Читать книгу Vers en Vlam - Jeanette Ferreira - Страница 14
ОглавлениеKoos du Plessis
(*10 Mei 1945 – †14 Januarie 1984)
DU PLESSIS HET AAN DIE OOS-RAND in Gauteng grootgeword en later sy opleiding as onderwyser in Pretoria voltooi. Hy was as joernalis aan verskeie koerante verbonde. Dit was egter sy talent vir musiek en sang wat hom binne enkele jare as liedskrywer en “late troebadoer”, soos Hennie Aucamp dit stel, as sanger en komponis van formaat in die Afrikaanse musiekwêreld gevestig het. Sy unieke “Kinders van die wind” (wat deur Laurika Rauch se opname klassieke status behaal het) het ’n SARI-toekenning vir liedjie van die jaar ontvang. Ook met latere ballades soos “Sprokie vir ’n stadskind” en “Skielik is jy vry” het Koos du Plessis ’n bekende naam in die lys van liedskrywers en sangers van hoë gehalte geword. Sy lirieke is uitstekend versorg, en saam met dié van enkele ander sangers soos Amanda Strydom, Randall Wicomb, David Kramer en Coenie de Villiers, kan dit sonder meer ook as poësie gelees word. Sy lirieke is in vier bundels gepubliseer. Koos du Plessis is op nege en dertig in ’n motorongeluk oorlede nadat hy slegs drie albums uitgereik het. Ná sy dood is nog ’n album uitgereik met nuwe liedjies wat reeds opgeneem was. Asof hy bestem was vir ’n kort lewe, spreek sy lirieke en musiek byna deurgaans van verlange en verlies. Baie het gebeur sedert Koos du Plessis se dood, maar dat hy ’n fenomenale impak op die ontwikkeling van Afrikaanse musiek gehad het, is moeilik om te betwis.
Pre-lees
Gesels in die klas oor waar jy jouself oor tien jaar sien. Sal jy baie ongelukkig wees as jy nie daardie mikpunt bereik nie of sal jy kan aanvaar ons lewe verloop nie altyd soos ons dit in die vooruitsig stel nie?
“Kinders van die wind” in konteks: Mens kan baie dinge in Du Plessis se musiek lees, juis omdat dit sulke universeel menslike temas aanroer. In hierdie liriek wat ook as gedig waardeer word, skryf hy oor mense wat nie rigting in die lewe kan vind nie en voortdurend swerf. Die slotsom is egter dat selfs mense wat sterk rigtinggedrewe is, maar soekers bly omdat niemand sy of haar lewensloop in alle opsigte kan bepaal nie en alle mense feilbaar is. ’n Verlies, herinnering en droewe sinisme voer die botoon. Selfs herinneringe bly vaag.
Lees
Kinders van die wind
1.Ek ken ’n ou, ou liedjie
2.van lewenswel en -wee;
3.van lank vergane skepe in
4.die kelders van die see.
5.Die woorde is vergete
6.en tog, die deuntjie draal –
7.soos vaag onthoude grepies uit
8.’n baie ou verhaal …
9.Van swerwers sonder rigting;
10.van soekers wat nooit vind …
11.En eindelik was almal maar
12.kinders van die wind.
13.Gesigte, drome, name
14.is deur die wind verwaai;
15.en waarheen ál die woorde is,
16.sou net ’n kind wou raai.
17.Swerwers sonder rigting;
18.soekers wat nooit vind …
19.En eindelik was almal maar
20.kinders van die wind.
WOORDVERKLARINGS
deuntjie: wysie; melodie / Eng.: melody
draal: sloerend of stadig beweeg / Eng.: linger, move slowly
grepies: stukkies uit ’n verhaal / Eng.: extracts, pieces of a story
lewenswel en -wee: die mooi en die slegte kant van die lewe / Eng.: the good and bad side of life
onthoude (neologisme): iets wat onthou word / Eng.: remembered
vergane: wat vergaan het of tot niet is / Eng.: perished, wrecked
Pitkos: Musikaliteit word bevorder deur ’n vaste aantal lettergrepe in sekere versreëls. Hoewel ’n vaste rympatroon ontbreek, is daar eenvormige strofebou. Assonansie en alliterasie versterk die musikaliteit. Herhaling en ’n refrein verhoog die musikaliteit. Verskeie metafore wat aan dieselfde gedagte uitdrukking gee, bind die vers. Die ellips word strategies aangewend om te kenne te gee dat daar soveel meer te sê is as wat die gedig kan noem. Omdat alle mense – in mindere of meerdere mate – die swerwerseienskappe in die gedig vertoon, kan almal dus as “kinders van die wind”, dus swerwers, beskou word.
LEERFOKUS
ellips
lettergrepe
metafoor
musikaliteit
refrein
stemming
Post-lees
Kontekstuele vrae
1.In watter strofes kom die refrein voor?
2.Som die inhoud van strofes 1 en 2 in een sin op.
3.Watter verband is daar tussen die versreëls wat met ellipse eindig en wat is die funksie daarvan?
4.Verduidelik die metafoor in strofes 2 en 4.
5.Wat beskou jy as die oorheersende stemming in die gedig?
Vir jou joernaal en/of in die klas
Skryf ’n liriek met ’n vaste aantal lettergrepe in elke versreël wat handel oor die wind en die mens.