Читать книгу Best Books Studiewerkgids: My Japan - Hettie van Zyl - Страница 13
Titel
ОглавлениеDie titel is die naam van die drama: My Japan. Die titel is veelseggend en lei tot die ontsluiting van die drama. Die besitlike voornaamwoord in die titel beklemtoon dat die drama nie oor Japan gaan soos die land amptelik bekend is nie, maar Ilse se weergawe daarvan.
Ilse skep in haar verbeeldingswêreld ’n Japan, ’n plek waar sy gelukkig is. Sy is ongelukkig as gevolg van haar boetie se dood, haar ouers se egskeiding en haar ma se bakleiery. Sy is in konflik met die omgewing en skep vir haar ’n verbeeldingswêreld waar alles mooi en voorspoedig is.
In Japan woon sy as haar alter ego (ander self), Amaja, in Naka, ’n piepklein dorpie aan die Ooskus met minder as 300 mense. Sy skep die fantasiekarakters Marioka San en Jun (haar Japannese ouers) met wie sy in vrede kan saamleef.
Naka bestaan werklik in Japan, maar die stad (53 534 mense) is allesbehalwe klein en het ’n bevolkingsdigtheid van 547 mense per km². Dit bevestig die feit dat die titel nie letterlik verwys na Japan nie, maar dat dit slegs ’n gesuggereerde ruimte is. Dit is dus ’n illusie van die werklikheid. Die verhaal van Amaja en haar Japannese ouers word egter lewensgetrou en geloofwaardig aangebied.
Engela, Ilse se niggie wat Engels in Japan onderrig, se belewing van Japan ondersteun die titel en gee die toeskouer ’n kykie in die lewe van die Japannese. Sy verwys na die samewerking onder die Japannese ná die 2011-tsoenami, hulle eetgewoontes en gebruike.
Die Japannese mitologie sluit aan by die titel. Dit verleen misterie aan die drama. In die drama word daar verwys na die verhaal van Okiku, Akashita en Futakuchi-onna. Ilse is so aangegryp deur die verhale dat sy dit deel maak van haar werklikheid en selfs na Mercia, haar ma, verwys as Futakuchi-onna – die vrou met die twee monde. Die fliek, The Grudge, waarna Lukas verwys, handel oor ’n Japannese vrou wat spook en mense vermoor.
Ilse se skoolmaats is bewus van haar obsessie met Japan en tydens die skoolgeveg sê Wim sy moet Japan toe waai. Ilse lewer ook ’n toespraak oor die tsoenami in Japan. Lukas sê dat Ilse alleenreg op Japan het. Dit sluit aan by die besitlike voornaamwoord (“my”) in die titel.
In spreekbeurt 544 sê Ilse: “My Japan is ’n plek vol kersiebloeisels en spoke en lieflike tradisies. Die regte Japan is ’n rampgebied.”
Ilse se droom om in Japan Engels te onderrig word aan die einde van die drama waar wanneer haar ma toestemming gee dat sy haar droom mag uitleef. Sy kan Japan werklik beleef soos Engela en hoef nie meer in die verbeeldingswêreld te leef nie.
Kontekstuele vrae: Titel
1.Verduidelik wat die verskil is tussen die land Japan en die verwysing na My Japan soos dit in die titel en die res van die drama na vore kom.
(2) [3]
2.Watter karakter verteenwoordig Ilse in Japan (toneel 2)?
(1) [1]
3.Verskaf twee redes waarom Ilse in haar verbeelding ’n Japan skep.
(2) [3]
4.Watter rol, dink jy, speel die verwysing na die Japannese mitologie, tsoenami en die beskrywing van die dorp Naka in die drama?
(3) [5]