blompotjies en steek vars heidetakkies in. Sy kry alles reg vir die ontbyt môre, want soms kom mense vroeg hier aan.

Sy skil winterspanspek en sit dit in die yskas; sy haal bestanddele uit vir die quiche wat sy vroegoggend wil maak. Eenkant speel die radio. Sy probeer luister wat gesê word, probeer haar gedagtes wegstuur van Jacques en sy ma en sy amper-verloofde, sy pa wat meesal in die wingerde besig is. Maar sy kan nie.

Hoekom is hy terug? Is hy hier om te bly? Want dan het sy baie om by aan te pas. Goed, sy was getroud, maar die gedagte dat Jacques trou en hy en sy vrou op Rosedal kom woon, is genoeg om haar keel te laat toetrek. As haar ouma by haar aandring om hom met kos, wyn én vroulike onderklere uit te lok, wat van haar skoolmaats? Wat van almal wat onthou hoe sy en Jacques was?

Sy sal eenvoudig haar voet neersit en sê dis verby. Sommer aanlas sy treur nog oor Jermaine, hoewel niemand dit sal glo nie.

Sy is besig om die kombuistafel skoon te vee toe die katdeurtjie klap. Sokkies kom soos ’n grootman ingestap, stert in die lug. Hy kyk na haar en gee darem ’n vriendelike miaau voor hy sy kosbakkie takel en katpille eet dat dit kraak.

Sy is nie lus vir kos nie. Haar ouma het haar te vol gestop met tert en konfyt. Dis kwart oor nege in die aand, sy moet gaan bad en in die bed kom. Dalk ’n glasie wyn drink om te ontspan en dan net slaap.

Sy sluit die deure en vensters – haar huis staan ’n bietjie eenkant en die naaste bure is ’n straat hoër op. Maar sy wóú langs die rivier koop. Dit was vir haar die ideale plek vir ’n teetuin. Hierdie was boonop ’n winskoop.

Sy skink vir haar ’n glas droë rooiwyn en glimlag.

“Op Jacques en sy nuwe vrou, die besemstok!” sê sy só hard dat haar stem in die leë kombuis weergalm.

Hulle kan hulle wat verbeel, dis die tweede keer vandag dat sy ’n seën uitspreek oor hierdie verkeerde verbintenis, en sy wil nie. Sy wil liewer buite op die stoep gaan staan en vir die maan skree: “Jacques is terug! Hy wil my nie meer hê nie!”

Vandat Jacques Sharise by haar ouma gesien het, het hy net een begeerte en dis om haar in die hande te kry. Hy dink aan haar toe hulle by die huis aankom, en Suzette en sy ma hulle op die stoep staan en inwag. Die gevoel wat hy kry toe hy Suzette sien, is ’n mengsel van verdraagsaamheid en moedeloosheid.

Hy kry skaars kans om stil te hou of sy storm by die trap af en spring in sy arms. Sy voel vir hom vanaand meer as ooit tevore na ’n geraamte wat oorgetrek is met vel. Haar ribbes steek hom deur haar dik winterstrui, haar heupbene boor in sy lyf.

Maar haar ingeplante borste is sag teen sy borskas, en sy ruik na haar parfuum. Miss Dior, dink hy en proe aan haar botoks-lippe wat sensueel teen syne rus. Haar tong glip soos ’n slangetjie s’n tussen sy tande in en weer uit. Soveel belofte, soveel om na uit te sien, en tog dink hy steeds aan die meisie met die lang bruin hare wat teen haar rug afstroom.

“Love you, my darling,” sug Suzette, haar mond nat en hygend.

Dis seker ’n verleentheid vir sy ouers om te aanskou, sulke hartstogtelike soene. Sy kon dit gebêre het vir later vanaand, hoewel hy nie weet hoe hy haar mond gesnoer gaan hou as hulle hier seks het nie.

Sy ma reageer ook sommer halsoorkop. “Hallo, Ma se liefling!” roep sy uit en slaan haar arms om hom en Suzette.

Oor haar skouer sien hy sy pa hulpeloos staan met ’n tas in elke hand. Hy maak hom los van die vroue, vat sy tasse by sy pa en dra dit kamer toe.

Sy ma het hom en Suzette in die gastevleuel ingerig. Hul slaapkamers is langs mekaar, maar sy het nie so ver gegaan om vir hulle ’n dubbelbed op te maak nie, so ’n skyn van fatsoenlikheid.

Hy is moeg en natgesweet van die lang vlug en maak eers verskoning om te stort. Almal los hom in vrede.

Dis onder die stort dat hy weer aan Sharise dink. Dis waar sy ma hulle daardie keer betrap het: in hierdie spesifieke stort, en eintlik was dit net ’n speletjie. Hulle het geswem en hulle sou die aand gaan fliek het. Sharise wou hare was en aantrek en toe sê hy sy moet sommer hier stort. Dis hý wat haar gevolg en saam met haar ingeklim het.

Hulle het mekaar ingeseep en hy het begin styf raak, dit kon nie anders nie. Hulle wou net so staan-staan iets uitprobeer, toe die stortdeur oopgeruk word en sy ma se gesig tussen die stoomwalms verskyn.

