Читать книгу Best Books Studiewerkgids: My Japan - Hettie van Zyl - Страница 20
Okiku
ОглавлениеFoto: Tsukioka Yoshitoshi se afdruk van Okiku uit Shingata sanjurokkaisen. [Publieke-domein]
Die spookstorie van Okiku het verskeie weergawes, maar het wel een ding gemeen en dit is dat daar ’n onskuldige slagoffer is.
Die bekendste verhaal is dié van die diensmeisie, Okiku, wat in diens was van Aoyama Tessan, ’n samoerai-kryger. Hy wou haar sy minnares maak, maar sy het geweier. Hy het toe een van die tien kosbare Delft-borde weggesteek en haar beskuldig van diefstal. In daardie stadium was diefstal in Japan strafbaar met die dood.
Toe Okiku agterkom dat die bord weg is, is sy in trane na haar meester om hom mee te deel van die bord wat weg is. Hy het haar belowe dat hy na die probleem sal omsien as sy belowe om sy minnares te word. Sy het weereens geweier. In sy woede het Tessan haar in die waterput gegooi en sy het verdrink.
Okiku se gees (Onryó) het elke aand nege borde afgetel en wanneer sy nie die tiende bord vind nie, het sy vreesbevange begin gil. Die gees het Tessan van sy verstand gedryf en hy het in die put gespring en ook verdrink.
Een weergawe van die verhaal is dat ’n geesbestryder of buurman “tien” geskreeu het en so het die gees tot rus gekom.
Die verhaal van Okiku word in Japan met bordspeletjies, kabuki (’n klassieke dans- en sangteaterspel), poppespel, verhoogdramas en TV-reekse (soos Afro Samurai) uitgebeeld. Die put van Okiku by die Himejikasteel (naby die stad Hyogo) wat in 1613 gebou is, is ook ’n besienswaardigheid vir toeriste in Japan.