Читать книгу Vers en Vlam - Jeanette Ferreira - Страница 17
ОглавлениеDiana Ferrus
(*29 Augustus 1953)
FERRUS, GEBORE OP WORCESTER, is ’n prosaskrywer, digter en storieverteller. Sy behaal ’n graad in sosiologie en bedryfskunde as hoofvakke en ’n honneursgraad in vrouestudies. Sy is verbonde aan die administratiewe afdeling van die Universiteit van Wes-Kaapland, aanbieder van skryfslypskole in Kaapstad en besit ’n uitgewery. Ferrus is veral bekend vir haar gedig oor Sara Baartman, ’n Khoivrou wat in die 19de eeu onder valse voorwendsels na Europa geneem is, in tragiese omstandighede daar gesterf het en wie se oorskot later na Suid-Afrika teruggebring is. Ferrus het dié gedig geskryf terwyl sy in Utrecht studeer het en publiseer later die digbundel Ons Komvandaan. Van haar kortverhale verskyn in verskeie versamelbundels. Ferrus oes twee Kanna-toekennings in vir musiek- en woordkuns. Sy is ’n stigterslid van die Afrikaanse Skrywersvereniging, Bush Poets en Women in Xchains.
Pre-lees
Gesels in groepe: Hoe sal jy voel as jy van jou ouerhuis weggeneem sou word na ’n ander land en jy kan nooit terugkeer nie al wil jy graag?
“Vir Sara Baartman” in konteks: Die gedig handel oor Sara Baartman, wie se naam en van op verskillende maniere geskryf is. Ten einde die gedig voldoende te verstaan, is kennis van haar agtergrond nodig. Sy was ’n Khoivrou wat in ongeveer 1790 in die Gamtoosvallei gebore is en toe sy sowat twintig jaar oud is, verkoop is aan ’n Londense sirkusbaas. Hier is haar menseregte op gruwelike wyse geskend deurdat sy as ’n eienaardigheid ten toon gestel is, omdat sy so anders as Europese vroue gelyk het. Wat in haar Afrikakultuur skoonheid was, was vir die Europeër ’n lagwekkende skouspel. Sy is selfs aan anatomiese ondersoeke by die Natuurhistoriese Museum in Londen onderwerp. Na bewering was haar laaste woorde “Saartjie gaan huis toe” toe sy in 1815 in Parys, Frankryk, oorlede is. Haar liggaam is selfs gedissekteer en haar oorskot is ten toon gestel. Vir meer as ’n eeu en ’n half kon mense steeds na haar brein en beendere gaan kyk in ’n Paryse museum. Sy is later in Parys begrawe, maar Nelson Mandela het gevra dat haar oorskot na Suid-Afrika teruggebring word. Frankryk se parlement het in 2002 aan hierdie versoek gehoor gegee. Sy is op 9 Augustus 2002, Nasionale Vrouedag, te Vergaderingskop, ’n heuwel buite Hankey in die Oos-Kaap, ter ruste gelê.
In Ferrus se gedig word Sara aangespreek. Die spreker sê op liefdevolle wyse vir Sara dat sy haar huis toe bring, Suid-Afrika toe. Daarmee verwys sy nie net na Sara se herbegrafnis nie maar na alles wat saam met mens se huis gaan: waardigheid, liefde, respek, geborgenheid en vrede. Sara se geskiedenis word ook in die gedig herroep: die spot wat sy in die lewe moes verduur, die vernedering ná haar dood dat haar liggaam as ’n eienaardigheid gedissekteer is. Die “monster” verwys nie net na die man wat haar weggevoer het nie, maar na die boosheid wat in mense skuil en maak dat hulle ’n ander so kan aftakel. Sara se “tuiskoms” wat deur haar herbegrafnis moontlik gemaak is, beteken ook vrede vir Sara sowel as al die mense van haar lied, daarom kan dit as ’n versoeningsvers beskou word.
