Читать книгу Satyn Omnibus 2 - Helena Hugo - Страница 9
Оглавление6
Dinsdagoggend staan Sharise vieruur op. Sy meng meel, sout en water en maak ’n sagte deeg aan vir roti. Dis koel en die lug is vogtig van reën wat saggies in die nag geval het. Sy het die bodeur van die agterdeur oopgemaak en ’n vars windjie waai saam met die getjilp en gekwetter van tuinvoëltjies deur die vertrek.
Sokkies loop natuurlik weer rond. Hy het in die laatnag koers gekies, want toe sy wakker word, was sy alleen in die bed. Die roti-deeg moet drie uur staan en daarom het sy dadelik opgespring, haar sweetpak aangetrek en kombuis toe gegaan. Sy is besig om klontjies botter op die deeg te pak en dit oor te vou, die proses te herhaal tot al die botter ingevou is.
Sy maak genoeg deeg aan vir drie dosyn pannekoeke, was haar hande en gaan trek haar tekkies aan. Vandag het sy ’n lang drafsessie nodig.
Sy sluit haar deure en kies koers na die hoofpad. Miswolkies hang tussen die bome, en die berge het hul wolkkomberse om. Perfekte weer vir ’n lang drafsessie en helder gedagtes.
Sy beplan gewoonlik haar dag terwyl sy so draf, veral as daar spesiale besprekings soos verjaardagpartytjies of leeskringvergaderings is. Hierdie week lyk tot dusver besonder stil. Sy hoop maar die gewone klante daag vandag op, en dalk ’n toeris of twee. Sy het omtrent al haar wins van Sondag se buffet gister teruggeploeg in die besigheid toe sy kruideniersware gaan koop en haar ouma kontant betaal het. Die eierman kom ook vanoggend met die week se voorraad, en sy moet Donald stuur om kleingeld by die bank te kry. Sy tel die bedrae in haar kop op, en dit werk telkens op ’n verlies uit.
Wanneer gaan sy vooruit kom! Miskien as die Mercedes afbetaal is. Sy moes dit koop sodat sy voorraad kan vervoer én veilig ry. Maar wonder dikwels of sy nie liewer die Chana-bakkie moes gekies het nie, dis darem heelwat goedkoper.
Teenoor haar ouma sal sy nooit laat blyk dat dit broekskeur gaan nie, dat sy self baie bakwerk doen en soms koekies en lekkers teen afslag verkoop om haar voorraad vars te hou. Gelukkig het die konfyt en lekkers en die atjar en blatjang ’n langer raklewe en verloor sy nie veel as dit stadiger verkoop nie. Haar ouma kan so hard werk – nes haar ma.
Sharise draf vinniger, sy hardloop ’n ent voluit.
As sy aan haar weduweema dink en hoe sy haar hart gebreek het toe sy met Jermaine getrou het, wil sy weghardloop – nou nog. Hoe moes sy geweet het haar ma is so siek? Sy het nog gereeld inmaakgoed vir die padstal gelewer, en Sharise het elke af dag gaan help. Sy het baie by haar ouma en haar ma geleer, maar veral hoe om hard te werk.
Haar ma het haar trourok gemaak; sy het haar spaargeld gegee vir die klein onthaal ná die kerktroue. Jermaine het vir die drank gesorg. Hy en sy vriende en die ou oom en tante wat sy kant van die familie verteenwoordig het, het te veel gedrink en Sharise se kant rooi van skaamte gelaat voor hul Moslemvriende wat glad nie alkohol gebruik nie.
Haar eerste huweliksnag was ’n kolossale mislukking, want Jermaine was so dronk, sy vriende moes hom kar toe sleep. Sy het ’n grap daarvan gemaak en bestuur. Maar was dit ’n gedoente om hom uit die kar te kry by Houtbaai waar hulle ’n chalet vir die naweek bespreek het! Toe sy hom eindelik in die bed het, kon sy net neerplons en slaap.
