Читать книгу Vers en Vlam - Jeanette Ferreira - Страница 8
ОглавлениеMartjie Bosman
(*19 September 1954)
BOSMAN WORD OP GROBLERSDAL GROOT, waar haar ouers taalonderwysers was. Sy studeer aan die Universiteit van Pretoria, waar sy in 1985 ’n meestersgraad in Afrikaanse letterkunde behaal en daarna wiskunde aan die Hoërskool Warmbad gee. In die tagtigs is sy as letterkundenavorser by die RGN werksaam en doen later navorsing oor sosiale vraagstukke en landelike ontwikkeling. Nadat sy ’n ruk as argivaris by ’n radio- en televisiediens gewerk het, is sy as redakteur by Protea Boekhuis aangestel. In 2003 debuteer sy met die bundel Landelik, waarvoor sy die Ingrid Jonker-prys ontvang. Haar tweede bundel, Toevallige tekens, verskyn in 2010.
Pre-lees
Konflik is deel van die lewe. Vroeër jare is konflik gesien as iets wat jy tot elke prys moet vermy. Vandag word daar gereken dat mens konflik moet erken en bestuur.
Bespreek in klasverband die maniere hoe julle konflik hanteer.
“Verskroeide aarde” in konteks: Die gedig kom uit die bundel Landelik (2003). Die verskroeideaardebeleid is die beleid wat lord Kitchener gedurende die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) deurgevoer het. Hy het opdrag gegee dat die plase afgebrand moes word, die huise en huisraad ook. Die diere wat nie gekonfiskeer is nie, is ook doodgemaak. Daarna is die vroue en kinders, gewoonlik op hulle eie waens, getrek deur daardie plaas se diere, na die naaste van verskeie stasies geneem en van daar in oop beestrokke na konsentrasiekampe. Daar word bereken dat meer as 26 000 vroue en kinders in die konsentrasiekampe gesterf het. Veral kinders was die slagoffers van ontoereikende mediese sorg en voedsel en sommige moeders het die meeste van hulle kinders in die kampe verloor. Geld of hout vir kiste was daar nie en gestorwenes is gewoonlik net in ’n kombers begrawe, kinders soms in seepkissies. Boereplaashuise wat nie afgebrand is nie, is partykeer deur die Britse magte gekonfiskeer en as hospitale ingerig. Die enigste vee wat behoue gebly het, was dié wat inderhaas deur die Boere op die plaas versteek is voor die Britte opgedaag het om die plaas te vernietig. Oor al hierdie dinge het Boere wat dit oorleef het, en hulle nageslag, nog vir dekades groot bitterheid jeens die Britse volk gekoester. Die beleid is deurgevoer, omdat die Engelse besef het so lank as die plase bestuur word, sou die Boere die voorraad gehad het om te kon voortveg. Ná die oorlog moes die agtergeblewenes hulle boerderye van voor af opbou. Die Merebank-kamp was naby Durban.
Lees
Verskroeide aarde
1.Van dié geskiedenis kan ons slegs brokke agterhaal:
2.Grootouma Geldenhuys met vier kinders
3.in ’n oop beestrok na die kamp by Merebank,
4.’n paar stuks vee behoue in die walle van die Vaal,
5.Grootoupa te velde wie weet waar.
6.Die rooi huis is gekonfiskeer as hospitaal –
7.gerugte van soldate begrawe onder die leiklipstoep,
8.die erfgenaam naamloos in ’n seepkis iewers in die sand.
9.Ek erf uit ouma Makkie se beroertemond
10.twee bitter woorde: smaad en hoon
11.en die droewe wete van familiegrond
12.vir geslagte tevergeefs bewoon.
WOORDVERKLARINGS
agterhaal: uitvind / Eng.: find out
beestrok: oop treinwa / Eng.: cattle train truck
brokke: stukke / Eng.: pieces
droewe: droewige, hartseer / Eng.: sad
gerug: onsekere of onbevestigde berig / Eng.: rumour
hoon: om iemand te spot / Eng.: scorn, mock
konfiskeer: in beslag neem / Eng.: confiscate, seize
smaad: skandelike belediging / Eng.: insult, scorn
tevergeefs: nutteloos, sonder sukses / Eng.: in vain, for nothing
velde: slagveld / Eng.: battlefield
Pitkos: Die gedig bestaan uit een strofe van twaalf versreëls. Daar is nie deurlopende rym nie, net enkele rymklanke wat verspreid in die eindposisies voorkom. Verskroeide aarde veronderstel dat alle lewe vernietig is en dat die omstandighede eers weer geskik sal moet wees voordat lewe uit die aarde kan voortspruit. Sommige lewe sal totaal vernietig en onvervangbaar wees en dus nooit herstel kan word nie. Die ironie lê daarin dat die spreker saam met haar ouma se bitterheid dié insig geërf het: Om op grond te werk en te woon, maak dit nie noodwendig jou grond nie.
LEERFOKUS
alliterasie
assonansie
ironie
rym
Post-lees
Kontekstuele vrae
1.Voltooi: Die geskiedenis waarna verwys word in versreël 1 is …
2.a.Uit hoeveel sinne bestaan die gedig?
b.Gee kortliks die inhoud van elke sin weer.
3.Verduidelik waarom “brokke” in versreël 1 ’n goeie woordkeuse is.
4.Verduidelik die ouma se bitterheid en waarom sy smaad en hoon ervaar.
5.Skryf die rymwoorde wat wel voorkom neer en lewer kommentaar daarop.
Vir jou joernaal en/of in die klas
Gesels met jou ouers of grootouers oor julle familiegeskiedenis, waar hulle oorspronklik vandaan kom, watter terugslae hulle moes verwerk, watter prestasies hulle behaal het en watter invloed dit op hulle en jou lewe gehad het. Skryf dan ’n artikel daaroor.