Читать книгу Best Books Studiewerkgids: My Japan - Hettie van Zyl - Страница 8
Intrige
ОглавлениеDie plan waarvolgens die verhaal verloop, word die intrige genoem. Dit staan ook bekend as die raamwerk van die gebeure of plot. Die intrige dui dus op die volgorde waarin gebeure in die drama georganiseer is. Die intrige veronderstel ’n patroon van die verhouding tussen hoofgebeure in die teks en die intrige. Oorsaak en gevolg speel ’n belangrike rol en daar is ook ’n verhoogde spanningslyn.
In My Japan is die volgorde van gebeure nie chronologies nie, maar bestaan uit fragmente van gebeure. Daar is tydspronge of terugflitse in die drama asook die hede en verlede wat mekaar afwissel. Die verhaallyn is dus fragmentaries of achronologies.
Ilse is die hoofkarakter (protagonis) en die gebeure wentel rondom haar lewe en die konflik wat sy ervaar. As gevolg van haar broer, Danie, se verdrinking ervaar sy skuldgevoelens, want sy kon nog nie sy dood verwerk nie. Haar ouers se egskeiding het haar verder getraumatiseer, daarom is sy ongelukkig.
Ma en Ilse se konflik is oënskynlik oor onbenullighede, maar die grootste oorsaak is egter die gebrek aan kommunikasie en onverwerkte emosies wat albei ervaar. Die gevolg van die konflik is voortdurende spanning. Ma ontsnap van die werklikheid deur haar op haar werk toe te spits en Ilse skep ’n verbeeldingswêreld waar sy gelukkig is.
By die skool is Ilse ’n buitestander wat die gespot van haar klasmaats weens haar obsessie oor Japan moet verduur. Lukas en Elzette is newekarakters wat Ilse belig en ondersteun.
Aan die einde van die drama maak Ilse en Ma vrede en Ilse se droom om in Japan te gaan skoolhou nadat sy haar matriekloopbaan voltooi het, word ’n werklikheid.