Die volgende oggend het hy hom wel deeglik op haar gewreek – asof dit sý was wat haar onkapabel gedrink het. Jermaine kon baie aggressief raak, en tog was hy soms goed vir haar, soms het hy probeer.
Sy verslap haar pas. Sy is moeg, en die hartseer gedagtes maak haar nog moeër. Sy gaan staan langs die pad, hang vooroor en haal diep asem. Draf dan deur ’n natgereënde parkie kortpad huis toe.
Daardie nag was dit nodig om alleen te wees. Sy was in elk geval nie meer ’n maagd nie, want Jermaine het toe lankal gereeld by haar kom inkruip. Haar eie skuld, en sy wou trou om nie meer skuldig te voel nie. Op haar huweliksnag, wat die mooiste nag in enige meisie se lewe behoort te wees, het sy besef dat haar lewe ’n mislukking is. Sy het bitterlik gehuil, sonder ’n geluid, maar met baie trane.
Sy het gehuil en aan Jacques gedink, haar Jacques met wie sy nie kon trou nie omdat sy arm en ongeleerd is. Dis wat sy ma van haar dink – sy is arm en ongeleerd, en boonop ’n slegte invloed. Wel, sy het dit bewys toe sy met Jermaine deurmekaar geraak het. Sy pa is lewenslank tronk toe, sy ma het selfmoord gepleeg, sy broer het hom doodgedrink, sy suster het verdwyn, en sy oom en tante wat in Johannesburg woon, het net in hom belanggestel as hulle geld wou leen.
Hulle was baie geïnteresseerd in sy testament, maar toe hulle hoor dat hulle niks erf nie, het hulle van die aardbol af verdwyn. Wat goed is, want as hulle besluit om by haar te kom intrek, pak sy op en gaan woon in Tibet. Maar hulle sal nie, want hulle hou nie van haar en haar familie nie, dink hulle is snobs.
Is dit nie vreemd nie? Laeklasmense dink baiekeer ander wat harder werk en beter opgevoed is, verbeel hulle hulle is beter. Party ryk mense dink weer almal wat arm is, is laeklas.
Sy kom uit ’n goeie familie, mense wat hulle lewe lank eerlike werk gedoen het. Die vroue raak net te vroeg weduwee. Haar ouma was dertig toe haar oupa dood is, haar ma was vyf-en-twintig, en sy was amper sewe-en-twintig en net een jaar getroud. Haar oom is ook ses maande gelede oorlede, en Lucy en haar ouer broers moes gou uitspring om hul ma te help om hul jonger sussies deur die skool te kry. Jermaine was van kleins af in weeshuise. Hy moes na homself omsien en hy het dit reggekry, nou wel met ’n paar skelmstreke, maar hy het sy werk gedoen en hy het vir haar gesorg.
Sharise draf die laaste entjie vinniger; die son is aan die opstaan en boor met skerp strale deur die mis. Sy moet nog gaan stort en aantrek, en dan die quiche vir ontbyt in die oond steek. Dis amper sesuur, en Donald en Myrna begin halfsewe.
Sy voel goed, sy is in beheer van haar lewe. Haar teekamer sal nog geld maak, sodra sy die kar en die huislening afbetaal het, sodra haar uitgawes nie meer haar inkomste oorskry nie. Sy is vandag beter daaraan toe – alleen.
Sy sal dit nooit hardop sê nie, maar sy was kort voor sy dood van plan om Jermaine vir ’n egskeiding te dagvaar. Hy het haar liggaam verniel en haar siel vertrap; sy sou nie saam met hom kon oud word nie. Die plan om van hom te skei het ses maande ná hul troue al begin vorm aanneem. Sy was op pad om ’n prokureur te besoek, sy het al telefoonnommers bymekaargemaak om kwotasies te kry, geld gespaar, werk gesoek in ’n ander stad. Sy het nogal sin gehad in Port Elizabeth. Toe verongeluk Jermaine met sy motorfiets ...