Lees
Vir Sara Baartman
1.Ek is hier om jou huis toe te neem, huis toe –
2.onthou jy die vlaktes,
3.die welige groen gras onder die groot eikeboom,
4.die lawende koeltes en die son wat nie steek?
5.Ek het jou bed berei teen die voet van die berg,
6.jou komberse uitgedos met boegoe en kruisement.
7.Daar waar die proteas pronk in geel en wit,
8.daar sing die rivier jou verwelkomingslied!
9.Ek is hier om jou weg te skeur,
10.weg van die snydende oë van die monster
11.wat wegkruip in die donker met sy kloue van haat,
12.wat jou liggaam versnipper, stukkie vir stukkie,
13.jou siel vergelyk met dié van satan
14.en syne vergelyk met dié van God!
15.Ek is hier om jou te troos,
16.jou moeë hart teen my bors vas te hou,
17.die palms van my hande oor jou wange te vou
18.die lyne in jou nek met my lippe te streel
19.en jou ewige skoonheid in my oë te onthou.
20.Ek is hier om vir jou te sing
21.want ek het vir jou vrede gebring.
22.Ek is hier om jou huis toe te neem,
23.daar waar die oeroue berge jou naam uitroep!
24.Ek het jou bed berei teen die voet van die berg,
25.jou komberse uitgedos met boegoe en kruisement.
26.Daar waar die proteas pronk in geel en wit,
27.daar sing die rivier jou verwelkomingslied!
28.Ek is hier om jou huis toe te neem
29.waar ek vir jou sal sing
30.want jy het ook vrede vir my gebring;
31.want jy het ook vrede vir ons gebring.
WOORDVERKLARINGS
berei: voorberei, reg- maak / Eng.: prepare
boegoe: welriekende plant met medisinale eienskappe / Eng.: buchu, aromatic medicinal plant
kruisement: welriekende plant met medisinale eienskappe / Eng.: mint, aromatic medicinal plant
lawende: verkwikkende, versterkende / Eng.: refreshing, strengthening
pronk: spog / Eng.: show off
snydende: bitsige, pynlike / Eng.: scathing, hurtful
uitgedos: uitgevat, ver- sier / Eng.: dressed up
Pitkos: Die gedig is ’n vrye vers, want dit het nie die formele onderbou van die tradisionele gedig nie. Hoewel die gedig nie aan al die vereistes van die tradisionele ballade voldoen nie, vertoon dit egter verskeie kenmerke daarvan. Vrede ondergaan progressie in die gedig. Verskeie vorme van herhaling verleen musikaliteit aan die gedig, in die besonder klank- en woordherhaling. Hoewel al hierdie voorbereidings niks meer vir Sara Baartman kan beteken nie, vertroos dit die agterblywendes en dit is dus eintlik ’n lied vir die begrafnisgangers.
LEERFOKUS
alliterasie
assonansie
ballade
herhaling
musikaliteit
teenstelling
vrye vers
wending
Post-lees
Kontekstuele vrae
1.Kies die korrekte antwoord en skryf die vraagnommer en die letter neer. Waarna verwys “bed” in versreël 5?
a.huis
b.graf
c.slaapplek
2.Verduidelik die teenstelling tussen strofe 2 en 3.
3.Verduidelik die funksie van die herhalende frase “Ek is hier om jou huis toe te neem”.
4.Waarom is “Ek het jou bed berei” en “proteas pronk” ’n meer geslaagde keuse as byvoorbeeld “Ek het jou bed reggemaak” en “proteas spog”?
5.Beskou jy hierdie gedig as ’n versoeningsvers en hoekom?
Vir jou joernaal en/of in die klas
Ná baie jare is jy uit ballingskap terug in jou land van herkoms. Maak ’n inskrywing daaroor in jou dagboek en sê hoe jy voel oor alles wat jy byna vergeet het, maar nou herken.