Читать книгу Vers en Vlam - Jeanette Ferreira - Страница 12
ОглавлениеAntjie Krog
(*23 Oktober 1952)
KROG IS IN KROONSTAD GEBORE. In dié distrik word sy groot op die plaas Middenspruit en matrikuleer aan die Hoërskool Kroonstad. Sy behaal ’n BAHons aan die Vrystaatse Universiteit en ’n meestersgraad aan die Universiteit van Pretoria. Met die verskyning van haar debuutbundel in 1970, Dogter van Jefta, het sy opslae gemaak, nie net omdat sy toe nog op skool en agtien jaar oud was nie, maar omdat haar poësie so sterk vertoon het. In die liriese klank- en beeldende aard van dié gedigte was daar wel nog spore van Ingrid Jonker se poësie, maar dit was ook duidelik dat ’n individu hier gehoor wil word. In een ná die ander bundel wat Krog daarna gepubliseer het, het haar kenmerkende stem in ’n al hoe groter register van temas en vorme gegroei tot by die komplekse, histories gebaseerde bundel Lady Anne van 1989. Daarna was dit bowenal die indrukwekkende bundels Kleur kom nooit alleen nie (2000) en Verweerskrif (2006) wat haar as een van die groot digters in Afrikaans gevestig het. Maar sy is nie net ’n digter nie, en as aktivis en later joernalis wat regstreeks te doen gehad het met die problematiese politieke gebeure in Suid-Afrika tot en met die historiese verkiesing van 1994, asook in die dekade daarna, het sy met twee prosawerke, Country of my skull (1998) en ’n Ander tongval / A change of tongue (2003), ook in die buiteland aansien verwerf. Sy het ook ’n aantal bundels kinderverse gepubliseer en twee bundels met gedigte van die inheemse taalgroepe vertaal en saamgestel. Die eerste een is ’n uitgebreide versameling van gedigte en tradisionele liedere van al nege Afrika-taalgroepe en verskyn in 2002 onder die titel Met woorde soos met kerse. Die tweede versameling verskyn in 2004 onder die titel die sterre sê ‘tsau’ en bevat verwerkings en/of vertalings van gedigte deur ’n aantal San-digters wat in die vorm van Engelse prosa bewaar gebly het. Met dié twee boeke het Krog ’n besondere bydrae tot die bewaring van die inheemse erfenis in Suid-Afrika gelewer. Nasionaal en internasionaal is twee eredoktorsgrade aan haar toegeken en sy was ook Buitengewone Professor aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Sy is nasionaal en internasionaal met verskeie literêre pryse vereer.
Diä!kwain (voor 1873 – † nie bekend nie): Hierdie digter se plek van geboorte en dood is nie bekend nie. Diä!kwain se geboorte- en sterfdatum is ook onbekend. Sy Afrikaanse noemnaam was Dawid Hoesaar. Hy was ’n San wat iewers voor 1873 in die Kenhardt-distrik in hegtenis geneem is nadat hy ’n boer doodgeskiet het wat hom gevolg het ná veediefstal en gedreig het om Diä!kwain se hele familie dood te skiet. Terwyl hy in die Breekwater-gevangenis in Kaapstad aangehou is, is hy as werker beskikbaar gestel aan die Duitse taalgeleerde doktor Wilhelm Bleek. Met Diä!kwain en sy mede-San-gevangenes se hulp het Bleek die San-taal en -kultuur opgeteken deur die San se vertellings foneties te transkribeer en in Engels te vertaal. Antjie Krog het die poësie in hierdie geskrifte raakgesien en dit in Afrikaans omgedig. Soms het sy vertaal en glad nie gewysig nie, maar soms verstegniek gebruik om die betekenis daarvan te versterk. Sy merk op dat die Engels waaruit sy dit vertaal het, dikwels opsigtelik letterlike Engelse vertalings van Afrikaanse frases is. Die meeste San kon teen die middel van die negentiende eeu reeds Afrikaans praat, vandaar die Afrikaanse spoor wat so opmerklik was in die opgetekende Engels.