Sy wou hom nie dood hê nie, sy wou wegkom, dis al.
Maar in sy dood het hy haar vergoed vir ’n jaar van pyn en vernedering.
Hy was ’n ongelukkige mens, ’n harde, raserige man met ’n valse bravade. Iemand wat maklik sy woede op haar kon ontlaai, en tog ook op sy vreemde manier omgegee het. Sy dink so, want hy het ’n ruim lewenspolis uitgeneem, en sy testament was in haar guns ...
Nie dat sy oor hom treur nie, nie dat sy na hom verlang nie! En toe het haar ouma ook nog gister oor Jacques begin. Hom wil sy nog minder as Jermaine in haar lewe terughê.
Dis vyf oor ses toe sy die agterdeur van Soete Verleiding agter haar toetrek, die koffiemaker en die oonde in die kombuis aansit en die trap na haar kamer twee-twee ophardloop. Sy stort en was haar hare in vyftien minute, blaas dit gou winddroog, trek haar jeans en ’n oorhangtruitjie aan, bind haar voorskoot om en maak dat sy in die kombuis kom. Vinnig meng sy die bestanddele vir die quiche – een grote met spinasie en een met maalvleis en sampioene. Spek braai sy eenkant, aangesien hier Moslems en Jode ook eet en hulle nie varkvleis verdra nie.
Die radio speel, maar sy hoor toe Myrna klop en maak vir haar oop. Sy woon straataf en loop sommer soggens werk toe. Donald ry van Rawsonville se kant af. Hy parkeer sy Kiatjie net voor Myrna die deur agter haar toetrek.
“Dit ruik lekker!”
“Eerste quiche is in die oond! Hallo, Myrna.”
“En jy is vrolik!”
“Ag, ek voel goed, ek’t gedraf.”
Myrna hang haar skouersak op en haal haar voorskoot van die haak af. “Ek dag jy voel so goed omdat jy gehoor het,” sê sy en knoop haar voorskoot om haar middel.
“Wat gehoor het? Het jy vir ons ’n verjaardagpartytjie gekry?”
“Nee.”
Myrna se ronde bruin ogies vonkel. Die vogtige weer is vandag weer in haar hare en die krulle staan soos ’n wolk om haar kop. Haar wange gloei.
“Twee, jy het twéé partytjies gekry?”
Myrna se skouers sak. “Jy weet nie.”
“Wat?”
“Het jou ouma jou nie gesê nie, of Lucy?”
Donald kom in. “Good morning, ladies!”
“Hallo, Donald.”
“Ek ruik koffie.” Hy trek sy jas uit. “En knoffel, iemand het al gewerk. Quiche in die oond?”
“Ek’t roti ook aangemaak.”
Myrna spring omtrent op en af. “Luister niemand na my nie!”
“Ek weet wat jy wil sê, Myrna,” sê Sharise bedaard.
“Ja?”
“Jacques du Plessis het gister gearriveer.”
“En toe, het jy hom gesien?”
“Nee, hoekom sal ek?”
Sharise tel die koffiepot op om vir hulle koffie te skink. Sy skink sonder om te stort, al bewe haar hart in haar binneste en al voel haar arms lam.
“Ek het.”
Al twee die meisies kyk verbaas na Donald.
“Is jy seker?” vra Myrna.
“Lucy het my gevra om by mevrou Du Plessis se verwelkomingsete vir haar seun te help bedien, toe gaan ek.”
“Ja, jou agie, dis van nuuskierigheid.” Myrna is self so nuuskierig dat sy kan bars.
Sharise kan die pyn in haar bors nie ignoreer nie. Haar hart is seer. Donald het hom gesien. Donald was daar en sy was nie. Hoe lyk hy nou? wonder sy. Is hy gelukkig?
Maar sy vra Donald niks. Sy vertrou nie haar stem nie, sy vertrou nie die uitdrukking op haar gesig nie. Sy gooi melk en suiker in haar koffie, roer stadig en luister na die gesprek tussen hom en Myrna. Sy luister so stip, sy wil nie ’n woord laat verlore gaan nie.