“Wat maak jy? Wat maak jy, jou slet, jou klein merrie!” het sy gegil en Sharise van hom af weggepluk.

Hy het nog nooit so vinnig slap geword nie. Een oomblik en hy het uitgespring en Sharise uit sy ma sy greep geruk, haar met ’n handdoek toegemaak en sy ma uitgeboender. Sharise was so skaam, so verneder, hy kon haar skaars sover kry om aan te trek en saam met hom deur die huis te loop.

Die huis was so stil soos die graf, soos ’n graftombe.

In die kar het Sharise bitterlik begin huil. Hy kon nie eens aan haar raak nie, sy het weggeruk en in die hoekie teen die deur gesit soos ’n muisie wat uit ’n kat se kloue ontsnap het.

Toe het hy maar stilgebly en in stilte tot by die huis op die dorp gery wat Sharise met haar vriendinne gedeel het. Daar het sy die kardeur oopgepluk en gemaak dat sy wegkom, sonder ’n woord.

Wat verder met haar gebeur het, weet hy nie, hy kon haar nie weer in die hande kry nie. Sy het nie haar telefoon beantwoord nie, haar kamer was toegesluit, sy was nie by die werk nie. Sy was weg, êrens heen, en niemand het geweet waarheen nie. By die huis het hy deur hel gegaan. Hy het vir dertien dae elke dag teruggegaan en aan Sharise se deur gaan klop en soebat, maar steeds was sy nêrens, nie ’n teken van haar by die restaurant nie. Selfs haar ouma kon hom nie help nie.

Dalk het sy geduld te gou opgeraak. Die toer Frankryk toe sou eers net twee weke duur, maar hy het werk gekry op een van die plase en gebly. Veral toe sy ma hom vertel het dat Sharise in die Kaap in ’n kroeg werk en selfs nie meer by haar ouma op Rosedal kom nie.

Die briewe wat hy vir haar geskryf het, is onoopgemaak teruggestuur na sy posbusadres in Stellenbosch. Sy ma het gesorg dat dit vir hom gehou word, en dit later op sy aandrang verbrand. Toe eers het die verhouding tussen hom en sy ma weer verbeter.

Vir sy susters het hy bloot laat weet dat hy en Sharise ná al die jare tog besluit het hulle pas nie by mekaar nie. Colette en Teresa was nogal teleurgesteld, want hulle het van haar gehou. Op die ou end het hulle weer deur ouma Maria met haar kontak gemaak. Volgens hulle wou sy niks van hom weet nie, al het hulle dikwels nuusbrokkies oor haar gestuur.

“Sharise is natuurlik terug op die dorp. Sy het ’n teekamer oopgemaak,” het sy ma hom gewaarsku toe sy laas in Frankryk by hom gekuier het. “Soete Verleiding – tipiese naam vir haar om te kies. Dubbelsinnig, is dit nie?”

Vir hom het dit gepas by ’n teekamer wat koek en tee bedien, al het hy geweet wat sy ma wou impliseer. Hy het geen kommentaar gelewer nie. Sharise het hom finaal verloor toe sy getroud is. Die feit dat sy ’n weduwee is, het niks aan die saak verander nie. Sy het hom in die rug gesteek.

“Ek en Suzette is nou saam, ek stel nie belang in Sharise se teekamer nie. Al noem sy dit Vlammehel, ek gee nie om nie,” het hy toe vir sy ma gesê.

“Goed,” het sy ma geantwoord. “Jy is dertig – groot genoeg om ’n verantwoordelike besluit oor ’n huwelik te maak. Ek hou van Suzette.”

Sy het glad nie na die stort-voorval verwys nie, nooit weer daaroor gepraat nie.

Vandag wonder hy nog steeds of sy sy pa vertel het. Hy het nie gevra nie. Hoe begin jy in elk geval so ’n gesprek?

“Pa, het Ma vir Pa vertel hoekom Sharise weg is?”

“Pa, het Ma vir Pa vertel wat ek en Sharise in die stort gedoen het?”

“Pa, het Ma vir Pa vertel wat Sharise met my in die stort wou doen?”

Hy en Sharise was darem ook nie meer kinders nie, hy was twee-en-twintig en sy twintig toe dit gebeur het. Hulle het beplan om verloof te raak sodra hy klaar is met sy graad – dit sou die einde van daardie jaar gewees het. Hulle was ’n volwasse paartjie. Maar daardie dag is hulle soos kinders behandel.

Hy draai die stortkrane toe. Iemand klop aan die deur.

“Darling, it’s me!”

Suzette met haar Engels.

“Ek kom, ek’s nou klaar.”

Hy begin om hom hard af te droog.

“Food’s on the table!”

Asof sy sal eet.

“Ek trek gou aan.”

Hy het die deur gesluit, en op daardie oomblik besluit hy om dit gesluit te hou. Hy help homself liewer vanaand voor hy by Suzette gaan inkruip. Of haar toelaat in die kamer waar hy Sharise die laaste keer hoor lag het.

Satyn Omnibus 2

Подняться наверх