Pre-lees
Gevangenskap is onvermydelik in ’n gemeenskap waarin misdaad gestraf moet word. Tog kan mens nie onverskillig staan teenoor die droefheid en eensaamheid wat mense in gevangenskap ervaar nie. In die tradisionele San/Boesman-kultuur was gevangenskap as straf ’n vreemde konsep, dus moes dit vir ’n gevangene uit hierdie kultuur des te moeiliker gewees het.
“die gebreekte snaar” in konteks: Die San/Boesman-kultuur het grootliks uitgesterf, so ook die taal. Daar was ’n paar variante en dit was tradisioneel ’n skriflose taal tot Bleek dit opgeteken het, waarna ortografie gevolg het. Antjie Krog se omdigting van Bleek se optekeninge is die enigste vorm van hierdie taal wat in Afrikaans behoue is en daar is dus twee digters van die volgende gedig, naamlik Krog en Diä!kwain, omdat die gedagte Diä!kwain s’n was en die Afrikaanse bewoording en digterlike vormgewing Krog s’n.
In hierdie gedig weeklaag die spreker oor sy lot. Omdat dit tydens sy gevangenskap verwoord is, kan ons met redelike sekerheid aanneem dit is sy lot as gevangene wat hy bekla. Dit is egter ook universeel van toepassing op enigeen wat voel dat hy of sy van ander mense en die lewe daarbuite vervreemd is. Die snaar as fisieke voorwerp, sowel as die simboliese snaar van die hart, het dus gebreek en die spreker kan glad nie meer sin maak van die wêreld nie, dit is vir hom ’n vreemde plek.
Lees
die gebreekte snaar
1. mense was dit
2.wat die snaar vir my gebreek het
3. daarom
4.het die plek vir my só geword
5. as gevolg daarvan
6.omdat hulle die snaar gebreek het
7.en ek die trillende geluid deur die lug nie meer kan hoor
nie.
8. daarom
9.voel die plek nie meer vir my
10.soos die plek eens vir my gevoel het nie
11. as gevolg daarvan
12. want
13.die plek voel asof dit sommerso oopstaan
14.omdat die snaar gebreek is vir my
15. daarom
16.voel die plek vir my vreemd
17. as gevolg daarvan
WOORDVERKLARINGS
snaar: gespande, lynvormige voorwerp wat vibreer wanneer dit aangeraak word, gebruik in musiekinstrumente en om pyle met ’n boog te skiet / Eng.: tightly stretched string that vibrates when touched; used for musical purposes as well as for hunting with a bow and arrow
sommerso: sonder omhaal / Eng.: carelessly
trillende: vibrerende / Eng.: vibrating
Pitkos: Deur herhaling van verskillende woorde wat redevoering aanvoor of afsluit, probeer die spreker sy verlatenheid verwoord. Ook die herhaling van ’n frase in ’n vers sonder ander vorme van herhaling wat ritme kan bewerkstellig, is opvallend. Dit ontbreek die vers aan hoofletters of leestekens, met uitsondering van die punt in versreël 7. Alliterasie en assonansie kom egter ruimskoots voor. Verskeie versreëls is ingekeep. Die spreker se agtergrond is dié van ’n jagter-versamelaar en dit is dus paslik dat die gedig nie van hoogdrawende taal gebruik maak nie, maar in roerende eenvoud sy boodskap oordra.
LEERFOKUS
assonansie
herhaling
letterlik- en figuurlik- heid
uitheffing
Post-lees
Kontekstuele vrae
1.Kies die korrekte antwoord en skryf die vraagnommer en die letter neer. Wat het met die jagter se boogsnaar gebeur?
a.Mense het dit gebreek.
b.Hy het dit verloor.
c.Niks het daarmee gebeur nie.
2.a.Uit watter versreël kan die leser aflei dit is vir die spreker om ’t ewe of hy in die buitewêreld of die gevangenis is?
b.Hoekom voel dit vir hom so?
3.Watter woord dui daarop dat die jagter se boogsnaar ook die funksie van ’n musieksnaar kan vervul?
4.Uit watter frase kan afgelei word die spreker is daarvan bewus dat “die plek” nie vir ander mense anders voel nie en hoe word dit beklemtoon?
5.Hoe beïnvloed hierdie gedig jou siening van gevangenskap?
Vir jou joernaal en/of in die klas
Skryf ’n paragraaf waarin jy ’n tyd in jou lewe beskryf waarin jy baie verlate gevoel het.