“Hulle het my goed betaal.”
“Dis oukei, ek is nie jaloers nie. Is jy, Sharise?”
“Kry vir julle koffie.” Sharise wys na die bekers.
“Wil jy nie vir Donald vra nie?”
“Wat, Myrna?”
“Wel, hoe lyk hulle? Pas hulle by mekaar? Sulke goed?”
Sharise draai na Donald. “Donald, hoe lyk hulle, sy en hy? Pas hulle by mekaar?” vra sy kastig net soos Myrna, terwyl haar binnegoed besig is om om te keer en alles in haar sidder.
Donald lyk ernstig. “Jou gewese kêrel is in lewensgevaar.”
Sharise snak na asem. Is hy siek? Is dít hoekom hy terug is, om hier te kom doodgaan?
“Wat makeer?” vra sy. Haar tong sukkel om die woorde te vorm, haar mond is droog.
“Hy is in die kloue van ’n vampier.”
“Wat?”
“Daardie vroumens van hom is wraggies nie lekker nie.”
“Hoe bedoel jy?”
“Mooi, maar mal. Sy eet niks, die hele maaltyd deur. Oukei, sy het ’n paar slaaiblare geknibbel en ’n slukkie wyn gehad, verder niks. Hy het naderhand vir haar drie skeppies roomys gevoer.”
“Toe eet sy?”
“Toe eet sy. Ek dink sy soek sy aandag.”
“En hy gee nie genoeg nie,” reken Myrna, “want toe hy haar voer, toe eet sy.”
“Is sy mooi?” waag Sharise dit om te vra.
“Beeldskoon. Bella bellissimo!” Donald soen sy vingerpunte. Hy verbeel hom hy praat goeie Italiaans.
“Dis verby met my.” Sharise kry dit reg om ligsinnig te klink. “Teen so ’n gedugte kombinasie kan ek nie kompeteer nie: hulpeloosheid en skoonheid.”
“Goed,” sê Donald, “jy’s beslis nie hulpeloos nie, maar dis maklik om te fake. Jy’s enige tyd net so mooi. Quite frankly, julle is ’n beter couple.”
“Hulle was hoeka die skoolkys van die eeu,” giggel Myrna en haak by Donald in. “Vra vir Donald en Myrna. Ons help jou, dan kry ons haar uit die pad, nè, Donald?”
“Sal my plesier wees.”
“Donald het anyway sy oog op daai vrou!” Myrna pomp hom met haar elmboog in die ribbes.
Hy straal en wikkel sy wenkbroue suggestief. “Hoe lyk dit, Sharise, game on?”
“Hy gryp die model en jy kry die model se man,” lag Myrna.
“Drink julle koffie, ek dink ek hoor ’n kar. Ek gaan die voordeur oopmaak.”
En Sharise vlug.
Die twee praat oor ’n man wat haar lewe kan omkeer, ’n man wat sy jare gelede so liefgehad het, sy sou enigiets vir hom doen: deur die vuur loop, onder water swem as dit moet. Om haar klere vir hom uit te trek was doodnatuurlik. Dit was om naby hom te kon wees, om deel van hom te word, deel van gedeelde ekstase. Hulle het mekaar so goed geken, beter as wat Myrna en Donald en enigiemand anders kan raai.
Sy het nog gevoelens vir hom, sy voel dit die laaste tyd – een groot verlange.
Dis skemerdonker in die eetkamer en nog koel buite. Sy skakel solank die ligte aan. Die besoekers wat pas stilgehou het, sal nie buite wil sit nie, daarvoor is die oggend te fris. Sy draai die sleutel in die slot en maak die deur oop. Jammer sy het nie vroeër al oopgesluit nie. Die kamer ruik effens muf, tipies van Wes-Kaapse huise, en veral tipies van huise so naby aan water.
