Читать книгу Vers en Vlam - Jeanette Ferreira - Страница 10
ОглавлениеT.T. Cloete
(*31 Mei 1924 – †29 Julie 2015)
CLOETE IS IN 1924 GEBORE en het ná uitgebreide studie as ’n prominente letterkundige in Afrikaans bekend geraak. Hy het talle belangrike akademiese werke gepubliseer, maar eers op ouderdom ses en vyftig met die verrassende bundel Angelliera sy debuut as digter gemaak. Daarna het hy hom met nog agt digbundels en elf groot pryse as een van die belangrikste digters in Afrikaans gevestig, waaronder die Hertzog-, Ingrid Jonker- en die Rapport-prys. Intussen het hy ook ’n bundel kortverhale en ’n toneelwerk gepubliseer, maar bowenal betreklik laat in sy lewe ’n verbasende taak verrig deur in die loop van sowat tien jaar honderd en vyftig Psalms in die Ou Vertaling vir gebruik in die Afrikaanse susterskerke in eietydse idioom te herdig. Saam met enkele ander digters se weergawes het dié groot werk in 2001 in Liedboek van die kerk die lig gesien. T.T. Cloete se sukses as digter het van die begin af berus op sy unieke ontginning van die taal as ’n soepel en veranderlike instrument. Hy is veral bekend vir sy nuutskeppings in enkele woorde en die vloeiende grepe waarin frases van ’n versreël sonder leestekens oorloop na die volgende gedagte, maar dikwels ook weer na agtertoe gelees kan word. Verder word Cloete se poësie gekenmerk deur ’n enorme leeskennis en ’n uitgebreide belangstelling in die verstommende wondere van God se skepping. Daarby het hy ’n sterk belangstelling in die natuur, menslike gedrag, in die produkte waarmee mense hul en ander mense se bestaan dokumenteer in boeke, briewe, foto’s, skilderye en alles wat die tegnologie deur die eeue gebring het.
Pre-lees
Gesels in die klas oor watter soort mens as barbaars beskou word en kyk hoeveel uiteenlopende menings daaroor bestaan.
“die barbaar” in konteks: ’n Kenmerk van Cloete se oeuvre is sy knap hantering van die verstegniese aspekte, ingewikkelde sinstruktuur en woordplasing. Een van die bekendste temas in Cloete se werk is die ironiese kyk na die samelewing en die rol van die digter in ’n aanstellerige bestel. In hierdie gedig kritiseer hy gemaksug en materiële barbarisme in die samelewing. Dis ironies dat die moderne samelewing juis groot waarde aan rykdom heg.
Hierdie gedig verskil van die meeste mense se opvatting oor wat ’n barbaar is. Dit verwys na die ryk en vername mens. Dié soort mens is selfgesentreer en dis vir hom belangrik om van al die simbole van rykdom omring te wees en aansien te geniet en om ’n openbare figuur te wees. Hy neem trouens leiding in die samelewing, maar eintlik is hy ver van die grootste deel van die samelewing verwyder, omdat hy sy geld aanwend vir uiterlike vertoon. Hy het ook nie belang by sake wat van durende belang is soos kultuur, welsyn, etiek, geluk en samesyn en ander ewigheidswaardes nie.
Dit beteken nie dat alle ryk mense barbare is nie. Daar is rykes wat baie vir liefdadigheid en ander sake in openbare belang doen. Vir sulke mense is dit egter nie belangrik om geprys te word en aansien te geniet nie.
