Читать книгу Ingrid Jonker Versamelde Werke - Ingrid Jonker - Страница 20
Die waarsegster
Оглавление“Hier stort ’n bos swart hare uit
die klein kristal waarom jou lewe sluit.”
Haar kamer is ’n rooi en swart papawer
Haar vingers dobbel met die boer van klawer.
Haar oë is ’n diep poel wat verys
waarin my lewe strak en klaar verrys:
Sy ken my as die afgetrokke kind
van Gordonsbaai se see en branderwind
Sy ken my in Die Strand en Riversdal
Soos skilderye is my dae uitgestal.
“Ek sal jou sê wat jy moet doen
wanneer die swartkop hom met jou versoen!”
Die vlerkslag van haar bode op sy vlug
keer uit die nagstad na haar terug
Uit hande witgepoeier val
die blink vuur van die klein kristal,
Haar oë het ’n wilde kolk geword
waarin my eie lewe skuim en stort
Toe weet ek dat sy jou as mens begeer
wat flikkerend uit die klawerkaarte keer
Sal sy my nou langs agterstrate lei,
’n donker skadu tussen jou en my?
Sal sy my langs ompaaie na jou stuur
Sal ek my vasloop in ’n baksteenmuur?
Die tydelose kamer rooi en swart
berei die onheil van my hart
En sy wat glimlag en gelate roem:
“Die swartkop sal hom nog met jou versoen.”