As dit vandag weer reën, sal Donald die kaggel aanpak. Intussen skakel sy die verwarmers ook aan, en stoot flink een ná die ander venster oop. Die welkom-matjie is nog nie uitgesit nie, en sy sluit die veiligheidshek oop en buk om dit op te tel.
Dis een persoon wat aankom; sy hoor dit aan die voetstappe.
Wel, bedelaars kan nie kieskeurig wees nie, en een besoeker so vroeg is beter as niks. Sy sit die matjie netjies neer. Dis manskoene, goeie leerskoene, ’n netjiese broek en ’n los baadjie. Sterk hande.
Sy kyk nog hoër op, sien die swart rolnektrui, die keel en ken met baard wat donker deurslaan, die reguit neus, skerp oë, groenerig blou en vol verwagting. Sy hare is anders, korter soos mans dit deesdae dra, sy mond steeds syne, sy lippe.
Sy sou hom herken het al was hy grys en oud.
“Jacques?”
“Dis ek.”
Sy kom regop. Hy gee nog ’n tree nader. Hy ruik na seesout, vars soos reën.
Wat haar besiel het, weet sy nie, maar sy gee ’n sagte gilletjie, gooi haar arms om hom en klou hom vas. Klim onder sy baadjie in en druk haar só styf teen hom, dit voel of sy in sy lyf kan verdwyn. Sy gordel druk teen haar ribbes, haar borste druk plat.
Hy lig haar van haar voete af, amper val hulle. Sy hang aan sy nek, hy swaai haar heen en weer, laat gly haar teen sy bors af. Sy mond is op hare, hulle soen, hulle soen en soen asof hulle lewe daarvan afhang.
Sy proe die binnekant van sy mond, haar mond is gekneus, sy tong raak aan hare, hulle tande skuur teen mekaar. Hy breek weg, kyk na haar, soen haar weer, oral op haar gesig, die een soen ná die ander. Hulle soen asof hulle mekaar wil opeet.
Tot Sharise besef waarmee sy besig is. Toe trek sy terug en draai haar kop weg. Warm trane stroom oor haar wange.
“Hoekom huil jy?”
Sy draai na hom. “Omdat ons nie mag nie,” sê sy, en elke woord is ’n dolksteek wat haar hart deurboor.
“Daaroor sal ons later praat.”
Sy skud haar kop. Sy kan nie haar trane beheer nie, dit wil nie ophou nie. Sy trek haar een hand uit syne en vee hulpeloos oor haar gesig. Toe los hy haar en haal sy sakdoek uit. Hy vee haar trane af.
Daarin is hy goed geoefen, kan sy agterkom. Jacques vee dikwels trane af. Is dit van die arme mal vroumens, die besemstok wat nie eet nie? Is dit sý wat so huil dat hy weet hoe om te troos?
Sy stoot sy hande en sy sakdoek weg en haal ’n snesie uit haar voorskootsak.
“Jy moet liewer loop,” sê sy.
“Hoekom?”
“Hier kom nou-nou gaste, dan lyk dit sleg.”
“Wat van my? Ek is ook ’n gas.”
“Nie vandag nie, nee.”
“Ek verstaan, maar ek sal terugkom.”
“Nee, Jacques, asseblief nie!” Haar stem is hoog en byna histeries. “Moenie, asseblief nie!”
“Ek sal kom, want ons moet praat,” sê hy beslis.
“Daar is niks om te sê nie.”
“Sharie, jy het reeds genoeg gesê, en ons het gesoen.”
“Dis sommer ... sommer omdat ek jou lanklaas gesien het.”
“Maar so ... so intens?”
“Ek moet ingaan.”
“Ek bel jou.”
Hy staan nog te naby, en hy sit weer sy arms om haar.
Maar sy ruk los en hardloop blindelings na binne, byna in Myrna vas wat met ’n spyskaart in die hand staan en iets sê wat sy nie hoor nie. Sy hardloop die trap op, gooi haar op haar bed neer en snik sonder om om te gee of Myrna en Donald en die hele wêreld haar hoor.