Lees
die barbaar
1.die barbaar is onherkenbaar
2.hy sit soggens agter sy netjiese lessenaar
3.en lees koerante van voor tot agter
4.hy kyk deur ’n bril met getinte donker glase
5.sy foto’s verskyn daagliks in die pers
6.op die tv se nuusbulletins lei hy optogte
7.waar die skare na sy pype dans
8.mens hoor sy stem gereeld oor die radio
9.hy reis internasionaal ekonomiese klas
10.met albei sy vet hande groet hy
11.en glimlag met ’n geoefende gesig
12.hy borsel gereeld sy geel tande
13.en sproei poleigeur in sy toilet
14.stort met geurige jel en aramisseep
15.hy skeer sy skedel kaal en blink
16.dit laat hom jonk en macho lyk
17.’n vetgordel wiel om sy heupe
18.hy het ’n stywe bankrekening
19.’n makelaar en aandele op die jse
20.hy is voorsitter van komitees en organisasies
21.en van die morele higiëne van die volk
22.hy ry bmw’s en mercedes benze
23.met chauffeurs en drie lyfwagte
24.hy gaan onbevrees oral ongewapen
25.die barbaar woon in ’n dubbelverdiepinghuis
26.met ’n mooi tuin vol struike kleurryke sambrele
27.en wit tuinstoele en -tafels staan daar rond
28.waar hy selde in sy min vrye tyd gaan sit
29.saterdagmiddae slaap hy en sondae
30.speel hy soggens gholf met sy baie vriende
31.smiddae tennis op bane in sy agterplaas
32.hy kyk krieket maar nie sokker nie
33.hy drink rooiwyn en eet pekanneute
34.met sy vooraanstaande vriende en vriendinne
35.hy het rakke vol cd’s van al die idols en ikone
36.hy hou bediendes in uniforms aan
37.en het ’n uitstekende kok en butler
38.hy het ’n selfoon en ’n kanarie
39.en ’n siamese kat en ’n engelse fox terrier
40.vet en blink betaal hy inkomstebelasting
41.dorpe en stede strate en pleine groot damme
42.en skole is na hom vernoem die barbaar
43.is onherkenbaar
WOORDVERKLARINGS
aandele: beleggings in maatskappye / Eng.: shares in companies
agterplaas: oop ruimte agter die huis / Eng.: backyard
butler: hoofbediende / Eng.: chief servant, butler
chauffeurs: motorbestuurders / Eng.: chauffeurs
getinte: donker gekleurde / Eng.: tinted
Idols: wenners van sangkompetisies / Eng.: winners in singing competitions
ikone: helde / Eng.: heroes
JSE: Johannesburgse Effektebeurs / Eng.: Johannesburg Stock Exchange
kok: persoon opgelei om te kook / Eng.: trained cook
macho: manlik / Eng.: macho
makelaar: iemand wat beleggings soos aan- dele koop en verkoop / Eng.: person who buys and sells shares
morele higiëne - rein gewete / Eng.: clean conscience
na iemand se pype dans: alles doen wat iemand sê / Eng.: dance to another’s tune
nuusbulletins: nuus op radio en TV / Eng.: news on radio and TV
onbevrees: nie bang nie / Eng.: unafraid
optogte: mense wat in ’n groep loop om te protesteer / Eng.: protest marches
pers: die media: koerante, TV, radio / Eng.: media: newspapers, TV, radio
poleigeur: parfuum berei van die plant met mentgeur / Eng.: perfume prepared from plant with mint fragrance
skedel: menslike kopbeen / Eng.: human skull
stort: was onder lopende water / Eng.: shower
vooraanstaande: uitgelese, belangrike / Eng.: distinguished, upper-class
Pitkos: Eiewaan, geldmag en ander vergrype kom in hierdie gedig onder skoot. Die barbaar is eintlik bekende mense in die samelewing. Hulle praat gereeld op radio en TV en hul foto’s pryk in koerante. Die barbaar doen al die regte dinge wat hom as gesiene mens moet vestig. Individualiteit is maar ’n skaars eienskap van hierdie persoon wat hom met al die bekende statussimbole omring. Só word die tradisionele woordeboekbetekenis van “barbaar” heel verrassend omgekeer. Die gedig is ’n uitstekende voorbeeld van ironie omdat die hoogste vorm van sosiale aanvaarding soos dit in die gedig uiteengesit is, juis van die hoofkarakter ’n barbaar maak omdat hy geen kulturele agtergrond het nie.
LEERFOKUS
alliterasie
assonansie
leestekens
lettergrepe
ritme
teenstelling
vrye vers
Post-lees
Kontekstuele vrae
1.Noem twee dinge in versreëls 2, 3 en 9 wat daarop dui dat die barbaar ook goeie dinge doen ter wille van die openbare mening.
2.Waaruit kan afgelei word dat die barbaar ’n bekende figuur is?
3.Watter versreël wys ’n voorbeeld van ’n teenstelling aan? Skryf die frase oor.
4.Wat bereik die digter deur geen hoofletters of ander leestekens te gebruik nie?
5.Hoe beïnvloed hierdie gedig jou siening van bekende mense?
Vir jou joernaal en/of in die klas
Skryf vir ’n koerant se sosiale blad ’n onderskrif van 150 woorde by die foto van ’n bekende figuur waarin dié se voorkoms en optrede beskryf word.