Читать книгу Vers en Vlam - Jeanette Ferreira - Страница 11

Оглавление

Philip de Vos

(*16 Junie 1939)

DE VOS IS IN BLOEMFONTEIN GEBORE. Hy was vroeër ’n taalonderwyser en is veral bekend vir sy spitsvondige limerieke. Dié veelsydige digter is ook ’n fotograaf en sanger en het in meer as 60 operarolle vir verskillende kunsterade gesing. Hy sing ook sy geestige verse by verskeie kunstefeeste. De Vos het 22 bundels op sy kerfstok, sowel as 33 vertalings van rymverse en ander fiksie. Hy is bekroon met die Eugène Marais-prys (1989), ATKV-kinderboektoekenning (1989), M.E.R-prys (1996), Mondiprys (1996) vir die strokies in De Kat, Alba Bouwer-prys (1998) en IBBY internasionale toekenning (2004).

Pre-lees

Mens ontmoet ander mense wat om die een of ander rede ’n blywende indruk op jou maak. Dikwels oor die dinge wat hulle doen en wat vir jou verspot voorkom. Dit kan ook dié dinge wees waarin jy jou nooit sou begewe of jou tyd mee sou mors nie.

“’n Vrou van die dorp Clocolan” in konteks: In Ierland is ’n dorp met die naam Limerick. Maar ’n limeriek is ook ’n digvorm met ’n vaste formele struktuur van Engelse oorsprong. Dis ’n vyfreëlige gediggie met ’n vaste rympatroon: aabba. Die eerste, tweede en die vyfde versreëls is langer as die derde en vierde versreëls. In die langer versreëls is gewoonlik drie en in die korteres twee betoonde lettergrepe. Die eerste versreël bevat meestal ’n eienaam en in die slotversreël is daar ’n onverwagse wending. Die inhoud is uitbundig, lig spottend en dikwels ironies. Verhoudings kom aan bod en emosies wat daarmee gepaardgaan soos haat en jaloesie. Dit speur die komiese in verhoudings na.

Lees

’n Vrou van die dorp Clocolan

1.’n Vrou van die dorp Clocolan

2.Was verlief op die man in die maan.

3. Sy’t ’n hart vol van hoop

4. En ’n ou teleskoop –

5.En sy sug nou so ver as sy gaan.

WOORDVERKLARINGS

die man in die maan: denkbeeldige persoon of niemand / Eng.: fictitious person or nobody

Pitkos: Dit is ’n goeie voorbeeld van die lighartigheid en selfs die klug wat hierdie digsoort kenmerk. Hoewel selfs ’n uiters moderne teleskoop haar nie ’n kykie op die man in die maan sou kon gee nie, het sy boonop ’n ou teleskoop en niks sal dus van haar hoop kom nie.

LEERFOKUS

alliterasie

ironie

limeriek

rym

Post-lees

Kontekstuele vrae

1.Waar woon die vrou in die gedig? Kies die regte antwoord:

a.Op die maan

b.Op Clocolan

c.Op die aarde

2.Watter ironie kom in versreëls 3 en 4 voor?

3.Waarom sug die vrou?

4.Waarmee, dink jy, spot hierdie limeriek?

5.Bespreek jou reaksie op die gediggie.

Vir jou joernaal en/of in die klas

Skryf nou self ’n limeriek. Miskien kan jy dit opdra aan iemand wat jy ken.

Vers en Vlam

Подняться наверх