Читать книгу Ingrid Jonker Versamelde Werke - Ingrid Jonker - Страница 12
Die skildery
ОглавлениеDie lig brand helder in my ateljee
en helderder is ek vanaand geklee:
Hier waar ek nou begin om jou te haat
verf ek ’n spotprent van jou mooi gelaat
Verf ek jou as sirkus-harlekyn
maar sou jou oë dromerig verskyn
As hierdie masker netnou met die dans
verroer en jou nie heeltemal verskans
Sou ek jou uitwerp in die straat
maar in die nanag hierdie ateljee verlaat
Om jou te soek teen duistere rante
verflenter en verwaai na alle kante
Om jou te vind en fluist’rend te bely:
Daar kan geen haat wees tussen jou en my.