Читать книгу Best Books Studiewerkgids: My Japan - Hettie van Zyl - Страница 12
Droomstruktuur
ОглавлениеDie dramateks moet gesien word teen die agtergrond van ’n droomstruktuur. Wanneer ’n mens droom, is dit gewoonlik nie in chronologiese volgorde nie. Drome bestaan uit fragmente van die werklikheid en soms is drome verwarrend en onverklaarbaar.
Die definisie van die woord en term “droom”: droom1 s.nw. [drome] 1 Onwillekeurige voorstellings/gedagtebrokke wat in die slaap in die bewussyn kom. 2 Dagdroom, mymering. 3 Voorstelling v.d. werklikheid wat ongegrond is; lugkasteel. [Pharos Verklarende Afrikaanse Woordeboek. Pharos: Kaapstad]
In een aand kan jy droom van iets onaangenaams en die volgende oomblik kan ’n vreugdevolle droom volg en wil jy nie ophou droom nie. Inderwaarheid is die drama, My Japan, soos ’n droom van Ilse, vandaar die oënskynlik verwarrende, losstaande dele. Sodra die drama as ’n droomformaat gesien word, maak alles skielik sin, want die dramaturg het volkome vryheid binne die struktuur om karakters en gebeure, wat normaalweg nie saamhoort nie, suksesvol saam te voeg in ’n droom.
Ilse, die hoofkarakter van die drama, se lewensdroom is om in Japan te gaan skoolhou. Haar ma keur egter nie haar keuse goed nie. Omdat die werklikheid vir haar onaangenaam is, skep sy ’n nuwe wêreld (toneel 2), ’n plek waar drome waar word en die verlede nie bestaan nie.
In toneel 1 kan ’n slapende Ilse gesien word en die onaangename gebeure van Danie se verdrinking en Ma se opname in die senukliniek speel soos ’n nagmerrie op die verhoog af. Van spreekbeurt 43 is die droom weer positief en dit gaan oor in toneel 2 met die idilliese beeld van Ilse se Japan in die verbeeldingswêreld. Selfs in toneel 3 is Ilse nog in ’n droomwêreld wanneer haar ma haar probeer wakker maak en beskou sy haar ma as die monster, Futakuchi-onna.
Toneel 5 kan ook as ’n droom gesien word, want dit waaraan Ilse en Elzette dink, speel op die verhoog af. Dit is mos nie moontlik dat Elzette haarself met die lemmetjie sny dat die bloed loop en niemand enigsins reaksie toon nie, maar in drome is dit wel moontlik. Die begin van toneel 6 sluit aan by toneel 1 waar Ma na Danie soek. In toneel 7 gaan die nagmerrie voort, maar in die vorm van ’n ou Japannese spookstorie, dan word daar in toneel 8 weer teruggespring na die nagmerrie-ondervinding van Ma in die Grootvlei Inrigting.
Toneel 10 is die vergestalting van die tsoenami in Japan wat ook in ’n droomvorm weergegee word. In toneel 11 word Ilse uit haar droom wakker, maar dan word die gevolge van die ramp weer deur Engela se oë weergegee. Ilse se monoloog in toneel 12 sluit die droomwêreld af en die werklikheid kom na vore.